Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe weduweeskap twee vroue geraak het

Hoe weduweeskap twee vroue geraak het

Hoe weduweeskap twee vroue geraak het

SANDRA is ’n weduwee wat in Australië woon. Toe haar man ’n paar jaar gelede oorlede is, was die skok vir Sandra te groot. “Die besef dat ek skielik my maat en beste vriend verloor het, het my oorweldig. Ek kan werklik nie onthou hoe ek van die hospitaal af weer by die huis gekom het of wat ek die res van daardie dag gedoen het nie. Gedurende die volgende paar weke het my vrese in aanhoudende fisiese pyn verander.”

Sandra het ’n ouer vriendin, Elaine, wat sowat ses jaar lank al ’n weduwee is. Elaine het haar man, David, ses maande lank versorg voordat hy aan kanker dood is. Haar droefheid was so intens dat sy kort ná haar man se dood tydelik blind was. Twee jaar later het sy op straat inmekaargesak. Haar dokter kon geen aanduiding van ’n fisiese kwaal vind nie. Maar hy het uitgevind dat Elaine haar droefheid opgekrop het, en hy het dus aanbeveel dat sy huis toe gaan en hard probeer om te huil. “Dit het ’n hele ruk geneem om my droefheid te verwerk”, erken Elaine, en sy vertel ook wat sy gedoen het wanneer sy eensaam gevoel het: “Ek het selfs in die slaapkamer ingegaan en my gesig in David se klere gedruk.”

Ja, die dood van ’n geliefde maat kan verskeie reaksies uitlok, want weduweeskap behels in werklikheid meer as om net sonder ’n man te lewe. Sandra het byvoorbeeld ’n tyd lank gevoel dat sy haar identiteit verloor het. Soos baie ander weduwees wat hulle maat onlangs verloor het, het sy ook kwesbaar en onseker gevoel. Sandra sê: “Ek was gewoond daaraan dat my man altyd die finale besluite geneem het, maar nou moes ek skielik alleen daardie besluite neem. Ek het onrustig geslaap. Ek was moeg en uitgeput. Dit was moeilik om presies te weet wat om te doen.”

Elke dag is daar mense regoor die wêreld wat soortgelyke ondervindinge as dié van Sandra en Elaine het. Siektes, ongelukke, oorloë, etniese suiwering en algemene geweld dra daartoe by dat daar al hoe meer weduwees is. a Baie van hierdie vroue ly sonder om iets te sê en weet nie wat om te doen nie. Wat kan vriende en familielede doen om diegene te help wat daaraan gewoond moet raak om ’n weduwee te wees? Die volgende artikel het ’n paar wenke wat dalk sal help.

[Voetnoot]

a Ander vroue is in ’n soortgelyke situasie as dié van weduwees omdat hulle man hulle verlaat het. Hoewel elke situasie unieke probleme het—hetsy ’n vrou geskei is of haar man haar verlaat het—kan etlike van die beginsels wat in die volgende artikel bespreek word, ook vroue in hierdie omstandighede help.