Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Versterk jou vertroue in Jehovah

Versterk jou vertroue in Jehovah

Versterk jou vertroue in Jehovah

’n Moorddadige komplot word gesmee. Al die hoë amptenare van die land het saam beraadslaag en met ’n voorstel vir ’n nuwe wet vorendag gekom. Hulle wil enige vorm van aanbidding wat nie deur die Staat goedgekeur word nie ’n halsmisdaad verklaar.

KLINK dit bekend? Die geskiedenis is vol voorbeelde van mense wat onheil gestig het deur die wet. Die voorval wat hierbo genoem word, het in die dae van die profeet Daniël in die Persiese Ryk afgespeel. Die wet, wat koning Darius wel uitgevaardig het, het bepaal: “Elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan [die] koning, [moet] in die leeukuil gegooi . . . word.”—Daniël 6:8-10.

Wat sou Daniël doen, aangesien sy lewe in gevaar was? Sou hy voortgaan om op sy God, Jehovah, te vertrou, of sou hy toegee en doen soos die koning beveel het? Die verslag sê vir ons: “Net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ’n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het” (Daniël 6:11). Die res van die verhaal is welbekend. Daniël is in die leeukuil gegooi vir sy geloof, maar Jehovah het “die bekke van leeus toegestop” en sy lojale kneg gered.—Hebreërs 11:33; Daniël 6:17-23.

Tyd vir selfondersoek

Vandag lewe Jehovah se knegte in ’n vyandige wêreld, waar hulle fisiese en geestelike welsyn dikwels bedreig word. Byvoorbeeld, tydens die verskriklike vlaag van rassehaat in sekere lande is baie Getuies doodgemaak. Op ander plekke verduur Jehovah se knegte voedseltekorte, ekonomiese ontberinge, natuurrampe, ernstige siekte en ander lewensgevaarlike situasies. Hulle het boonop te kampe met vervolging, druk by die werk en verskeie versoekings om te doen wat verkeerd is, wat alles hulle geestelikheid in gevaar kan stel. Trouens, die groot Teenstander, Satan, is daarop uit om Jehovah se knegte te vernietig op watter manier hy ook al kan.—1 Petrus 5:8.

Wat kan ons doen as ons onsself in sulke omstandighede bevind? Hoewel dit natuurlik is om bang te wees wanneer ’n mens se lewe bedreig word, kan ons die apostel Paulus se gerusstellende woorde in gedagte hou: “[Jehovah] het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.’ Sodat ons goeie moed kan hou en sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?’” (Hebreërs 13:5, 6). Ons kan seker wees dat Jehovah vandag dieselfde voel oor sy knegte. Dit is egter een ding om Jehovah se belofte te ken, maar iets heeltemal anders om oortuig te wees dat hy ten behoewe van ons sal optree. Dit is dus van die allergrootste belang dat ons ondersoek wat die grondslag is waarop vertroue in Jehovah gebou word en dat ons alles in ons vermoë doen om daardie vertroue te versterk en te behou. As ons dit doen, sal “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, [ons] harte en [ons] verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:7). Wanneer ons dan wel beproewinge ondervind, sal ons helder kan dink en dit met wysheid die hoof kan bied.

Grondslag vir vertroue in Jehovah

Ons het beslis baie redes om op ons Skepper, Jehovah, te vertrou. Die eerste rede is die feit dat Jehovah ’n liefdevolle God is wat opreg omgee vir sy knegte. Daar is tallose voorbeelde in die Bybel opgeteken wat ons vertel van Jehovah se liefdevolle sorg vir sy knegte. Moses het Jehovah se handelinge met sy uitverkore volk Israel soos volg beskryf: “Hy het hom in ’n woeste land gevind, en in ’n leë, huilende woestyn. Hy het hom begin omring, vir hom gesorg, om hom te bewaar soos die appel van sy oog” (Deuteronomium 32:10, NW). In hedendaagse tye sorg Jehovah nog steeds goed vir sy knegte, as ’n groep sowel as individueel. Toe party Getuies byvoorbeeld gedurende die burgeroorlog in Bosnië uiterste voedseltekorte ondervind het, het Jehovah toegesien dat hulle broodnodige voorraad ontvang deur middel van die moedige pogings van hulle broers in Kroasië en Oostenryk, wat hulle lewens gewaag het om deur ’n uiters gevaarlike gebied te reis om noodlenigingsvoorraad vir hulle broers te bring. a

Aangesien Jehovah God die Almagtige is, is hy beslis in staat om sy knegte onder enige omstandighede te beskerm (Jesaja 33:22; Openbaring 4:8). Maar selfs wanneer Jehovah toelaat dat die getrouheid van party van sy knegte tot die dood beproef word, onderskraag hy hulle en help hy hulle om hulle onkreukbaarheid te handhaaf, sodat hulle tot die einde toe standvastig, vreugdevol en kalm kan bly. Ons kan derhalwe dieselfde vertroue hê as die psalmis: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte, ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word. Daarom sal ons nie vrees nie, al ondergaan die aarde ’n verandering en al wankel die berge weg in die hart van die uitgestrekte see.”—Psalm 46:1, 2NW.

Die Bybel openbaar ook dat Jehovah ’n God van waarheid is. Dit beteken dat hy altyd getrou bly aan sy beloftes. Trouens, die Bybel beskryf hom as ’n God “wat nie kan lieg nie” (Titus 1:2). Aangesien Jehovah keer op keer bevestig het dat hy gewillig is om sy knegte te beskerm en te red, kan ons heeltemal seker wees dat hy nie net sy beloftes kán vervul nie, maar ook gereed is om dit te doen.—Job 42:2.

Maniere om ons vertroue te versterk

Hoewel ons alle rede het om vertroue in Jehovah te stel, moet ons dit nie as vanselfsprekend aanneem nie. Dit is omdat die wêreld oor die algemeen min geloof in God het, en so ’n gesindheid kan maklik ons vertroue in Jehovah ondermyn. Ons moet ons derhalwe kragtig inspan om daardie vertroue te versterk en te behou. Jehovah is deeglik bewus hiervan, en hy het die middele voorsien waardeur ons dit kan doen.

Eerstens het hy sy geskrewe Woord, die Bybel, voorsien, wat verslae bevat van talle magtige dade wat hy ten behoewe van sy knegte verrig het. Dink net: Hoeveel vertroue kan jy in iemand hê as jy net sy naam ken? Waarskynlik baie min, indien enige. Jy moet sy weë en sy dade ken om vertroue in hom te stel, nie waar nie? Namate ons Bybelverslae hieroor lees en daaroor peins, neem ons kennis van Jehovah en sy wonderlike weë toe en besef ons al hoe meer hoe betroubaar hy is. Sodoende word ons vertroue in hom versterk. Die psalmis het ’n uitstekende voorbeeld gestel toe hy in ’n ernstige gebed tot God gesê het: “Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade.”—Psalm 77:12, 13.

Buiten die Bybel het ons ook ’n ryk bron van geestelike voedsel in die Bybelpublikasies wat deur Jehovah se organisasie gedruk word. Hierdie publikasies bevat dikwels roerende verslae van God se knegte in hedendaagse tye, wat toon hoe Jehovah hulle gehelp en hulle verligting gegee het toe hulle hulle in benarde situasies bevind het. Martin Poetzinger, wat later ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies geword het, het byvoorbeeld ernstig siek geword toe hy buite sy geboorteland in gebiede in Europa as ’n pionier gedien het. Hy het nie geld gehad nie, en geen dokter was bereid om hom te behandel nie. Maar Jehovah het hom nie in die steek gelaat nie. Daar is eindelik met die senior konsulterende geneesheer van die plaaslike hospitaal in aanraking gekom. Hierdie gawe man, wat groot geloof in die Bybel gehad het, het vir broer Poetzinger gesorg asof hy sy eie seun was en geen betaling gevra nie. Dit kan ons vertroue in ons hemelse Vader beslis versterk as ons sulke persoonlike verhale lees.

Nog ’n waardevolle hulpmiddel wat Jehovah voorsien om ons vertroue in hom te versterk, is die kosbare voorreg van gebed. Die apostel Paulus sê liefdevol vir ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word” (Filippense 4:6). “Alles” kan ons gevoelens, behoeftes, vrese en bekommernisse insluit. Hoe meer gereeld en opreg ons gebede is, hoe sterker sal ons vertroue in Jehovah word.

Toe Jesus Christus op aarde was, het hy soms alleen na ’n eensame plek gegaan om ongestoord te bid (Matteus 14:23; Markus 1:35). Voordat hy gewigtige besluite geneem het, het hy selfs die hele nag in gebed tot sy Vader deurgebring (Lukas 6:12, 13). Dit is nie verbasend nie dat Jesus se vertroue in Jehovah so sterk was dat hy selfs die verskriklikste toets kon verduur wat enigiemand nog deurgemaak het. Sy laaste woorde aan die folterpaal was: “Vader, in u hande vertrou ek my gees toe.” Hierdie woorde het getoon dat sy vertroue in sy Vader tot die einde toe nie verswak het nie, selfs al het Jehovah nie ingegryp om hom te red nie.—Lukas 23:46.

Nog ’n ander manier waarop ons ons vertroue in Jehovah kan opbou, is deur gereelde omgang met diegene wat met hulle hele hart op hom vertrou. Jehovah het sy volk beveel om gereeld byeen te kom om meer van hom te leer en om mekaar aan te moedig (Deuteronomium 31:12; Hebreërs 10:24, 25). Hierdie omgang het hulle vertroue in Jehovah versterk en hulle in staat gestel om belangrike toetse van hulle geloof te verduur. In ’n Afrikaland waar die predikingswerk verbied is, is Jehovah se Getuies polisiebeskerming, reisdokumente, huweliksertifikate, hospitaalbehandeling en werk geweier. Toe burgeroorlog in een gebied uitgebreek het, het 39 lede van ’n nabygeleë gemeente, waaronder kinders, ongeveer vier maande lank onder ’n lae brug in die woestyn gebly om die bomaanvalle op hulle dorp te ontvlug. Gedurende hierdie verskriklike ontberinge het hulle daaglikse bespreking van ’n Bybelteks en ander vergaderinge hulle groot krag gegee. Hulle kon dus die beproewing verduur en geestelik sterk bly. Hierdie ondervinding toon duidelik hoe belangrik dit is om gereeld saam met Jehovah se volk te vergader.

Om ons vertroue in Jehovah te versterk, moet ons ten laaste bedrywig bly in die Koninkryksverkondigingswerk, altyd gereed om die goeie nuus aan ander mee te deel. Dit kan gesien word uit die hartroerende ondervinding van ’n ywerige jong verkondiger in Kanada wat terminaal siek was weens leukemie. Ondanks haar ernstige siekte wou sy ’n gewone pionier word, dit wil sê ’n voltydse bedienaar. Gedurende ’n kort remissie van haar siekte was sy gesond genoeg om een maand in die bediening as ’n hulppionier deur te bring. Toe het haar toestand versleg, en sy is ’n paar maande later oorlede. Maar sy het tot die einde toe geestelik sterk gebly, en haar vertroue in Jehovah het nooit gewankel nie. Haar ma onthou: “Tot die einde toe was sy meer bekommerd oor ander as oor haarself. Sy het hulle aangemoedig om die Bybel te bestudeer en vir hulle gesê: ‘Ons sal in die Paradys weer saam wees.’”

Lewer bewys van vertroue in Jehovah

“Soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook geloof sonder werke dood” (Jakobus 2:26). Wat Jakobus oor geloof in God gesê het, kan ook van ons vertroue in Hom gesê word. Al sê ons hoe dikwels dat ons op God vertrou, beteken dit niks as ons nie deur ons dade bewys lewer van daardie vertroue nie. Abraham het vaste vertroue in Jehovah gehad en bewys gelewer van daardie vertroue deur onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan sy gebooie; hy was selfs bereid om sy seun, Isak, op te offer. Vanweë hierdie uitsonderlike vertroue en gehoorsaamheid het Abraham as Jehovah se vriend bekend geword.—Hebreërs 11:8-10, 17-19; Jakobus 2:23.

Ons hoef nie te wag totdat ons die een of ander strawwe toets ondergaan voordat ons ons vertroue in Jehovah toon nie. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou, en hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in baie onregverdig” (Lukas 16:10). Ons moet leer om in alles wat ons van dag tot dag doen op Jehovah te vertrou, om hom te gehoorsaam selfs in sake wat dalk nietig lyk. Wanneer ons die voordele van sulke gehoorsaamheid sien, word ons vertroue in ons hemelse Vader versterk, wat ons in staat stel om groter of selfs moeiliker beproewinge die hoof te bied.

Namate die wêreld sy rampspoedige einde nader, gaan Jehovah se volk heel waarskynlik meer beproewinge en gevare ondervind (Handelinge 14:22; 2 Timoteus 3:12). As ons nou sterk en vaste vertroue in Jehovah opbou, kan ons daarna uitsien om tot in sy beloofde nuwe wêreld behoue te bly—deur die groot verdrukking te oorleef of deur ’n opstanding te ontvang (2 Petrus 3:13). Mag ons nooit toelaat dat enige gebrek aan vertroue aan ons kant ons kosbare verhouding met Jehovah skaad nie. Dan kan dieselfde van ons gesê word as wat van Daniël gesê is nadat hy uit die leeukuil verlos is: “Daar is hoegenaamd geen letsel aan hom gevind nie, omdat hy op sy God vertrou het.”—Daniël 6:23NW.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 November 1994, bladsye 23-7, vir besonderhede.

[Prent op bladsy 9]

Dit is geloofversterkend om verslae van getroue knegte van Jehovah, soos Martin Poetzinger, te lees