Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wanneer is “die Heilige der Heilige” gesalf, soos in Daniël 9:24 (NW) voorspel is?

Daniël 9:24-27 (NW) is ’n profesie aangaande die verskyning van “Messias die Leier”—die Christus. Die voorspelde salwing van “die Heilige der Heilige” verwys dus nie na die salwing van die Allerheiligste van die tempel in Jerusalem nie. Die uitdrukking “Heilige der Heilige” verwys eerder na die hemelse heiligdom van God—die hemelse Allerheiligste—in die groot geestelike tempel van Jehovah. aHebreërs 8:1-5; 9:2-10, 23.

Wanneer het God se geestelike tempel in werking getree? Wel, dink aan wat plaasgevind het toe Jesus hom in 29 G.J. laat doop het. Van daardie tydstip af in sy lewe het Jesus die woorde van Psalm 40:7-9 vervul. Die apostel Paulus het later getoon dat Jesus tot God gebid het: “Offerande en offer wou u nie hê nie, maar u het vir my ’n liggaam berei” (Hebreërs 10:5). Jesus het geweet dat God ‘nie wou hê’ dat mense moes voortgaan om diereofferandes by Jerusalem se tempel te offer nie. Jehovah het eerder ’n volmaakte menseliggaam vir Jesus berei om as ’n offerande te bring. Jesus het sy opregte begeerte verder só uitgedruk: “Kyk! Ek kom (in die rol van die boek staan daar van my geskrywe) om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:7). En wat was Jehovah se reaksie? Die Evangelie van Matteus sê: “Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom; en kyk! die hemele is geopen, en hy het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op hom kom. Kyk! Ook was daar ’n stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het.’”—Matteus 3:16, 17.

Die feit dat Jehovah God die aanbieding van Jesus se liggaam as offerande aanvaar het, het beteken dat ’n altaar wat groter was as die letterlike altaar in Jerusalem se tempel, tot stand gekom het. Dit was ’n altaar van God se “wil”, oftewel die reëling om Jesus se menselewe as ’n offerande te aanvaar (Hebreërs 10:10). Die salwing van Jesus met heilige gees het beteken dat God nou sy hele geestelike tempelreëling ingestel het. b Toe Jesus gedoop is, is God se hemelse woning dus gesalf, of afgesonder, as “die Heilige der Heilige” in die groot geestelike tempelreëling.

[Voetnote]

a Sien bladsye 14-19 van Die Wagtoring van 1 Julie 1996 vir ’n bespreking van die verskillende fasette van God se geestelike tempel.

b Die boek Gee ag op Daniël se profesie! verwys hierna op bladsy 195.

[Prent op bladsy 27]

“Die Heilige der Heilige” is gesalf toe Jesus gedoop is