Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Loof Jehovah vir sy groot dade!

Loof Jehovah vir sy groot dade!

Loof Jehovah vir sy groot dade!

“My siel maak Jehovah groot . . . omdat die Magtige groot dade vir my gedoen het.”—LUKAS 1:46-49.

1. Vir watter groot dade loof ons Jehovah tereg?

 JEHOVAH verdien lof vir sy groot dade. Toe die profeet Moses van Israel se bevryding uit Egipte vertel het, het hy gesê: “Julle oë het al die groot dade van Jehovah gesien” (Deuteronomium 11:1-7, NW). En toe die engel Gabriël die maagd Maria van die komende geboorte van Jesus vertel het, het sy eweneens gesê: “My siel maak Jehovah groot . . . omdat die Magtige groot dade vir my gedoen het” (Lukas 1:46-49). As Getuies van Jehovah loof ons hom vir sy groot dade, soos die bevryding van Israel uit slawerny in Egipte en die wonderdadige geboorte van sy geliefde Seun.

2. (a) Wat beteken God se “ewige voorneme” vir gehoorsame mense? (b) Watter ervaring het Johannes op die eiland Patmos gehad?

2 Baie van Jehovah se groot dade word verbind met sy “ewige voorneme” om gehoorsame mense deur middel van die Messias en sy Koninkryksheerskappy te seën (Efesiërs 3:8-13). Daardie voorneme het progressief ontwikkel toe die bejaarde apostel Johannes die voorreg gehad het om in ’n visioen deur ’n geopende deur in die hemel in te kyk. Hy het ’n stem soos ’n trompet hoor sê: “Kom op hierheen, en ek sal jou die dinge toon wat moet plaasvind” (Openbaring 4:1). Terwyl Johannes deur die Romeinse regering na die eiland Patmos verban was “omdat [hy] oor God gepraat en van Jesus getuig het”, het hy “’n openbaring deur Jesus Christus” ontvang. Wat die apostel gesien en gehoor het, het baie omtrent God se ewige voorneme geopenbaar, en dit gee geestelike verligting en tydige aanmoediging vir alle ware Christene.—Openbaring 1:1, 9, 10.

3. Wie word deur die 24 ouderlinge verteenwoordig wat Johannes in sy visioen gesien het?

3 Johannes het deur daardie geopende deur in die hemel 24 ouderlinge gesien wat op trone sit en soos konings gekroon is. Hulle het voor God neergeval en gesê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Openbaring 4:11). Daardie ouderlinge verteenwoordig al die verrese gesalfde Christene in die verhewe posisie wat God hulle beloof het. Hulle word beweeg om Jehovah te loof weens sy groot dade met betrekking tot die skepping. Die bewyse van Jehovah se “ewige krag en Godheid” vervul ons ook met verwondering (Romeine 1:20). En hoe meer ons aangaande Jehovah leer, hoe meer rede het ons om hom te loof vir sy groot dade.

Verkondig Jehovah se lofwaardige dade!

4, 5. Gee voorbeelde van hoe Dawid Jehovah geloof het.

4 Die psalmis Dawid het God vir Sy groot dade geloof. Dawid het byvoorbeeld gesing: “Sing melodieë tot Jehovah, wat in Sion woon; verkondig onder die volke sy dade. Betoon guns aan my, o Jehovah; sien my ellende vanweë my haters, o u wat my uit die poorte van die dood ophef, sodat ek al u lofwaardige dade bekend kan maak in die poorte van die dogter van Sion” (Psalm 9:11, 13, 14, NW). Nadat Dawid aan sy seun Salomo die bouplanne vir die tempel gegee het, het hy God soos volg geloof en geprys: “Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit . . . ; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. . . . En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.”—1 Kronieke 29:10-13.

5 Die Skrif moedig ons herhaaldelik aan—ja, spoor ons aan—om God te loof, soos Dawid gedoen het. Die boek Psalms bevat baie lofbetuigings aan God, en omtrent die helfte van daardie lofliedere word aan Dawid toegeskryf. Hy het Jehovah voortdurend geloof en gedank (Psalm 69:31). Daarbenewens is die Goddelik geïnspireerde komposisies van Dawid en van ander reeds vroeg in die geskiedenis al gebruik om Jehovah te loof.

6. In watter opsigte is die geïnspireerde Psalms nuttig vir ons?

6 Hoe nuttig is die Psalms tog vir Jehovah se aanbidders! Wanneer ons God wil dank vir al sy groot dade ten behoewe van ons, gaan ons gedagtes dalk na die pragtige woorde wat in die Psalms gevind word. Wanneer ons byvoorbeeld in die oggend wakker word, word ons dalk beweeg om onsself só uit te druk: “Dit is goed om Jehovah te dank en om u naam met melodieë te besing, o Allerhoogste; om in die oggend u liefderyke goedhartigheid te verkondig en u getrouheid in die nagte, . . . want u het aan my vreugde gegee, o Jehovah, weens u dade; weens die werke van u hande roep ek met vreugde uit” (Psalm 92:1-4, NW). Wanneer ons ’n hindernis in die weg van ons geestelike vooruitgang oorkom, wil ons dalk ons vreugde en dankbaarheid in gebed uitdruk, soos die psalmis ook gedoen het toe hy gesing het: “Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil! Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig!”—Psalm 95:1, 2.

7. (a) Wat is opmerkenswaardig omtrent baie liedere wat deur Christene gesing word? (b) Wat is een rede waarom ons vroeg by vergaderinge wil aankom en tot die einde toe wil bly?

7 Ons gebruik dikwels ons stemme om lofliedere tot Jehovah by gemeentelike vergaderinge sowel as kring- en streekbyeenkomste te sing. Dit is opmerkenswaardig dat baie van hierdie liedere op geïnspireerde gedagtes uit die boek Psalms gebaseer is. Hoe bly is ons tog dat ons ’n moderne versameling van pragtige lofliedere tot Jehovah het! ’n Baie goeie rede waarom ons dus vroeg by ons vergaderinge wil aankom en tot die einde toe wil bly, is sodat ons liedere tot lof van God kan sing en Jehovah sodoende saam met ons medeaanbidders deur lied en gebed kan loof.

“Loof Jah!”

8. Wat is opgesluit in die woord “Halleluja”, en hoe word dit gewoonlik vertaal?

8 Lof aan Jehovah is opgesluit in die woord “Halleluja”, ’n transliterasie van ’n Hebreeuse uitdrukking wat byna altyd as “Loof Jah” vertaal word. In Psalm 135:1-3 (NW) vind ons byvoorbeeld hierdie hartlike, duidelike uitnodiging: “Loof Jah! Loof die naam van Jehovah, bring lof, o knegte van Jehovah, julle wat in die huis van Jehovah staan, in die voorhowe van die huis van ons God. Loof Jah, want Jehovah is goed. Besing sy naam met melodieë, want dit is lieflik.”

9. Wat beweeg ons om Jehovah te loof?

9 Wanneer ons nadink oor God se wonderlike skeppingswerke en alles wat hy ten behoewe van ons doen, beweeg hartgrondige waardering ons om hom te loof. Wanneer ons peins oor die wonderdade wat Jehovah in die verlede vir sy volk gedoen het, beweeg ons hart ons om hom te loof. En terwyl ons nadink oor die beloftes van groot dinge wat Jehovah nog gaan doen, soek ons na maniere om uiting te gee aan ons lof en dankbaarheid.

10, 11. Hoe gee ons blote bestaan ons rede om God te loof?

10 Ons blote bestaan gee ons genoeg rede om Jah te loof. Dawid het gesing: “Ek loof U [Jehovah], omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed” (Psalm 139:14). Ja, ons is “wonderbaar” gemaak en het kosbare gawes soos sig, gehoor en denkvermoë. Behoort ons dus nie ons lewe so te gebruik dat dit lof aan ons Maker sal bring nie? Paulus het iets soortgelyks gesê toe hy geskryf het: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.”—1 Korintiërs 10:31.

11 Ons sal alles tot heerlikheid van Jehovah doen as ons hom waarlik liefhet. Jesus het gesê die eerste gebod is: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met jou hele krag” (Markus 12:30; Deuteronomium 6:5). Ons moet Jehovah beslis liefhê en hom loof as ons Maker en as die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” (Jakobus 1:17; Jesaja 51:13; Handelinge 17:28). Ons het immers ons redeneervermoë, ons geestelike vermoë en ons fisiese krag—ja, al ons eienskappe en vermoëns—aan Jehovah te danke. As ons Skepper verdien hy ons liefde en lof.

12. Hoe voel jy oor Jehovah se groot dade en die woorde van Psalm 40:5?

12 Die groot dade van Jehovah gee ons ontelbare redes om hom lief te hê en te loof! “Baie dinge het u gedoen, O Jehovah my God, ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons”, het Dawid gesing. “Niemand kan met u vergelyk word nie. Sou ek geneig wees om dit te verkondig en daaroor te praat, het dit te talryk geword om te vertel” (Psalm 40:5, NW). Dawid kon nie al Jehovah se wonderlike werke oorvertel nie, en ons kan ook nie. Maar laat ons God altyd loof wanneer ons aandag op enige van sy groot dade gevestig word.

Dade wat met God se ewige voorneme verband hou

13. Hoe hang ons hoop ten nouste saam met God se groot dade?

13 Ons hoop vir die toekoms hang ten nouste saam met die groot en lofwaardige dade wat met God se ewige voorneme verband hou. Ná die opstand in Eden het Jehovah die eerste profesie uitgespreek wat die mensdom hoop gegee het. God het vonnis oor die slang uitgespreek en gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Getroue mense het in hulle hart op die beloofde Saad van die vrou bly hoop nadat Jehovah ’n groot daad verrig het deur Noag en sy gesin te bewaar deur die wêreldvloed heen wat ’n goddelose wêreld vernietig het (2 Petrus 2:5). Profetiese beloftes aan manne van geloof soos Abraham en Dawid het verdere insig gegee in wat Jehovah deur daardie Saad sou teweegbring.—Genesis 22:15-18; 2 Samuel 7:12.

14. Wat is die voortreflikste voorbeeld van Jehovah se groot dade ten behoewe van die mensdom?

14 Die voortreflikste bewys dat Jehovah die een is wat groot dade ten behoewe van die mensdom doen, is die feit dat hy sy enigverwekte Seun—die beloofde Saad, Jesus Christus—as ’n losprysofferande gegee het (Johannes 3:16; Handelinge 2:29-36). Die losprys het die grondslag vir versoening met God voorsien (Matteus 20:28; Romeine 5:11). Jehovah het die eerste persone wat versoen is, byeengebring in die Christengemeente, wat op Pinkster 33 G.J. gestig is. Met behulp van die heilige gees het hulle die goeie nuus wyd en syd verkondig en getoon hoe Jesus se dood en opstanding die weg vir gehoorsame mense baan om ewige seëninge onder die heerskappy van God se hemelse Koninkryk te ontvang.

15. Hoe het Jehovah in ons dag op ’n wonderlike wyse opgetree?

15 In ons dag het Jehovah op ’n wonderlike wyse opgetree om die laaste gesalfde Christene in te samel. Die winde van vernietiging is teruggehou sodat die oorblyfsel van die 144 000, wat saam met Christus in die hemel gaan regeer, verseël kon word (Openbaring 7:1-4; 20:6). God het toegesien dat gesalfde Christene bevry word uit geestelike slawerny aan “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 17:1-5). Wat het daardie bevryding in 1919 en die Goddelike beskerming wat die gesalfde oorblyfsel sedertdien geniet, hulle in staat gestel om te doen? Om hulle lig te laat skyn deur ’n finale getuienis te gee voordat Jehovah ’n einde maak aan Satan se goddelose stelsel van dinge tydens die vinnig naderende “groot verdrukking”.—Matteus 24:21; Daniël 12:3; Openbaring 7:14.

16. Wat is die resultaat van die hedendaagse Koninkrykspredikingswerk wat wêreldwyd gedoen word?

16 Jehovah se gesalfde Getuies het ywerig die voortou geneem met ’n wêreldwye Koninkrykspredikingswerk. Gevolglik word die “ander skape” al hoe meer namate mense aanbidders van Jehovah word (Johannes 10:16). Ons is verheug dat die geleentheid nog daar is vir sagmoediges van die aarde om Jehovah saam met ons te kom loof. Diegene wat gunstig reageer op die uitnodiging om te “kom”, kom in aanmerking vir redding deur die groot verdrukking heen, met die vooruitsig om Jehovah tot in alle ewigheid te loof.—Openbaring 22:17.

Duisende stroom na ware aanbidding

17. (a) Hoe verrig Jehovah groot dade wat ons predikingswerk betref? (b) Hoe word Sagaria 8:23 vervul?

17 Jehovah verrig nou groot en lofwaardige dade wat ons predikingswerk betref (Markus 13:10). In onlangse jare het hy ‘groot deure wat tot bedrywigheid lei, oopgemaak’ (1 Korintiërs 16:9). Sodoende kon die goeie nuus verkondig word in groot gebiede waar vyande van die waarheid dit voorheen probeer verhinder het. Baie wat vroeër in geestelike duisternis gelewe het, aanvaar nou die uitnodiging om Jehovah te aanbid. Hulle vervul hierdie profetiese woorde: “So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaria 8:23). Hier verwys “julle” na die geestelike Jode, die hedendaagse oorblyfsel van gesalfde Christene. Aangesien die getal tien aardse volkomenheid kan voorstel, verwys die “tien man” na die “groot skare” wat met “die Israel van God” begin assosieer en saam met hulle “een kudde” vorm (Openbaring 7:9, 10; Galasiërs 6:16). Wat ’n vreugde is dit tog om soveel te sien wat nou saam heilige diens verrig as aanbidders van Jehovah God!

18, 19. Watter bewyse is daar dat Jehovah die predikingswerk seën?

18 Ons is verheug dat tienduisende—ja, honderdduisende—ware aanbidding aanneem in lande wat voorheen so deur valse godsdiens oorheers is dat dit gelyk het of die mense nooit die goeie nuus sal aanneem nie. Kyk gerus na die nuwe Yearbook of Jehovah’s Witnesses en sien hoeveel lande nou van 100 000 tot byna 1 000 000 Koninkryksverkondigers rapporteer. Dit is ’n kragtige bewys dat die Koninkrykspredikingswerk deur Jehovah geseën word.—Spreuke 10:22.

19 As Jehovah se volk loof en dank ons ons hemelse Vader dat hy ons ’n ware doel in die lewe, bevredigende werk in sy diens en ’n wonderlike hoop vir die toekoms gegee het. Ons sien met groot afwagting uit na die vervulling van al God se beloftes en is vasbeslote om ‘ons in God se liefde te hou, met die ewige lewe in die vooruitsig’ (Judas 20, 21). Hoe verheug is ons tog om te sien dat die groot skare wat God loof, nou ongeveer 6 000 000 tel! Met Jehovah se ooglopende seën word die gesalfde oorblyfsel saam met hulle metgeselle, die ander skape, in ongeveer 91 000 gemeentes in 235 lande georganiseer. Ons almal word geestelik goed gevoed deur die onvermoeide pogings van “die getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45). ’n Progressiewe teokratiese organisasie wat liefdevolle leiding voorsien, hou toesig oor die Koninkrykswerk deur middel van die 110 takkantore van Jehovah se Getuies. Ons is dankbaar dat Jehovah die harte van sy volk beweeg het om ‘hom met hulle waardevolle dinge te eer’ (Spreuke 3:9, 10, NW). Gevolglik vorder ons wêreldwye predikingswerk, en drukkerye, Bethel- en sendinghuise, Koninkryksale en Byeenkomssale word gebou waar nodig.

20. Watter uitwerking behoort dit op ons te hê as ons Jehovah se groot en lofwaardige dade bepeins?

20 Dit is onmoontlik vir ons om al die groot en lofwaardige dade van ons hemelse Vader op te noem. Maar kan enige regskape persoon anders as om hom by die skare lowers van Jehovah aan te sluit? Natuurlik nie! Laat alle liefhebbers van God dus met vreugde uitroep: “Loof Jah! Loof Jehovah vanuit die hemele, loof hom in die hoogtes. Loof hom, al sy engele . . . , jong manne en ook maagde, ou manne saam met seuns. Laat hulle die naam van Jehovah loof, want sy naam alleen is onbereikbaar hoog. Sy waardigheid is oor aarde en hemel” (Psalm 148:1, 2, 12, 13, NW). Ja, laat ons nou en tot in alle ewigheid Jehovah loof vir sy groot dade!

Hoe sal jy antwoord?

• Wat is party van Jehovah se lofwaardige dade?

• Waarom voel jy werklik beweeg om Jehovah te loof?

• Hoe hou ons hoop met God se groot dade verband?

• Hoe verrig Jehovah lofwaardige dade wat die Koninkrykspredikingswerk betref?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 10]

Sing jy uit jou hart lofliedere tot Jehovah?

[Prente op bladsy 13]

Ons is verheug dat die geleentheid nog daar is vir sagmoediges om Jehovah saam met ons te kom loof