Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Deur wysheid sal ons dae baie word’

‘Deur wysheid sal ons dae baie word’

‘Deur wysheid sal ons dae baie word’

WIE kan ontken dat wysheid onontbeerlik is wanneer ons die probleme van die lewe die hoof moet bied? Ware wysheid is die vermoë om kennis en insig reg te gebruik. Dit is presies die teenoorgestelde van dwaasheid en gekheid. Die Skrif spoor ons dus aan om wysheid te verwerf (Spreuke 4:7). Trouens, die Bybelboek Spreuke is hoofsaaklik geskryf om wysheid en dissipline te gee. Die openingswoorde daarvan lui: “Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, sodat ’n mens wysheid en dissipline kan leer ken, verstandige woorde kan onderskei.”—Spreuke 1:1, 2NW.

Kyk byvoorbeeld net na die kragtige leringe van die eerste paar hoofstukke van Spreuke. Soos ’n liefdevolle vader sy seun aanspoor, smeek Salomo sy lesers om dissipline aan te neem en aandag te skenk aan wysheid (Hoofstukke 1 en 2). Hy wys ons hoe om ’n intieme verhouding met Jehovah op te bou en hoe om ons hart te bewaak (Hoofstukke 3 en 4). Ons word vermaan om sedelik rein te bly (Hoofstukke 5 en 6). Ja, die duidelike manier waarop ’n onsedelike persoon se metodes blootgelê word, is vir ons van onskatbare waarde (Hoofstuk 7). En hoe word ons almal tog getref deur die uitnodiging van verpersoonlikte wysheid (Hoofstuk 8)! Voordat koning Salomo aangaan na die bondige, afsonderlike spreuke in latere hoofstukke, gee hy ’n gedagteprikkelende opsomming van wat hy tot dusver bespreek het.—Hoofstuk 9.

‘Kom, eet my brood en drink my wyn’

Die slot van die eerste gedeelte van Spreuke is nie ’n oninteressante opsomming wat bloot ’n oorsig gee van die raad wat voorheen gemeld is nie. Dit word eerder as ’n opwindende en pragtige illustrasie aangebied, wat die leser beweeg om wysheid na te streef.

Die 9de hoofstuk van die Bybelboek Spreuke begin met dié woorde: “Ware wysheid het haar huis gebou; sy het haar sewe pilare uitgekap” (Spreuke 9:1, NW). Die term “sewe pilare”, sê een geleerde, “dui op ’n groot huis wat om ’n binnehof gebou is, waarvan die struktuur ondersteun word deur drie pilare aan elke kant en een in die middel aan die derde kant voor die oop gedeelte wat die ingang was”. Hoe dit ook al sy, ware wysheid het ’n stewige huis gebou om baie gaste te ontvang.

Alles is gereed vir ’n feesmaal. Die vleis is daar, asook die wyn. Wysheid het persoonlik toegesien dat die maaltyd voorberei en die tafel gedek word. “Sy het georganiseer dat haar diere geslag word; sy het haar wyn gemeng; wat meer is, sy het haar tafel gedek” (Spreuke 9:2, NW). Geestelik verligtende voedsel wat ’n mens tot nadenke stem, is klaarblyklik by hierdie figuurlike tafel beskikbaar.—Jesaja 55:1, 2.

Wie word genooi na die feesmaal wat deur ware wysheid voorberei is? “Sy het haar dienaresse uitgestuur, sodat sy bo-op die hoogtes van die stad kan uitroep: ‘Wie onervare is, laat hom hierheen uitdraai.’ Wie nie ’n verstandige hart het nie—sy het vir hom gesê: ‘Kom, voed julle met my brood en drink saam van die wyn wat ek gemeng het. Verlaat die onervarenes en bly lewe, en wandel reguit op die weg van begrip.’”Spreuke 9:3-6NW.

Wysheid het haar diensmeisies uitgestuur om ’n uitnodiging te rig. Hulle het na openbare plekke gegaan waar hulle die meeste mense kan roep. Almal is genooi—diegene wat “nie ’n verstandige hart het nie”, oftewel diegene sonder begrip, sowel as dié wat onervare is (Spreuke 9:4, NW). En aan hulle word lewe belowe. Die wysheid wat in God se Woord vervat is, insluitende die wysheid in die boek Spreuke, is beslis aan byna almal beskikbaar. Vandag nooi Jehovah se Getuies, as boodskappers van ware wysheid, mense waar hulle ook al gevind kan word om die Bybel te bestudeer. Trouens, dit kan tot die ewige lewe lei as ’n mens hierdie kennis inneem.—Johannes 17:3.

Christene moet die dissipline van wysheid nederig aanvaar. Dit is veral waar van jongmense en diegene wat onlangs van Jehovah begin leer het. Weens beperkte ondervinding in God se weë het hulle dalk ‘nie ’n verstandige hart nie’. Dit beteken nie dat al hulle beweegredes sleg is nie, maar dit verg tyd en inspanning om die hart in ’n toestand te bring wat Jehovah God werklik behaag. Dit vereis dat hulle hulle gedagtes, begeertes, dinge waarvoor hulle lief is en hulle doelwitte in ooreenstemming moet bring met wat God goedkeur. Hoe noodsaaklik is dit tog dat hulle “’n verlange [ontwikkel] na die onvervalste melk wat tot die woord behoort”.—1 Petrus 2:2.

Moet ons almal nie in werklikheid verder gaan as “die grondleer” nie? Ons moet beslis ’n belangstelling in “die diep dinge van God” ontwikkel en gevoed word deur die vaste voedsel wat by volwasse mense behoort (Hebreërs 5:12–6:1; 1 Korintiërs 2:10). “Die getroue en verstandige slaaf”, waaroor Jesus Christus direk toesig hou, voorsien ywerig tydige geestelike voedsel vir almal (Matteus 24:45-47). Mag ons die feesmaal aan wysheid se tafel terdeë geniet deur God se Woord en die Bybelpublikasies wat deur die slaafklas voorsien word, ywerig te bestudeer.

“Moenie ’n spotter teregwys nie”

Die leringe van wysheid sluit ook teregwysing in. Hierdie faset van wysheid word nie deur almal verwelkom nie. Die slot van die eerste deel van die boek Spreuke bevat dus ’n waarskuwing: “Hy wat die spotter bestraf, bring oneer oor homself, en hy wat ’n goddelose ’n teregwysing gee—’n gebrek in homself. Moenie ’n spotter teregwys nie, sodat hy jou nie haat nie.”Spreuke 9:7, 8aNW.

’n Spotter bou ’n wrok en haat op teenoor die een wat hom probeer help om te doen wat reg is. ’n Goddelose mens het geen waardering vir die waarde van teregwysing nie. Hoe onverstandig sou dit tog wees om die pragtige waarheid van God se Woord vir iemand te probeer leer wat die waarheid haat of net die spot daarmee wil dryf! Toe die apostel Paulus in Antiogië getuig het, het hy ’n groep Jode teëgekom wat geen liefde vir die waarheid gehad het nie. Hulle het hom in ’n woordewisseling probeer betrek deur hom lasterlik te weerspreek, maar Paulus het eenvoudig gesê: “Aangesien julle [die woord van God] van julle af wegstoot en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk! ons wend ons tot die nasies.”—Handelinge 13:45, 46.

Mag ons, in ons strewe om opregtes van hart met die goeie nuus van die Koninkryk te bereik, versigtig wees dat ons nie betrokke raak by debatte en woordewisselings met spotters nie. Christus Jesus het sy dissipels dié opdrag gegee: “Wanneer julle in die huis ingaan, groet die huismense; en as die huis verdienstelik is, laat die vrede wat julle dit toewens daaroor kom; maar as dit nie verdienstelik is nie, laat julle vrede na julle toe terugkeer. Oral waar iemand julle nie inneem nie of na julle woorde nie luister nie, skud die stof van julle voete af wanneer julle uit daardie huis of daardie stad uitgaan.”—Matteus 10:12-14.

Iemand wat wys is, reageer heeltemal anders as ’n spotter op teregwysing. Salomo sê: “Gee ’n wyse ’n teregwysing en hy sal jou liefhê. Gee aan ’n wyse, en hy sal nog wyser word” (Spreuke 9:8b, 9a, NW). ’n Wyse weet dat “geen dissipline . . . op die oomblik vreugdevol [lyk] nie, maar bedroewend; tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid” (Hebreërs 12:11). Waarom sou ons terugkap of verdedigend optree as die raad, al is dit dalk moeilik om te aanvaar, ons wyser gaan maak?

“Gee kennis aan ’n regverdige, en hy sal in kundigheid toeneem”, sê die wyse koning verder (Spreuke 9:9b, NW). Niemand is ooit te wys of te oud om nog meer te leer nie. Watter vreugde is dit tog om te sien dat selfs bejaardes die waarheid aanneem en hulle aan Jehovah toewy! Mag ons ook altyd die begeerte behou om te leer en ons verstand aktief te hou.

“Vir jou sal jare van lewe bygevoeg word”

Salomo beklemtoon die hoofpunt van die onderwerp onder bespreking deur die voorvereiste vir wysheid in te sluit. Hy skryf: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid, en die kennis van die Allerheiligste is verstand” (Spreuke 9:10, NW). Daar kan geen Goddelike wysheid wees sonder diepe, eerbiedige ontsag vir die ware God nie. ’n Persoon kan ’n verstand vol kennis hê, maar as hy nie vrees vir Jehovah het nie, sal hy nie daardie kennis op ’n manier gebruik wat die Skepper tot eer strek nie. Hy kan selfs verkeerde afleidings maak uit bekende feite en sodoende homself dwaas laat lyk. Daarbenewens is die kennis van Jehovah, die Allerheiligste, noodsaaklik as ons verstand wil verkry, wat ’n vername kenmerk van wysheid is.

Wat is die vrug van wysheid? (Spreuke 8:12-21, 35). Die koning van Israel sê: “Deur my sal jou dae baie word, en vir jou sal jare van lewe bygevoeg word” (Spreuke 9:11, NW). Lengte van dae en jare van lewe is die gevolg as ons met wysheid omgaan. Ja, “wysheid hou die besitter daarvan in die lewe”.—Prediker 7:12.

Dit is ons persoonlike verantwoordelikheid om ons in te span om wysheid te verkry. Salomo beklemtoon hierdie feit deur te sê: “As jy wys geword het, het jy tot jou eie voordeel wys geword; en as jy gespot het, sal jy dit dra, ja, jy alleen” (Spreuke 9:12, NW). Die wyse is tot sy eie voordeel wys, en die spotter het dit aan homself te wyte dat hy ly. Ons maai inderdaad wat ons saai. Mag ons dan “luister na wysheid”.—Spreuke 2:2.

“’n Dwase vrou is luidrugtig”

In teenstelling hiermee sê Salomo vervolgens: “’n Dwase vrou is luidrugtig. Sy is die eenvoudigheid self en is heeltemal onkundig. En sy het by die ingang van haar huis gaan sit, op ’n stoel, op die hoogtes van die stad, om dié wat op die weg verbygaan, dié wat op hulle paaie reguit vorentoe gaan, toe te roep: ‘Wie onervare is, laat hom hierheen uitdraai.’”Spreuke 9:13-16aNW.

Dwaasheid word as ’n luidrugtige, ongedissiplineerde en onkundige vrou uitgebeeld. Sy het ook ’n huis gebou. Sy is daarop uit om na almal wat onervare is, uit te roep. Die verbygangers het dus ’n keuse. Sal hulle die uitnodiging van wysheid of dié van dwaasheid aanvaar?

“Gesteelde waters is soet”

Wysheid sowel as dwaasheid nooi luisteraars om ‘hierheen uit te draai’. Verskillende dinge word egter gebruik om hulle aan te trek. Wysheid nooi mense na ’n feesmaal van wyn, vleis en brood. Die aantrekking wat dwaasheid gebruik, herinner ons aan die weë van ’n losbandige vrou. Salomo sê: “Wie nie ’n verstandige hart het nie—sy het ook vir hom gesê: ‘Gesteelde waters is soet, en brood wat in die geheim geëet word—dit is lekker.’”Spreuke 9:16b, 17NW.

Pleks van gemengde wyn, bied die “Vrou Dwaasheid” gesteelde waters aan (Spreuke 9:13). In die Skrif word die seksuele genot van ’n man met sy geliefde vrou vergelyk met die drink van verkwikkende water (Spreuke 5:15-17). Gesteelde waters stel dan onsedelike geslagsomgang voor wat in die geheim geskied. Die indruk word geskep dat hierdie waters soet is—beter as wyn is—omdat dit gesteel is en die idee oordra dat ’n mens met iets wegkom. Die indruk word ook geskep dat die ongeoorloofde brood lekkerder is as die brood en vleis van wysheid bloot omdat dit op oneerlike wyse bekom is. Dit is ’n kenmerk van dwaasheid om iets wat verbode is en in die geheim gedoen word, as aantreklik te beskou.

Hoewel wysheid se uitnodiging die belofte van lewe insluit, verwys die dwase vrou geensins na die gevolge as ’n mens haar weë volg nie. Maar Salomo waarsku: “Hy het nie te wete gekom dat dié wat magteloos is in die dood daar is nie, dat dié wat deur haar ingeroep word, in die lae plekke van Sjeool is nie” (Spreuke 9:18, NW). “Juffrou Dwaasheid se huis is nie ’n huis nie, maar ’n praalgraf”, skryf ’n geleerde. “As jy daar ingaan, sal jy nie lewendig daar uitkom nie.” Dit is nie wys om ’n onsedelike lewe te lei nie; dit is dodelik.

Jesus Christus het gesê: “Gaan in deur die nou poort; want breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). Mag ons altyd aan die tafel van wysheid gevoed word en onder diegene wees wat op die pad is wat na die lewe lei.

[Prent op bladsy 31]

’n Wyse verwelkom teregwysing

[Prent op bladsy 31]

Dit is ’n persoonlike verantwoordelikheid om wysheid te verwerf