Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Waarom moet Christene hulle sondes aan die ouer manne in die gemeente bely as Jehovah bereid is om sondes op grond van die losprysofferande te vergewe?

Soos ons in die geval van Dawid en Batseba kan sien, het Jehovah Dawid se sonde weens sy opregte berou vergewe, al was sy sonde baie ernstig. Toe die profeet Natan na hom gekom het, het Dawid openlik bely: “Ek het gesondig teen die HERE!”—2 Samuel 12:13.

Jehovah aanvaar egter nie net ’n sondaar se opregte belydenis en vergewe hom nie, maar hy het ook liefdevolle voorsienings om die sondaar te help om weer geestelik gesond te word. In Dawid se geval het die hulp deur die profeet Natan gekom. Vandag is daar geestelike ryp ouer manne in die Christengemeente. Die dissipel Jakobus verduidelik: “Is iemand onder julle [geestelik] siek? Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is gesond maak, en Jehovah sal hom oprig. Ook as hy sondes gepleeg het, sal dit hom vergewe word.”—Jakobus 5:14, 15.

Bekwame ouer manne kan baie doen om die gemoedskwelling van die berouvolle sondaar te verlig. Hulle probeer Jehovah navolg in hulle handelinge met hom. Hulle wil nooit hardvogtig wees nie, al is streng dissipline dalk nodig. Hulle neem eerder medelydend die onmiddellike behoeftes van die persoon in aanmerking. Ook probeer hulle geduldig die sondaar se denke regstel deur God se Woord te gebruik (Galasiërs 6:1). Selfs as iemand nie uit vrye wil sy sonde bely nie, kan hy nog steeds tot berou beweeg word wanneer die ouer manne met hom praat, soos met Dawid die geval was toe Natan met hom gepraat het. Die hulp wat die ouer manne dus aan die sondaar verleen, kan voorkom dat hy weer die sonde pleeg en dat hy die wrange vrugte daarvan pluk as hy ’n geharde sondaar sou word.—Hebreërs 10:26-31.

Dit is beslis nie maklik om aan ander die dade te bely waaroor ’n mens skaam voel en waarvoor jy vergifnis wil hê nie. Dit verg innerlike krag. Maar dink ’n bietjie na oor die alternatief. ’n Man wat nie sy ernstige sonde aan die ouer manne in die gemeente bely het nie, het gesê: “Ek het ’n pyn in my hart gevoel wat nie wou weggaan nie. Ek het al hoe meer in die predikingswerk gedoen, maar die verskriklike gevoel wou nie weggaan nie.” Hy het gedink dat dit genoeg was om sy sonde in gebed aan God te bely, maar dit was ongetwyfeld nie genoeg nie, want hy het gevoelens soortgelyk aan dié van koning Dawid ondervind (Psalm 51:10, 13). Hoeveel beter is dit tog om die liefdevolle hulp te aanvaar wat Jehovah deur middel van die ouer manne voorsien!