Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beweeg vooruit na die finale oorwinning!

Beweeg vooruit na die finale oorwinning!

Beweeg vooruit na die finale oorwinning!

“Kyk! ’n wit perd; en die een wat daarop sit, het ’n boog gehad; en ’n kroon is vir hom gegee, en hy het uitgegaan, oorwinnend en om sy oorwinning te voltooi.”—OPENBARING 6:2.

1. Watter gebeure het Johannes destyds in ’n visioen van die toekoms gesien?

 DEUR Goddelike inspirasie kon die apostel Johannes ongeveer 1 800 jaar in die toekoms in kyk en beskryf hoe Christus as Koning op die troon geplaas word. Johannes moes geloof hê om te kon glo wat hy in die visioen gesien het. Vandag het ons oortuigende bewys dat hierdie voorspelde troonsbestyging wel in 1914 plaasgevind het. Met oë van geloof sien ons hoe Jesus Christus uitgaan, “oorwinnend en om sy oorwinning te voltooi”.

2. Hoe het die Duiwel op die geboorte van die Koninkryk gereageer, en waarvan is dit ’n bewys?

2 Ná die geboorte van die Koninkryk is Satan uit die hemel gewerp, wat hom harder en met groter woede laat veg het, maar sonder om sy kanse op sukses te verbeter (Openbaring 12:7-12). Sy woede het wêreldtoestande laat vererger. Dit lyk of die mensegemeenskap besig is om te verbrokkel. Vir Jehovah se Getuies is dit ’n duidelike bewys dat hulle Koning vooruit beweeg “om sy oorwinning te voltooi”.

’n Nuwewêreld-gemeenskap word gevorm

3, 4. (a) Watter organisatoriese veranderinge is sedert die geboorte van die Koninkryk in die Christengemeente gemaak, en waarom was dit nodig? (b) Watter voordeel het hierdie veranderinge ingehou, soos Jesaja voorspel het?

3 Ná die geboorte van die Koninkryk was dit tyd om die herstelde Christengemeente—nou met groter Koninkryksverantwoordelikhede—nader aan die patroon van die eerste-eeuse Christengemeente te bring. Daarom het The Watchtower van 1 en 15 Junie 1938 ’n mens ’n kykie gegee van hoe die Christenorganisasie behoort te funksioneer. Later het Die Wagtoring van 1 Maart 1972 die hedendaagse Bestuursliggaam duidelik geïdentifiseer in die artikel “’n Bestuursliggaam onderskeie van ’n liggaam met regsbevoegdheid”. In 1972 is liggame van ouer manne aangestel om hulp en leiding aan die plaaslike gemeentes te gee.

4 Die Christengemeente is grootliks versterk omdat daar toe behoorlike toesig was. Wat ook hiertoe bygedra het, is die reëlings wat die Bestuursliggaam getref het om die ouer manne in hulle pligte op te lei, wat opleiding in regterlike sake ingesluit het. Die geleidelike ontwikkeling van God se aardse organisasie en die positiewe resultate wat dit sou hê, is in Jesaja 60:17 (NW) voorspel: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster; en ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers.” Hierdie positiewe veranderinge het getoon dat diegene wat God se Koninkryk ywerig ondersteun het, sy seën en goedkeuring wegdra.

5. (a) Hoe het Satan op Jehovah se seën oor Sy volk gereageer? (b) Hoe reageer Jehovah se volk op Satan se woede, in ooreenstemming met Filippense 1:7?

5 Die liefdevolle aandag en leiding wat God sy volk ná die geboorte van die Koninkryk gegee het, het nie Satan se aandag ontgaan nie. In 1931 het hierdie klein groepie Christene byvoorbeeld in die openbaar bekend gemaak dat hulle meer as net Bybelstudente is. In ooreenstemming met Jesaja 43:10 (NW) is hulle Jehovah se Getuies! Of dit nou net toevallig was of nie, die Duiwel het ’n vlaag van ongeëwenaarde vervolging oor die hele aarde ontketen. Selfs in lande wat normaalweg bekend is vir godsdiensvryheid, soos die Verenigde State, Kanada en Duitsland, was die Getuies herhaalde kere genoodsaak om regstryde te voer om hulle godsdiensvryheid te behou. Teen 1988 het die Amerikaanse Hooggeregshof 71 sake hersien waarby Jehovah se Getuies betrokke was, en twee derdes daarvan is ten gunste van die Getuies beslis. Vandag word regstryde steeds oor die hele wêreld gevoer sodat daar, soos in die eerste eeu, ’n “verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus” kan wees.—Filippense 1:7.

6. Het verbooie en beperkings gekeer dat Jehovah se volk vooruitbeweeg? Lig toe.

6 Gedurende die 1930’s, in die dae voor die Tweede Wêreldoorlog, het diktatorskappe verbooie of beperkings ingestel op die werk van Jehovah se Getuies in Duitsland, Spanje en Japan, om net drie te noem. Maar in die jaar 2000 het hierdie drie lande alleen byna 500 000 bedrywige verkondigers van God se Koninkryk gehad. Dit was amper tien keer meer Getuies as wat daar in 1936 in die hele wêreld was! Verbooie en beperkings kan Jehovah se volk beslis nie keer om onder hulle seëvierende Leier, Jesus Christus, vooruit te beweeg nie.

7. Watter uitsonderlike gebeurtenis het in 1958 plaasgevind, en watter dramatiese verandering was daar sedertdien?

7 Hierdie vooruitgang is veral duidelik gesien toe die grootste byeenkoms wat Jehovah se Getuies tot nog toe gehad het in 1958 in die stad New York gehou is—die “Goddelike Wil”- Internasionale Byeenkoms, met ’n opkomshoogtepunt van 253 922. Teen 1970 kon hulle hulle werk met groter vryheid doen in die drie lande wat hierbo genoem is, behalwe in die destydse Oos-Duitsland. Maar die Getuies se werk was nog steeds verbied in die uitgestrekte Sowjetunie en al sy bondgenote in die Warskou-verdrag. Vandag is daar ver oor ’n halfmiljoen bedrywige Getuies in hierdie voormalige Kommunistiese lande.

8. Wat was die gevolg van Jehovah se seën op sy volk, en wat het Die Wagtoring in 1951 hieroor gesê?

8 Jehovah se Getuies is met vermeerdering geseën omdat hulle aangehou het om “eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Jesaja se profesie is reeds in letterlike sin vervul: “Die kleine sal duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig” (Jesaja 60:22, NW). En dit is nog nie die einde nie. Net gedurende die laaste dekade het die aantal aktiewe voorstanders van die Koninkryksheerskappy met meer as 1 750 000 persone vermeerder. Hulle het uit vrye wil ’n deel geword van ’n groep waarvan ’n Wagtoring in 1951 die volgende gesê het: “God bring nou ’n nuwewêreld-gemeenskap in gereedheid. . . . Hierdie kern sal deur Armageddon gaan, . . . die eerstes op die toneel in die ‘nuwe aarde’ . . . , teokraties georganiseer, bekend met die prosedures van die organisasie.” Die artikel het afgesluit: “Laat ons dan almal saam, as ’n nuwewêreld-gemeenskap, steeds vooruitgaan!”

9. Hoe is die kennis wat Jehovah se Getuies deur die jare heen opgedoen het, van nut?

9 Intussen het hierdie immer toenemende nuwewêreld-gemeenskap kennis opgedoen wat vandag van onskatbare waarde is en moontlik selfs ná Armageddon sal wees wanneer die aarde herstel word. Die Getuies het byvoorbeeld geleer om groot byeenkomste te organiseer, om dringende noodleniging te verskaf en om geboue vinnig op te rig. Hierdie bedrywighede het by baie mense bewondering en respek vir Jehovah se Getuies afgedwing.

Verkeerde indrukke word reggestel

10, 11. Lig toe hoe verkeerde indrukke omtrent Jehovah se Getuies reggestel is.

10 En tog is daar mense wat Jehovah se Getuies daarvan beskuldig dat hulle nie by die res van die mensegemeenskap inskakel nie. Dit is hoofsaaklik weens die Getuies se Bybelse standpunt in verband met bloedoortappings, neutraliteit, die rookgewoonte en sedes. Maar die publiek begin al hoe meer erken dat die opvattings van die Getuies oorweging verdien. ’n Dokter in Pole het byvoorbeeld die administrasiekantoor van Jehovah se Getuies geskakel en gesê dat sy en haar kollegas by die hospitaal al ’n paar uur lank besig is om oor bloedoortappings te praat. Die bespreking het begin as gevolg van ’n artikel wat daardie dag in die Poolse dagblad die Dziennik Zachodni verskyn het. “Ek is self baie jammer dat bloed te dikwels in die mediese veld gebruik word”, het die dokter erken. “Dit moet verander, en ek is bly dat iemand die onderwerp aangeroer het. Ek wil graag meer inligting hê.”

11 Tydens ’n kongres wat verlede jaar gehou is, het mediese deskundiges van Europa, Israel, Kanada en die Verenigde State gegewens bespreek wat dokters sal help om hulle pasiënte sonder bloed te behandel. In teenstelling met die algemene opvatting is daar by hierdie vergadering, wat in Switserland gehou is, getoon dat die sterftesyfer onder pasiënte wat bloedoortappings ontvang het, in werklikheid hoër is as dié van pasiënte wat dit nie ontvang het nie. Getuie-pasiënte kon oor die algemeen gouer uit die hospitaal ontslaan word as dié wat met bloed behandel is, wat gewoonlik weer die koste van die behandeling verminder het.

12. Gee ’n voorbeeld van hoe vooraanstaande mense die standpunt van Jehovah se Getuies ten opsigte van politieke neutraliteit geprys het.

12 Talle positiewe opmerkings is ook al gemaak omtrent die neutrale standpunt van Jehovah se Getuies voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog toe hulle die skyf van wrede Nazi-vervolging was. Die video Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault, wat deur Jehovah se Getuies vervaardig is en heel gepas vir die eerste keer op 6 November 1996 by die Ravensbrück-konsentrasiekamp in Duitsland vertoon is, het heelwat gunstige kommentare uitgelok. In die inleiding tot ’n soortgelyke vertoning wat op 18 April 1998 by die berugte konsentrasiekamp in Bergen-Belsen gehou is, het die direkteur van die Sentrum vir Politieke Opvoeding in Neder-Sakse, dr. Wolfgang Scheel, erken: “Een van die verleenthede in die geskiedenis is dat Jehovah se Getuies Nasionaal-Sosialisme met veel groter vasbeslotenheid verwerp het as wat die Christelike kerke gedoen het. . . . Dit maak nie saak wat ons van die leerstellings en godsdienstigheid van Jehovah se Getuies dink nie, hulle standvastigheid tydens die Nazi-regime dwing respek af.”

13, 14. (a) Watter wyse woorde ter verdediging van die vroeë Christene het uit ’n onverwagte bron gekom? (b) Gee voorbeelde van gunstige opmerkings wat in ons tyd ten behoewe van God se volk gemaak is.

13 Wanneer vooraanstaande mense opkom vir Jehovah se Getuies of wanneer hofsake oor omstrede kwessies ten gunste van hulle beslis word, kan dit mense minder bevooroordeeld maak en lei dit daartoe dat die Getuies in ’n positiewer lig beskou word. Dit baan dikwels die weg vir hulle om met mense te praat wat voorheen nooit wou luister nie. Jehovah se Getuies is bly wanneer dit gebeur en waardeer dit werklik. Dit herinner ons aan wat in die eerste eeu in Jerusalem gebeur het. Toe die Sanhedrin, die Joodse hoër hof, die Christene om die lewe wou bring weens hulle ywerige prediking, het Gamaliël, “’n leermeester van die Wet wat by die hele volk in aansien was”, hulle gewaarsku en gesê: “Manne van Israel, let op julleself met betrekking tot wat julle van plan is om met hierdie manne te doen. . . . Moet julle nie met hierdie manne bemoei nie, maar laat staan hulle (want as hierdie plan of hierdie werk uit mense is, sal dit te gronde gerig word; maar as dit uit God is, sal julle hulle nie te gronde kan rig nie); anders kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry.”—Handelinge 5:33-39.

14 Soos Gamaliël het vooraanstaande mense in onlangse tye opgekom vir die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies. Die voormalige voorsitter van die Internasionale Akademie vir Godsdiensvryheid en -oortuiging het byvoorbeeld gesê: “’n Godsdiens moet nie sy godsdiensregte ontsê word bloot omdat die gemeenskap die oortuigings daarvan as onaanvaarbaar of ongewoon beskou nie.” En ’n professor in die godsdienswetenskap aan die universiteit van Leipzig het die volgende gepaste vraag geopper aangaande ’n kommissie wat deur die Duitse regering aangestel is om sogenaamde godsdienssektes te ondersoek: “Waarom moet net godsdiensminderhede noukeurig ondersoek word, maar nie die twee groot kerke [die Rooms-Katolieke Kerk en die Lutherse Kerk] nie?” Die woorde van ’n voormalige Duitse amptenaar gee ons die antwoord: “Daar bestaan geen twyfel dat kerkyweraars, agter die skerms, aan die regeringskommissie voorgeskryf het watter politieke weg hulle moes volg nie.”

Op wie vertrou ons om die uitkoms te gee?

15, 16. (a) Waarom het Gamaliël se optrede beperkte sukses gehad? (b) Hoe was drie ander invloedryke persone beperk in wat hulle ten behoewe van Jesus kon doen?

15 Wat Gamaliël gesê het, beklemtoon bloot die feit dat ’n werk wat God se steun geniet, eenvoudig nie kan misluk nie. Sy woorde aan die Sanhedrin het ongetwyfeld die vroeë Christene tot voordeel gestrek, maar hulle het nie vergeet dat Jesus se woorde dat sy volgelinge vervolg sou word ook waar was nie. Gamaliël se optrede het ’n einde gemaak aan die godsdiensleiers se planne om hulle om die lewe te bring, maar dit het nie vervolging heeltemal laat ophou nie, want ons lees: “Hierop het hulle aan hom gehoor gegee, en hulle het die apostels ontbied, hulle geslaan en hulle beveel om op te hou om in Jesus se naam te spreek en hulle laat gaan.”—Handelinge 5:40.

16 Toe Pontius Pilatus Jesus verhoor het, het hy geen skuld in hom gevind nie en Jesus probeer vrylaat. Maar hy het nie daarin geslaag nie (Johannes 18:38, 39; 19:4, 6, 12-16). Selfs twee lede van die Sanhedrin, Nikodemus en Josef van Arimatea, wat Jesus goedgesind was, was beperk in wat hulle kon doen om te keer dat die hof Jesus vervolg (Lukas 23:50-52; Johannes 7:45-52; 19:38-40). Die uitkoms wat mense kan gee wanneer hulle vir Jehovah se volk in die bres tree—om watter rede ook al—bly maar beperk. Die wêreld sal aanhou om Christus se ware volgelinge te haat, net soos hulle hom gehaat het. Net Jehovah kan ’n algehele uitkoms gee.—Handelinge 2:24.

17. Watter realistiese beskouing het Jehovah se Getuies, maar waarom maak dit hulle nie minder vasbeslote om met die verkondiging van die goeie nuus voort te gaan nie?

17 Jehovah se Getuies is realisties en verwag dat vervolging sal voortduur. Teenstand sal slegs ophou wanneer Satan se stelsel heeltemal vernietig is. En tog laat hierdie vervolging, al is dit onaangenaam, nie die Getuies ophou om hulle opdrag uit te voer om die Koninkryk te verkondig nie. Waarom sou hulle, want hulle geniet dan God se steun? Hulle hou hulle oë gevestig op hulle moedige Leier, Jesus Christus, as die beste voorbeeld.—Handelinge 5:17-21, 27-32.

18. Watter moeilike tyd lê nog vir Jehovah se volk voor, maar van watter uitkoms is hulle seker?

18 Die ware godsdiens het uit die staanspoor uit hewige teenstand ondervind. Dit sal binnekort die teiken wees van ’n volskaalse aanval deur Gog—Satan in sy verlaagde toestand sedert hy uit die hemel gewerp is. Maar die ware godsdiens sal voortbestaan (Esegiël 38:14-16). “Die konings van die hele bewoonde aarde”, onder leiding van Satan, “sal teen die Lam veg, maar die Lam sal hulle oorwin omdat hy Here van die here en Koning van die konings is” (Openbaring 16:14; 17:14). Ja, ons Koning trek op na die finale oorwinning en sal binnekort ‘sy oorwinning voltooi’. Wat ’n voorreg is dit tog om saam met hom te beweeg, in die wete dat niemand ooit weer met Jehovah se aanbidders sal stry nie wanneer hulle sê: “God [is] vir ons”!—Romeine 8:31; Filippense 1:27, 28.

Kan jy verduidelik?

• Wat het Jehovah gedoen om die Christengemeente sedert die geboorte van die Koninkryk te versterk?

• Wat het Satan gedoen om te probeer keer dat Christus sy oorwinning voltooi, en met watter gevolge?

• Watter gebalanseerde beskouing moet ons hê as mense wat nie Getuies is nie, ons goedgesind is?

• Wat gaan Satan binnekort doen, en met watter uiteinde?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Byeenkomste is ’n bewys van die vooruitgang van Jehovah se volk

[Prente op bladsy 20]

Die Getuies se neutrale standpunt gedurende die Tweede Wêreldoorlog bring nog steeds lof aan Jehovah