Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God gaan lyding nie meer lank toelaat nie

God gaan lyding nie meer lank toelaat nie

God gaan lyding nie meer lank toelaat nie

WAAR jy ook al kyk, is daar lyding. Party mense bring dit oor hulleself. Hulle kry seksueel oordraagbare siektes of ondervind die gevolge van dwelm- of alkoholmisbruik of van rook. Of hulle ondervind dalk gesondheidsprobleme weens swak eetgewoontes. Maar baie lyding is die gevolg van faktore of gebeure waaroor die gemiddelde mens geen beheer het nie: oorlog, etniese geweld, misdaad, armoede, hongersnood, siekte. Iets anders waaroor mense geen beheer het nie, is die lyding wat met veroudering en die dood gepaardgaan.

Die Bybel verseker ons: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Waarom het ’n liefdevolle God dan toegelaat dat al hierdie lyding soveel eeue lank aanhou? Wanneer sal hy die situasie regstel? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons ondersoek instel na God se voorneme met mense. Dit sal ons help om te verstaan waarom God lyding toegelaat het en wat hy daaromtrent gaan doen.

Die gawe van wilsvryheid

Toe God die eerste mens geskep het, het hy meer as net ’n liggaam met ’n brein voortgebring. God het Adam en Eva ook nie geskep soos robotte wat nie vir hulleself kon dink nie. Hy het hulle wilsvryheid gegee. En dit was ’n wonderlike gawe, want “toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed” (Genesis 1:31). Ja, “volmaak is sy werk” (Deuteronomium 32:4, NW). Ons almal waardeer hierdie gawe van wilsvryheid omdat ons nie wil hê dat al ons gedagtes en dade vir ons voorgeskryf moet word sonder dat ons ooit ’n keuse in enige saak het nie.

Maar sou die wonderlike gawe van wilsvryheid sonder perke gebruik kon word? In riglyne wat aan vroeë Christene gegee is, antwoord God se Woord: “Wees soos vry mense, maar behou julle vryheid, nie as ’n dekmantel vir slegtheid nie, maar as slawe van God” (1 Petrus 2:16). Vir die beswil van almal moet daar grense wees. Wilsvryheid sou dus deur regsorde bepaal word. Anders sou dit tot anargie lei.

Wie bepaal die regsorde?

Wie se regsorde sou die behoorlike perke van vryheid bepaal? Die antwoord op hierdie vraag hou verband met die basiese rede waarom God lyding toegelaat het. Aangesien God mense geskep het, weet hy die beste watter wette hulle vir hulle eie beswil en die beswil van ander moet gehoorsaam. Die Bybel stel dit só: “Ek, Jehovah, is jou God, wat jou leer om jouself te bevoordeel, wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel.”—Jesaja 48:17NW.

’n Baie belangrike feit is dus: Mense is nie geskep om onafhanklik van God te wees nie. Hy het hulle só gemaak dat hulle sukses en geluk afhang van gehoorsaamheid aan sy regverdige wette. God se profeet Jeremia het gesê: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

God het die mensdom gemaak om onderworpe te wees aan sy fisiese wette, soos die wet van swaartekrag. Hy het mense eweneens gemaak om onderworpe te wees aan sy sedelike wette, wat bedoel is om ’n harmoniese samelewing tot gevolg te hê. God se Woord gee dus tereg dié aansporing: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.”—Spreuke 3:5.

Die mensdom kon derhalwe nooit hulle lewe suksesvol sonder God se heerskappy rig nie. As mense onafhanklik van hom sou probeer wees, sou hulle maatskaplike, ekonomiese, politieke en godsdiensstelsels tot stand bring wat met mekaar sou bots, en ‘die een mens sou oor die ander heers tot sy ongeluk’.—Prediker 8:9.

Wat het verkeerd geloop?

God het ons eerste ouers, Adam en Eva, ’n volmaakte begin gegee. Hulle het ’n volmaakte liggaam en verstand en ’n paradystuin as tuiste gehad. As hulle hulle aan God se heerskappy onderwerp het, sou hulle volmaak en gelukkig gebly het. Mettertyd sou hulle die ouers van ’n hele volmaakte, gelukkige mensegesin gewees het wat op ’n paradysaarde woon. Dit was God se voorneme met die mensdom.—Genesis 1:27-29; 2:15.

Maar ons eerste ouers het hulle wilsvryheid misbruik. Hulle het verkeerdelik gedink dat hulle suksesvol kon wees as hulle onafhanklik van God is. Uit vrye wil het hulle die grense van sy wette oorskry (Genesis, hoofstuk 3). Omdat hulle sy heerskappy verwerp het, was hy onder geen verpligting om hulle in volmaaktheid te onderhou nie. ‘Hulle het self verderflik gehandel, hulle het nie sy kinders gebly nie, en die gebrek het by hulle gelê.’—Deuteronomium 32:5NW.

Van die tyd dat Adam en Eva aan God ongehoorsaam was, het hulle liggaamlik en verstandelik begin agteruitgaan. Jehovah is die bron van die lewe (Psalm 36:9, NW). Omdat hulle hulle van Jehovah afgesny het, het die eerste mensepaar dus onvolmaak geword en uiteindelik gesterf (Genesis 3:19). In ooreenstemming met die wette van genetiese oorerwing kon hulle nageslag net ontvang wat hulle ouers self besit het. En wat was dit? Dit was onvolmaaktheid en die dood. Die apostel Paulus het derhalwe geskryf: ‘Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het.’—Romeine 5:12.

Die vernaamste geskil—soewereiniteit

Toe Adam en Eva teen God in opstand gekom het, het hulle sy soewereiniteit, dit wil sê sy reg om te heers, betwis. Jehovah kon hulle vernietig het en oor begin het met ’n ander paartjie, maar dit sou nie die geskil besleg het van wie se heerskappy reg en die beste vir mense is nie. Deur mense tyd te gee om hulle gemeenskappe volgens hulle eie idees te ontwikkel, sou hulle sonder enige twyfel kon bewys of heerskappy wat onafhanklik van God is, ooit suksesvol kon wees.

Wat toon duisende jare van mensegeskiedenis ons? Gedurende al daardie eeue het mense baie soorte maatskaplike, ekonomiese, politieke en godsdiensstelsels probeer. Maar goddeloosheid en lyding het voortgeduur. Trouens, ‘goddelose mense het voortgegaan van kwaad tot erger’, veral in ons tyd.—2 Timoteus 3:13.

Gedurende die 20ste eeu het wetenskaplike en industriële prestasies ’n hoogtepunt bereik. Maar dit was ook die eeu met die ergste lyding in die hele mensegeskiedenis. En ongeag watter mediese vooruitgang gemaak is, die wet van God geld nog steeds: Mense wat van God—die bron van lewe—vervreemd is, word siek, oud en sterf. Hoe duidelik is die bewyse tog dat mense nie ‘hulle eie voetstappe kan rig’ nie!

God oefen sy soewereiniteit uit

Hierdie tragiese eksperiment om onafhanklik van God te wees, het eens en vir altyd bewys dat menseheerskappy sonder sy leiding nooit suksesvol kan wees nie. Net God se heerskappy kan geluk, eenheid, gesondheid en die lewe meebring. Daarbenewens toon Jehovah God se onfeilbare Woord, die Heilige Bybel, dat ons in “die laaste dae” lewe van menseheerskappy wat onafhanklik van God is (2 Timoteus 3:1-5). Jehovah gaan dít sowel as goddeloosheid en lyding nie meer lank toelaat nie.

God sal binnekort in menseaangeleenthede ingryp. Die Skrif sê vir ons: “In die dae van dié konings [menslike heerskappye wat nou bestaan] sal die God van die hemel ’n koninkryk [in die hemel] verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie [mense sal nooit weer oor die aarde heers nie]; dit sal al daardie koninkryke [huidige heerskappye] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

Die regverdiging van Jehovah God se soewereiniteit deur middel van die hemelse Koninkryk is die tema van die Bybel. Jesus het dit sy vernaamste lering gemaak. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.

Wie sal bly lewe en wie sal nie wanneer God se heerskappy die mens se heerskappy vervang? In Spreuke 2:21, 22 word ons verseker: “Die opregtes [wat God se heerskappy ondersteun] sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose [wat nie God se heerskappy ondersteun nie] sal uit die land uitgeroei . . . word.” Die Goddelik geïnspireerde psalmis het gesing: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:10, 11, 29.

’n Wonderlike nuwe wêreld

Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal diegene wat die einde van die huidige stelsel van dinge oorleef, ’n aarde beërf wat van goddeloosheid en lyding gereinig is. Die mensdom sal godgegewe onderrigting ontvang, en mettertyd sal “die aarde . . . vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Hierdie opbouende, positiewe onderrigting sal ’n waarlik vreedsame, harmoniese mensegemeenskap tot gevolg hê. Daar sal dus nie meer oorlog, moord, geweld, verkragting, diefstal of enige ander misdaad wees nie.

Gehoorsame mense wat in God se nuwe wêreld lewe, sal ’n oorvloed wonderlike fisiese seëninge ontvang. Al die slegte gevolge van die opstand teen God se heerskappy sal uit die weg geruim word. Onvolmaaktheid, siekte, bejaardheid en die dood sal tot die verlede behoort. Die Bybel verseker ons: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.” Daarbenewens belowe die Skrif: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Hoe wonderlik sal dit tog wees om elke dag—vir ewig—blakend gesond te wees!

Onder God se liefdevolle leiding sal die bewoners van daardie nuwe wêreld hulle energie en vaardighede gebruik om ’n aardwye paradys tot stand te bring. Armoede, honger en haweloosheid sal vir ewig iets van die verlede wees, want Jesaja se profesie sê: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie” (Jesaja 65:21, 22). Ja, “hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik”.—Miga 4:4.

Die aarde sal gunstig reageer op die liefdevolle sorg van God en gehoorsame mense. Ons het hierdie skriftuurlike versekering: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; . . . in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis” (Jesaja 35:1, 6). “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16NW.

Wat van die miljarde mense wat gesterf het? Diegene in God se geheue sal lewend gemaak word, want ‘daar gaan ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges wees’ (Handelinge 24:15). Ja, die dooies gaan opgewek word. Hulle sal die wonderlike waarhede aangaande God se heerskappy geleer word en die geleentheid gegee word om vir ewig in die Paradys te lewe.—Johannes 5:28, 29.

Sodoende sal Jehovah God die verskriklike toestand van lyding, siekte en die dood waarin die mensdom hulle al duisende jare lank bevind, ongedaan maak. Geen siekte meer nie! Geen gebreke meer nie! Geen dood meer nie! God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het [dan] verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.

Dit is hoe God ’n einde sal maak aan lyding. Hy sal hierdie verdorwe wêreld vernietig en ’n heeltemal nuwe stelsel van dinge inlui waarin “regverdigheid [sal] woon” (2 Petrus 3:13). Watter goeie nuus is dit tog! Ons het daardie nuwe wêreld dringend nodig. En ons sal nie lank hoef te wag om dit te sien nie. Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat die nuwe wêreld op hande is en dat God lyding nie meer lank gaan toelaat nie.—Matteus 24:3-14.

[Venster op bladsy 8]

Menseheerskappy—’n mislukking

Aangaande menseheerskappy het die voormalige Duitse kanselier Helmut Schmidt gesê: “Ons as mense . . . het die wêreld nog altyd net gedeeltelik regeer, en die meeste van die tyd baie sleg. . . . Ons het dit nog nooit in algehele vrede regeer nie.” Die Human Development Report 1999 het gesê: “Alle lande sê dat hulle maatskaplike strukture besig is om te verbrokkel, met maatskaplike onrus, meer misdaad, meer gesinsgeweld. . . . Wêreldwye bedreigings neem toe en word te groot om op nasionale vlak en selfs op internasionale vlak iets daaromtrent te doen.”

[Prente op bladsy 8]

‘Hulle sal hulle verlustig oor groot vrede.’—Psalm 37:11

[Foto-erkennings op bladsy 5]

Derde van bo af, ma en kind: FAO photo/B. Imevbore; onder, ontploffing: U.S. National Archives photo