Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“As God vir ons is, wie sal teen ons wees?”

“As God vir ons is, wie sal teen ons wees?”

“As God vir ons is, wie sal teen ons wees?”

“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie sal teen ons wees?”—ROMEINE 8:31.

1. Wie het Egipte saam met die Israeliete verlaat, en wat het hulle laat besluit om dit te doen?

 TOE die Israeliete op pad na vryheid was nadat hulle 215 jaar in Egipte deurgebring het—die meeste daarvan as slawe—het “’n menigte mense van gemengde bloed . . . ook saam met hulle opgetrek” (Exodus 12:38). Hierdie nie-Israeliete het tien vreesinboesemende plae deurgemaak wat groot verwoesting in Egipte aangerig en van hulle valse gode ’n voorwerp van bespotting gemaak het. Terselfdertyd het hulle—veral van die vierde plaag af—Jehovah se vermoë gesien om sy volk te beskerm (Exodus 8:23, 24). Hoewel hulle beperkte kennis van Jehovah se voornemens gehad het, was hulle van een ding seker: Die gode van Egipte kon nie die Egiptenaars beskerm nie, terwyl Jehovah magtig ten behoewe van die Israeliete opgetree het.

2. Waarom het Ragab die Israelitiese verkenners gehelp, en waarom was haar vertroue in hulle God nie misplaas nie?

2 Veertig jaar later, net voordat die Israeliete in die Beloofde Land ingegaan het, het Moses se opvolger, Josua, twee manne uitgestuur om die land te verken. Daar het hulle Ragab, ’n inwoner van Jerigo, ontmoet. Uit wat sy gehoor het omtrent Jehovah se magtige dade om die Israeliete te beskerm gedurende die 40 jaar sedert hulle Egipte verlaat het, het sy geweet dat sy God se volk moes ondersteun as sy sy seën wou geniet. Weens haar wyse besluit het sy en haar familie die vernietiging oorleef toe die Israeliete later die stad ingeneem het. Die wonderdadige wyse waarop hulle gered is, was op sigself ’n onmiskenbare bewys dat God met hulle was. Ragab se vertroue in die God van die Israeliete was dus nie misplaas nie.—Josua 2:1, 9-13; 6:15-17, 25.

3. (a) Watter wonderwerk het Jesus naby die herboude stad Jerigo verrig, en hoe het die Joodse geestelikes daarop gereageer? (b) Wat het party Jode, en later baie nie-Jode, besef?

3 Vyftien eeue later het Jesus Christus ’n blinde bedelaar naby die herboude stad Jerigo gesond gemaak (Markus 10:46-52; Lukas 18:35-43). Hierdie man het Jesus gesmeek om hom barmhartig te wees, wat toon dat hy erken het dat Jesus God se steun geniet. Daarenteen het die meeste Joodse godsdiensleiers en hulle volgelinge geweier om te erken dat die wonderwerke wat Jesus verrig het, ’n bewys was dat hy God se werk doen. Hulle het eerder met hom foutgevind (Markus 2:15, 16; 3:1-6; Lukas 7:31-35). Selfs toe Jesus opgewek is nadat hulle hom doodgemaak het, was hulle nie bereid om te erken dat dit deur God se toedoen was nie. Hulle het eerder die voortou geneem om Jesus se volgelinge te vervolg en hulle werk om “die goeie nuus van die Here Jesus bekend [te maak]”, te probeer stopsit. Maar party Jode, en later baie nie-Jode, het ag geslaan op hierdie gebeurtenisse en tot die regte gevolgtrekking gekom. Vir hulle was dit duidelik dat God die eiegeregtige Joodse leiers verwerp het en die nederige volgelinge van Jesus Christus ondersteun het.—Handelinge 11:19-21.

Wie geniet vandag God se steun?

4, 5. (a) Wat is party mense se siening wat hulle keuse van ’n godsdiens betref? (b) Wat is die vernaamste vraag wanneer ’n mens die ware godsdiens wil identifiseer?

4 Een geestelike het in ’n onlangse TV-onderhoud die volgende in verband met die ware godsdiens gesê: “Ek sou sê dat ’n godsdiens die ware godsdiens is as dit van iemand ’n beter persoon maak as hy of sy daarvolgens lewe.” Die ware godsdiens bring weliswaar beter mense voort. Maar is die feit dat ’n godsdiens beter mense voortbring die uitsluitlike bewys dat dit God se steun geniet? Is dit die enigste maatstaf om te bepaal of ’n godsdiens die ware godsdiens is?

5 Almal hou daarvan om hulle eie keuses te maak, en dit sluit hulle keuse van godsdiens in. Maar keusevryheid waarborg nie dat iemand die regte keuse sal maak nie. Party mense kies byvoorbeeld ’n godsdiens weens die grootte, rykdom, die prag en praal daarvan of weens hulle familiebande. Nie een van hierdie dinge is enigsins ’n beslissende faktor om te bepaal of ’n godsdiens die ware godsdiens is of nie. Die vernaamste vraag in hierdie saak is: Watter godsdiens spoor sy volgelinge aan om God se wil te doen en lewer oortuigende bewys van Goddelike steun, sodat sy volgelinge met vertroue kan sê: “God is met ons”?

6. Watter woorde van Jesus werp lig op die kwessie van ware en valse godsdiens?

6 Jesus het die maatstaf gegee waarvolgens ’n mens kan onderskei tussen ware en valse aanbidding, toe hy gesê het: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle toe kom, maar van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle herken” (Matteus 7:15, 16; Maleagi 3:18). Kom ons hersien party van die “vrugte”, of kenmerke, van die ware godsdiens sodat ons in alle eerlikheid kan bepaal wie vandag God se steun geniet.

Kenmerke van diegene wat God se steun geniet

7. Wat beteken dit om ander net te leer wat op die Bybel gebaseer is?

7 Hulle baseer hulle leringe op die Bybel. Jesus het gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het. As iemand Sy wil wil doen, sal hy aangaande die leer weet of dit van God kom en of ek uit myself spreek.” En ook: “Hy wat uit God is, luister na die woorde van God” (Johannes 7:16, 17; 8:47). Dit is logies dat iemand wat God se steun wil geniet, ander net moet leer wat God in sy Woord openbaar en leerstellings moet verwerp wat op die wysheid of oorlewering van mense gegrond is.—Jesaja 29:13; Matteus 15:3-9; Kolossense 2:8.

8. Waarom is dit belangrik om God se naam in aanbidding te gebruik?

8 Hulle gebruik God se naam, Jehovah, en maak dit bekend. Jesaja het voorspel: “In dié dag sal julle beslis sê: ‘Dank Jehovah! Roep sy naam aan. Maak onder die volke sy handelinge bekend. Meld dat sy naam hoog verhewe is. Sing melodieë tot Jehovah, want wat hy gedoen het, is weergaloos. Dit word op die hele aarde bekend gemaak’” (Jesaja 12:4, 5, NW). Jesus het sy volgelinge leer bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Gevolglik moes Christene, hetsy hulle Jode of nie-Jode was, “’n volk vir [God se] naam” wees (Handelinge 15:14). Dit behaag God natuurlik om diegene te steun wat trots is om “’n volk vir sy naam” te wees.

9. (a) Waarom is vreugde ’n kenmerk van lede van die ware godsdiens? (b) Hoe toon Jesaja die verskil tussen die ware en valse godsdiens?

9 Hulle weerspieël God se vreugdevolle persoonlikheid. Jehovah, by wie “goeie nuus” sy oorsprong het, is “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11). Hoe kan sy aanbidders dan ongelukkig of gedurig pessimisties wees? Ten spyte van wêreldbenoudheid en persoonlike probleme behou ware Christene ’n vreugdevolle gees omdat hulle gereeld ryk geestelike voedsel inneem. Jesaja toon die verskil tussen hulle en diegene wat valse godsdiens beoefen: “So sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees.”—Jesaja 65:13, 14.

10. Waarom hoef diegene wat die ware godsdiens beoefen, nie deur dure ondervinding te leer nie?

10 Hulle gedrag en hulle besluite word op Bybelbeginsels gebaseer. “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie”, spoor die skrywer van Spreuke ons aan, “ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5, 6). God steun diegene wat eerder op hom vertrou vir leiding as op die teenstrydige teorieë van mense wat Goddelike wysheid ignoreer. Hoe meer iemand sy lewe na God se Woord probeer vorm, dermate sal hy nie deur dure ondervinding hoef te leer nie.—Psalm 119:33; 1 Korintiërs 1:19-21.

11. (a) Waarom kan lede van die ware godsdiens nie in ’n geestelike- en lekeklas verdeel word nie? (b) Watter voorbeeld moet diegene wat die leiding onder God se volk neem, vir die kudde stel?

11 Hulle is op dieselfde wyse georganiseer as die eerste-eeuse Christengemeente. Jesus het dié beginsel neergelê: “Moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. Moet julle ook nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus. Maar die grootste onder julle moet julle dienaar wees” (Matteus 23:8-11). ’n Gemeente van broers kan nie ’n trotse geestelikeklas hê wat hulleself vereer met indrukwekkende titels en hulle bo ’n lekeklas verhef nie (Job 32:21, 22, NW). Diegene wat as herders toesig hou oor die kudde van God, word vermaan om dit “nie onder dwang [te doen] nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig; ook nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word” (1 Petrus 5:2, 3). Opregte Christenherders probeer nie meesters oor die geloof van ander wees nie. As medewerkers in God se diens strewe hulle eenvoudig daarna om ’n goeie voorbeeld te stel.—2 Korintiërs 1:24.

12. Watter gebalanseerde standpunt ten opsigte van menseregerings vereis God van diegene wat graag sy steun wil geniet?

12 Hulle is onderdanig aan menseregerings, en tog bly hulle neutraal. As iemand nie ‘aan die hoër owerhede onderdanig’ is nie, kan hy nie verwag om God se steun te geniet nie. Waarom nie? Omdat “die bestaande owerhede . . . deur God in hulle relatiewe posisies geplaas [is]. Daarom het hy wat die owerheid teëstaan teen die reëling van God stelling ingeneem” (Romeine 13:1, 2). Maar Jesus het geweet dat daar moontlik ’n botsing van belange sou wees toe hy gesê het: “Betaal aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:17). Diegene wat God se steun wil geniet, moet “[aanhou] om eers die koninkryk [van God] en sy regverdigheid te soek”, terwyl hulle terselfdertyd die wette van die land gehoorsaam as dit nie met hulle hoër verantwoordelikhede teenoor God bots nie (Matteus 6:33; Handelinge 5:29). Jesus het die belangrikheid van neutraliteit benadruk toe hy vir sy dissipels gesê het: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.” Hy het later bygevoeg: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie.”—Johannes 17:16; 18:36.

13. Watter rol speel liefde daarin om God se volk te identifiseer?

13 Hulle doen onpartydig ‘goed aan almal’ (Galasiërs 6:10). Christelike liefde is nie partydig nie, maar aanvaar alle mense ongeag wat hulle velkleur, ekonomiese of opvoedkundige status, nasionaliteit of taal is. Die feit dat hulle aan almal goed doen en veral aan dié wat in die geloof aan hulle verwant is, help om diegene te identifiseer wat God se steun geniet. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35; Handelinge 10:34, 35.

14. Word mense wat God se goedkeuring wegdra noodwendig deur almal aanvaar? Verduidelik.

14 Hulle is bereid om vervolging te verduur omdat hulle God se wil doen. Jesus het sy volgelinge vooraf gewaarsku: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg; as hulle my woord onderhou het, sal hulle julle s’n ook onderhou” (Johannes 15:20; Matteus 5:11, 12; 2 Timoteus 3:12). Diegene wat God se steun geniet, was nog altyd ongewild, soos Noag wat die wêreld deur sy geloof veroordeel het (Hebreërs 11:7). Vandag mag diegene wat graag God se steun wil hê, eenvoudig nie God se woord afwater of van godvrugtige beginsels afwyk sodat hulle vervolging kan vermy nie. Solank hulle God getrou dien, weet hulle dat mense ‘dit vreemd sal vind en sal aanhou om smadend van hulle te praat’.—1 Petrus 2:12; 3:16; 4:4.

Tyd om die feite te ondersoek

15, 16. (a) Watter vrae sal ons help om die godsdiensgroep te identifiseer wat God se steun geniet? (b) Tot watter slotsom het miljoene mense gekom, en waarom?

15 Vra jou af: ‘Watter godsdiensgroep is daarvoor bekend dat hulle getrou by God se Woord bly, selfs al verskil die leringe daarin van die meeste mense se opvattings? Wie beklemtoon die belangrikheid van God se persoonlike naam en gebruik dit selfs om hulle te identifiseer? Wie wys optimisties na God se Koninkryk as die enigste oplossing vir al die mens se probleme? Wie handhaaf die Bybel se gedragstandaarde al sou ander hulle dalk as outyds beskou? Watter groep is daarvoor bekend dat hulle geen betaalde geestelikes het nie en dat al hulle lede predikers is? Wie word geprys omdat hulle wetsgehoorsame burgers is, al neem hulle nie deel aan die politiek nie? Wie word deur liefde beweeg om hulle tyd en geld te gebruik om ander te leer van God en sy voornemens? Maar op wie word daar neergesien, wie word bespot en vervolg, ten spyte van al hierdie positiewe dinge?

16 Miljoene mense oor die hele wêreld het die feite ondersoek en is oortuig dat net Jehovah se Getuies die ware godsdiens beoefen. Hulle het tot hierdie slotsom gekom op grond van wat Jehovah se Getuies mense leer, sowel as op grond van hulle gedrag en die voordele wat hulle godsdiens meebring (Jesaja 48:17). Miljoene sê as ’t ware, soos in Sagaria 8:23 voorspel is: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”

17. Waarom is Jehovah se Getuies nie vermetel om te sê dat hulle die ware godsdiens het nie?

17 Is Jehovah se Getuies vermetel om te sê dat hulle alleen God se steun geniet? Hulle is eintlik net so min vermetel as wat die Israeliete in Egipte was toe hulle gesê het dat hulle God se steun geniet ongeag wat die Egiptenaars geglo het of as die eerste-eeuse Christene wat gesê het dat hulle God se steun geniet en nie die Joodse godsdiensyweraars nie. Die feite sê alles. In 235 lande doen Jehovah se Getuies die werk wat Jesus voorspel het sy ware volgelinge in die tyd van die einde sou doen: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.

18, 19. (a) Waarom het Jehovah se Getuies geen rede om met hulle predikingswerk op te hou nie, al word hulle teëgestaan? (b) Hoe bevestig Psalm 41:11 die feit dat die Getuies God se steun geniet?

18 Jehovah se Getuies sal aanhou om hierdie opdrag uit te voer en nie toelaat dat vervolging of teenstand hulle werk verhinder nie. Jehovah se werk moet en sal gedoen word. Elke poging wat ander in die afgelope eeu aangewend het om te keer dat die Getuies God se werk uitvoer, het uiteindelik misluk, want Jehovah het beloof: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is.”—Jesaja 54:17.

19 Die feit dat Jehovah se Getuies nou sterker en bedrywiger as ooit tevore is—en dit ondanks wêreldwye teenstand—is ’n bewys dat Jehovah behae skep in wat hulle doen. Koning Dawid het gesê: “Hieraan weet ek dat u behae in my het, omdat my vyand nie triomfantlik oor my uitroep nie” (Psalm 41:11, NW; 56:10, 12). Nooit sal God se vyande triomfantlik oor Jehovah se volk kan uitroep nie, want hulle Leier, Jesus Christus, trek op om die finale oorwinning te behaal!

Kan jy antwoord?

• Wat is ’n paar eertydse voorbeelde van mense wat God se steun geniet het?

• Wat is ’n paar kenmerke van die ware godsdiens?

• Waarom is jy persoonlik daarvan oortuig dat Jehovah se Getuies God se steun geniet?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Diegene wat graag God se steun wil geniet, moet hulle leringe uitsluitlik op sy Woord baseer

[Prent op bladsy 15]

Christen- ouer manne dien as voorbeelde vir die kudde