Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die probleem van menselyding

Die probleem van menselyding

Die probleem van menselyding

“WAAROM GOD WAAROM?” Dit was die hoofopskrif op die voorblad van ’n bekende koerant ná ’n verwoestende aardbewing in Klein-Asië. ’n Bygaande foto het gewys hoe ’n verwese vader sy beseerde dogter uit hulle huis dra wat ineengestort het.

Oorloë, hongersnode, epidemies en natuurrampe het geweldig baie pyn, oneindig baie trane en tallose sterfgevalle veroorsaak. Voeg hierby die lyding van slagoffers van verkragting, kindermishandeling en ander misdade. Dink ook aan die ontsaglike aantal beserings en sterfgevalle weens ongelukke. En daar is die angs wat miljarde mense ondervind weens siekte, bejaardheid en die dood van geliefdes.

Gedurende die 20ste eeu is die ergste lyding tot nog toe ervaar. Van 1914 tot 1918 het byna tienmiljoen soldate in die Eerste Wêreldoorlog gesterf. Party geskiedskrywers sê dat dit die dood van net soveel burgerlikes veroorsaak het. In die Tweede Wêreldoorlog is ongeveer 50 miljoen soldate en burgerlikes dood, wat miljoene weerlose vroue, kinders en bejaarde mans ingesluit het. Regdeur die laaste eeu was etlike miljoene die slagoffers van volksmoorde, revolusies, etniese geweld, honger en armoede. Die Historical Atlas of the Twentieth Century skat dat meer as 180 miljoen mense weens “grootskaalse ellende” gesterf het.

Die Spaanse griep van 1918/19 het die dood van 20 miljoen mense veroorsaak. In die laaste twee dekades het ongeveer 19 miljoen aan vigs gesterf, en sowat 35 miljoen het nou die virus wat dit veroorsaak. Miljoene kinders word sonder ouers gelaat—wat dood is aan vigs. En ’n ongekende aantal babas sterf aan vigs, wat aan hulle oorgedra is terwyl hulle nog in die baarmoeder was.

Kinders ondergaan op ander maniere nog meer lyding. Aan die einde van 1995 het Engeland se Manchester Guardian Weekly inligting aangehaal wat deur die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) verskaf is en gesê: “In die oorloë van die afgelope dekade is 2 miljoen kinders doodgemaak, 4-5 miljoen vermink, 12 miljoen haweloos gelaat, meer as 1 miljoen wees gelaat of van hulle ouers geskei en 10 miljoen sielkundig getraumatiseer.” Voeg hierby ongeveer 40 tot 50 miljoen aborsies wat elke jaar regoor die wêreld plaasvind!

Wat van die toekoms?

Vir baie mense lyk die toekoms donker. ’n Groep wetenskaplikes het gesê: “Menslike bedrywighede . . . sal die lewende wêreld dalk so verander dat dit nie lewe sal kan onderhou soos ons dit ken nie.” Hulle het bygevoeg: “Selfs op hierdie oomblik lewe een uit vyf mense in volslae armoede sonder genoeg kos om te eet, en een uit tien ly aan ernstige ondervoeding.” Die wetenskaplikes het van die geleentheid gebruik gemaak om “die hele mensdom te waarsku teen wat voorlê”, en gesê: “’n Groot verandering in ons bestuurderskap van die aarde en die lewe daarop is nodig as ons al die menselyding wil vermy en nie wil sien hoe ons wêreldwye tuiste op hierdie planeet onherstelbaar beskadig word nie.”

Waarom het God soveel lyding en goddeloosheid toegelaat? Hoe gaan hy die situasie regstel? Wanneer?

[Foto-erkennings op bladsy 3]

Bo, rystoel: UN/DPI Photo 186410C by P.S. Sudhakaran; middel, honger kinders: WHO/OXFAM; onder, uitgeteerde man: FAO photo/B. Imevbore