“Die wonde van ’n vriend”
“Die wonde van ’n vriend”
DIE apostel Paulus het dit nodig geag om eerste-eeuse Christene in Galasië tereg te wys. Waarskynlik om enige gegriefdheid te voorkom, het hy gevra: “Wel, het ek dan julle vyand geword omdat ek julle die waarheid vertel?”—Galasiërs 4:16.
Deur ‘die waarheid te vertel’, het Paulus nie hulle vyand geword nie. Hy het in werklikheid in ooreenstemming met dié Bybelbeginsel opgetree: “Die wonde van ’n vriend is getrou” (Spreuke 27:6, King James Version). Hy het geweet dat oortreders se eer gekrenk kon word. Maar hy het ook geweet wat die gevolg kon wees as iemand tussen ’n sondaar en die dissipline wat hy nodig het, sou staan—dit kon voorkom dat hy ’n blyk van Jehovah God se liefde ontvang (Hebreërs 12:5-7). As ’n getroue vriend wat die langtermynbelange van die gemeente op die hart gedra het, het Paulus derhalwe nie geaarsel om teregwysing te gee nie.
Vandag vervul Jehovah se Getuies hulle opdrag om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Jesus Christus hulle beveel het’. Sodoende wyk hierdie opregte Christene nie af van Bybelwaarhede wat verkeerde leerstellings en onchristelike gedrag blootlê en veroordeel nie (Matteus 15:9; 23:9; 28:19, 20; 1 Korintiërs 6:9, 10). Pleks van vyande te word wat verwerp moet word, toon hulle die belangstelling van ware vriende.
Onder God se inspirasie het die psalmis met insig geskryf: “As die regverdige my sou slaan, sou dit ’n liefderyke goedhartigheid wees; en as hy my sou teregwys, sou dit olie op die kop wees, wat my kop nie sou wou weier nie.”—Psalm 141:5, NW.