Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan jy ’n gebalanseerde beskouing van geld behou?

Hoe kan jy ’n gebalanseerde beskouing van geld behou?

Hoe kan jy ’n gebalanseerde beskouing van geld behou?

Liefde vir geld en ’n begeerte na besittings is niks nuuts nie; die Bybel swyg ook nie daaroor asof dit ’n onlangse verskynsel is nie. Dit is baie oud. In die Wet het God die Israeliete dié opdrag gegee: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie . . . of iets wat van jou naaste is nie.”—Exodus 20:17.

LIEFDE vir geld en besittings was algemeen in Jesus se dag. Kyk byvoorbeeld na hierdie verslag oor ’n gesprek tussen Jesus en ’n “baie ryk” jong man. “[Jesus het] vir hom gesê: ‘Een ding kom jy nog kort: Verkoop alles wat jy het en deel dit aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemele hê; en kom word my volgeling.’ Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.”—Lukas 18:18-23.

’n Gepaste beskouing van geld

Dit sou egter verkeerd wees om tot die gevolgtrekking te kom dat die Bybel geld of enige basiese gebruike daarvan veroordeel. Die Bybel toon dat geld ’n praktiese beskerming teen armoede en die gepaardgaande probleme daarvan is omdat dit mense in staat stel om noodsaaklikhede te bekom. Koning Salomo het geskryf: “Wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien.” En: “Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die geld verskaf alles.”—Prediker 7:12, NW; 10:19.

God keur dit goed as geld reg gebruik word. Jesus het byvoorbeeld gesê: “Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom” (Lukas 16:9). Dit sluit in dat ons bydraes tot die vooruitgang van die ware aanbidding van God gee, want ons behoort beslis God as ons Vriend te wil hê. Salomo het die voorbeeld van sy vader, Dawid, nagevolg en self groot bedrae geld en kosbaarhede tot die bou van Jehovah se tempel bygedra. Nog ’n opdrag aan Christene is om materiële bystand aan behoeftiges te verleen. “Deel met die heiliges na gelang van hulle behoeftes”, het die apostel Paulus gesê. Hy het bygevoeg: “Volg die weg van gasvryheid” (Romeine 12:13). Dit behels dikwels dat ons geld bestee. Maar wat van die liefde vir geld?

‘Die gehegtheid aan silwer’

Paulus het “die liefde vir geld”—of letterlik “gehegtheid aan silwer”—breedvoerig bespreek toe hy aan sy jonger mede-Christen Timoteus geskryf het. Paulus se vermaning kan in 1 Timoteus 6:6-19 gevind word. Hy het kommentaar gelewer oor “die liefde vir geld” as deel van sy uitvoerige bespreking van materiële dinge. Dit sal goed wees as ons Paulus se geïnspireerde kommentare sorgvuldig bestudeer, in die lig van die klem wat die hedendaagse kultuur op geld plaas. So ’n ondersoek is beslis voordelig, want dit toon hoe ons “’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry”.

Paulus waarsku: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor” (1 Timoteus 6:10). Hierdie teks sê nie dat geld op sigself sleg is nie—en daar is ook geen ander teks wat dit sê nie. Die apostel sê ook nie dat geld die fundamentele oorsaak van “skadelike dinge” is of dat geld basies elke probleem veroorsaak nie. Die liefde vir geld kan eerder ’n oorsaak—al is dit nie die enigste oorsaak nie—van allerhande “skadelike dinge” wees.

Waak teen gierigheid

Die feit dat geld nie in die Skrif veroordeel word nie, behoort nie Paulus se waarskuwing af te water nie. Christene wat lief begin raak vir geld, stel hulle bloot aan allerhande probleme, waarvan die ergste is dat hulle van die geloof kan afdwaal. Hierdie waarheid word bevestig deur wat Paulus vir die Christene in Kolosse gesê het: “Maak dus julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref . . . skadelike begeertes en hebsug, wat afgodery is” (Kolossense 3:5). Hoe kan hebsug, gierigheid, of die “liefde vir geld” op afgodery neerkom? Is dit dan verkeerd om ’n groter huis, ’n nuwer motor of ’n werk met ’n hoër salaris te wil hê? Nee, nie een van hierdie dinge is op sigself sleg nie. Die vraag is: Watter hartsgesindheid beweeg ’n mens om enige van hierdie dinge te wil hê, en is hulle werklik nodig?

Die verskil tussen normale begeertes en gierigheid kan vergelyk word met die verskil tussen ’n klein kampvuurtjie waarop kos gaargemaak word en die vlamme van ’n verwoestende veldbrand. Heilsame en gepaste begeertes kan nuttig wees. Dit help ons om te werk en produktief te wees. Spreuke 16:26 sê: “Die honger van die werksman arbei vir hom, want sy mond jaag hom aan.” Maar gierigheid is gevaarlik en verwoestend. Dit is ’n onbeheerste begeerte.

Om dit te kan beheers, is van groot belang. Sal die geld wat ons bymekaarmaak of die materiële dinge wat ons wil hê, ons behoeftes bevredig of sal ons behoeftes ons ’n slaaf van geld maak? Dit is waarom Paulus sê dat ’n “gierigaard” eintlik “’n afgodedienaar” is (Efesiërs 5:5). Om iets met gierigheid te begeer, beteken in werklikheid dat ons ons daaraan oorgee—dat ons dit as ’t ware ons heer maak, ons god, dit wat ons dien. In teenstelling hiermee beveel God: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”—Exodus 20:3.

Gierigheid toon ook dat ons nie die vertroue het dat God in ons behoeftes sal voorsien soos hy belowe het nie (Matteus 6:33). Dit wil sê gierigheid kom daarop neer dat ons ons van God af wegdraai. In hierdie sin is dit ook “afgodery”. Geen wonder dat Paulus so uitdruklik daarteen waarsku nie!

Jesus het ook ’n direkte waarskuwing teen gierigheid gegee. Hy het ons beveel om te waak teen die hunkering na iets wat ons nie het nie: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Volgens hierdie Skrifgedeelte en die illustrasie wat Jesus hierna vertel het, is gierigheid die gevolg van die dwase gedagte dat besittings die belangrikste ding in die lewe is. Dit kan geld, posisie, mag of verwante dinge wees. Dit is moontlik om gierig te strewe na enigiets wat bekom kan word. Die idee is dat ons net tevrede sal wees as ons daardie ding kan kry. Maar volgens die Bybel en die mens se ondervinding is dit net God wat ons ware behoeftes kan—en sal—bevredig, soos Jesus met sy volgelinge geredeneer het.—Lukas 12:22-31.

Die hedendaagse verbruikersgeoriënteerde kultuur kry dit baie goed reg om gierigheid aan te wakker. Baie wat op subtiele, dog kragtige maniere beïnvloed word, begin glo dat dit wat hulle het, nie genoeg is nie. Hulle het meer, groter en beter dinge nodig. Hoe kan ons persoonlik hierdie neiging vermy, hoewel ons nie kan verwag om die wêreld om ons te verander nie?

Tevredenheid teenoor gierigheid

Paulus gee die alternatief vir hebsug, wat tevredenheid is. Hy sê: “As ons dus voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees” (1 Timoteus 6:8). Hierdie beskrywing van al wat ons werklik nodig het—“voedsel, klere en onderdak”—klink dalk ietwat eenvoudig of naïef. Baie mense geniet dit om na televisieprogramme te kyk waar kykers beroemde mense in hulle weelderige huise besoek. Dit is beslis nie die manier om tevredenheid te verkry nie.

Daar word natuurlik nie van knegte van God verwag om in selfopgelegde armoede te lewe nie (Spreuke 30:8, 9). Maar Paulus herinner ons wel aan wat armoede werklik is: ’n gebrek aan voedsel, klere en ’n plek waar ’n mens kan woon en ’n bestaan kan maak. As ons daarenteen hierdie dinge het, het ons die grondslag vir tevredenheid.

Was Paulus ernstig toe hy tevredenheid so beskryf het? Is dit werklik moontlik om tevrede te wees met net die basiese dinge—voedsel, klere en onderdak? Paulus moes geweet het. Hy het self die rykdom en voorregte van ’n hoë posisie in die Joodse gemeenskap en Romeinse burgerskap geniet (Handelinge 22:28; 23:6; Filippense 3:5). Paulus het ook verskriklike ontberinge gedurende sy sendingbedrywighede gely (2 Korintiërs 11:23-28). Deur dit alles heen het hy ’n geheim geleer wat hom gehelp het om tevrede te bly. Wat was dit?

‘Ek het die geheim geleer’

Paulus het in een van sy briewe verduidelik: “Ek weet inderdaad wat dit is om min te hê, ek weet inderdaad wat dit is om oorvloed te hê. In alles en in alle omstandighede het ek die geheim geleer van wat dit is om versadig te wees sowel as wat dit is om honger te wees, wat dit is om oorvloed te hê sowel as wat dit is om gebrek te ly” (Filippense 4:12). Paulus klink so vol vertroue, so optimisties! ’n Mens sou dink dat sy lewe heel gemaklik was toe hy hierdie woorde geskryf het, maar dit was nie die geval nie. Hy was in die gevangenis in Rome!—Filippense 1:12-14.

As ons hierdie feit in gedagte hou, bevat hierdie Skrifgedeelte ’n kragtige les in tevredenheid, nie net wat materiële besittings betref nie, maar ook wat omstandighede betref. As ’n mens baie ryk of baie arm is, kan dit ’n toets van jou prioriteite wees. Paulus het gepraat van geestelike hulpbronne wat hom in staat gestel het om tevrede te wees ongeag wat sy materiële situasie was: “Vir alles is ek sterk genoeg deur [God] wat my krag gee” (Filippense 4:13). Paulus het nie op sy besittings, hetsy dit baie of min was, of op sy omstandighede, goed of sleg, staatgemaak nie, maar hy het op God vertrou om in sy behoeftes te voorsien. Die gevolg was tevredenheid.

Paulus se voorbeeld was veral belangrik vir Timoteus. Die apostel het daardie jong man aangespoor om ’n lewenswyse na te volg wat godvrugtige toegewydheid en ’n hegte verhouding met God voor rykdom gestel het. Paulus het gesê: “Maar jy, o mens van God, vlug vir hierdie dinge. Streef egter na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, saggeaardheid” (1 Timoteus 6:11). Hierdie woorde is wel aan Timoteus gerig, maar dit is op enigiemand van toepassing wat God wil eer en ’n waarlik gelukkige lewe wil lei.

Timoteus moes, net soos enige ander Christen, waak teen gierigheid. Daar was klaarblyklik welgestelde gelowiges in die gemeente in Efese, waar hy was toe Paulus aan hom geskryf het (1 Timoteus 1:3). Paulus het die goeie nuus van Christus na hierdie welvarende handelsentrum gebring en baie bekeerlinge gemaak. ’n Hele paar van hulle was ongetwyfeld welgestelde mense, soos dit ook vandag met party in die Christengemeente die geval is.

Die vraag wat dus ontstaan, veral in die lig van wat 1 Timoteus 6:6-10 sê, is: Wat moet mense wat meer as die gemiddelde hoeveelheid geld het, doen as hulle God wil eer? Paulus sê dat hulle eerstens hulle gesindheid moet ondersoek. Geld is geneig om ’n mens vergenoeg te laat voel. Paulus sê: “Gee bevel aan dié wat in die teenswoordige stelsel van dinge ryk is om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat ons alles ryklik vir ons genot verskaf” (1 Timoteus 6:17). Welgestelde mense moet leer om nie op hulle geld te vertrou nie; hulle moet op God vertrou, wat eintlik die bron van alle rykdom is.

Maar die regte gesindheid is nie al wat nodig is nie. Welgestelde Christene moet ook die een of ander tyd hulle rykdom goed gebruik. Paulus gee dié vermaning: ‘Doen goed, wees ryk in voortreflike werke, wees vrygewig, mededeelsaam.’—1 Timoteus 6:18.

“Die werklike lewe”

Die hoofpunt van Paulus se raad is dat ons ons moet herinner aan die relatiewe waarde van materiële dinge. God se Woord sê: “Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos ’n steil muur in sy verbeelding” (Spreuke 18:11). Ja, die sekuriteit wat rykdom kan gee, is op die ou end net denkbeeldig en is eintlik misleidend. Dit is verkeerd om ons lewe daarom te laat draai pleks van God se goedkeuring te probeer verkry.

Die onsekerheid van materiële rykdom maak dit veels te wankelrig om ons hoop daarop te vestig. Ware hoop moet geanker word aan iets wat sterk, betekenisvol en blywend is. ’n Christen se hoop is op ons Skepper, Jehovah God, en sy belofte van ewige lewe gevestig. Dit is wel waar dat geld nie geluk kan koop nie, maar dit kan nog minder redding koop. Net ons geloof in God kan ons so ’n hoop gee.

Hetsy ons dus ryk of arm is, laat ons ’n lewensweg volg wat ons ‘ryk teenoor God’ sal maak (Lukas 12:21). Niks is meer waardevol as ’n goedgekeurde posisie voor die Skepper nie. Alle pogings om dit te behou, dra daartoe by dat ons ‘’n voortreflike fondament vir die toekoms as ’n skat veilig weglê, sodat ons ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry’.—1 Timoteus 6:19.

[Prent op bladsy 7]

Paulus het die geheim van tevredenheid geleer

[Prente op bladsy 8]

Ons kan gelukkig en tevrede wees met wat ons het