Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goddelike leiding om ’n huweliksmaat te kies

Goddelike leiding om ’n huweliksmaat te kies

Goddelike leiding om ’n huweliksmaat te kies

“Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.”—PSALM 32:8, NW.

1. Watter faktore is nodig vir ’n suksesvolle huwelik?

 ’N LUGAKROBAAT swaai van sy sweefstok af weg, vou sy liggaam dubbel en slaan behendig bolmakiesie in die lug. Dan maak hy weer vinnig sy liggaam reguit, strek sy arms uit en word gevang deur ’n sweefakrobaat wat aan die ander kant onderstebo hang. ’n Ysskaatspaar skaats met grasie saam op die ysbaan. Skielik lig die man sy medeskaatser op en gooi haar in die lug. Sy tol in die lug, land grasieus op een skaats en sirkel dan weer saam met hom op die ys. Albei hierdie vertonings lyk so maklik. Maar wie sou dit waag om so iets te probeer doen sonder oefening, ’n bekwame maat en veral sonder die regte soort leiding of opleiding. Dit kan eweneens lyk of ’n suksesvolle huwelik sommer vanself kom. Maar dit hang ook af van ’n goeie maat, van doelgerigte inspanning en veral van wyse raad. Trouens, die regte leiding is noodsaaklik.

2. (a) Wie het die huweliksreëling ingestel, en met watter doel? (b) Hoe is party huwelike gereël?

2 Dit is net natuurlik vir ’n jong ongetroude man of vrou om aan ’n huweliksmaat—’n lewensmaat—te dink. Vandat Jehovah God die huweliksreëling ingestel het, was die huwelik van ’n man en ’n vrou ’n normale lewenswyse. Maar die eerste man, Adam, het nie sy vrou gekies nie. Jehovah het haar op liefdevolle wyse vir hom geskep (Genesis 2:18-24). Die eerste mensepaar moes vermeerder sodat die aarde uiteindelik met mense gevul sou wees. Ná daardie eerste huwelik is huwelike gewoonlik deur die ouers van die bruid en bruidegom gereël, soms nadat die partye daartoe ingestem het (Genesis 21:21; 24:2-4, 58; 38:6; Josua 15:16, 17). Hoewel gereëlde huwelike in party lande en kulture nog steeds algemeen is, kies baie vandag hulle eie huweliksmaat.

3. Hoe moet ’n mens ’n huweliksmaat kies?

3 Hoe moet ’n mens ’n huweliksmaat kies? Party word deur voorkoms beïnvloed—dit moet iemand wees wat vir hulle aantreklik lyk. Ander kyk na materiële voordele, iemand wat goed vir hulle sal sorg en wat hulle behoeftes en begeertes sal bevredig. Maar sal enige van hierdie benaderings op sigself tot ’n gelukkige en bevredigende verhouding lei? “Bekoorlikheid kan vals wees, en skoonheid kan nietig wees”, sê Spreuke 31:30 (NW), “maar die vrou wat Jehovah vrees, sy verwerf lof vir haarself.” En hier vind ons ’n belangrike punt: Dink aan Jehovah wanneer jy ’n huweliksmaat kies.

Liefdevolle leiding van God

4. Watter hulp voorsien God om ’n huweliksmaat te kies?

4 Ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, het sy geskrewe Woord voorsien om ons in alle sake te lei. Hy sê: “Ek, Jehovah, is jou God, wat jou leer om jouself te bevoordeel, wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel” (Jesaja 48:17, NW). Dit is dus nie verbasend om in die Bybel beproefde riglyne te vind wat ons help om ’n huweliksmaat te kies nie. Jehovah wil hê dat ons huwelike blywend en gelukkig moet wees. Hy het ons dus van hulp voorsien sodat ons hierdie riglyne kan verstaan en kan toepas. Is dit nie wat ons van ons liefdevolle Skepper sou verwag nie?—Psalm 19:9.

5. Wat is noodsaaklik vir blywende geluk in die huwelik?

5 Toe Jehovah die huweliksreëling ingestel het, het hy in gedagte gehad dat dit ’n blywende verbintenis moet wees (Markus 10:6-12; 1 Korintiërs 7:10, 11). Dit is waarom hy ‘egskeiding haat’ en dit slegs op grond van “hoerery” toelaat (Maleagi 2:13-16; Matteus 19:9). Om ’n huweliksmaat te kies, is dus een van die belangrikste besluite wat ons kan neem, en dit moet nie ligtelik opgeneem word nie. Min ander besluite het soveel potensiaal om mense gelukkig of ongelukkig te maak. Terwyl ’n goeie keuse ’n mens se lewe kan verryk en dit bevredigend kan maak, kan ’n slegte keuse oneindige hartseer meebring (Spreuke 21:19; 26:21). As ’n mens gelukkig wil bly, is dit noodsaaklik dat jy ’n wyse keuse maak en gewillig is om ’n lewenslange verbintenis aan te gaan, want God het die huwelik ingestel as ’n verbintenis wat op eenheid en samewerking sou floreer.—Matteus 19:6.

6. Waarom moet jong mans en vroue veral versigtig wees wanneer hulle ’n huweliksmaat kies, en hoe kan hulle die verstandigste besluit neem?

6 Jong mans en vroue moet veral versigtig wees dat fisiese aantrekkingskrag en sterk drange nie hulle oordeel belemmer wanneer hulle ’n huweliksmaat kies nie. ’n Verhouding wat uitsluitlik op sulke faktore gegrond is, kan gou in minagting of selfs haat ontaard (2 Samuel 13:15). Daarenteen kan duursame liefde opgebou word namate ons ons maat leer ken en ons ook onsself beter verstaan. Ons moet ook besef dat wat ons hart aanvanklik begeer, dalk nie vir ons beswil is nie (Jeremia 17:9). Dit is waarom die Goddelike riglyne in die Bybel so belangrik is. Dit help ons om te onderskei hoe ons die verstandigste besluite in die lewe kan neem. Vir die psalmis was dit asof Jehovah hierdie woorde gesê het: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou” (Psalm 32:8, NW; Hebreërs 4:12). Hoewel die huwelik ons ingebore behoefte aan liefde en kameraadskap kan bevredig, bied dit ook uitdagings wat volwassenheid en onderskeidingsvermoë vereis.

7. Waarom aanvaar party nie Bybelraad oor die keuse van ’n huweliksmaat nie, maar wat kan die gevolg hiervan wees?

7 Dit is verstandig om na die raad van die Insteller van die huwelik te luister wanneer ons ’n huweliksmaat kies. Maar miskien hou ons nie daarvan wanneer ouers of Christen- ouer manne vir ons Bybelraad gee nie. Ons meen moontlik dat hulle ons nie heeltemal verstaan nie, en sterk begeertes dryf ons dalk om die neigings van ons hart te volg. Maar wanneer die werklikheid ons tref, is ons dalk spyt dat ons nie die wyse raad gevolg het wat vir ons eie beswil gegee is nie (Spreuke 23:19; 28:26). Ons bevind ons moontlik in ’n liefdelose huwelik, waar ons sukkel om vir ons kinders te sorg en miskien selfs ’n ongelowige huweliksmaat het. Hoe hartseer sal dit tog wees as ’n reëling wat ons groot geluk kon verskaf het, ’n bron van groot hartseer word!

Godvrugtige toegewydheid—’n vername faktor

8. Hoe help godvrugtige toegewydheid ’n huwelik om blywend en gelukkig te wees?

8 Wedersydse aangetrokkenheid help weliswaar om ’n huwelik te vestig. Maar wat selfs belangriker is vir ’n huwelik om blywend en gelukkig te wees, is as huweliksmaats dieselfde waardes het. Wedersydse toegewydheid aan Jehovah God verseker ’n blywende band en bevorder eenheid op ’n manier wat geen ander faktor kan nie (Prediker 4:12). Wanneer ’n Christenegpaar hulle lewe rondom ware aanbidding van Jehovah bou, word hulle geestelik, verstandelik en sedelik verenig. Hulle bestudeer God se Woord saam. Hulle bid saam, en dit verenig hulle harte. Hulle woon Christelike vergaderinge saam by en hulle werk saam in die veldbediening. Dit alles help om ’n geestelike band te smee wat hulle nader aan mekaar bring. Nog belangriker, dit bring Jehovah se seën mee.

9. Wat het Abraham gedoen om ’n vrou vir Isak te vind, en met watter gevolg?

9 Die getroue aartsvader Abraham het weens sy godvrugtige toegewydheid God probeer behaag toe die tyd aangebreek het om ’n vrou vir sy seun Isak te kies. Abraham het vir sy vertroude huiskneg gesê: “[Jy moet] sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie; maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak ’n vrou te neem. . . . [Jehovah] sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ’n vrou gaan haal.” Rebekka was ’n uitstekende keuse, ’n vrou vir wie Isak baie lief was.—Genesis 24:3, 4, 7, 14-21, 67.

10. Watter skriftuurlike verpligtinge het mans sowel as vrouens?

10 As ons ongetroude Christene is, sal godvrugtige toegewydheid ons help om eienskappe te ontwikkel sodat ons aan die skriftuurlike vereistes vir die huwelik kan voldoen. Onder die verpligtinge van mans en vrouens het die apostel Paulus die volgende ingesluit: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here . . . Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het . . . Só behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. . . . Elkeen van julle [moet] ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; andersyds moet die vrou diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:22-33). Soos ons kan sien, beklemtoon Paulus se geïnspireerde woorde die belangrikheid van liefde en respek. Gehoorsaamheid aan hierdie raad behels eerbiedige vrees vir Jehovah. Dit vereis ’n heelhartige verbintenis in voorspoed sowel as in teëspoed. Christene wat daaraan dink om te trou, moet hierdie verantwoordelikheid kan aanvaar.

Die besluit oor wanneer om te trou

11. (a) Watter raad gee die Skrif oor wanneer om te trou? (b) Watter voorbeeld toon dat dit verstandig is om die Bybelraad in 1 Korintiërs 7:36 te volg?

11 Dit is baie belangrik om te weet wanneer ons gereed is om te trou. Aangesien dit van persoon tot persoon verskil, gee die Skrif nie ’n spesifieke ouderdom aan nie. Dit toon egter wel dat dit beter is om te wag totdat ons “verby die bloei van die jeug is”, wanneer sterk geslagsdrange goeie oordeel kan belemmer (1 Korintiërs 7:36). “Toe ek sien hoe my vriende verhoudings het en trou, baie van hulle in hulle tienerjare, was dit soms moeilik vir my om hierdie raad toe te pas”, sê Michelle. “Maar ek het besef dat die raad van Jehovah af kom, en hy sê net vir ons wat tot ons voordeel is. Deur te wag voordat ek getrou het, kon ek aandag gee aan my verhouding met Jehovah en ondervinding in die lewe opdoen, wat ’n mens onmoontlik in jou tienerjare kan hê. Jare later was ek beter voorbereid om die verantwoordelikhede sowel as die probleme te hanteer wat met die huwelik gepaardgaan.”

12. Waarom is dit verstandig om nie oorhaastig te trou wanneer ’n mens nog jonk is nie?

12 Dié wat oorhaastig trou terwyl hulle nog baie jonk is, vind dikwels dat hulle behoeftes en begeertes verander namate hulle ouer word. Dan besef hulle dat die dinge waarvan hulle aanvanklik gehou het, nie meer so belangrik is nie. Een jong Christin het besluit dat sy graag wou trou wanneer sy 16 is. Haar ouma en ook haar ma het op daardie ouderdom getrou. Toe ’n jong man van wie sy gehou het, nie op daardie tydstip met haar wou trou nie, het sy iemand anders gekies wat bereid was om dit te doen. Sy was egter later in haar lewe baie spyt dat sy hierdie oorhaastige besluit geneem het.

13. Wat het diegene wat te jonk trou, dikwels nie?

13 Wanneer ’n mens aan trou dink, is dit belangrik om ’n volwasse siening te hê van wat dit behels. As mense te jonk trou, kan dit ’n menigte probleme meebring waarteen ’n jeugdige paartjie heel moontlik nie opgewasse is nie. Hulle het dalk nie die nodige ondervinding en volwassenheid om die druk te hanteer wat met die huwelik en die grootmaak van kinders gepaardgaan nie. Ons moet slegs trou wanneer ons fisies, verstandelik en geestelik gereed is om ’n blywende verbintenis aan te gaan.

14. Wat is nodig om gespanne situasies in die huwelik te hanteer?

14 Paulus het geskryf dat diegene wat trou, “verdrukking in hulle vlees [sal] hê” (1 Korintiërs 7:28). Probleme sal ontstaan omdat daar twee verskillende persoonlikhede is, en hulle sal verskillende menings hê. Weens menslike onvolmaaktheid kan dit moeilik wees om ons skriftuurlike rol in die huweliksreëling te vervul (1 Korintiërs 11:3; Kolossense 3:18, 19; Titus 2:4, 5; 1 Petrus 3:1, 2, 7). Dit verg volwassenheid en geestelike stabiliteit om Goddelike leiding te vra en dit te volg sodat ons gespanne situasies op ’n liefdevolle wyse uit die weg kan ruim.

15. Watter rol kan ouers daarin speel om hulle kinders vir die huwelik voor te berei? Lig toe.

15 Ouers kan hulle kinders vir die huwelik voorberei deur hulle te help verstaan hoe belangrik dit is om God se leiding te volg. Deur die Skrif en Christelike publikasies op bekwame wyse te gebruik, kan ouers hulle kinders help om te bepaal of hulle óf hulle voornemende huweliksmaat gereed is om ’n huweliksverbintenis aan te gaan. a Toe Blossom 18 was, het sy gedink dat sy verlief is op ’n jong man in haar gemeente. Hy was ’n voltydse pionierbedienaar en hulle wou trou. Maar haar ouers het haar gevra om ’n jaar te wag, want hulle het gevoel dat sy nog te jonk was. Blossom het later geskryf: “Ek is so dankbaar dat ek na daardie wyse raad geluister het. In daardie jaar het ek bietjie meer volwasse geword en begin besef dat hierdie jong man nie die eienskappe gehad het wat van hom ’n goeie huweliksmaat sou maak nie. Hy het later die organisasie verlaat, en ek het ’n situasie vrygespring wat ’n ramp in my lewe kon gewees het. Hoe wonderlik is dit tog om verstandige ouers te hê op wie se oordeel ’n mens kan staatmaak!”

‘Trou net in die Here’

16. (a) Hoe kan Christene op die proef gestel word wanneer dit daarby kom om ‘net in die Here te trou’? (b) Waaroor moet Christene nadink as hulle in die versoeking kom om met ’n ongelowige te trou?

16 Jehovah se riglyne vir Christene is baie duidelik: ‘Trou net in die Here’ (1 Korintiërs 7:39). Christenouers en hulle kinders kan hierin op die proef gestel word. Hoe so? Jongmense wil dalk graag trou, maar daar is moontlik nie hubare maats in die gemeente nie. Of altans, dit is hoe dit lyk. Daar is moontlik minder hubare mans as vroue in ’n sekere omgewing, of daar is dalk niemand in die omgewing wat as geskik beskou word nie. ’n Jong man wat nie ’n toegewyde lid van die gemeente is nie, toon moontlik belangstelling in ’n jong Christenvrou (of andersom), en daar is druk om van Jehovah se standaarde af te wyk. Onder sulke omstandighede sal dit goed wees om oor die voorbeeld van Abraham na te dink. Een manier waarop hy sy goeie verhouding met God gehandhaaf het, was deur toe te sien dat sy seun Isak met ’n ware aanbidder van Jehovah trou. Isak het dieselfde in die geval van sy seun Jakob gedoen. Dit het moeite van al die betrokkenes geverg, maar dit het God behaag en tot sy seën gelei.—Genesis 28:1-4.

17. Waarom sal dit waarskynlik rampspoedig wees om met ’n ongelowige te trou, en wat is die belangrikste rede waarom ons ‘net in die Here wil trou’?

17 In enkele gevalle het die ongelowige uiteindelik ’n Christen geword. Maar huwelike met ongelowiges is dikwels rampspoedig. Diegene wat onder ’n ongelyke juk kom, het nie dieselfde oortuigings, standaarde of doelwitte nie (2 Korintiërs 6:14). Dit kan ’n nadelige uitwerking op kommunikasie en geluk in die huwelik hê. Een Christenvrou was byvoorbeeld baie ongelukkig oor die feit dat sy nie na afloop van ’n opbouende vergadering huis toe kon gaan en geestelike dinge met haar ongelowige maat kon bespreek nie. Nog belangriker natuurlik is dat dit ’n kwessie van lojaliteit teenoor Jehovah is om ‘in die Here te trou’. Wanneer ons aan God se Woord gehoorsaam is, veroordeel ons hart ons nie, want ons doen wat ‘welbehaaglik is in sy oë’.—1 Johannes 3:21, 22.

18. Aan watter belangrike sake moet ons aandag gee as ons aan trou dink, en waarom?

18 Wanneer ons aan trou dink, moet die goeie eienskappe en geestelikheid van die toekomstige maat van die grootste belang wees. ’n Christelike persoonlikheid, tesame met liefde vir God en heelhartige toegewydheid aan hom, is van veel groter waarde as fisiese aantreklikheid. Diegene wat hulle verpligting besef om geestelike sterk huweliksmaats te wees en dit nakom, geniet God se goedkeuring. En die huweliksband is op sy sterkste as daar wedersydse toegewydheid aan die Skepper is en die huweliksmaats sy leiding ten volle aanvaar. Sodoende word Jehovah geëer, en die huwelik begin op ’n stewige geestelike grondslag wat tot ’n blywende verbintenis sal bydra.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 1999, bladsye 4-8.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom het ons God se leiding nodig om ’n goeie huweliksmaat te kies?

• Hoe sal godvrugtige toegewydheid help om die huweliksband te versterk?

• Hoe kan ouers hulle kinders vir die huwelik voorberei?

• Waarom is dit belangrik om ‘net in die Here te trou’?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 17]

Dit kan groot geluk verskaf as ’n mens God se raad toepas wanneer jy ’n huweliksmaat kies

[Prente op bladsy 18]

Dit bring ryk seëninge mee as ’n mens ‘net in die Here trou’