Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bome wat die toets van die tyd deurstaan

Bome wat die toets van die tyd deurstaan

Bome wat die toets van die tyd deurstaan

’n krans lyk dalk nie na die ideale plek om jou tuiste te maak nie, veral nie as dit hoog in die berge geleë is nie. Maar ondanks die skynbare nadele klou sommige dennebome aan sulke rotswande vas, waar hulle die ysige koue van die winter en die droogtes van die somer trotseer.

GEWOONLIK is hierdie geharde bome nie so majestueus soos hulle familie in die vallei nie. Hulle stamme is moontlik knoetserig en gedraai, en hulle groei is aansienlik belemmer. Party lyk selfs soos natuurlike bonsai-boompies—gevorm en gesnoei deur die ongunstige klimaat en die bietjie grond waarin hulle groei.

Aangesien hulle in een van die onherbergsaamste plekke op aarde aan die lewe bly, dink jy moontlik dat hierdie bome ’n kort lewensduur het. Die teendeel is egter waar. Sommige beweer dat Metusalag, ’n denneboom (Pinus longaeva) wat op 3 000 meter in die Witberge van Kalifornië groei, 4 700 jaar oud is. The Guinness Book of Records 1997 gee hierdie boom aan as die oudste lewende boom op die planeet. Edmund Schulman, wat ’n studie van hierdie oeroue bome gemaak het, het verduidelik: “Dit lyk of die [Pinus longaeva] . . . aan die lewe bly omdat hy so swaarkry. Al die oueres [dennebome] in die Witberge kom op om en by 3 000 meter in ’n droë, klipperige wildernis voor.” Schulman het ook vasgestel dat die oudste bome onder ander dennespesies ook in ongunstige toestande groei.

Hoewel hulle onder moeilike omstandighede moet groei, gebruik hierdie voorbeelde van volharding hulle twee voordele ten beste. Hulle eensame ligging, waar daar min plantegroei is, beskerm hulle teen bosbrande, een van die grootste bedreigings vir ouer bome. En hulle wortels anker hulle so stewig aan die rotswand vas dat slegs ’n aardbewing hulle kan ontwortel.

In die Bybel word getroue knegte van God met bome vergelyk (Psalm 1:1-3; Jeremia 17:7, 8). Hulle kan ook voor teëspoed te staan kom weens die omstandighede waarin hulle hulle bevind. Vervolging, swak gesondheid of verdrukkende armoede kan hulle geloof swaar beproef, veral as die beproewinge jaar ná jaar voortduur. Hulle Skepper, wat die bome ontwerp het om so goed bestand te wees teen moeilike omstandighede, verseker nogtans sy aanbidders dat hy hulle sal ondersteun. Die Bybel belowe diegene wat vasstaan: “Hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak.”—1 Petrus 5:9, 10.

Die Griekse werkwoord wat dikwels in die Bybel met “verduur” vertaal word, bevat die gedagte van ‘om vas te staan, standvastig te bly of te volhard’. Soos met hierdie dennebome is dit die sleutel tot volharding om goed geanker te wees. In die geval van Christene moet hulle stewig in Jesus Christus geanker wees sodat hulle vas kan staan. “Aangesien julle Christus Jesus, die Here, dan aangeneem het,” het Paulus geskryf, “moet julle voortgaan om in eenheid met hom te wandel, gewortel in hom en terwyl julle opgebou word in hom en standvastig gemaak word in die geloof, net soos julle geleer is, terwyl julle oorloop van geloof in danksegging.”—Kolossense 2:6, 7

Paulus het besef hoe belangrik sterk geestelike wortels is. Hy self het met “’n doring in die vlees” geworstel, en hy het deur sy hele bediening bittere vervolging verduur (2 Korintiërs 11:23-27; 12:7). Maar hy het gevind dat hy in God se krag voort kon gaan. “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee”, het hy gesê.—Filippense 4:13.

Soos die voorbeeld van Paulus toon, hang suksesvolle Christelike volharding nie van gunstige omstandighede af nie. Soos dennebome wat storms eeue lank met welslae trotseer, kan ons ook vasstaan as ons in Christus gewortel is en op die krag vertrou wat God gee. As ons tot die einde toe volhard, sal ons boonop die vooruitsig hê om self die vervulling van ’n ander belofte van God te sien: “Want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome.”—Jesaja 65:22; Matteus 24:13.