Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees vreugdevol met die Koninkrykshoop!

Wees vreugdevol met die Koninkrykshoop!

Wees vreugdevol met die Koninkrykshoop!

DIT was ’n vreugdevolle geleentheid wat die gehoor van 5 784 op 10 Maart 2001 byeengebring het by die drie komplekse wat deur die groot Bethelgesin in New York gebruik word. Die geleentheid was die graduering van die 110de klas van die Gileadsendingskool.

Carey Barber, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het almal verwelkom en die program ingelei met die woorde: “Dit maak ons bly om te weet dat 110 klasse van Gileadstudente tot nou toe as sendelinge opgelei is en na gebiede regoor die wêreld gestuur is.”

Hoe om vreugdevol te bly

Ná broer Barber se openingskommentare het Don Adams die gehoor, wat die 48 graduerende studente ingesluit het, toegespreek oor die onderwerp “Die seën van Jehovah maak ons ryk”. In sy toespraak, wat op Spreuke 10:22 gebaseer was, het hy die gehoor daaraan herinner dat Jehovah sy knegte onderskraag en seën wanneer hulle Koninkryksbelange eerste in hulle lewe stel. Hy het die studente aangespoor om hulle nuwe toewysings met dieselfde gewillige gees te aanvaar as wat die apostel Paulus geopenbaar het toe hy gevra is om ‘oor te kom na Masedonië en te help’ (Handelinge 16:9). Hoewel daar probleme was wat Paulus die hoof moes bied, het sy gewilligheid om te getuig waar hy ook al gestuur is, tot baie seëninge gelei wat hom vreugde verskaf het.

Die lede van die gradueringsklas het hulle vyf maande lange studie van die Bybel en opleiding ter voorbereiding van die sendingwerk voltooi. Maar Daniel Sydlik, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het hulle aangemoedig om studente te bly. Hy het die tema “Wees ware dissipels” ontwikkel en gesê: “Dissipelskap beteken om voortdurend die woorde van Jesus te gehoorsaam. Dit behels dat ons altyd gewillig moet wees om na sy woorde, sy boodskap en sy onderrigting te luister.” Hy het daarop gewys dat dissipels van Christus nie besluite maak sonder om na die stem van die Heer te luister nie; die wysheid van God word duidelik weerspieël in die lewe van Christus (Kolossense 2:3). Nie een van ons kan Jesus se woorde net een keer hoor en dan dink dat ons alles omtrent hom weet nie; daarom het broer Sydlik die studente aangespoor om aan te hou om die Christelike waarhede te leer, toe te pas en aan ander te leer, want dit lei tot vryheid.—Johannes 8:31, 32.

Om vreugdevol in God se diens te bly, moet ’n mens bereid wees om dissipline en teregwysing te aanvaar. “Sal jou niere jou teregwys?” was die vraag wat die Gileadinstrukteur Lawrence Bowen gevra het. Hy het getoon dat die figuurlike niere in die Bybel met ’n mens se diepste gedagtes en emosies verbind word. Dit kan ’n mens teregwys as die geïnspireerde raad in God se Woord tot die diepste wese van jou persoonlikheid deurgedring het (Psalm 16:7, NW; Jeremia 17:10). Jou getroue lewenswandel kan selfs Jehovah diep raak. Nadat die spreker Spreuke 23:15, 16 gelees het, het hy gevra: “Sal jou niere jou teregwys?” Hy het bygevoeg: “Ons bid dat dit wel sal, want dan sal jy Jehovah die grootste blydskap verskaf. Jy sal sy diepste emosies raak. Ja, jy sal God se niere laat jubel terwyl jy lojaal in jou toewysing bly.”

Die laaste toespraak in hierdie gedeelte van die program is deur Mark Noumair gehou, wat as ’n sendeling in Kenia gedien het voordat hy ’n Gileadinstrukteur geword het. Sy toespraak met die titel “Die aanskouing met die oë is beter” het die belangrikheid daarvan beklemtoon om vergenoegdheid aan te kweek. In ooreenstemming met Prediker 6:9 het broer Noumair die raad gegee: “Sien die werklikheid onder die oë. So ‘aanskou jy met die oë’. Moenie droom oor iets wat jy wil doen, maar nie doen nie; lê jou eerder daarop toe om die beste van jou huidige omstandighede te maak. Om in ’n droomwêreld te lewe, onredelike verwagtinge te koester of heeltyd aan die negatiewe faktore van jou toewysing te dink, sal jou net ontevrede en onvergenoeg maak.” Ja, ongeag waar ons is of wat die omstandighede ook al mag wees, as ons godvrugtige vergenoegdheid in ons omstandighede aankweek, lei dit tot ’n vreugdevolle gees in ons diens aan ons Grootse Skepper.

Vreugdevolle ondervindinge in Koninkryksdiens en by Gilead

Ná die praktiese raad van hierdie toesprake het die studente ’n paar ondervindinge vertel wat hulle gehad het terwyl hulle gedurende hulle vyf maande lange kursus aan die openbare bediening deelgeneem het. Wallace Liverance, die registrateur van Gileadskool, het die deel behartig, en die studente het vertel hoe hulle hulle as God se bedienaars aanbeveel het (2 Korintiërs 4:2). Hulle het daarin geslaag om die godgegewe gewete van party mense te prikkel. Die studente se ondervindinge het getoon hoe Bybelstudies begin is met opregte persone wat hulle op straat, in die huis-tot-huisbediening en in ander omstandighede ontmoet het. By verskillende geleenthede het belangstellendes gesê dat die Bybelpublikasies van Jehovah se organisasie na die waarheid klink. Een huisbewoner het baie positief op ’n sekere Bybelvers gereageer. Sy studeer nou die Bybel saam met Jehovah se Getuies.

Daarna het Joel Adams ’n onderhoud met Gileadgegradueerdes van vroeër jare gevoer. Sy tema was “Moet nooit ophou leer nie, moet nooit ophou om Jehovah te dien nie”. Diegene met wie onderhoude gevoer is, het die nuwe sendelinge tydige raad gegee. Harry Johnson het vertel van sy dae as ’n lid van die 26ste Gileadklas en gesê: “Ons is geleer dat Jehovah nog altyd sy volk gelei het en sal lei. Daardie vertroue was vir my deur die jare heen ’n aansporing.” William Nonkes, ’n lid van die 53ste Gileadklas, het die gegradueerdes dié raad gegee: “Hou bowenal Bybelbeginsels in gedagte, en pas dit toe op alle besluite wat jy nou en tot in alle ewigheid in jou lewe maak. Dan sal jy in jou toewysing kan bly, en Jehovah sal jou ryklik seën.”

“Versterk om Jehovah se wil te doen”, was die tema wat Richard Rian gekies het vir sy deel op die program. Een van die persone met wie hy ’n onderhoud gevoer het, was John Kurtz, ’n gegradueerde van die 30ste klas, wat meer as 41 jaar in Spanje as ’n sendeling gedien het. Toe hy oor die Gileadleerplan gevra is, het broer Kurtz gesê: “Die vernaamste handboek is die Bybel. En dan het ons Bybelstudiehulpe om ons te help om die Bybel te verstaan. Dit is beskikbaar vir almal. Geen geheime inligting word by Gilead bespreek nie. Ek beklemtoon dit altyd omdat die inligting wat by Gilead voorsien word, vryelik beskikbaar is vir almal.”

Broer Gerrit Lösch, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het die geestelike program goed afgerond deur ’n bespreking van die onderwerp “Op en onder Jehovah se vlerke”. Hy het verduidelik hoe God se beskerming en ondersteuning van sy getroue knegte in die Bybel toegelig word met die vlerke van ’n arend (Deuteronomium 32:11, 12; Psalm 91:4). Die volwasse arend sprei soms sy vlerke ure lank uit om sy kleintjies te beskerm. Partykeer sal ’n moederarend haar kleintjies selfs onder haar vlerke toevou om hulle teen koue winde te beskerm. Net so ook kan Jehovah, in ooreenstemming met sy voorneme, sy getroue knegte te hulp kom, veral wanneer hulle geestelike beproewinge deurmaak. Jehovah laat nie toe dat sy knegte versoek word bo wat hulle kan verdra nie, maar hy gee die uitweg sodat hulle dit kan verduur (1 Korintiërs 10:13). Broer Lösch het afgesluit met die woorde: “As ons altyd geestelike beskerming wil geniet, moet ons onder Jehovah se vlerke bly. Dit beteken dat ons nie ’n gees van onafhanklikheid moet ontwikkel nie. Laat ons altyd na aan Jehovah en sy organisasie bly wat soos ’n moeder is, en ons nie afsny van hulle leiding en liefdevolle raad nie.”

Die voorsitter het telegramme en kaartjies gelees met gelukwensinge van persone regoor die wêreld. Daarna is die diplomas oorhandig. Toe Gileadskool gestig is, sou dit net ’n beperkte aantal klasse oor ’n tydperk van vyf jaar hê. Maar Jehovah God het die skool al 58 jaar lank aan die gang gehou. Soos broer Barber in sy openingskommentare gesê het: “Wat ’n wonderlike rekord het die Gileadgegradueerdes tog opgebou vanaf 1943 toe Gilead gestig is! Hulle gesamentlike pogings het daartoe gelei dat letterlik honderdduisende sagmoediges van die aarde by Jehovah se glorieryke organisasie gevoeg is.” Ja, hierdie sendingskool het daartoe bygedra dat miljoene vreugdevol is met die Koninkrykshoop.

[Venster op bladsy 24]

KLASSTATISTIEK

Aantal lande verteenwoordig: 8

Aantal lande waarheen gestuur: 18

Aantal studente: 48

Gemiddelde ouderdom: 34

Gemiddelde jare in waarheid: 18

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 13

[Prent op bladsy 25]

110de Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Vacek, E.; Madelin, L.; Evans, G.; Watanabe, K. (2) Trafford, P.; Turfa, J.; Wilson, P.; Williams, R.; Weber, A. (3) Johnson, T.; Hanau, K.; Mourlhou, F.; Charpentier, F.; Peckham, R.; Androsoff, P. (4) Seegers, T.; Seegers, D.; Bailey, P.; Bailey, M.; Madelin, K.; Lippold, E.; Lippold, T. (5) Evans, N.; Gold, R.; Bollmann, I.; Vacek, R.; Oundjian, J.; Wilson, N. (6) Turfa, J.; Zuidema, L.; Zuidema, R.; Bengtsson, C.; Bengtsson, J.; Galano, M.; Galano, L. (7) Peckham, T.; Mourlhou, J.; Charpentier, C.; Gold, M.; Bollmann, R.; Oundjian, F. (8) Weber, R.; Johnson, B.; Hanau, D.; Watanabe, Y.; Williams, R.; Trafford, G.; Androsoff, T.