Die Bybel as ’n enkele boek
Die Bybel as ’n enkele boek
WAT die kopiëring van die Bybel betref, was die vroeë Christene voorlopers in die gebruik van die kodeks—’n boek, nie ’n boekrol nie. Maar die Christene het nie dadelik begin om ’n enkele boek saam te stel wat al die boeke van die Bybel bevat het nie. In die sesde eeu het Flavius Kassiodorus ’n belangrike rol daarin gespeel om die Bybel as ’n enkele boek op groot skaal beskikbaar te stel.
Flavius Magnus Aurelius Kassiodorus is omstreeks 485-490 G.J. gebore uit ’n welgestelde familie in Kalabrië aan die suidelike punt van hedendaagse Italië. Hy het gedurende ’n tydperk vol beroering in die Italiaanse geskiedenis gelewe toe die skiereiland eers deur die Gote en daarna deur die Bisantyne beset is. Toe hy ongeveer 60 of 70 jaar oud was, het Kassiodorus die klooster en biblioteek van Vivarium naby sy huis in Squillace, Kalabrië, gestig.
’n Nougesette Bybelredakteur
Een van die dinge waaroor Kassiodorus baie besorg was, was die oordrag van die Bybel. “Kassiodorus het”, volgens die geskiedskrywer Peter Brown, “gevoel dat alle Latynse literatuur benut moes word om die Skrif oor te dra. Al die hulpmiddels wat vantevore gebruik is om klassieke tekste te lees en te kopieer, moes gebruik word om die Skrif te verstaan en dit op verstandige wyse te kopieer. Soos ’n nuutgevormde sonnestelsel moes die Latynse kultuur as ’n geheel om die ontsaglike son van God se Woord wentel.”
Kassiodorus het vertalers en taalkundiges by die Vivarium-klooster byeengebring om die hele Bybel sorgvuldig na te gaan en het oor die deeglike redigeringsproses toesig gehou. Hy het die werk aan slegs ’n paar geleerde manne toevertrou. Hulle moes skynbare teksfoute van kopiïste nie oorhaastig verbeter nie. As daar ’n vraag oor grammatika ontstaan het, moes antieke Bybelmanuskripte as meer gesaghebbend beskou word as die aanvaarde Latynse gebruik. Kassiodorus het beveel: “Besondere kenmerke van die taal . . . moet behoue bly, aangesien ’n teks wat as geïnspireerd bekend staan, nie bederf mag word nie. . . . Bybelse uitdrukkings, metafore en idiome moet behoue bly, al is dit volgens Latynse standaarde uitheems, en so ook die ‘Hebreeuse’ vorme van eiename.”—The Cambridge History of the Bible.
Die Codex Grandior
Die kopiïste by die Vivarium-klooster is opdrag gegee om ten minste drie afsonderlike uitgawes van die Bybel in Latyn saam te stel. Een hiervan, in nege boekdele, het waarskynlik die Ou Latynse teks bevat, ’n vertaling wat laat in die tweede eeu verskyn het. ’n Tweede uitgawe het die Latynse Vulgaat bevat, wat Hieronimus aan die begin van die vyfde eeu voltooi het. Die derde, die Codex Grandior, wat “groter kodeks” beteken, is uit drie Bybeltekste saamgestel. Albei die laaste twee uitgawes het al die boeke van die Bybel in ’n enkele boek saamgevat.
Kassiodorus was blykbaar die eerste persoon wat Latynse Bybels in ’n enkele boek a Hy het ongetwyfeld gesien hoe prakties dit is om al die boeke van die Bybel in een boek saam te vat en sodoende die tydrowende proses uit te skakel om verskeie boekdele te raadpleeg.
saamgestel en dit pandectae genoem het.Van die suide van Italië na die Britse eilande
Kort ná Kassiodorus se dood (waarskynlik omstreeks 583 G.J.) het die Codex Grandior se reis begin. Toe is ’n deel van die Vivarium-biblioteek blykbaar na die Lateraanse biblioteek in Rome verskuif. In 678 G.J. het die Angel-Saksiese ab Ceolfrith die kodeks saam met hom na die Britse eilande gebring toe hy van ’n verblyf in Rome teruggekeer het. So het dit dus ’n deel geword van die twee kloosters van Wearmouth en Jarrow, onder die toesig van Ceolfrith, in wat nou Northumbrië, Engeland, is.
Kassiodorus se Bybel as ’n enkele boek moes Ceolfrith en sy monnike gefassineer het, waarskynlik omdat dit so maklik was om te gebruik. Hulle het dus binne net ’n paar dekades drie ander volledige Bybels as enkel boeke voltooi. Die enigste afskrif hiervan wat behoue gebly het, is ’n enorme manuskrip wat die Codex Amiatinus genoem word. Dit bevat 2 060 kalfsleerbladsye, elk ongeveer 51 by 33 sentimeter. Saam met die buiteblad is dit 25 sentimeter dik en weeg dit meer as 34 kilogram. Dit is die oudste volledige Latynse Bybel in ’n enkele boek. Die uitnemende 19de eeuse Bybelkenner Fenton J. A. Hort het die kodeks in 1887 geïdentifiseer. Hort se kommentaar was: “Selfs op iemand wat vandag na hierdie wonder van ’n [manuskrip] kyk, laat dit ’n indruk wat na aan ontsag is.”
Terug na Italië
Die oorspronklike Codex Grandior wat Kassiodorus die kopiïste opdrag gegee het om saam te stel, is nou verlore. Maar die Angel-Saksiese weergawe daarvan, die Codex Amiatinus, het kort nadat dit voltooi is ’n terugreis na Italië begin. Kort voor sy dood het Ceolfrith besluit om na Rome terug te keer. Hy het een van sy drie Latynse Bybelmanuskripte as ’n geskenk vir pous Gregorius II saamgeneem. Ceolfrith het in 716 G.J. in Langres, Frankryk, op sy reis gesterf. Maar sy Bybel het saam met die reisgeselskap die reis voortgesit. Die kodeks het uiteindelik ’n deel geword van die biblioteek van die klooster van die berg Amiata, in Sentraal-Italië, van waar dit die naam Codex Amiatinus kry. In 1782 is die manuskrip na die Medicean-Laurentian-biblioteek in Florence, Italië, verskuif, waar dit steeds een van die biblioteek se kosbaarste besittings is.
Hoe raak die Codex Grandior ons? Van die tyd van Kassiodorus af het kopiïste en drukkers al hoe meer die Bybel as ’n enkele boek verkies. Selfs vandag nog is dit vir mense makliker om die Bybel in hierdie vorm te raadpleeg, en gevolglik het dit ’n kragtige uitwerking op hulle lewe.—Hebreërs 4:12.
[Voetnoot]
a Volledige Bybels in Grieks is blykbaar sedert die vierde of vyfde eeu in omloop.
[Kaart op bladsy 29]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die Codex Grandior se reis
Vivarium-klooster
Rome
Jarrow
Wearmouth
Die Codex Amiatinus se reis
Jarrow
Wearmouth
Amiata
Florence
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prente op bladsy 30]
Bo: Codex Amiatinus Links: Skets van Esra in die Codex Amiatinus
[Erkenning]
Biblioteca Medicea Laurenziana, Firenze