Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sien om na wese en weduwees in hulle verdrukking

Sien om na wese en weduwees in hulle verdrukking

Sien om na wese en weduwees in hulle verdrukking

Dit is nie moeilik om te sien dat ons in ’n liefdelose wêreld lewe nie. Die apostel Paulus het na die soort mense wat gedurende “die laaste dae” sou lewe, verwys toe hy geskryf het: ‘Daar sal kritieke tye wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, sonder natuurlike geneentheid’ (2 Timoteus 3:1-3). Hoe waar is hierdie woorde tog!

DIE sedelike milieu van ons tyd het bygedra tot die gebrek aan medelye in die harte van baie. Mense stel al hoe minder belang in die welsyn van ander, en in party gevalle selfs in dié van hulle eie familielede.

Dit het ’n nadelige uitwerking op baie wat, weens verskeie omstandighede, behoeftig word. Oorloë, natuurrampe en vlugtelinge wat toevlug soek, dra by tot die voortdurende toename in weduwees en wese (Prediker 3:19). “Meer as 1 miljoen [kinders] is as gevolg van oorlog wees gelaat of van hulle gesinne geskei”, sê ’n verslag van die Verenigde Nasies-kinderfonds. Jy weet ook van die groot aantal enkel-, verstote of geskeide moeders wat die moeilike taak het om ’n bestaan te maak en hulle gesin op hulle eie groot te maak. Die situasie word vererger deur die feit dat party lande ’n ernstige ekonomiese krisis ondervind, wat veroorsaak dat baie van hulle burgers in volslae armoede lewe.

Is daar, met die oog hierop, enige hoop vir diegene wat verdrukking ondervind? Hoe kan die lyding van weduwees en wese verlig word? Sal hierdie probleem ooit uit die weg geruim word?

Liefdevolle sorg in Bybeltye

Dit was nog altyd ’n belangrike deel van die aanbidding van God om na die fisiese en geestelike behoeftes van weduwees en wese om te sien. Wanneer die Israeliete hulle graan of vrugte geoes het, moes hulle nie teruggaan om in te samel wat op die land oorgebly het nie. Die oorblyfsels moes “vir die vreemdeling, die wees en die weduwee” gelos word (Deuteronomium 24:19-21). Die Wet van Moses het spesifiek gesê: “Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie” (Exodus 22:22, 23). Die weduwees en wese waarvan die Bybel praat, het gepas na die armer mense verwys, aangesien gesinslede ná die dood van die man en vader of van albei ouers dalk alleen en sonder heenkome gelaat sou wees. Die aartsvader Job het gesê: “Ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie.”—Job 29:12.

Gedurende die vroeë dae van die Christengemeente was dit ’n kenmerk van ware aanbidding om vir diegene te sorg wat in ellende verkeer het en waarlik behoeftig was omdat hulle hulle ouers of ’n man verloor het. Met opregte belangstelling in die welsyn van sulke mense het die dissipel Jakobus geskryf: “Die vorm van aanbidding wat uit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar.”—Jakobus 1:27.

Buiten dat Jakobus weduwees en wese gemeld het, was hy ook baie besorg oor ander wat arm en behoeftig was (Jakobus 2:5, 6, 15, 16). Die apostel Paulus het dieselfde bedagsaamheid aan die dag gelê. Toe hy en Barnabas hulle predikingstoewysing ontvang het, was een van hulle instruksies om ‘die armes in gedagte te hou’. “Ek het ook ywerig daarna gestreef om juis dit te doen”, kon Paulus met ’n skoon gewete sê (Galasiërs 2:9, 10). Die verslag van die bedrywighede van die Christengemeente kort nadat dit gestig is, het gesê: “Daar was nie een onder hulle wat gebrek gely het nie . . . Daarop is aan elkeen uitgedeel volgens sy behoefte” (Handelinge 4:34, 35). Ja, die reëling wat in eertydse Israel ingestel is om vir wese, weduwees en die behoeftiges te sorg, is in die Christengemeente voortgesit.

Die hulp wat verleen is, was natuurlik binne redelike perke en in ooreenstemming met die middele van die afsonderlike gemeentes. Geld is nie gemors nie, en diegene wat gehelp is, was werklik behoeftig. Geen Christen moes hierdie reëling misbruik nie, en geen onnodige las moes op die gemeente gelê word nie. Dit kon duidelik gesien word uit Paulus se instruksies wat in 1 Timoteus 5:3-16 uiteengesit is. Daar sien ons dat die familielede van die behoeftiges die verantwoordelikheid gehad het om te help as hulle kon. Behoeftige weduwees moes aan sekere vereistes voldoen om vir hulp te kwalifiseer. Dit alles weerspieël die wysheid van die reëling wat Jehovah gebruik om vir diegene wat behoeftig is, te sorg. Maar dit toon ook dat balans nodig is sodat niemand misbruik maak van die goedhartigheid wat betoon word nie.—2 Tessalonisense 3:10-12.

Hoe daar vandag vir wese en weduwees gesorg word

Die beginsels wat knegte van God in die verlede gevolg het, word nog steeds in die gemeentes van Jehovah se Getuies toegepas, want besorgdheid word betoon teenoor diegene wat verdrukking ly en hulp word aan hulle verleen. Net soos Jesus gesê het, sou broederliefde as ’n kenmerk dien: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). As party behoeftig is of slagoffers geword het van ’n ramp of van oorlog of burgerlike onrus, doen die res van die internasionale broederskap moeite om maniere te vind waarop hulle geestelike en materiële hulp kan verleen. Kom ons kyk na ’n paar hedendaagse ondervindinge wat toon wat in hierdie verband gedoen word.

Pedro onthou nie veel omtrent sy ma nie, aangesien sy gesterf het toe hy net ’n jaar en ’n half oud was. Toe Pedro vyf was, het sy pa ook gesterf. Pedro het dus alleen saam met sy broers agtergebly. Jehovah se Getuies het reeds hulle vader besoek, en ’n tuisbybelstudie is dus met Pedro en sy ouer broers begin.

Pedro vertel: “Net die volgende week het ons die vergaderinge begin bywoon. Terwyl ons met die broers geassosieer het, kon ons hulle liefde aanvoel. Die gemeente was vir my ’n toevlug omdat die broers en susters liefde en toegeneentheid aan my betoon het, asof hulle my ouers was.” Pedro onthou dat een van die Christen- ouer manne hom na sy huis genooi het. Daar het Pedro by die gesin gekuier en saam met hulle ontspan. “Dit is herinneringe wat ek koester”, sê Pedro, wat van sy geloof begin getuig het toe hy 11 was en op 15 gedoop is. Met die hulp van persone in die gemeente het sy ouer broers ook geestelik baie goed gevorder.

Daar is ook die geval van David. Toe sy ouers uitmekaar is, het hulle hom en sy tweelingsuster net so gelos. Hulle grootouers en ’n tannie het hulle grootgemaak. “Toe ons ouer geword het en besef het in watter situasie ons is, het ons baie onveilig en hartseer gevoel. Ons het iets nodig gehad waarop ons kon steun. My tannie het een van Jehovah se Getuies geword, en gevolglik is ons Bybelwaarheid geleer. Die broers het liefde en vriendskap aan ons betoon. Hulle was baie lief vir ons en het ons aangemoedig om doelwitte na te streef en om aan te hou werk vir Jehovah. Toe ek omtrent tien jaar oud was, het ’n bedieningskneg my opgelaai om aan die veldbediening deel te neem. ’n Ander broer het my onkoste gedek wanneer ek streekbyeenkomste bygewoon het. Een broer het my selfs gehelp sodat ek bydraes by die Koninkryksaal kon gee.”

David is gedoop toe hy 17 jaar oud was, en later het hy by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko begin dien. Selfs nou erken hy: “Daar is ’n hele paar ouer manne wat my leiding en nuttige raad gee. Op dié manier kom ek die gevoel van onveiligheid en eensaamheid te bowe.”

Abel, ’n ouer man in ’n gemeente in Mexiko waar daar ’n hele paar weduwees is wat hulp nodig het, vertel: “Ek is daarvan oortuig dat die weduwees bowenal emosionele ondersteuning nodig het. Partykeer ondervind hulle tye van depressie; hulle voel eensaam. Daarom is dit baie belangrik om ondersteunend te wees en na hulle te luister. Ons [die gemeentelike ouer manne] besoek hulle gereeld. Dit is goed om die tyd te neem om aan hulle probleme aandag te skenk. Dit dra daartoe by dat hulle geestelik bemoedig voel.” Maar ekonomiese hulp is soms ook nodig. “Ons bou nou ’n huis vir ’n suster wat ’n weduwee is”, het Abel ’n rukkie gelede vertel. “Ons werk party Saterdae en party middae gedurende die week aan haar huis.”

’n Ander gemeentelike ouer man sê aangaande sy eie ondervinding om wese en weduwees te help: “Ek dink wese het selfs meer Christelike liefde nodig as weduwees. Ek het opgemerk dat hulle meer geneig is om verworpe te voel as kinders en adolessente wat albei hulle ouers het. Hulle het baie blyke van broederlike geneentheid nodig. Dit is goed om hulle ná die vergaderinge te nader en te vra hoe dit met hulle gaan. Daar is ’n getroude broer wat wees gelaat is toe hy ’n klein seuntjie was. Ek groet hom altyd hartlik by die vergadering, en hy omhels my wanneer hy my sien. Dit versterk die band van ware broederliefde.”

Jehovah “sal die behoeftige red”

Vertroue op Jehovah is noodsaaklik om die situasie van weduwees en wese die hoof te bied. Daar word van hom gesê: “Die HERE behoed die vreemdelinge; Hy rig wees en weduwee weer op” (Psalm 146:9). Slegs God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus sal hierdie soort probleme heeltemal oplos. Die psalmis het daardie heerskappy deur die Messias profeties so beskryf: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.”—Psalm 72:12, 13.

Namate die einde van die huidige stelsel van dinge al hoe nader kom, gaan die druk waarvoor Christene oor die algemeen te staan kom, beslis toeneem (Matteus 24:9-13). Dit is belangrik dat Christene elke dag meer besorgdheid teenoor mekaar betoon en “intense liefde vir mekaar [het]” (1 Petrus 4:7-10). Christenmanne, veral ouer manne, moet besorgdheid en medelye betoon teenoor diegene wat wees gelaat is. En geestelik ryp vroue in die gemeente kan die weduwees grootliks ondersteun en ’n bron van vertroosting vir hulle wees (Titus 2:3-5). Trouens, almal kan ’n bydrae lewer deur opreg besorg te wees oor diegene wat verdrukking verduur.

Ware Christene ‘sluit nie die deur van hulle tere medelye’ wanneer hulle ‘hulle broer sien gebrek ly’ nie. Hulle wil baie graag die apostel Johannes se vermaning nakom: “Kindertjies, laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Johannes 3:17, 18). Laat ons dus ‘na wese en weduwees in hulle verdrukking omsien’.—Jakobus 1:27.

[Lokteks op bladsy 11]

“Laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid.”—1 Johannes 3:18

[Prente op bladsy 10]

Ware Christene sien om na wese en weduwees op materiële gebied, geestelike gebied en emosionele gebied