Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Waarom praat die Nuwe Wêreld-vertaling in 2 Petrus 3:13 van “nuwe hemele [meervoud] en ’n nuwe aarde”, terwyl Openbaring 21:1 “’n nuwe hemel [enkelvoud] en ’n nuwe aarde” voorspel?

Dit is basies ’n taalkundige verskil wat in die oorspronklike tale voorkom. Dit het klaarblyklik geen spesiale betekenis nie.

Kom ons kyk eerstens na die Hebreeuse Geskrifte. In die teks in die oorspronklike taal is die Hebreeuse woord sja·maʹjim, wat as “hemel(e)” vertaal word, altyd in die meervoud. Die meervoudsvorm dui blykbaar nie uitnemendheid aan nie, maar toon dat die verskillende dele wat ’n geheel vorm, tot in die oneindigheid strek of verwys na ’n geheel wat uit ontelbare afsonderlike dele of punte bestaan. Dit is verstaanbaar omdat die fisiese hemel in alle rigtings ver van die aarde strek en miljarde sterre insluit. Wanneer sja·maʹjim voorafgegaan word deur die bepaalde lidwoord (letterlik “die hemele”) word dit in die New World Translation byna sonder uitsondering as “hemele” vertaal, soos in Jesaja 66:22. Wanneer sja·maʹjim sonder die bepaalde lidwoord verskyn, kan dit met die enkelvoud (“hemel”, soos in Genesis 1:8; 14:19, 22; Psalm 69:34) of die meervoud (“hemele”, soos in Genesis 49:25; Rigters 5:4; Job 9:8; Jesaja 65:17) vertaal word.

In Jesaja 65:17 sowel as 66:22 is die Hebreeuse woord vir hemele in die meervoud, en die konsekwente vertaling wat gekies is, is “nuwe hemele en ’n [of die] nuwe aarde”.

Die Griekse woord ou·ra·nosʹ beteken “hemel” en die meervoud ou·ra·noiʹ beteken “hemele”. Die vertalers van die Griekse Septuagint het, interessant genoeg, die enkelvoudsvorm in Jesaja 65:17 sowel as 66:22 gebruik.

Maar wat van die twee plekke waar die frase “nuwe hemel [of hemele] en ’n nuwe aarde” in die Christelike Griekse Geskrifte voorkom?

In 2 Petrus 3:13 het die apostel die Griekse meervoud gebruik. Net vroeër (verse 7, 10, 12) het hy van die huidige goddelose “hemele” gepraat en die meervoud gebruik. Hy was dus konsekwent deur die meervoud in vers 13 te gebruik. Bowendien lyk dit of hy aangehaal het uit die oorspronklike teks van Jesaja 65:17, waar die Hebreeus in die meervoud is, net soos hy in 2 Petrus 2:22 uit die Hebreeuse teks van Spreuke 26:11 aangehaal het. Petrus het dus verwys na “nuwe hemele [meervoud] en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag”.

Die apostel Johannes het dit effens anders gedoen en in Openbaring 21:1 klaarblyklik die vertaling van Jesaja 65:17 in die Septuagint gebruik, wat, soos gemeld is, die Griekse woord vir “hemel” in die enkelvoudsvorm het. Wat Johannes derhalwe geskryf het, was: “Ek het ’n nuwe hemel [enkelvoud] en ’n nuwe aarde gesien; want die vorige hemel en die vorige aarde het verbygegaan.”

Dit is alles taalkundige besonderhede wat met vertaling verband hou. Dit kan gerus weer genoem word dat daar blykbaar geen betekenisverskil is of ’n mens nou van “nuwe hemele” of “nuwe hemel” lees of praat nie. Die toepassing is dieselfde.

[Foto-erkenning op bladsy 31]

Sterre: Frank Zullo