Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly standvastig asof jy die Onsigbare sien!

Bly standvastig asof jy die Onsigbare sien!

Bly standvastig asof jy die Onsigbare sien!

“[Moses] het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien.”—HEBREËRS 11:27.

1. Watter merkwaardige stelling omtrent God het Jesus in sy Bergpredikasie gemaak?

 JEHOVAH is die onsigbare God. Toe Moses gevra het om Sy heerlikheid te sien, het Jehovah geantwoord: “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Exodus 33:20). En die apostel Johannes het geskryf: “Geen mens het God ooit gesien nie” (Johannes 1:18). Toe Jesus Christus as ’n mens op die aarde gelewe het, kon selfs hy God nie sien nie. Maar in sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien” (Matteus 5:8). Wat het Jesus bedoel?

2. Waarom kan ons God nie met ons letterlike oë sien nie?

2 Die Skrif identifiseer Jehovah as ’n onsigbare Gees (Johannes 4:24; Kolossense 1:15; 1 Timoteus 1:17). Jesus het derhalwe nie gesê dat ons as mense Jehovah met ons letterlike oë sal kan sien nie. Gesalfde Christene sal Jehovah God weliswaar in die hemel sien nadat hulle as geesskepsele opgewek is. Maar mense wat “suiwer van hart” is en die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, kan God ook “sien”. Hoe is dit moontlik?

3. Hoe kan mense party van God se eienskappe onderskei?

3 Ons leer iets omtrent Jehovah deur sy skeppingswerke sorgvuldig te bestudeer. As ons dit doen, sal ons moontlik beïndruk word deur sy krag en beweeg word om hom as God die Skepper te erken (Hebreërs 11:3; Openbaring 4:11). Die apostel Paulus het in dié verband geskryf: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Jesus se woorde dat ons God sal sien, sluit derhalwe die vermoë in om party van Jehovah se eienskappe te onderskei. Ons sien dus op grond van juiste kennis, en met ‘die oë van die hart’ onderskei ons dinge in geestelike sin (Efesiërs 1:18). Jesus se woorde en dade openbaar ook baie omtrent God. Daarom het Jesus gesê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). Jesus het Jehovah se persoonlikheid volmaak weerspieël. Kennis van Jesus se lewe en leringe kan ons derhalwe help om party van God se eienskappe te sien, of te onderskei.

Geestelikheid is noodsaaklik

4. Hoe openbaar baie mense vandag ’n gebrek aan geestelikheid?

4 Vandag is geloof en ware geestelikheid inderdaad skaars. “Geloof is nie iets wat alle mense besit nie”, het Paulus gesê (2 Tessalonisense 3:2). Baie mense gee hulle heeltemal oor aan hulle persoonlike strewes en het geen geloof in God nie. Weens hulle sondige gedrag en gebrek aan geestelikheid kan hulle hom nie met die oë van hulle verstand sien nie, want die apostel Johannes het geskryf: “Hy wat die slegte doen, het God nie gesien nie” (3 Johannes 11). Omdat sulke mense God nie met hulle letterlike oë sien nie, tree hulle op asof hy nie sien wat hulle doen nie (Esegiël 9:9). Hulle sien neer op geestelike dinge, en daarom kan hulle nie “die kennis van God” verkry nie (Spreuke 2:5). Paulus het dus gepas geskryf: “’n Fisiese mens aanvaar nie die dinge van die gees van God nie, want hulle is dwaasheid vir hom; en hy kan hulle nie leer ken nie, want hulle word geestelik beoordeel.”—1 Korintiërs 2:14.

5. Waarvan is geestelikgesinde mense bewus?

5 As ons egter geestelikgesind is, sal ons voortdurend daarvan bewus wees dat Jehovah weet wanneer ons ons deur verkeerde gedagtes en begeertes laat lei, hoewel hy nie probeer foutvind nie. Trouens, “elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange” (Spreuke 5:21). As ons deur sonde oorval word, word ons beweeg om berou te toon en Jehovah om vergifnis te vra omdat ons hom liefhet en hom nie wil seermaak nie.—Psalm 78:41, NW; 130:3.

Hoe word ons standvastig?

6. Wat beteken dit om standvastig te wees?

6 Hoewel ons Jehovah nie kan sien nie, moet ons altyd in gedagte hou dat hy ons kan sien. As ons bewus bly van sy bestaan en oortuig is dat hy naby almal is wat hom aanroep, sal dit ons help om standvastig te wees—ferm en onwrikbaar in ons getrouheid aan hom (Psalm 145:18). Ons kan soos Moses wees, van wie Paulus geskryf het: “Deur geloof het hy Egipte verlaat, maar sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien.”—Hebreërs 11:27.

7, 8. Waarom was Moses so moedig voor Farao?

7 Terwyl Moses sy godgegewe opdrag uitgevoer het om die Israeliete uit Egiptiese slawerny te lei, het hy dikwels voor die tirannieke Farao verskyn in ’n koninklike hof wat vol godsdienstige en militêre hooggeplaastes was. Daar was waarskynlik rye afgode al langs die paleismure. Maar al is Jehovah onsigbaar, was hy vir Moses ’n werklike persoon, anders as die afgode wat die lewelose gode van Egipte voorgestel het. Dit is geen wonder dat Moses nie deur Farao geïntimideer is nie!

8 Wat het Moses die moed gegee om herhaalde kere voor Farao te verskyn? Die Skrif sê vir ons dat ‘die man Moses baie sagmoedig was, meer as al die mense op die aardbodem’ (Numeri 12:3). Moses se sterk geestelikheid en sy oortuiging dat God met hom is, het hom ongetwyfeld die nodige krag gegee om “die Onsigbare” voor Egipte se hardvogtige koning te verteenwoordig. Wat is ’n paar maniere waarop diegene wat vandag die onsigbare God “sien”, hulle geloof in hom kan openbaar?

9. Wat is een manier waarop ons standvastig kan bly?

9 Een manier waarop ons geloof kan openbaar en standvastig kan bly asof ons die Onsigbare sien, is deur moedig die predikingswerk te doen ten spyte van vervolging. Jesus het sy dissipels gewaarsku: “Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees” (Lukas 21:17). Hy het ook vir hulle gesê: “’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:20). Net soos Jesus gesê het, het sy volgelinge kort ná sy dood vervolging verduur in die vorm van dreigemente, inhegtenisnemings en slae (Handelinge 4:1-3, 18-21; 5:17, 18, 40). Hoewel daar ’n vlaag van vervolging was, het Jesus se apostels en ander dissipels aangehou om die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig.—Handelinge 4:29-31.

10. Hoe help vertroue in Jehovah se beskermende sorg ons in die bediening?

10 Soos Moses is Jesus se vroeë volgelinge nie geïntimideer deur die talle sigbare vyande wat hulle gehad het nie. Jesus se dissipels het geloof in God gestel, en daarom kon hulle die wrede vervolging verduur. Ja, hulle het standvastig gebly asof hulle die Onsigbare sien. As ons vandag bewus bly van Jehovah se beskermende sorg, versterk dit ons en maak dit ons moedig en onbevrees in ons Koninkrykspredikingswerk. God se Woord sê: “Die vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word” (Spreuke 29:25). Gevolglik deins ons nie terug uit vrees vir vervolging nie, en ons skaam ons ook nie oor ons bediening nie. Ons geloof beweeg ons om moedig vir bure, werksmaats, skoolmaats en ander te getuig.—Romeine 1:14-16.

Die Onsigbare rig sy volk

11. Hoe het party wat met die Christengemeente omgegaan het, volgens Petrus en Judas ’n gebrek aan geestelikheid geopenbaar?

11 Geloof help ons om Jehovah te sien as die een wat sy aardse organisasie rig. Ons vermy dus ’n kritiese gesindheid teenoor diegene wat verantwoordelikhede in die gemeente dra. Die apostel Petrus sowel as Jesus se halfbroer Judas het gewaarsku teen sekere persone wat so min geestelikheid gehad het dat hulle smadend gepraat het van manne wat die leiding onder Christene geneem het (2 Petrus 2:9-12; Judas 8). Sou sulke foutvinders só gepraat het in die teenwoordigheid van Jehovah as hy letterlik sigbaar vir hulle was? Beslis nie! Maar omdat God onsigbaar is, het daardie vleeslike manne nie aan hulle aanspreeklikheid teenoor hom gedink nie.

12. Watter gesindheid moet ons openbaar teenoor diegene wat die leiding in die gemeente neem?

12 Die Christengemeente bestaan weliswaar uit onvolmaakte mense. Diegene wat as ouer manne dien, begaan soms foute wat ons dalk persoonlik raak. Nietemin gebruik Jehovah sulke manne as herders van sy kudde (1 Petrus 5:1, 2). Geestelikgesinde manne en vroue besef dat dit een van die maniere is waarop Jehovah sy volk rig. Daarom vermy ons as Christene ’n kritiese, klaerige gees en toon ons respek vir God se teokratiese reëlings. Deur gehoorsaam te wees aan diegene wat die leiding onder ons neem, toon ons dat ons die Onsigbare sien.—Hebreërs 13:17.

Sien God as ons Grootse Onderrigter

13, 14. Wat beteken dit vir jou om Jehovah as die Grootse Onderrigter te sien?

13 Daar is nog ’n gebied wat geestelike onderskeidingsvermoë vereis. Jesaja het voorspel: “Jou oë sal oë word wat jou Grootse Onderrigter sien” (Jesaja 30:20, NW). Dit verg geloof om te besef dat Jehovah die een is wat ons deur middel van sy aardse organisasie onderrig (Matteus 24:45-47). Om God as ons Grootse Onderrigter te sien, behels meer as om net goeie Bybelstudiegewoontes te hê en Christelike vergaderinge gereeld by te woon. Dit beteken ook dat ons God se geestelike voorsienings ten volle moet benut. Ons moet byvoorbeeld meer as die gewone aandag skenk aan die leiding wat Jehovah deur Jesus voorsien sodat ons nie geestelik wegdryf nie.—Hebreërs 2:1.

14 Soms moet ons ons werklik inspan om die grootste voordeel uit geestelike voedsel te trek. Ons is byvoorbeeld dalk geneig om net vlugtig deur sekere Bybelverslae te lees wat ons moeilik vind om te verstaan. Wanneer ons Die Wagtoring en Ontwaak! lees, slaan ons moontlik selfs sekere artikels oor omdat die onderwerp ons nie juis interesseer nie. Of ons laat dalk toe dat ons gedagtes tydens Christelike vergaderinge dwaal. Maar ons kan verstandelik ingestel bly op die spreker as ons sy redenasie noukeurig volg. Ons diepe waardering vir die geestelike onderrigting wat ons ontvang, toon dat ons Jehovah as ons Grootse Onderrigter erken.

Ons moet rekenskap gee

15. Hoe het party opgetree asof hulle vir Jehovah onsigbaar was?

15 Geloof in die Onsigbare is veral noodsaaklik omdat goddeloosheid in hierdie “tyd van die einde” so algemeen is (Daniël 12:4). Oneerlikheid en geslagsonsedelikheid vier hoogty. Dit is natuurlik verstandig om te onthou dat Jehovah ons dade raaksien selfs wanneer mense ons nie kan sien nie. Party verloor hierdie feit uit die oog. Wanneer ander hulle nie sien nie, maak hulle hulle dalk skuldig aan onskriftuurlike gedrag. Sommige het byvoorbeeld nie die versoeking weerstaan om na verderflike vermaak en pornografie op die Internet, televisie en ander vorme van moderne tegnologie te kyk nie. Aangesien ’n mens hierby betrokke kan raak terwyl jy alleen is, het party opgetree asof hulle gedrag vir Jehovah onsigbaar was.

16. Wat behoort ons te help om Jehovah se hoë standaarde na te leef?

16 Dit is goed om die apostel Paulus se woorde in gedagte te hou: “Elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:12). Ons moet onthou dat ons, elke keer as ons sondig, teen Jehovah sondig. Hierdie wete behoort ons te help om sy hoë standaarde na te leef en onrein gedrag te vermy. Die Bybel herinner ons hieraan: “Daar is nie ’n skepping wat nie vir sy oë sigbaar is nie, maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Hebreërs 4:13). Al is dit waar dat ons aan God rekenskap moet gee, is dit ongetwyfeld ons innige liefde vir Jehovah wat die hoofrede is waarom ons sy wil doen en by sy regverdige standaarde bly. Laat ons derhalwe goeie oordeel aan die dag lê in sake soos ons keuse van vermaak en ons gedrag teenoor die teenoorgestelde geslag.

17. Met watter soort belangstelling hou Jehovah ’n oog oor ons?

17 Jehovah stel opreg belang in ons, maar dit beteken nie dat hy wag dat ons foute moet begaan sodat hy ons kan straf nie. Hy hou eerder ’n oog oor ons uit liefdevolle besorgdheid, soos ’n vader wat sy gehoorsame kinders wil beloon. Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat ons geloof ons hemelse Vader behaag en dat hy “die beloner [is] van dié wat hom ernstig soek”! (Hebreërs 11:6). Mag ons ons volle vertroue in Jehovah stel en “Hom met ’n volkome hart [dien]”.—1 Kronieke 28:9.

18. Watter versekering gee die Skrif ons, met die oog op die feit dat Jehovah ons waarneem en ons getrouheid opmerk?

18 Spreuke 15:3 (NW) sê: “Die oë van Jehovah is op elke plek, en hulle let op die slegtes en die goeies.” Ja, God let op slegte mense en handel met hulle volgens hulle gedrag. Maar as ons onder “die goeies” is, kan ons seker wees dat Jehovah ons dade van getrouheid opmerk. Hoe geloofversterkend is dit tog om te weet dat ‘ons arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie’ en dat die Onsigbare nie ‘ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam getoon het’ nie!—1 Korintiërs 15:58; Hebreërs 6:10.

Ons nooi Jehovah om ons te ondersoek

19. Wat is party van die voordele van sterk geloof in Jehovah?

19 As Jehovah se getroue knegte is ons kosbaar vir hom (Matteus 10:29-31). Hoewel hy onsigbaar is, kan hy vir ons ’n werklike persoon wees, en ons kan ons kosbare verhouding met hom op prys stel. So ’n gesindheid teenoor ons hemelse Vader bring baie voordele vir ons mee. Ons sterk geloof help ons om ’n rein hart en ’n goeie gewete voor Jehovah te hê. Geloof sonder huigelary keer ook dat ons ’n dubbele lewe lei (1 Timoteus 1:5, 18, 19). Ons onwankelbare geloof in God stel ’n goeie voorbeeld en kan ’n positiewe uitwerking op diegene om ons hê (1 Timoteus 4:12). Daarbenewens bevorder sulke geloof godvrugtige gedrag wat Jehovah se hart verbly.—Spreuke 27:11.

20, 21. (a) Waarom wil ons graag hê dat Jehovah sy wakende oog oor ons moet hou? (b) Hoe kan ons Psalm 139:23, 24 op onsself toepas?

20 As ons waarlik wys is, sal ons bly wees dat Jehovah ’n oog oor ons hou. Ons wil nie net graag hê dat hy ons moet sien nie, maar ook dat hy ons denke en dade deeglik moet ondersoek. Dit sal goed wees as ons Jehovah in gebed vra om ons te deursoek en te sien of ons enige ongepaste neigings het. Hy kan ons beslis help om ons probleme die hoof te bied en die nodige veranderinge aan te bring. Die psalmis Dawid het gepas gesing: “Deurvors my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes, en kyk of daar in my enigsins ’n pynlike weg is, en lei my op die weg van onbepaalde tyd.”—Psalm 139:23, 24NW.

21 Dawid het gesmeek dat Jehovah hom deurvors om te sien of daar enige “pynlike weg” in hom is. Wil ons nie ook graag, soos die psalmis, hê dat God ons harte moet deursoek en sien of ons verkeerde beweegredes het nie? Laat ons Jehovah dan in geloof vra om ons te ondersoek. Maar gestel ons kwel ons oor die een of ander oortreding of daar is iets pynliks in ons. Laat ons dan aanhou om ernstig tot ons liefdevolle God, Jehovah, te bid en ons nederig onderwerp aan die leiding van sy heilige gees en die raad van sy Woord. Ons kan vol vertroue wees dat hy ons sal bystaan en ons sal help om ’n weg te volg wat tot die ewige lewe sal lei.—Psalm 40:12-14.

22. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen met betrekking tot die Onsigbare?

22 Ja, Jehovah sal ons met ewige lewe seën as ons aan sy vereistes voldoen. Ons moet natuurlik sy krag en gesag erken, soos die apostel Paulus ook gedoen het toe hy geskryf het: “Aan die Koning van die ewigheid, onverderflik, onsigbaar, die enigste God, sy die eer en heerlikheid vir ewig en altyd. Amen” (1 Timoteus 1:17). Mag ons altyd sulke hartgrondige eerbied vir Jehovah openbaar. En ongeag wat gebeur, laat ons nooit wankel in ons vasbeslotenheid om standvastig te bly asof ons die Onsigbare sien nie.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe kan mense God sien?

• As Jehovah vir ons ’n werklike persoon is, hoe sal ons optree wanneer ons vervolg word?

• Wat beteken dit om Jehovah as ons Grootse Onderrigter te sien?

• Waarom moet dit ons begeerte wees dat Jehovah ons ondersoek?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Moses, wat nie deur Farao geïntimideer is nie, het opgetree asof hy Jehovah, die onsigbare God, kon sien

[Prent op bladsy 21]

Laat ons nooit optree asof Jehovah nie kan sien wat ons doen nie

[Prent op bladsy 23]

Ons probeer ywerig kennis van God inneem omdat ons hom as ons Grootse Onderrigter sien