Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees vreugdevol saam met die gelukkige God

Wees vreugdevol saam met die gelukkige God

Wees vreugdevol saam met die gelukkige God

“Laastens, broers, hou aan om julle te verheug, . . . en die God van liefde en van vrede sal met julle wees.”—2 KORINTIËRS 13:11.

1, 2. (a) Waarom is baie mense nie vreugdevol nie? (b) Wat is vreugde, en hoe kan ons dit aankweek?

 IN HIERDIE donker dae sien baie mense min rede om hulle te verheug. Wanneer ’n tragedie hulle of ’n geliefde tref, voel hulle dalk soos Job van die ou tyd, wat gesê het: “Die mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus” (Job 14:1). Christene is nie gevrywaar van die druk van hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ nie, en dit is nie verbasend dat getroue knegte van Jehovah soms ontmoedig word nie.—2 Timoteus 3:1.

2 Christene kan nogtans vreugdevol wees, selfs wanneer hulle beproef word (Handelinge 5:40, 41). Om te verstaan hoe dit moontlik is, moet ons eers kyk na wat vreugde is. Vreugde is al gedefinieer as “die emosie wat gewek word deur die verkryging of verwagting van iets goeds”. a As ons gevolglik die tyd neem om die seëninge te tel wat ons tans geniet en nadink oor die vreugdes wat in God se nuwe wêreld op ons wag, kan ons vreugdevol wees.

3. In watter sin kan daar gesê word dat almal ten minste rede het om hulle te verheug?

3 Almal geniet seëninge waarvoor hulle dankbaar kan wees. ’n Gesinshoof verloor dalk sy werk. Dit is natuurlik ’n rede tot kommer. Hy wil vir sy geliefdes sorg. Maar as hy fris en gesond is, kan hy dankbaar wees daarvoor. As hy werk vind, sal hy hard kan werk. Aan die ander kant is ’n Christenvrou dalk deur ’n aftakelende siekte getref. En tog kan sy dankbaar wees vir die ondersteuning van liefdevolle vriende en familielede wat haar help om haar siekte met waardigheid en moed te verduur. En alle ware Christene kan hulle, ongeag hulle omstandighede, in die voorreg verheug om Jehovah, “die gelukkige God”, en Jesus Christus, “die gelukkige en enigste Maghebber”, te ken (1 Timoteus 1:11; 6:15). Ja, Jehovah God en Jesus Christus is besonder gelukkig. Hulle het hulle vreugde behou ondanks die feit dat toestande op aarde glad nie is wat Jehovah aan die begin in gedagte gehad het nie. Ons kan baie uit hulle voorbeeld leer oor hoe ons ons vreugde kan behou.

Hulle het nooit hulle vreugde verloor nie

4, 5. (a) Hoe het Jehovah gereageer toe die eerste mense in opstand gekom het? (b) In watter opsig het Jehovah ’n positiewe beskouing van die mensdom behou?

4 In die tuin van Eden het Adam en Eva blakende gesondheid geniet en volmaakte verstande gehad. Hulle het produktiewe werk gehad om te doen en ideale omstandighede waarin hulle dit kon uitvoer. Hulle het bowenal die voorreg gehad om gereeld met Jehovah te kommunikeer. Dit was God se voorneme dat hulle ’n gelukkige toekoms geniet. Maar ons eerste ouers was nie tevrede met al hierdie goeie gawes nie; hulle het die verbode vrug van “die boom van die kennis van goed en kwaad” gesteel. Hierdie daad van ongehoorsaamheid het aanleiding gegee tot al die ongelukkigheid wat ons, hulle nakomelinge, vandag ervaar.—Genesis 2:15-17; 3:6; Romeine 5:12.

5 Maar Jehovah het nie toegelaat dat die ondankbare gesindheid van Adam en Eva hom van sy vreugde beroof nie. Hy was seker dat die harte van ten minste sommige van hulle nageslag beweeg sou word om hom te dien. Trouens, hy was so seker daarvan dat hy sy voorneme aangekondig het om die gehoorsame nakomelinge van Adam en Eva los te koop selfs voordat hulle hulle eerste kind voortgebring het! (Genesis 1:31; 3:15). In die daaropvolgende eeue het die meeste mense die voetstappe van Adam en Eva gevolg, maar Jehovah het die mensdom nie die rug toegekeer weens hierdie algemene ongehoorsaamheid nie. Hy het eerder sy aandag gevestig op die mans en vroue wat sy ‘hart verbly’ het, diegene wat hom werklik probeer behaag het omdat hulle hom liefgehad het.—Spreuke 27:11; Hebreërs 6:10.

6, 7. Watter faktore het Jesus gehelp om vreugdevol te bly?

6 Wat van Jesus—hoe het hy sy vreugde behou? As ’n magtige geesskepsel in die hemel het Jesus baie geleenthede gehad om die bedrywighede van mans en vroue op aarde waar te neem. Hulle onvolmaakthede was duidelik, en tog het Jesus hulle liefgehad (Spreuke 8:31). Later, toe hy aarde toe gekom en onder mense “gewoon” het, het sy beskouing van die mensdom nie verander nie (Johannes 1:14). Wat het die volmaakte Seun van God in staat gestel om so ’n positiewe beskouing van die sondige mensdom te behou?

7 Eerstens, Jesus het redelike verwagtinge van homself sowel as ander gehad. Hy het geweet dat hy nie die wêreld gaan bekeer nie (Matteus 10:32-39). Gevolglik het hy hom verheug wanneer selfs een opregte persoon gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer het. Hoewel die gedrag en gesindheid van sy dissipels soms veel te wense oorgelaat het, het Jesus geweet dat hulle in hulle hart werklik God se wil wou doen, en hy het hulle om dié rede liefgehad (Lukas 9:46; 22:24, 28-32, 60-62). Dit is noemenswaardig dat Jesus in gebed tot sy hemelse Vader die positiewe weg opgesom het wat sy dissipels tot op daardie tyd gevolg het: “Hulle het u woord onderhou.”—Johannes 17:6.

8. Noem ’n paar maniere waarop ons, in navolging van Jehovah en Jesus, ons vreugde kan behou.

8 Ons almal sal ongetwyfeld baat vind deur na te dink oor die voorbeeld wat Jehovah God en Christus Jesus in hierdie verband stel. Kan ons Jehovah in groter mate navolg deur miskien nie oormatig bekommerd te raak wanneer dinge nie presies uitwerk soos ons gehoop het nie? Kan ons Jesus se voetstappe noukeuriger volg deur ’n positiewe beskouing van ons huidige omstandighede te behou, sowel as deur redelike verwagtinge van onsself en van ander te hê? Kom ons kyk hoe party van hierdie beginsels prakties toegepas kan word op ’n gebied wat alle ywerige Christene na aan die hart lê—die veldbediening.

Behou ’n positiewe beskouing van die bediening

9. Hoe het Jeremia sy vreugde herwin, en hoe kan sy voorbeeld ons help?

9 Jehovah wil hê dat ons vreugdevol in sy diens moet wees. Ons vreugde moet nie afhang van die resultate wat ons behaal nie (Lukas 10:17, 20). Die profeet Jeremia het jare lank in ’n onproduktiewe gebied getuig. Wanneer hy oor die negatiewe reaksie van die volk bly dink het, het hy sy vreugde verloor (Jeremia 20:8). Maar wanneer hy nagedink het oor hoe wonderlik die boodskap self was, het hy sy vreugde herwin. Jeremia het vir Jehovah gesê: “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE” (Jeremia 15:16). Ja, Jeremia het hom verheug in sy voorreg om God se woord bekend te maak. Ons kan ook.

10. Hoe kan ons ons vreugde in die bediening behou al is ons gebied nie tans produktief nie?

10 Selfs as die meeste mense weier om op die goeie nuus te reageer, het ons alle rede om vreugdevol te wees terwyl ons aan die veldbediening deelneem. Onthou dat Jehovah baie seker was dat sommige mense beweeg sou word om hom te dien. Soos Jehovah moet ons nooit die hoop verloor dat ten minste party uiteindelik die geskil sal verstaan en die Koninkryksboodskap sal aanvaar nie. Ons moet nie vergeet dat mense se omstandighede verander nie. Selfs die mees selfvoldane persoon sal dalk ernstig oor die betekenis van die lewe begin nadink wanneer hy voor ’n onvoorsiene verlies of krisis te staan kom. Sal jy daar wees om te help wanneer so iemand ‘bewus word van sy geestelike behoefte’? (Matteus 5:3). Wie weet, iemand in julle gebied sal dalk gereed wees om na die goeie nuus te luister wanneer jy hom weer besoek!

11, 12. Wat het in ’n dorpie gebeur, en wat kan ons daaruit leer?

11 Ons gebied kan ook verander. Kyk na ’n voorbeeld. In ’n klein dorpie het daar ’n hegte groep jong egpare met kinders gewoon. Wanneer Jehovah se Getuies hulle besoek het, het hulle dieselfde reaksie by elke deur gekry: “Ons stel nie belang nie!” As iemand wel belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het, het die bure hom onmiddellik afgeraai om verdere kontak met die Getuies te hê. Dit is onnodig om te sê dat dit moeilik was om daar te getuig. Maar die Getuies het nie tou opgegooi nie; hulle het aanhou getuig. Wat was die gevolg?

12 Mettertyd het baie van die kinders in daardie dorpie grootgeword, getrou en hulle daar gevestig. Omdat hulle besef het dat hulle lewenswyse hulle nie ware geluk gebring het nie, het sommige van hierdie jong volwassenes na die waarheid begin soek. Hulle het dit gevind toe hulle gunstig gereageer het op die goeie nuus wat die Getuies verkondig. Die klein gemeente het dus na baie jare begin groei. Stel jou die vreugde van die Koninkryksverkondigers voor wat nie tou opgegooi het nie! Mag volharding in die verkondiging van die glorieryke Koninkryksboodskap ons ook vreugde verskaf!

Medegelowiges sal jou ondersteun

13. Tot wie kan ons ons wend wanneer ons ontmoedig is?

13 Waar kan jy vertroosting soek wanneer die druk toeneem of wanneer die lewe jou ’n verpletterende slag toedien? Miljoene van Jehovah se toegewyde knegte wend hulle eerstens tot Jehovah in gebed, dan tot hulle Christenbroers en -susters. Terwyl Jesus op aarde was, het hy die ondersteuning van sy dissipels waardeer. Op die vooraand van sy dood het hy van hulle gepraat as “dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het” (Lukas 22:28). Daardie dissipels was natuurlik onvolmaak, maar hulle lojaliteit was ’n vertroosting vir die Seun van God. Ons kan ook deur ons medeaanbidders versterk word.

14, 15. Wat het ’n egpaar gehelp om die dood van hulle seun te verwerk, en wat leer jy uit hulle ondervinding?

14 ’n Christenegpaar, Michel en Diane, het geleer hoe waardevol die ondersteuning van hulle broers en susters kan wees. Daar is vasgestel dat hulle 20-jarige seun, Jonathan, ’n lewenslustige en veelbelowende jong Christenman, ’n breingewas het. Die dokters het alles in hulle vermoë gedoen om hom te probeer red, maar Jonathan het agteruitgegaan totdat hy laat een middag oorlede is. Michel en Diane was verpletter. Hulle het geweet dat die Diensvergadering, wat daardie aand gehou is, byna verby was. Maar omdat hulle vertroosting bitter nodig gehad het, het hulle die ouer man wat saam met hulle was, gevra om saam met hulle na die Koninkryksaal te gaan. Hulle het daar aangekom net toe die gemeente van Jonathan se dood ingelig is. Ná die vergadering is die bedroefde ouers deur hulle broers en susters omring, wat hulle omhels en met hulle woorde vertroos het. Diane sê: “Ons het leeg gevoel toe ons by die saal aangekom het, maar hoe het die broers ons tog vertroos en bemoedig! Hoewel hulle nie ons pyn kon wegneem nie, het hulle ons gehelp om die druk te verduur!”—Romeine 1:11, 12; 1 Korintiërs 12:21-26.

15 Teëspoed het Michel en Diane nader aan hulle broers laat kom. Dit het hulle ook nader aan mekaar laat kom. Michel sê: “Ek het geleer om my dierbare vrou selfs meer te waardeer. Wanneer ons ontmoedig is, praat ons met mekaar oor Bybelwaarheid en hoe Jehovah ons onderskraag.” Diane voeg by: “Die Koninkrykshoop beteken nou selfs meer vir ons.”

16. Waarom is dit belangrik om die inisiatief te neem en vir ons broers te sê wat ons nodig het?

16 Ja, ons Christenbroers en -susters kan gedurende moeilike tye vir ons “’n versterkende hulp” wees en ons sodoende help om ons vreugde te behou (Kolossense 4:11). Hulle kan natuurlik nie ons gedagtes lees nie. Wanneer ons ondersteuning nodig het, is dit dus goed om dit vir hulle te sê. Dan kan ons opregte waardering uitspreek vir enige vertroosting wat ons broers kan bied, en dit as iets beskou wat van Jehovah af kom.—Spreuke 12:25; 17:17.

Kyk na julle gemeente

17. Watter uitdagings moet een enkelmoeder die hoof bied, en hoe beskou ons sulke persone?

17 Hoe beter jy medegelowiges leer ken, hoe meer sal jy leer om hulle te waardeer en vreugde in hulle assosiasie te vind. Kyk na julle gemeente. Wat sien jy? Is daar ’n enkelouer wat haar bes doen om haar kinders in die weg van die waarheid groot te maak? Het jy al bietjie gedink oor die goeie voorbeeld wat sy stel? Probeer jou party van die probleme voorstel waarmee sy te kampe het. Hier is ’n paar wat ’n enkelmoeder met die naam Jeanine noem: eensaamheid, ongevraagde toenaderings van mans by die werk, ’n uiters beperkte begroting. Maar die grootste struikelblok, sê sy, is om in haar kinders se emosionele behoeftes te voorsien, want elke kind is uniek. Jeanine noem nog ’n probleem: “Dit kan werklik ’n uitdaging wees om nie jou seun soms die hoof van die huisgesin te maak om sodoende vir die afwesigheid van ’n man te vergoed nie. Ek het ’n dogter, en dit is moeilik om te onthou om haar nie te ooreis deur haar my vertroueling te maak nie.” Soos duisende godvresende enkelouers werk Jeanine voltyds en sorg sy vir haar huisgesin. Sy studeer ook die Bybel met haar kinders, lei hulle op in die bediening en bring hulle na die gemeentelike vergaderinge (Efesiërs 6:4). Hoe gelukkig moet Jehovah tog wees wanneer hy elke dag sien hoe hierdie gesin hulle onkreukbaarheid probeer handhaaf! Maak dit nie ons harte bly om sulke persone in ons midde te hê nie? Ja, beslis.

18, 19. Lig toe hoe ons ons waardering vir gemeentelede kan vergroot.

18 Kyk weer na julle gemeente? Jy sien dalk getroue weduwees en weeskinders wat ‘nooit afwesig’ is van die vergaderinge nie (Lukas 2:37). Word hulle soms eensaam? Natuurlik. Hulle mis hulle maat ontsettend baie! Maar hulle bly besig in Jehovah se diens en toon persoonlike belangstelling in ander. Hulle stabiele, positiewe gesindheid dra by tot die vreugde van die gemeente! ’n Christen wat al meer as 30 jaar in die voltydse bediening is, het gesê: “Een van my grootste vreugdes is om te sien hoe ouer broers en susters wat baie beproewinge deurgemaak het, Jehovah nog steeds getrou dien!” Ja, die ouer Christene onder ons is ’n groot bemoediging vir die jongeres.

19 Wat van die nuwelinge wat maar onlangs met die gemeente begin assosieer het? Word ons nie bemoedig wanneer hulle hulle geloof by die vergaderinge betuig nie? Dink aan die vooruitgang wat hulle gemaak het vandat hulle die Bybel begin studeer het. Jehovah skep ongetwyfeld groot behae in hulle. Wat van ons? Spreek ons ons goedkeuring uit deur hulle vir hulle pogings te prys?

20. Waarom kan daar gesê word dat elke gemeentelid ’n belangrike rol in die gemeente speel?

20 Is jy getroud, ongetroud of ’n enkelouer? Is jy ’n vaderlose (of moederlose) seun of meisie, ’n weduwee of ’n wewenaar? Assosieer jy al baie jare lank met die gemeente, of het jy maar onlangs begin assosieer? Wees verseker dat jou getroue voorbeeld bemoedigend vir ons almal is. En wanneer jy saam met ander ’n Koninkrykslied sing, wanneer jy ’n kommentaar lewer of ’n studentetoespraak in die Teokratiese Bedieningskool behartig, dra jou bydrae tot ons vreugde by. Selfs belangriker, dit maak Jehovah se hart bly.

21. Ons het baie redes om wat te doen, maar watter vrae ontstaan?

21 Ja, selfs in hierdie moeilike tye kan ons vreugdevol wees terwyl ons ons gelukkige God aanbid. Ons het baie redes om ag te gee op Paulus se aansporing: “Hou aan om julle te verheug, . . . en die God van liefde en van vrede sal met julle wees” (2 Korintiërs 13:11). Maar sê nou ons moet ’n natuurramp, vervolging of ernstige ekonomiese teëspoed die hoof bied? Is dit moontlik om ons vreugde selfs in sulke situasies te behou? Maak jou eie gevolgtrekking terwyl jy die volgende artikel lees.

[Voetnoot]

a Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 119, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Kan jy antwoord?

• Hoe word vreugde beskryf?

• Hoe kan dit ons help om vreugdevol te bly as ons ’n positiewe gesindheid behou?

• Wat kan ons help om ’n positiewe beskouing van ons gemeente se gebied te hê?

• Waarom waardeer jy die broers en susters in julle gemeente?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 10]

Mense in ons gebied kan verander

[Prent op bladsy 12]

Voor watter uitdagings kom persone in julle gemeente te staan?