Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bybelstudie—Is dit vir jou?

Bybelstudie—Is dit vir jou?

Bybelstudie—Is dit vir jou?

“MOET nie sonder ’n priester gelees word nie.” Hierdie waarskuwing verskyn voor in party Katolieke se Bybels. “As Katolieke is ons nie altyd aan die Bybel blootgestel nie”, sê Kay Murdy van die Katolieke Bybelinstituut in Los Angeles, “maar dit is besig om te verander.” Wanneer Katolieke besef watter invloed die Heilige Skrif op hulle lewe kan hê, sê sy, “ontwikkel hulle self ’n honger en dors na die Bybel”.

Aangaande hierdie verandering haal die tydskrif U.S. Catholic die woorde van ’n koördineerder in godsdiensonderrig aan wat gesê het dat Katolieke wat Bybelstudieklasse begin bywoon het, gevoel het dat “hulle as Katolieke te kort gedoen is, en dat die Bybel ’n skat is. Hulle wil graag van daardie skatte vir hulleself hê wat hulle meen hulle nie gekry het nie.”

Hoe dit ook al sy, watter “skatte” kan ’n student van die Bybel ontdek? Dink hieraan: Sal jy graag wil weet hoe om die sorge van die daaglikse lewe die hoof te bied? Hoe kan jy vrede in die gesin bewaar? Waarom tree baie mense so ongemanierd en antisosiaal op? Wat is die oorsaak van geweld onder vandag se jeug? Betroubare antwoorde op hierdie en ander moeilike vrae kan in God se Woord, die Bybel, gevind word, en dit sal inderdaad ’n “skat” wees, nie net vir Katolieke of Protestante nie, maar ook vir Boeddhiste, Hindoes, Moslems, Sjintoïste en selfs ateïste en agnostici. Soos die psalmis dit gestel het, was ‘God se woord ’n lamp vir sy voet en ’n lig vir sy pad’. Dit kan ook in jou geval waar wees.—Psalm 119:105.