Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jou geld of jou lewe?

Jou geld of jou lewe?

Jou geld of jou lewe?

Jy het dalk al gehoor van rowers wat vuurwapens op hulle slagoffer gerig en geëis het: “Jou geld of jou lewe!” Vandag word hierdie bekende eis dikwels weerspieël in ’n groot dilemma waarvoor ons almal te staan kom—veral dié van ons wat in welvarende lande woon. Maar hierdie keer is dit nie ’n rower wat daarop aandring dat ons aan die eis moet voldoen nie. Dit is eerder die groter klem wat die gemeenskap op geld en materiële sukses plaas.

HIERDIE klem het ’n hele nuwe stel probleme en bekommernisse laat ontstaan. Tot watter prys moet geld en materiële dinge nagestreef word? Kan ons met minder tevrede wees? Gee mense as ’t ware “die werklike lewe” prys op die altaar van materialisme? Is geld die sleutel tot ’n gelukkige lewe?

Geldmanie

Wanneer dit by die mens se begeertes en passies kom—hetsy dit geoorloof is of nie—is die liefde vir geld byna boaan die lys. Anders as die begeerte na seks en kos, kan die drang na geld aanhoudend en oneindig wees. Dit lyk nie of dit afneem as ’n mens ouer word nie. In baie gevalle kan bejaardheid in werklikheid ’n persoon se belangstelling in geld en wat dit kan koop of sy besorgdheid daaroor laat toeneem.

Dit lyk of gierigheid toeneem. Die hoofkarakter in ’n gewilde rolprent het gesê: “Gierigheid werk. Gierigheid is goed.” Hoewel baie na die 1980’s as die Era van Gierigheid verwys het, toon gebeure voor en ná daardie tyd dat mense se reaksie op geld deur die jare heen baie min verander het.

Wat heel moontlik nuut is, is die feit dat soveel mense geleenthede sien om die begeerte na meer besittings onmiddellik te bevredig. Dit lyk of die meeste mense in die wêreld die meeste van die tyd die meeste van hulle energie daaraan bestee om al hoe meer dinge te vervaardig en te bekom. Jy stem moontlik saam dat dit ’n hartstogtelike—en dikwels baie verbeeldingryke—strewe in die hedendaagse lewe geword het om materiële besittings te hê en geld te bestee.

Maar maak dit mense gelukkiger? Die wyse en baie ryk koning Salomo het hierdie vraag beantwoord toe hy 3 000 jaar gelede geskryf het: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs” (Prediker 5:9). Hedendaagse sosiale studie kom tot gevolgtrekkings wat net so interessant is.

Geld en geluk

Een van die verbasendste bevindings in verband met die mens se gedrag is dat die versameling van geld en materiële dinge nie noodwendig ’n ooreenstemmende toename in tevredenheid en geluk tot gevolg het nie. Wat baie navorsers besef het, is dat, sodra iemand ’n sekere vlak van welvaart bereik het, sy gevoel van tevredenheid nie afhang van hoeveel materiële dinge tot sy beskikking is nie.

Die buitensporige najaging van materiële dinge en geld laat baie mense dus wonder: ‘Dit lyk asof ons genot vind in elke nuwe ding wat ons koop; maar waarom is dit dat hierdie genot op die ou end nie tot groter bevrediging lei nie?’

Die skrywer Jonathan Freedman sê in sy boek Happy People: “Sodra ’n mens ’n sekere minimum inkomste het, dra die hoeveelheid geld wat jy het, baie min tot geluk by. Bo die armoedegrens is die verband tussen inkomste en geluk merkwaardig klein.” Baie het tot die besef gekom dat geestelike bates, betekenisvolle strewes in die lewe en sedelike waardes die dinge is wat ’n mens werklik gelukkig maak. Wat ook belangrik is, is goeie menseverhoudinge en geen konflikte of beperkings wat kan verhinder dat ons geniet wat ons het nie.

Baie besef dat die grondoorsaak van die meeste van vandag se maatskaplike euwels die neiging is om materiële welvaart te probeer gebruik om probleme op te los wat in werklikheid innerlike konflikte is. Party kommentators oor sosiale gedrag praat van ’n algemene stemming van pessimisme en ontevredenheid. Hulle sê ook dat daar ’n groter neiging onder mense in welvarende gemeenskappe bestaan om terapeute te raadpleeg of om sin en gemoedsrus te probeer verkry met die hulp van ghoeroes, kultusse en kwasiterapeutiese groepe. Dit toon dat materiële dinge nie die lewe werklik sinvol kan maak nie.

Mag en magteloosheid van geld

Geld het weliswaar mag. Dit kan mooi huise, pragtige klere en indrukwekkende toebehore koop. Dit kan ook groot bewondering, toegewendheid of vleiery koop, en selfs ’n paar tydelike en inskiklike vriende oplewer. Maar dit is omtrent hoe ver die mag van geld strek. Wat ons die meeste nodig het, kan geld nie koop nie—die liefde van een ware mensevriend, gemoedsrus, ’n bietjie opregte vertroosting in jou sterwensuur. En vir diegene wat hulle verhouding met die Skepper hoogag, kan geld nie God se goedkeuring koop nie.

Koning Salomo, wat al die goeie dinge gehad het wat geld in sy dag kon koop, het besef dat vertroue op materiële besittings nie tot blywende geluk lei nie (Prediker 5:11-14). ’n Mens kan geld verloor weens inflasie of as ’n bank insolvent gaan. Vaste eiendom kan deur hewige storms vernietig word. Hoewel versekeringspolisse materiële verliese gedeeltelik kan dek, kan dit nooit vir emosionele verliese vergoed nie. Aandele en effekte kan in ’n skielike ineenstorting van die ekonomie oornag waardeloos word. Selfs ’n goed besoldigde betrekking kan vandag hier en môre weg wees.

Hoe kan ons dan ’n gebalanseerde beskouing van geld behou? Watter rol moet geld of besittings in ons lewe speel? Ondersoek asseblief die saak verder om te sien hoe jy iets kan besit wat werklik waardevol is—“die werklike lewe”.

[Prente op bladsy 4]

Materiële besittings bring nie blywende geluk nie