Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vreugdevol en dankbaar ondanks ’n hartverskeurende verlies

Vreugdevol en dankbaar ondanks ’n hartverskeurende verlies

Lewensverhaal

Vreugdevol en dankbaar ondanks ’n hartverskeurende verlies

SOOS VERTEL DEUR NANCY E. PORTER

Dit was 5 Junie 1947, ’n warm aand in die Bahamas, eilande naby die suidooskus van die Verenigde State. ’n Immigrasiebeampte het ’n onverwagte besoek by my en my man, George, afgelê. Hy het ons ’n brief gegee wat gesê het dat ons nie langer op die eilande welkom was nie en dat ons “onmiddellik die kolonie moet verlaat”!

EK EN George was die eerste sendelinge van Jehovah se Getuies wat na Nassau, die grootste stad in die Bahamas, gekom het. Ons is hierheen gestuur nadat ons aan die agtste klas van Gilead, ’n sendingskool noord van die stad New York, gegradueer het. Wat het ons gedoen dat ons ná net drie maande so ’n sterk reaksie uitgelok het? En hoe het dit gekom dat ek nou, oor die 50 jaar later, nog steeds hier is?

Opleiding vir die bediening

My pa, Harry Kilner, het ’n baie groot invloed op my lewe gehad. Hy het ’n uitstekende voorbeeld vir my gestel, aangesien hy baie opofferinge gemaak het om een van Jehovah se Getuies te word. Hoewel hy met sy gesondheid gesukkel het, het hy byna elke naweek aan die predikingswerk deelgeneem en ywerig Koninkryksbelange eerste gestel (Matteus 6:33). Ons het finansieel maar min gehad, maar in die 1930’s was my pa se skoenwinkel ’n sentrum van geestelike bedrywighede in Lethbridge, Alberta, Kanada. My vroegste herinneringe is van voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies, wat pioniers genoem word, wat by ons kom kuier het en ondervindinge vertel het.

In 1943 het ek naby Fort Macleod en Claresholm, Alberta, begin pionier. Op daardie stadium was ons predikingswerk in Kanada verbied as gevolg van leuens wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur teenstanders versprei is. Ons gebied het 50 kilometer in alle rigtings gestrek, maar omdat ons jonk en energiek was, was dit vir ons niks om na die klein gemeenskappe en plase in die gebied met ons fietse te ry of te loop nie. In hierdie tyd het ek die geleentheid gehad om met ’n paar Gileadgegradueerdes te assosieer, en hulle ondervindinge het by my die begeerte gewek om ’n sendeling te word.

In 1945 is ek met George Porter getroud, wat van Saskatchewan, Kanada, was. Sy ouers was sedert 1916 ywerige Getuies, en hy het ook die voltydse bediening as sy loopbaan gekies. Ons eerste toewysing was die pragtige Lynn-vallei in Noord-Vancouver, Kanada. Nie lank daarna nie is ons na Gilead genooi.

Ek het oor die jare met persone gesels wat aan verskillende kweekskole gegradueer het, en ek het gesien hoe hulle teologiese opleiding hulle geloof in God en in sy Woord, die Bybel, ondermyn het. Maar wat ons by Gilead geleer het, het ons denkvermoë verskerp en bowenal ons geloof in Jehovah God en sy Woord versterk. Ons klasmaats is na China, Singapoer, Indië, lande in Afrika, Suid-Amerika en ander plekke gestuur. Ek kan nog steeds die opgewondenheid onthou toe ons hoor dat ons toewysing die tropiese eilande van die Bahamas is.

Hoe dit gekom het dat ons kon bly

Ons reis na die Bahamas was kort in vergelyking met dié van ons klasmaats. Ons kon kort voor lank die eiland geniet met sy warm weer, blou lug, blougroen water, pastelkleurige geboue en ontelbare fietse. Maar wat my die meeste beïndruk het, was die klein groepie van vyf Getuies wat vir ons gewag het toe ons boot daar aankom. Ons het gou besef dat die kultuur hier heeltemal anders was as waaraan ons gewoond was. My man is byvoorbeeld gevra om my nie in die openbaar “Liefie” te noem nie, aangesien die uitdrukking gewoonlik net in ’n buite-egtelike verhouding gebruik word.

Weldra het die geestelikes, wat blykbaar bedreig gevoel het omdat ons so vryelik met die mense meng, ons valslik daarvan beskuldig dat ons Kommuniste is. Daarom is ons beveel om die land te verlaat. Maar die Getuies—daar was minder as 20 op die eilande op daardie stadium—het onmiddellik ’n petisie met duisende handtekeninge opgestel wat gevra het dat ons toegelaat word om aan te bly. Die uitsettingsbevel is dus nietig verklaar.

Na ’n nuwe gebied

Bybelwaarhede het vinnig wortelgeskiet in die harte van dié wat lief was vir God, en daarom is nog Gileadsendelinge na die Bahamas gestuur. Toe, in 1950, is ’n takkantoor gestig. Tien jaar later het Milton Henschel, ’n lid van die hoofkantoorpersoneel in Brooklyn, New York, die Bahamas besoek en die sendelinge gevra of enigeen bereid sou wees om die predikingswerk op ’n ander eiland van die Bahamas te begin doen. Ek en George het ons beskikbaar gestel, en so het ons verblyf van 11 jaar op Long-eiland begin.

Hierdie eiland, een van baie wat die Bahamas vorm, is 140 kilometer lank en 6 kilometer breed, en dit het destyds geen werklike dorpe gehad nie. Die hoofstad, Clarence Town, het omtrent 50 huise gehad. Die lewe was baie primitief—geen elektrisiteit, lopende water of kookgeriewe of waterpype in die huis nie. Ons moes dus aanpas by die lewe op ’n afgeleë eiland. Hier het mense daarvan gehou om oor hulle gesondheid te praat. Ons het geleer om nie mense te groet met die vraag: “Hoe gaan dit vandag?” nie, want die persoon het jou dan dikwels sy hele mediese geskiedenis vertel.

Ons het meestal van kombuis tot kombuis getuig, aangesien mense gewoonlik in hulle opelugkombuis besig was, wat bestaan het uit ’n grasdak en vuurmaakplek. Die gemeenskappe het hoofsaaklik bestaan uit arm, maar baie gawe plaasboere of vissermanne. Die meeste van hulle was nie net godsdienstig nie, maar ook baie bygelowig. Ongewone gebeurtenisse is gewoonlik as tekens vertolk.

Die geestelikes het glad nie geaarsel om ongenooid in mense se huise in te stap en die Bybellektuur op te skeur wat ons by hulle gelaat het nie. Hulle het sodoende dié wat sku was, banggemaak, maar nie almal het hulle laat intimideer nie. Daar was byvoorbeeld ’n op en wakker 70-jarige vrou wat haar nie laat dreig het nie. Sy wou self die Bybel verstaan, en uiteindelik het sy en ’n hele paar ander, Getuies geword. Ons het al hoe meer belangstellendes onder die mense gevind, sodat George party Sondae 300 kilometer moes ry om hulle te help om ons vergaderinge by te woon.

Gedurende die vroeë maande toe daar geen ander Getuies was nie, het ek en George geestelik sterk gebly deur al die Christelike vergaderinge te hou. Boonop het ons elke Maandagaand pligsgetrou die les in die Wagtoring voorberei en ons Bybellees gedoen. Ons het ook elke Wagtoring en Ontwaak! gelees sodra ons dit ontvang het.

My pa het gesterf terwyl ons op Long-eiland was. Die daaropvolgende somer, 1963, het ons gereël dat my ma naby ons kom woon. Hoewel sy al oud was, het sy redelik goed aangepas en tot haar dood in 1971 op Long-eiland gewoon. Vandag het Long-eiland ’n gemeente met ’n splinternuwe Koninkryksaal.

’n Hartverskeurende stryd

In 1980 het George agtergekom dat sy gesondheid begin verswak. So het een van die pynlikste ondervindinge in my lewe begin—om te sien hoe my geliefde man, medewerker en metgesel weens Alzheimer se siekte agteruitgaan. Sy hele persoonlikheid het verander. Die laaste en ergste deel het omtrent vier jaar geduur voor hy in 1987 gesterf het. Hy het so lank as wat hy kon saam met my in die bediening uitgegaan en vergaderinge bygewoon, hoewel ek baie dae in trane was weens al die inspanning wat dit gekos het. Die oorvloedige liefde van ons Christenbroers het my werklik baie vertroos, maar ek mis hom nog steeds baie.

Een van die kosbaarste aspekte van my huwelik met George was dat ons gereeld en lekker met mekaar kon gesels. Noudat George nie meer daar is nie, is ek dankbaarder as ooit dat Jehovah sy knegte nooi om ‘onophoudelik te bid’, om ‘vol te hou met gebed’ en om gebruik te maak van “elke vorm van gebed” (1 Tessalonisense 5:17; Romeine 12:12; Efesiërs 6:18). Dit is so vertroostend om te weet dat Jehovah besorg is oor ons. Ek voel waarlik soos die psalmis wat gesing het: “Mag Jehovah geloof word, wat daagliks die vrag vir ons dra” (Psalm 68:19, NW). Om net een dag op ’n slag te neem, my beperkings te aanvaar en dankbaar te wees vir die seëninge wat elke dag bring, net soos Jesus ons aangespoor het, is inderdaad die beste manier om my lewe te lei.—Matteus 6:34.

Vreugdevolle belonings van die bediening

Deur in die Christelike bediening besig te bly, is ek gehelp om nie te veel aan die verlede te dink nie. Sodoende kan ek die soort emosies beheer wat tot neerslagtigheid lei. Dit is ’n besondere bron van vreugde om vir ander Bybelwaarheid te leer. Dit gee my ’n ordelike geestelike roetine wat my lewe doelgerig en bestendig gemaak het.—Filippense 3:16.

Ek het eenkeer ’n oproep gehad van ’n vrou met wie ek sowat 47 jaar tevore oor die Koninkryksboodskap gesels het. Sy is die dogter van een van die eerste Bybelstudente wat ons gehad het toe ons in 1947 in die Bahamas aangekom het. Haar ma, pa en al haar broers en susters het Jehovah se Getuies geword, sowel as die meeste van hulle kinders en kleinkinders. Trouens, meer as 60 lede van hierdie vrou se familie is Getuies. Maar sy het self nooit die Bybelwaarheid aangeneem nie. Sy was egter nou uiteindelik gereed om ’n kneg van Jehovah God te word. Wat ’n vreugde is dit tog om te kon sien hoe die handjie vol Getuies wat in die Bahamas was toe ek en George hier aangekom het, tot meer as 1 400 vermeerder het!

Soms vra mense my of ek nie graag my eie kinders sou wou hê nie. Dit kan natuurlik ’n seën wees om kinders te hê. Maar die liefde wat my geestelike kinders, kleinkinders en agterkleinkinders my voortdurend betoon, is heel moontlik iets wat nie alle biologiese ouers ondervind nie. Diegene wat ‘goed doen’ en wat ‘ryk is in voortreflike werke’, is waarlik die gelukkigste mense (1 Timoteus 6:18). Dit is waarom ek so besig in die bediening bly as wat my gesondheid toelaat.

Terwyl ek eendag by die tandarts se spreekkamer was, het ’n jong vrou na my toe gekom en gesê: “Tannie ken my nie, maar ek ken u, en ek wil net sê dat ek lief is vir u.” Toe vertel sy hoe sy die waarheid in die Bybel geleer het en hoe dankbaar sy was dat ons as sendelinge na die Bahamas gekom het.

By ’n ander geleentheid het ek van vakansie af teruggekom en ’n roos in my deur gevind waar ek nou by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Nassau woon. Daar was ’n nota by wat gesê het: “Ons is so bly jy is terug.” My hart loop oor van dankbaarheid, en dit laat my nog liewer word vir Jehovah wanneer ek sien watter soort mense sy Woord, organisasie en gees voortbring! Ja, Jehovah onderskraag ons dikwels deur middel van diegene om ons.

Ek loop oor van dankbaarheid

My lewe was nie altyd maklik nie, en daar is sekere aspekte daarvan wat ook nou nie maklik is nie. Maar daar is soveel waarvoor ek dankbaar kan wees—die vreugdes van die bediening, die liefde en toegeneentheid van soveel Christenbroers en -susters, die liefdevolle sorg van Jehovah se organisasie, die pragtige waarhede in die Bybel, die hoop om herenig te word met geliefdes wanneer hulle opgewek word en die herinneringe van 42 jaar van getroude lewe met ’n getroue kneg van Jehovah. Voor ons troue het ek gebid dat ek altyd my man sal help om te bly in die voltydse bediening waarvoor hy so lief was. Jehovah het daardie gebed genadiglik verhoor. Ek wil dus my dankbaarheid teenoor Jehovah toon deur altyd getrou aan hom te bly.

Die Bahamas is ’n gewilde plek vir toeriste, wat duisende rande spandeer om die tropiese besienswaardighede te kom geniet. Omdat ek besluit het om Jehovah te dien waar sy organisasie ook al wil hê, het ek die wonderlike ondervinding gehad om hierdie eilande te deurkruis en die goeie nuus van God se Koninkryk bekend te maak. Maar nog belangriker, ek het die liefde van die beste mense onder die Bahamas se vriendelike bewoners leer ken en kan dit koester.

Ek is so dankbaar teenoor diegene wat die waarheid na my ouers gebring het, wat weer op hulle beurt ’n opregte begeerte in my jong verstand en hart gewek het om eers God se Koninkryk te soek. Jong knegte van Jehovah kan vandag eweneens baie seëninge geniet as hulle by die “groot deur” ingaan wat tot wonderlike geleenthede van ’n uitgebreide bediening lei (1 Korintiërs 16:9). Jy sal ook oorloop van dankbaarheid as jy jou lewe gebruik om “die God van die gode”, Jehovah, te eer.—Deuteronomium 10:17; Daniël 2:47.

[Prent op bladsy 24]

In straatwerk in Victoria, Brits-Columbië, in 1944

[Prent op bladsy 24]

Ek en George het in 1946 die Gileadskool bygewoon

[Prent op bladsy 25]

Saam met George voor die sendinghuis in Nassau, Bahamas, in 1955

[Prent op bladsy 26]

Die sendinghuis in Deadman’s Cay, waar ons van 1961 tot 1972 gedien het