Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou

Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou

Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou

“Hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.”—EFESIËRS 6:4.

1. Wat was God se voorneme met die gesin, maar wat het inteendeel plaasgevind?

 “WEES vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Genesis 1:28). Met hierdie woorde aan Adam en Eva het Jehovah God die gesinsreëling ingestel (Efesiërs 3:14, 15). Daardie eerste mensepaar kon oor die toekoms dink en uitsien na ’n aarde wat met hulle nakomelinge gevul is—’n uitgebreide gesin van volmaakte mense wat gelukkig op ’n paradysaarde lewe en verenig in die aanbidding van hulle Grootse Skepper is. Maar Adam en Eva het gesondig, en die aarde is nie met regverdige, godvresende mense gevul nie (Romeine 5:12). Die gesinslewe het eerder vinnig agteruitgegaan, en haat, geweld en ’n gebrek aan “natuurlike geneentheid” het veral in hierdie “laaste dae” algemeen geword.—2 Timoteus 3:1-5; Genesis 4:8, 23; 6:5, 11, 12.

2. Watter vermoëns het Adam se nakomelinge gehad, maar wat sou dit verg om ’n geestelike sterk gesin te bou?

2 Adam en Eva is na God se beeld geskep. Hoewel Adam nou ’n sondaar was, het Jehovah hom toegelaat om kinders te hê (Genesis 1:27; 5:1-4). Soos met hulle vader die geval was, het Adam se nakomelinge sedelike vermoëns gehad en kon hulle leer om tussen reg en verkeerd te onderskei. Hulle kon geleer word hoe om hulle Skepper te aanbid en hoe belangrik dit is om hom met hulle hele hart, siel, verstand en krag lief te hê (Markus 12:30; Johannes 4:24; Jakobus 1:27). Daarbenewens kon hulle geleer word “om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met . . . God” (Miga 6:8, NW). Maar as sondaars sou dit baie inspanning verg om ’n geestelike sterk gesin te bou.

Koop die tyd uit

3. Hoe kan ouers ‘die tyd uitkoop’ om Christenkinders groot te maak?

3 In hierdie moeilike, kritieke tye verg dit groot inspanning om kinders te help om ‘liefhebbers van Jehovah’ te word wat waarlik ‘die kwaad haat’ (Psalm 97:10). Wyse ouers sal ‘die tyd uitkoop’ om hierdie uitdaging die hoof te bied (Efesiërs 5:15-17). As jy ’n ouer is, hoe kan jy dit doen? Stel eerstens prioriteite, en gee aandag aan “die belangriker dinge”, wat die onderrigting en opleiding van jou kinders insluit (Filippense 1:10, 11). Tweedens moet jy jou lewe vereenvoudig. Jy sal dalk bedrywighede moet uitskakel wat nie werklik nodig is nie. Of jy moet dalk ontslae raak van onnodige besittings wat tyd neem om in stand te hou. As ’n Christenouer sal jy nooit spyt wees dat jy die moeite gedoen het om godvresende kinders groot te maak nie.—Spreuke 29:15, 17.

4. Hoe kan ’n gesin verenig gehou word?

4 Om tyd saam met jou kinders deur te bring, veral wanneer dit in geestelike bedrywighede is, is beslis die moeite werd en is een van die beste maniere om ’n gesin verenig te hou. Maar moet dit nie aan die toeval oorlaat nie. Beplan sekere tye wat julle saam sal deurbring. Dit beteken nie net om in dieselfde huis te wees en elkeen sy eie ding te doen nie. Kinders floreer die meeste as hulle daagliks persoonlike aandag kry. Liefde en besorgdheid moet in oorvloedige mate betoon word. Selfs voordat ’n egpaar besluit om kinders te hê, moet hulle ernstig oor hierdie belangrike verantwoordelikheid nadink (Lukas 14:28). Dan sal hulle dit nie as ’n onaangename taak beskou om kinders groot te maak nie. Hulle sal dit eerder as ’n geseënde voorreg beskou.—Genesis 33:5; Psalm 127:3.

Leer deur woord en voorbeeld

5. (a) Hoe begin jy kinders leer om Jehovah lief te hê? (b) Watter raad word in Deuteronomium 6:5-7 aan ouers gegee?

5 As jy jou kinders wil leer om Jehovah lief te hê, moet jy Hom eers self liefhê. Innige liefde vir God sal jou beweeg om al sy instruksies getrou te volg. Dit sluit in om kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed (Efesiërs 6:4). God vermaan ouers om die voorbeeld vir hulle kinders te stel, om met hulle te kommunikeer en om hulle te leer. Deuteronomium 6:5-7 sê: “Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Deur gereelde vermanings en herhaling kan jy God se gebooie by jou kinders inskerp. Gevolglik sal jou kinders jou liefde vir Jehovah aanvoel, wat weer in hulle die begeerte sal wek om ook ’n intieme verhouding met hom op te bou.—Spreuke 20:7.

6. Hoe kan ouers die feit benut dat kinders deur voorbeeld leer?

6 Kinders is gretig om te leer. Hulle is goeie luisteraars en waarnemers en is gou om jou voorbeeld te volg. As hulle sien dat jy nie materialisties is nie, help dit hulle om te leer hoe om Jesus se raad te volg. Jy leer hulle om nie besorg te wees oor materiële dinge nie, maar om ‘eers God se koninkryk te soek’ (Matteus 6:25-33). Deur heilsame, opbouende gesprekke te hê oor Bybelwaarhede, God se gemeente en die aangestelde ouer manne, leer jy jou kinders om eerbied vir Jehovah te hê en sy geestelike voorsienings te waardeer. Aangesien kinders gou opmerk as ’n mens inkonsekwent optree, moet jou mondelinge onderrigting ooreenstem met jou gedrag en gesindheid, wat jou eie diep waardering vir geestelike dinge moet toon. Watter seën is dit tog wanneer ouers sien dat hulle goeie voorbeeld hartgrondige liefde vir Jehovah in hulle kinders voortgebring het!—Spreuke 23:24, 25.

7, 8. Watter voorbeeld toon die waarde daarvan om kinders van kleins af te leer, en wie moet die eer vir die sukses kry?

7 Die waarde daarvan om kinders van kleins af te leer, kan gesien word in ’n voorbeeld uit Venezuela (2 Timoteus 3:15). Dit is van ’n jong egpaar, Félix en Mayerlín. Hulle is pionierbedienaars. Toe hulle seun Felito gebore is, wou hulle baie graag hulle bes doen om hom as ’n ware aanbidder van Jehovah groot te maak. Mayerlín het vir Felito begin lees uit My boek met Bybelverhale, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Op ’n vroeë ouderdom het Felito Moses en ander mense wat in hierdie boek beskryf word, blykbaar herken.

8 Terwyl Felito nog baie jonk was, het hy al op sy eie begin getuig. Hy het sy begeerte vervul om ’n Koninkryksverkondiger te word en is later gedoop. Mettertyd het Felito ’n gewone pionier geword. Sy ouers sê: “Namate ons ons seun se vordering sien, besef ons dat Jehovah en sy onderrigting die eer daarvoor moet kry.”

Help kinders om geestelik te groei

9. Waarom moet ons dankbaar wees vir die geestelike onderrigting wat ons deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas ontvang?

9 Daar is tientalle tydskrifte, honderde boeke en duisende Internet-webwerwe wat raad oor die grootmaak van kinders gee. Baie keer “is die inligting teenstrydig”, sê ’n spesiale uitgawe van Newsweek wat oor kinders gehandel het. “Wat selfs meer ontstellend is, is wanneer inligting wat jy dink jy kan vertrou, op die ou end eenvoudig heeltemal verkeerd is.” Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah oorvloedige voorsienings gemaak het vir die onderrigting en geestelike ontwikkeling van gesinne! Benut jy ál die voorsienings wat deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas gemaak word, ten volle?—Matteus 24:45-47.

10. Hoe vind ouers sowel as kinders baat by ’n doeltreffende gesinsbybelstudie?

10 Iets wat baie belangrik is, is ’n gereelde, konsekwente gesinsbybelstudie wat in ’n ontspanne atmosfeer gehou word. Goeie voorbereiding is nodig om dit leersaam, aangenaam en bemoedigend te maak. As ouers hulle kinders met vrae uitlok, kan hulle uitvind wat in die kinders se harte en verstande is. Een manier om te bepaal of ’n gesinstudie doeltreffend is, is deur op te let of al die gesinslede daarna uitsien.

11. (a) Watter doelwitte kan ouers hulle kinders help om te stel? (b) Watter vrugte het dit afgewerp toe een Japannese meisie haar doelwit nagestreef het?

11 Skriftuurlike doelwitte dra eweneens by tot ’n geestelike sterk gesin, en ouers moet hulle kinders help om sulke doelwitte te stel. Gepaste doelwitte sluit in om die Bybel daagliks te lees, ’n gereelde verkondiger van die goeie nuus te word en tot toewyding en doop te vorder. Ander doelwitte kan wees om die voltydse diens te betree as ’n pionier, by Bethel of as ’n sendeling. ’n Japannese meisie met die naam Ajoemi was nog op laerskool toe sy haar dit ten doel gestel het om vir almal in haar klas te getuig. Om haar onderwyseres en klasmaats se belangstelling te prikkel, het sy toestemming gekry om ’n hele paar Bybelpublikasies in die biblioteek te sit. Gevolglik het sy 13 Bybelstudies gedurende haar ses jaar op laerskool gereël. Een van hierdie Bybelstudente en ander in die leerling se gesin het gedoopte Christene geword.

12. Hoe kan kinders die grootste voordeel uit Christelike vergaderinge trek?

12 Gereelde vergaderingbywoning is ook nodig vir goeie geestelike gesondheid. Die apostel Paulus het medegelowiges aangespoor om ‘nie hulle onderlinge vergadering na te laat soos party die gewoonte gehad het nie’. Ons moenie toelaat dat dit ons gewoonte word nie, want oud sowel as jonk trek groot voordeel daaruit as hulle Christelike vergaderinge gereeld bywoon (Hebreërs 10:24, 25; Deuteronomium 31:12). Kinders moet geleer word om aandagtig te luister. Dit is ook noodsaaklik om vir vergaderinge voor te berei, want ons kry die grootste nut daaruit as ons aktief deelneem deur middel van kommentare. Hoewel ’n jong kind kan begin deur ’n paar woorde te sê of ’n kort stukkie in die paragraaf te lees, sal dit baie nuttig wees as kinders geleer word om antwoorde te soek en dit in hulle eie woorde te sê. Stel julle, as ouers, die voorbeeld deur gereeld betekenisvolle kommentare te gee? Dit is ook goed as elke gesinslid sy eie Bybel, liedereboek en ’n eksemplaar van die publikasie het wat vir die skriftuurlike bespreking gebruik word.

13, 14. (a) Waarom moet ouers saam met hulle kinders in die bediening werk? (b) Wat sal help om velddiens vir kinders voordelig en aangenaam te maak?

13 Wyse ouers sal hulle kinders leer om hulle jeugdige energie in Jehovah se diens te gebruik en hulle help om die predikingswerk ’n belangrike deel van hulle lewe te maak (Hebreërs 13:15). Dit is net as ouers saam met hulle kinders in die bediening werk dat hulle seker kan maak dat hulle kinders die opleiding kry wat nodig is om bedienaars te word wat hulle “oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Wat moet jy dan doen? As jy ’n ouer is, help jy jou kinders om vir velddiens voor te berei? Deur dit te doen, sal jy die bediening aangenaam, betekenisvol en produktief vir hulle maak.

14 Waarom is dit voordelig vir ouers en hulle kinders om saam te werk in die bediening? Sodoende kan kinders die goeie voorbeeld van hulle ouers sien en dit navolg. Terselfdertyd kan ouers die gesindheid, gedrag en vermoëns van hulle kinders sien. Neem jou kinders saam met jou in verskillende fasette van die bediening. Indien moontlik, laat elke kind sy eie velddienssak hê, en leer hom of haar om dit netjies en in ’n goeie toestand te hou. Deur konsekwente opleiding en aanmoediging sal opregte waardering vir die bediening opgebou word, en kinders sal die predikingswerk beskou as ’n manier om ons liefde vir God en ons medemens te toon.—Matteus 22:37-39; 28:19, 20.

Hou geestelikheid in stand

15. Aangesien dit so belangrik is om ’n gesin se geestelikheid in stand te hou, wat is ’n paar maniere om dit te doen?

15 Dit is noodsaaklik om die geestelikheid van die gesin in stand te hou (Psalm 119:93). Een manier om dit te doen, is deur by elke geleentheid geestelike dinge met jou gesin te bespreek. Bespreek jy die dag se Bybelteks met hulle? Is dit jou gewoonte om oor velddiensondervindinge of punte uit die jongste Wagtoring en Ontwaak! te gesels “as jy op pad is”? Onthou jy om Jehovah in gebed te dank vir elke dag van lewe, asook vir sy oorvloedige voorsienings “as jy gaan lê en as jy opstaan”? (Deuteronomium 6:6-9). Wanneer jou kinders jou liefde vir God sien in alles wat jy doen, sal dit hulle help om die waarheid hulle eie te maak.

16. Watter waarde het dit om kinders aan te moedig om hulle eie navorsing te doen?

16 Soms sal kinders leiding nodig hê om probleme of situasies wat opduik, met welslae te hanteer. In plaas van altyd vir hulle te sê wat om te doen, waarom nie vir hulle wys hoe om God se beskouing oor sake te vind deur hulle aan te moedig om self navorsing te doen nie? As kinders geleer word om goed gebruik te maak van al die hulpmiddele en publikasies wat deur die ‘getroue slaaf’ voorsien word, sal dit hulle help om ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou (1 Samuel 2:21b). En as hulle met ander gesinslede oor die voordele van hulle Bybelnavorsing praat, word die geestelikheid van die gesin verder opgebou.

Vertrou volkome op Jehovah

17. Waarom moet enkelouers nie moed verloor terwyl hulle hulle kinders as Christene probeer grootmaak nie?

17 Wat van enkelouergesinne? Hulle kom voor bykomende uitdagings te staan wat die grootmaak van kinders betref. Maar enkelouers, moenie moed verloor nie! Sukses is moontlik, soos getoon word deur baie enkelouers wat op God vertrou het, sy raad getrou toegepas het en goeie, geestelike sterk kinders grootgemaak het (Spreuke 22:6). Christene wat enkelouers is, moet natuurlik volkome op Jehovah vertrou. Hulle moet geloof hê dat hy hulle sal help.—Psalm 121:1-3.

18. Aan watter verstandelike en fisiese behoeftes van hulle kinders moet ouers aandag skenk, maar waarop moet die klem geplaas word?

18 Wyse ouers besef dat ‘daar ’n tyd is om te lag en ’n tyd om van vreugde rond te spring’ (Prediker 3:1, 4). Kinders het afleiding en gebalanseerde, heilsame ontspanning nodig sodat hulle liggaam en verstand kan ontwikkel. Opbouende musiek en veral die sing van lofliedere tot God sal ’n kind help om ’n heilsame gesindheid te ontwikkel, wat ’n belangrike rol daarin kan speel om sy verhouding met Jehovah te versterk (Kolossense 3:16). Die jeug is ook die tyd wanneer ’n mens jou moet voorberei om ’n godvresende volwassene te word sodat jy die lewe tot in ewigheid op ’n paradysaarde kan geniet.—Galasiërs 6:8.

19. Waarom kan ouers verseker wees van Jehovah se seën op hulle pogings om hulle kinders op te voed?

19 Jehovah wil hê dat alle Christengesinne sukses moet behaal as sterk geestelike eenhede. As ons God waarlik liefhet en ons bes doen om sy Woord te gehoorsaam, sal hy ons pogings seën en ons die nodige krag gee om sy geïnspireerde leiding te volg (Jesaja 48:17; Filippense 4:13). Onthou dat die geleentheid wat jy nou het om jou kinders te leer en op te voed, beperk is, en dit sal nie weer kom nie. Doen jou uiterste bes om die raad van God se Woord toe te pas, en Jehovah sal jou pogings seën om ’n geestelike sterk gesin te bou.

Wat het ons geleer?

• Waarom is dit so belangrik om tyd uit te koop terwyl ons ons kinders oplei?

• Waarom is dit belangrik dat ouers ’n goeie voorbeeld stel?

• Wat is ’n paar belangrike maniere waarop kinders gehelp kan word om geestelik te groei?

• Hoe kan ’n gesin se geestelikheid in stand gehou word?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 24, 25]

Geestelike sterk gesinne bestudeer God se Woord gereeld, woon gereeld Christelike vergaderinge by en werk gereeld saam in die bediening