Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help weduwees om hulle beproewinge te verduur

Help weduwees om hulle beproewinge te verduur

Help weduwees om hulle beproewinge te verduur

EEN van die bekendste verhale oor weduwees is die Bybelverslag van Rut en haar skoonmoeder, Naomi. Albei vroue was weduwees. Naomi het egter nie net haar man verloor nie, maar ook haar twee seuns, waarvan die een Rut se man was. Omdat hulle in ’n landbougemeenskap gelewe het wat baie op die mans staatgemaak het, was hulle situasie beslis tragies.—Rut 1:1-5, 20, 21.

Maar Naomi se skoondogter Rut, wat geweier het om haar te verlaat, was vir haar ’n vriendin en vertrooster duisend. Mettertyd was Rut vir Naomi ‘meer werd as sewe seuns’—nie net weens haar innige liefde vir Naomi nie, maar ook weens haar liefde vir God (Rut 4:15). Toe Naomi Rut aangeraai het om na haar Moabitiese familie en vriende terug te keer, het Rut haar geantwoord met een van die roerendste uitdrukkings van lojaliteit wat ooit opgeteken is: “Waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die HERE so aan my doen en so daaraan toedoen—net die dood sal skeiding maak tussen my en u.”—Rut 1:16, 17.

Jehovah God het Rut se gesindheid raakgesien. Hy het Naomi en Rut se klein huishouding geseën, en uiteindelik is Rut met die Israeliet Boas getroud. Hulle kind, wat ’n voorouer van Jesus Christus geword het, is deur Naomi versorg asof hy haar eie kind was. Hierdie verhaal is ’n voorbeeld van Jehovah se geneentheid vir weduwees wat na aan hom kom en op hom vertrou. Verder vertel die Bybel ons dat hy diegene waardeer wat liefdevolle hulp verleen aan weduwees gedurende hulle beproewinge. Hoe kan ons dus vandag die weduwees in ons midde ondersteun?—Rut 4:13, 16-22; Psalm 68:6.

Spesifieke hulp sonder om oorheersend te wees

Wanneer ’n mens ’n weduwee hulp aanbied, is dit beter om duidelik en spesifiek te sê wat jy wil doen sonder om oorheersend te wees. Vermy vae kommentare soos: “Laat my weet as jy enigiets nodig het.” Dit kan daarop neerkom dat ’n mens vir iemand wat koud en honger is, sê: “Bly warm en goed gevoed”, en dan niks doen om hom te help nie (Jakobus 2:16). Baie mense sal nie hulp vra wanneer hulle iets nodig het nie; hulle ly eerder sonder om iets te sê. Dit verg onderskeidingsvermoë om sulke mense te help en te begryp wat hulle behoeftes is. Aan die ander kant kan dit tot gekrenkte gevoelens of konflik lei as ’n mens te veel inisiatief neem—deur die weduwee se lewe so te sê oor te neem. Die Bybel beklemtoon dus dat balans nodig is in ons handelinge met ander. Hoewel dit ons aanspoor om onselfsugtige, persoonlike belangstelling in mense te toon, herinner dit ons daaraan om ons nie met ander se sake te bemoei nie.—Filippense 2:4; 1 Petrus 4:15.

Rut het so ’n gebalanseerde gesindheid teenoor Naomi geopenbaar. Hoewel Rut altyddeur lojaal by haar skoonmoeder gebly het, het sy nie druk op haar uitgeoefen of haar oorheers nie. Sy het op oordeelkundige wyse die inisiatief geneem, soos om kos te kry vir haar en Naomi, maar sy het ook Naomi se instruksies gevolg.—Rut 2:2, 22, 23; 3:1-6.

Mense se behoeftes kan natuurlik grootliks verskil. Sandra, wat vroeër gemeld is, sê: “Ek het gekry wat ek in my moeilike tyd nodig gehad het—baie dierbare en liefdevolle vriende wat altyd daar was vir my.” Elaine, wat vroeër gemeld is, het weer tyd alleen nodig gehad. Om behulpsaam te wees, beteken derhalwe dat ’n mens goeie oordeel aan die dag moet lê en ’n balans moet handhaaf tussen respek vir iemand anders se privaatheid en om beskikbaar te wees wanneer jou hulp nodig is.

Ondersteuning van die familie

Simpatieke, liefdevolle familielede, as daar wel is, kan baie help om ’n weduwee te verseker dat sy haar situasie die hoof sal kan bied. Hoewel party familielede dalk meer hulp kan verleen as ander, kan almal ’n bydrae lewer. “As ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié eers leer om godvrugtige toegewydheid in hulle eie huisgesin te beoefen en om ’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë.”—1 Timoteus 5:4.

In baie gevalle is finansiële hulp of “vergoeding” dalk onnodig. Party weduwees het genoeg geld om na hulle behoeftes om te sien, en ander kwalifiseer vir staatshulp, wat in party lande beskikbaar is. Maar waar weduwees behoeftig is, behoort familielede te help. As ’n weduwee geen naasbestaandes het of as haar familielede haar nie kan help nie, moedig die Skrif medegelowiges aan om haar te help: “Die vorm van aanbidding wat uit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien.”—Jakobus 1:27.

Diegene wat hierdie Bybelbeginsels toepas, “eer weduwees” waarlik (1 Timoteus 5:3). Om iemand te eer, beteken in werklikheid om respek teenoor daardie persoon te betoon. Mense wat geëer word, voel dat ander hulle waardeer, liefhet en waardig ag. Hulle voel nie dat ander hulle bloot uit ’n pligsgevoel help nie. Hoewel Rut self ’n ruk lank ’n weduwee was, het sy Naomi waarlik geëer deur gewillig en liefdevol seker te maak dat daar na Naomi se fisiese en emosionele behoeftes omgesien word. Trouens, weens Rut se gesindheid het sy gou ’n goeie naam vir haar opgebou, sodat haar toekomstige man vir haar gesê het: “Almal in die stad van my volk is daarvan bewus dat jy ’n besonder goeie vrou is” (Rut 3:11, voetnoot in NW). Terselfdertyd het Naomi se liefde vir God, haar beskeie geaardheid en haar diep waardering vir wat Rut ter wille van haar gedoen het, dit ongetwyfeld vir Rut ’n plesier gemaak om haar by te staan. Wat ’n uitstekende voorbeeld is Naomi tog vir weduwees van vandag!

Kom nader aan God

Familielede en vriende kan natuurlik nie die leemte vul wat deur die dood van ’n huweliksmaat gelaat is nie. Daarom is dit belangrik dat die bedroefde persoon veral nader kom aan “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, wat ons in al ons verdrukking vertroos” (2 Korintiërs 1:3, 4). Dink aan die voorbeeld van Anna, ’n toegewyde weduwee wat 84 jaar oud was toe Jesus gebore is.

Toe Anna se man oorlede is nadat hulle net sewe jaar getroud was, het sy haar tot Jehovah gewend vir vertroosting. ‘Sy was nooit van die tempel afwesig nie en het nag en dag met vaste en smekinge heilige diens verrig’ (Lukas 2:36, 37). Het Jehovah Anna se godvrugtige toegewydheid beloon? Ja! Hy het sy liefde vir haar op ’n baie spesiale manier getoon deur haar toe te laat om die baba te sien wat later die Verlosser van die wêreld sou word. Hoe opwindend en aanmoedigend moes dit tog nie vir Anna gewees het nie! Sy het ongetwyfeld die waarheid ondervind van Psalm 37:4, wat sê: “Verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.”

God werk deur middel van mede-Christene

Elaine sê: “Ek het vir ’n lang tyd ná David se dood ’n fisiese pyn gehad, soos ’n mes wat tussen my ribbes draai. Ek het gedink dis slegte spysvertering. Eendag het dit so erg geword dat ek gedink het ek sal dokter toe moet gaan. ’n Geestelike suster en vriendin met onderskeidingsvermoë het my gevra of my droefheid nie dalk ’n faktor is nie, en sy het my aangespoor om Jehovah om hulp en vertroosting te vra. Ek het onmiddellik haar raad gevolg en in my hart ernstig tot Jehovah gebid en hom gevra om my gedurende my droefheid te onderskraag. En hy het!” Elaine het beter begin voel, en kort daarna het haar fisiese pyn selfs verdwyn.

Veral gemeentelike ouer manne kan vriendelik en liefdevol hulp aan bedroefde weduwees gee. Deur gereelde geestelike ondersteuning en vertroosting op ’n taktvolle en oordeelkundige wyse te voorsien, kan ouer manne hulle help om ondanks hulle beproewinge na aan Jehovah te bly. Waar nodig kan ouer manne ook materiële hulp reël. Sulke medelydende ouer manne met onderskeidingsvermoë word waarlik “’n toevlug teen die wind”.—Jesaja 32:2; Handelinge 6:1-3.

Blywende vertroosting deur die aarde se nuwe koning

Die persoon waaroor Anna verheug was toe sy hom ongeveer tweeduisend jaar gelede gesien het, het nou die Messiaanse Koning van God se hemelse Koninkryk geword. Hierdie regering sal binnekort alle redes tot droefheid, insluitende die dood, uit die weg ruim. In dié verband sê Openbaring 21:3, 4: “Kyk! Die tent van God is by die mense . . . En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” Het jy opgelet dat hierdie gedeelte na “die mense” verwys? Ja, mense sal bevry wees van die dood en van al die verdriet en pyn wat dit veroorsaak.

Maar daar is selfs nog meer goeie nuus! Die Bybel belowe ook ’n opstanding uit die dood. “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Net soos Lasarus, wat deur Jesus uit die dood opgewek is, sal hulle uitkom as mense, nie as geesskepsele nie (Johannes 11:43, 44). Diegene wat daarna ‘goeie dinge doen’, sal tot menslike volmaaktheid gebring word en persoonlik Jehovah se vaderlike sorg ondervind wanneer hy ‘sy hand oopmaak en die begeerte bevredig van alles wat lewe’.—Psalm 145:16NW.

Diegene wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het en wat geloof in hierdie onfeilbare hoop stel, vind dat dit ’n bron van ware vertroosting is (1 Tessalonisense 4:13). As jy dus ’n weduwee is, moet jy ‘onophoudelik bid’ vir die vertroosting en hulp wat jy daagliks nodig het om jou verskeie laste te dra (1 Tessalonisense 5:17; 1 Petrus 5:7). En sit elke dag tyd opsy om God se Woord te lees sodat God se gedagtes jou kan vertroos. As jy dit alles doen, sal jy self sien hoe Jehovah jou waarlik kan help om vrede te vind, ondanks al die beproewinge en uitdagings waarvoor jy as ’n weduwee te staan kom.

[Lokteks op bladsy 5]

Om behulpsaam te wees, be- teken dat ’n mens ’n balans handhaaf tussen respek vir iemand anders se privaatheid en om beskikbaar te wees wanneer hulle jou nodig het

[Prent op bladsy 7]

Die bejaarde weduwee Anna is deur God geseën