Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Standaarde verander, vertroue word geskend

Standaarde verander, vertroue word geskend

Standaarde verander, vertroue word geskend

In die dae van koning Hendrik I van Engeland (1100-1135) is een jaart beskou as “die afstand van die punt van die koning se neus tot die punt van sy uitgestrekte duim”. Hoe akkuraat was die jaartstokke van koning Hendrik se onderdane? ’n Besoek aan die koning was vermoedelik die enigste manier om seker te maak.

VANDAG word mates akkurater bepaal volgens standaarde. Die meter word dus gedefinieer as die afstand wat lig in een sekonde in ’n vakuum aflê, gedeel deur 299 792 458. Ter wille van akkuraatheid het hierdie lig ’n vasgestelde golflengte en word dit deur ’n spesiale soort laser uitgestraal. As enigiemand die toerusting het wat die standaard voortbring, kan hy seker maak dat sy lengtemaat dieselfde is as almal s’n.

Veranderinge in meetstandaarde, ongeag hoe gering, kan tot onsekerheid lei, en baie moeite word gedoen om by standaarde te bly. In Brittanje is die standaard waarvolgens massa gemeet word byvoorbeeld ’n staaf platina- en iridiumallooi wat een kilogram weeg. Hierdie staaf word by die Nasionale Fisikalaboratorium gehou. Lugbesoedeling van die verkeer en vliegtuie wat oorvlieg, veroorsaak dat die kilogramstandaard elke dag swaarder word. Hierdie metaalstaaf, of -silinder, is egter ’n nabootsing van die wêreldstandaard wat onder drie klokvormige flesse in ’n ondergrondse kluis by die Internasionale Buro vir Gewigte en Mate in Sèvres, Frankryk, gehou word. Maar selfs die gewig van hierdie voorwerp wissel as gevolg van mikroskopiese besoedeling. Tot dusver het die wêreld se metroloë nog nie met ’n stabieler standaard vorendag gekom nie.

Hoewel geringe veranderinge dalk vir die gemiddelde persoon onbelangrik lyk, kan ’n algehele verandering in standaard verwarrend wees. In Brittanje het die verandering van die imperiale gewigsmaat (ponde en onse) na die metrieke stelsel (kilogram en gram) heelwat wantroue tot gevolg gehad—en nie sonder rede nie. Party gewetenlose winkeliers het mense se onkunde oor die nuwe stelsel uitgebuit deur hulle klante te kul.

Gesinstandaarde en sedelike standaarde

Wat van die veranderinge in gesinstandaarde en sedelike standaarde? Die uitwerking van sulke veranderinge kan baie groter skade berokken. Huidige verslae van gesinsverbrokkeling, promiskue seksuele gedrag en wydverspreide kindermishandeling ontstel baie en bevestig dat ons in ’n tyd van verlagende standaarde lewe. Enkelouergesinne, kinders wat deur “ouers” van dieselfde geslag grootgemaak word en die afstootlike seksuele molestering van kinders in die sorg van plaaslike staatsinstellings is alles die gevolge van mense wat aanvaarde standaarde verwerp. Mense word al hoe meer “liefhebbers van hulleself . . . , sonder natuurlike geneentheid, . . . sonder liefde vir goedheid, . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God”, soos die Bybel sowat tweeduisend jaar gelede voorspel het.—2 Timoteus 3:1-4.

Die agteruitgang in sedelike standaarde gaan met ’n gevoellose skending van vertroue gepaard. Onlangs het skreiende afwykings van die hoë standaarde in die mediese beroep aan die lig gekom in Hyde, ’n dorp in die noorde van Engeland, waar inwoners hulle “gerespekteerde en vertroude” huisdokters in hulle vertroue geneem het. Maar hulle vertroue is ongelukkig geskend. Hoe? Verslae oor die verhoor het getoon dat ’n mediese praktisyn in werklikheid die dood van ten minste 15 van sy vroulike pasiënte veroorsaak het. Trouens, die polisie moes weer ondersoek instel na meer as 130 ander sterfgevalle waarby die dokter betrokke was. Die mate waarin vertroue geskend is, is beklemtoon toe die dokter skuldig bevind en tot tronkstraf gevonnis is. Twee tronkbeamptes wie se ma vermoedelik deur hierdie dokter vermoor is, is ander pligte gegee sodat hulle nie na die berugte gevangene hoef om te sien nie. Dit is te verstane waarom ’n berig oor die geval in The Daily Telegraph die skuldige algemene praktisyn beskryf het as die “‘Duiwels’-dokter”.

Wie kan jy werklik vertrou, met die oog op die feit dat standaarde op soveel lewensterreine verander en agteruitgaan? Waar kan jy onveranderlike standaarde vind wat gehandhaaf word deur iemand met die gesag en mag om dit te laat geld? Die volgende artikel bespreek hierdie vrae.