Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sy geestelike behoeftes is bevredig

Sy geestelike behoeftes is bevredig

Koninkryksverkondigers berig

Sy geestelike behoeftes is bevredig

SIPRUS is ’n eiland in die noordoostelike hoek van die Middellandse See. In Bybeltye was Siprus bekend vir sy koper en goeie hout. Paulus en Barnabas het gedurende hulle eerste sendingreis die goeie nuus van die Koninkryk daar verkondig (Handelinge 13:4-12). Vandag het die goeie nuus nog steeds ’n positiewe invloed op die lewe van baie Sipriote. Dit is beslis die geval met Lucas, ’n man in sy veertigerjare. Hy vertel:

“Ek is op ’n beesplaas, in ’n gesin van sewe kinders, gebore. Van kleins af het ek baie van lees gehou. My gunstelingboek was ’n sakuitgawe van die Christelike Griekse Geskrifte. Toe ek tien jaar oud was, het ek en ’n paar vriende ’n klein Bybelstudiegroep gevorm. Dit het egter nie lank gehou nie, want party van die ouer mense in die dorpie het ons ketters genoem.

“Later, terwyl ek aan ’n universiteit in die Verenigde State gestudeer het, het ek mense uit talle verskillende godsdiensagtergronde ontmoet. Dit het weer my begeerte na geestelike dinge aangewakker. Ek het baie dae in die universiteitsbiblioteek deurgebring om verskillende godsdienste te bestudeer. Ek het ook ’n hele paar kerke besoek, maar ondanks my pogings was ek nog steeds nie geestelik bevredig nie.

“Nadat ek my studies voltooi het, het ek na Siprus toe teruggekeer en as die direkteur van ’n mediese laboratorium begin werk. ’n Bejaarde man met die naam Antonis, een van Jehovah se Getuies, het my altyd by die werk besoek. Maar sy besoeke het nie ongemerk by die Grieks-Ortodokse Kerk verbygegaan nie.

“Weldra het ’n teoloog my kom besoek en my afgeraai om met Jehovah se Getuies te praat. Aangesien ek van kleins af geleer is dat die Grieks-Ortodokse Kerk die waarheid het, het ek ingestem en nie meer tyd saam met Antonis deurgebring nie, maar die Bybel met die teoloog begin bespreek. Ek het ook baie kloosters in Siprus besoek. Ek het selfs na die noorde van Griekeland gereis en die berg Atos besoek, wat as die heiligste berg in die Ortodokse Christenwêreld beskou word. Tog het my Bybelvrae onbeantwoord gebly.

“Ek het toe tot God gebid om my te help om die waarheid te vind. Kort daarna het Antonis my weer by die werk besoek, en ek het gevoel dat dit ’n antwoord op my gebed was. Ek het dus opgehou om die teoloog te besoek en die Bybel saam met Antonis begin studeer. Ek het bly vorder, en in Oktober 1997 het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.

“My vrou en ons twee oudste dogters, wat toe 14 en 10 was, het my aanvanklik teëgestaan. Maar weens my goeie gedrag het my vrou besluit om ’n vergadering by die Koninkryksaal by te woon. Sy was baie beïndruk deur die vriendelikheid van die Getuies en deur die persoonlike belangstelling wat hulle in haar getoon het. Sy was veral beïndruk deur hulle gebruik van die Bybel. Gevolglik het my vrou en twee oudste dogters ’n Bybelstudie saam met Jehovah se Getuies aanvaar. Stel jou my vreugde voor toe die drie van hulle by die “God se profetiese woord”-streekbyeenkoms in 1999 gedoop is!

“Ja, my soeke na die waarheid is bevredig. Nou is ons hele gesin, insluitende my vrou en vier kinders, verenig in die rein aanbidding van Jehovah.”