Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Deel in die vreugde wat dit verskaf om te gee!

Deel in die vreugde wat dit verskaf om te gee!

Deel in die vreugde wat dit verskaf om te gee!

“Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—HANDELINGE 20:35.

1. Hoe toon Jehovah dat dit vreugde verskaf om te gee?

 DIE vreugde wat dit ons verskaf om die waarheid te ken, asook die seëninge wat daarmee gepaardgaan, is kosbare gawes van God. Diegene wat Jehovah leer ken het, het baie redes om hulle te verbly. Maar hoewel dit ons vreugde verskaf om ’n geskenk te ontvang, verskaf dit ook vreugde om ’n geskenk te gee. Jehovah is die Gewer van “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk”, en hy is “die gelukkige God” (Jakobus 1:17; 1 Timoteus 1:11). Hy voorsien heilsame onderrigting aan almal wat luister, en hy skep behae in die gehoorsaamheid van diegene wat hy onderrig, net soos ouers hulle verbly wanneer hulle kinders positief op liefdevolle onderrigting reageer.—Spreuke 27:11.

2. (a) Wat het Jesus daarvan gesê om aan ander te gee? (b) Watter geluk ervaar ons wanneer ons Bybelwaarheid aan ander leer?

2 Toe Jesus op aarde was, was hy eweneens bly om te sien hoe mense positief op sy onderrigting reageer. Die apostel Paulus het Jesus se woorde aangehaal: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Die geluk wat ons ervaar wanneer ons Bybelwaarheid aan ander leer, is nie bloot ’n gevoel van tevredenheid omdat iemand met ons godsdiensoortuiging saamstem nie. Dit behels veel meer, omdat ons vreugde voortspruit uit die wete dat ons iemand iets van ware en blywende waarde gee. Deur geestelike gawes te gee, kan ons mense help om hulleself nou en tot in alle ewigheid te bevoordeel.—1 Timoteus 4:8.

Dit verskaf vreugde om te gee

3. (a) Hoe het die apostel Paulus en Johannes hulle vreugde uitgespreek om ander geestelik te help? (b) Waarom is dit ’n blyk van liefde om ons kinders Bybelwaarheid te leer?

3 Ja, net soos Jehovah en Jesus is Christene ook bly om geestelike gawes aan ander te gee. Die apostel Paulus was verheug om te weet dat hy ander gehelp het om die waarheid van God se Woord te leer. Hy het aan die gemeente in Tessalonika geskryf: “Wat is ons hoop of vreugde of kroon van verblyding—ja, is dit nie inderdaad julle nie?—voor ons Here Jesus by sy teenwoordigheid? Julle is beslis ons heerlikheid en vreugde” (1 Tessalonisense 2:19, 20). Die apostel Johannes het op soortgelyke wyse na sy geestelike kinders verwys en geskryf: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 4). Dink ook aan die vreugde wat dit bring wanneer ons ons eie kinders help om ons geestelike kinders te word! Om kinders in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed”, is ’n blyk van ouerlike liefde (Efesiërs 6:4). Ouers toon sodoende dat hulle oor hulle kinders se ewige welsyn besorg is. Wanneer kinders gunstig reageer, ervaar ouers groot vreugde en tevredenheid.

4. Watter ondervinding lig die vreugde toe wat dit verskaf as ’n mens geestelike gawes aan ander gee?

4 Dell is ’n voltydse pionierbedienaar met vyf kinders. Sy sê: “Ek kan my vereenselwig met die apostel Johannes se woorde, want ek is baie dankbaar dat vier van my kinders ‘in die waarheid wandel’. Ek weet dat dit tot eer en verheerliking van Jehovah strek wanneer gesinne in ware aanbidding verenig is. Daarom is ek baie bly om te sien hoe hy my pogings seën om die waarheid by my kinders in te skerp. Die wonderlike vooruitsig van eindelose lewe in die Paradys saam met my gesin vul my met hoop en spoor my aan om ondanks moeilikhede en struikelblokke te volhard.” Ongelukkig is een van Dell se dogters uit die gemeente gesit omdat sy ’n onchristelike weg gevolg het. Dell probeer nogtans hard om ’n positiewe gesindheid te behou. “Ek hoop dat my dogter eendag nederig en in opregtheid na Jehovah sal terugkeer”, sê sy. “Maar ek dank God dat die meeste van my kinders hom nog getrou dien. Die vreugde wat ek ervaar, is ’n ware bron van krag vir my.”—Nehemia 8:10NW.

Maak ewige vriende

5. Waaruit put ons bevrediging terwyl ons van onsself in die dissipelmaakwerk gee?

5 Jesus het sy volgelinge beveel om Christendissipels te maak en hulle van Jehovah en sy vereistes te leer (Matteus 28:19, 20). Jehovah sowel as Jesus het mense op onselfsugtige wyse gehelp om die weg van die waarheid te leer. Terwyl ons dus van onsself in die dissipelmaakwerk gee, put ons bevrediging uit die wete dat ons, net soos die vroeë Christene, die voorbeeld van Jehovah en Jesus navolg (1 Korintiërs 11:1). Wanneer ons só met die almagtige God en sy geliefde Seun saamwerk, is ons lewe werklik betekenisvol. Wat ’n seën is dit tog om een van God se “medewerkers” te wees! (1 Korintiërs 3:9). En is dit nie opwindend dat selfs engele aan die verkondiging van die goeie nuus deelneem nie?—Openbaring 14:6, 7.

6. Wie word ons vriende wanneer ons geestelike gawes aan ander gee?

6 Trouens, as ons deelneem aan hierdie werk om geestelike gawes aan ander te gee, kan ons meer as medewerkers met God word—ons kan ’n ewige vriendskap met hom aanknoop. Abraham is weens sy geloof Jehovah se vriend genoem (Jakobus 2:23). Terwyl ons daarna streef om God se wil te doen, kan ons ook God se vriend word. As ons dit doen, word ons ook vriende van Jesus. Hy het vir sy dissipels gesê: “Ek het julle vriende genoem, omdat ek alles wat ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15). Baie is trots daarop om vriende van invloedryke mense of hooggeplaaste amptenare te wees, maar ons kan vriende wees van die twee grootste persone in die ganse heelal!

7. (a) Hoe het een vrou ’n ware vriendin gemaak? (b) Het jy ’n soortgelyke ondervinding gehad?

7 En wanneer ons mense help om God te leer ken, word hulle ook ons vriende, wat ons groot vreugde verskaf. Joan, wat in die Verenigde State woon, het die Bybel met Thelma begin studeer. Hoewel Thelma se gesin haar studie teëgestaan het, het sy volgehou en is sy ’n jaar later gedoop. Joan het geskryf: “Ons verhouding het nie daar geëindig nie; dit het eerder in ’n vriendskap ontwikkel wat nou al ongeveer 35 jaar duur. Ons het mekaar dikwels in die bediening vergesel en saam na byeenkomste gegaan. Later het ek na ’n nuwe huis 800 kilometer daarvandaan getrek. Maar Thelma stuur nog steeds vir my die mooiste en aanmoedigendste briewe, waarin sy vir my sê dat sy met geneentheid aan my dink en my bedank omdat ek haar vriendin en voorbeeld is en omdat ek haar Bybelwaarheid geleer het. Om so ’n dierbare vriendin te hê wat so na aan my is, is ’n wonderlike beloning vir al my harde werk om haar te help om van Jehovah te leer.”

8. Watter positiewe gesindheid sal ons in die bediening help?

8 Die moontlikheid dat ons iemand sal vind wat die waarheid wil leer, kan ons help om te volhard, al toon baie van die mense wat ons ontmoet min of geen belangstelling in Jehovah se Woord nie. Sulke onverskilligheid kan ons geloof en volharding op die proef stel. Maar ’n positiewe gesindheid sal ons help. Fausto, wat van Guatemala af kom, het gesê: “Wanneer ek vir ander getuig, dink ek aan hoe wonderlik dit sal wees as die persoon met wie ek praat ’n geestelike broer of suster sou word. Ek sê vir myself dat ten minste een persoon wat ek ontmoet uiteindelik dalk die waarheid van God se Woord sal aanneem. Hierdie gedagte help my om te volhard en verskaf my ware vreugde.”

Gaar skatte in die hemel op

9. Wat het Jesus oor skatte in die hemel gesê, en wat kan ons daaruit leer?

9 Dit is nie altyd maklik om dissipels te maak nie, of dit nou van ons kinders of van ander mense is. Dit kan tyd, geduld en volharding verg. Maar onthou dat baie mense bereid is om hard te werk om ’n oorvloed materiële dinge op te gaar, dinge wat hulle gewoonlik nie vreugde bring nie en wat nie vir ewig hou nie. Jesus het vir sy luisteraars gesê dat dit beter is om vir geestelike dinge te werk. Hy het gesê: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nóg mot nóg roes verteer en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Matteus 6:19, 20). As ons geestelike doelwitte nastreef—wat deelname aan die belangrike dissipelmaakwerk insluit—kan ons die bevrediging hê dat ons God se wil doen en dat hy ons sal beloon. Die apostel Paulus het geskryf: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie.”—Hebreërs 6:10.

10. (a) Waarom het Jesus geestelike skatte gehad? (b) Hoe het Jesus van homself gegee, en hoe het dit ander tot voordeel gestrek?

10 As ons hard werk om dissipels te maak, gaar ons vir onsself “skatte in die hemel” op, in ooreenstemming met wat Jesus gesê het. Dit gee ons die vreugde wat dit verskaf om iets te ontvang. As ons op onselfsugtige wyse gee, word ons self verryk. Jesus het Jehovah miljarde jare lank getrou gedien. Dink aan die skatte wat hy in die hemel opgegaar het! Maar Jesus het nie sy eie belange gesoek nie. Die apostel Paulus het geskryf: “[Jesus] het homself vir ons sondes gegee om ons te verlos van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge volgens die wil van ons God en Vader” (Galasiërs 1:4). Jesus het nie net onselfsugtig van homself in sy bediening gegee nie, maar hy het selfs sy lewe as ’n losprys gegee sodat ander die geleentheid kan hê om skatte in die hemel op te gaar.

11. Waarom is geestelike gawes beter as materiële geskenke?

11 Deur mense van God te leer, help ons hulle om te sien hoe hulle ook onverganklike geestelike skatte kan opgaar. Watter groter geskenk kan jy iemand gee? As jy ’n vriend ’n duur horlosie, ’n motor of selfs ’n huis gee, sal daardie vriend waarskynlik dankbaar en bly wees, en jy sal vreugde ervaar omdat jy hom iets gegee het. Maar wat sal in 20, 200, 2 000 jaar van nou af van daardie geskenk geword het? Aan die ander kant, as jy van jouself gee om iemand te help om Jehovah te dien, kan hy of sy vir ewig by daardie gawe baat vind.

Soek na diegene wat die waarheid wil leer

12. Hoe het baie van hulleself gegee om ander geestelik te help?

12 Jehovah se volk het tot aan die uithoeke van die aarde gegaan om te deel in die vreugde wat dit verskaf om geestelike gawes aan ander te gee. Duisende het hulle huis en familie verlaat om sendingwerk te doen in lande waar hulle nuwe tale moes leer en by nuwe kulture moes aanpas. Ander het na gebiede in hulle eie land verhuis waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Nog ander het ’n vreemde taal geleer, wat nuwe geleenthede geskep het om vir immigrantegemeenskappe in hulle omgewing te getuig. Byvoorbeeld, nadat ’n egpaar in New Jersey, VSA, twee kinders grootgemaak het wat nou by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies dien, het hulle as pioniers begin dien en Chinees geleer. Oor ’n tydperk van drie jaar het hulle Bybelstudies met 74 Chineessprekendes gehou wat aan ’n nabygeleë universiteit gestudeer het. Kan jy jou bediening op die een of ander manier uitbrei sodat jy groter vreugde uit die dissipelmaakwerk kan put?

13. Wat kan jy doen as jy graag wil hê dat jou bediening produktiewer moet wees?

13 Miskien wil jy baie graag ’n Bybelstudie hou, maar tot dusver was jy onsuksesvol. In party lande is dit moeilik om belangstellendes te vind. Die mense wat jy ontmoet, toon dalk geen belangstelling in die Bybel nie. Indien dit die geval is, kan jy miskien meer dikwels oor jou begeerte bid, want ons weet dat Jehovah en Jesus Christus intens belangstel in die werk en jou dalk na ’n skaapgeaarde persoon sal lei. Vra persone in julle gemeente wat meer ervare is of wie se bediening produktiewer is, om jou wenke te gee. Maak gebruik van die opleiding en wenke wat by Christelike vergaderinge gegee word. Vind baat by die raad van reisende opsieners en hulle vroue. Moet bowenal nooit moed opgee nie. Die wyse man het geskryf: “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie” (Prediker 11:6). Hou intussen getroue manne soos Noag en Jeremia in gedagte. Hoewel baie min mense positief gereageer het op die boodskap wat hulle verkondig het, was hulle bediening ’n sukses. Dit het bowenal Jehovah behaag.

Doen jou bes

14. Hoe beskou Jehovah diegene wat in sy diens oud geword het?

14 Jou omstandighede laat jou moontlik nie toe om soveel in die bediening te doen as wat jy graag wil nie. Jou ouderdom kan byvoorbeeld beperk wat jy in Jehovah se diens kan doen. Maar onthou wat die wyse man geskryf het: “Grysheid is ’n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid” (Spreuke 16:31). Vir Jehovah is ’n lewe wat in sy diens bestee is, iets pragtigs. Die Skrif sê verder: “Selfs tot die ouderdom toe is ek [Jehovah] dieselfde; en tot die grysheid toe sal ek julle ondersteun. Ek sal gewis optree, sodat ek julle kan dra en sodat ek julle kan ondersteun en ontkoming kan verskaf” (Jesaja 46:4, NW). Ons liefdevolle hemelse Vader belowe om sy lojale knegte te onderskraag en te ondersteun.

15. Glo jy dat Jehovah jou omstandighede verstaan? Waarom?

15 Moontlik het jy met siekte, teenstand van ’n ongelowige maat, swaar gesinsverantwoordelikhede of ’n ander moeilike probleem te kampe. Jehovah ken ons beperkings en omstandighede, en hy is lief vir ons weens ons opregte pogings om hom te dien. Dit is so, al doen ons minder as wat ander doen (Galasiërs 6:4). Jehovah weet ons is onvolmaak, en hy is realisties in wat hy van ons verwag (Psalm 147:11). As ons ons bes doen, kan ons daarvan verseker wees dat ons kosbaar in God se oë is en dat hy nie ons dade van geloof sal vergeet nie.—Lukas 21:1-4.

16. In watter opsig dra ’n hele gemeente daartoe by om ’n dissipel te maak?

16 Jy moet ook onthou dat die dissipelmaakwerk ’n spanpoging is. Niemand maak ’n dissipel op sy eie nie, net so min as wat een druppel reën ’n plant laat groei. Een Getuie kan weliswaar ’n belangstellende vind en ’n Bybelstudie met hom hou. Maar wanneer daardie nuweling na die Koninkryksaal toe kom, help die hele gemeente hom om te sien dat dit die waarheid is. Die hartlikheid van die broederskap lewer bewys van die invloed van God se gees (1 Korintiërs 14:24, 25). Kinders en tieners gee opbouende kommentare, wat vir die nuweling toon dat ons jongmense anders is as die jongmense van die wêreld. Die siekes, dié wat fisies swak is en die bejaardes in die gemeente leer nuwelinge wat volharding behels. Ongeag ons ouderdom of beperkings, ons almal speel ’n belangrike rol daarin om nuwelinge te help terwyl hulle liefde vir Bybelwaarheid toeneem en hulle tot doop vorder. Elke uur wat ons in die bediening deurbring, elke herbesoek wat ons doen, elke gesprek wat ons met ’n belangstellende by die Koninkryksaal het, lyk dalk op sigself onbeduidend, maar dit is ’n deel van ’n groot werk wat Jehovah verrig.

17, 18. (a) Op watter ander maniere, benewens deelname aan die dissipelmaakwerk, kan ons deel in die vreugde wat dit verskaf om te gee? (b) Wie volg ons na as ons aan ander gee?

17 Benewens ons deelname aan die belangrike dissipelmaakwerk deel ons as Christene natuurlik ook in die vreugde wat dit verskaf om op ander maniere te gee. Ons kan geld opsy sit om tot die ondersteuning van rein aanbidding by te dra en behoeftiges te help (Lukas 16:9; 1 Korintiërs 16:1, 2). Ons kan na geleenthede soek om gasvryheid aan ander te betoon (Romeine 12:13). Ons kan daarna streef om “aan almal goed [te] doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). En ons kan op eenvoudige dog belangrike maniere aan ander gee—deur ’n brief, ’n telefoonoproep, ’n geskenk, ’n helpende hand, ’n bemoedigende woord.

18 Deur aan ander te gee, toon ons dat ons ons hemelse Vader navolg. Ons toon ook ons broederliefde, die kenmerk van ware Christene (Johannes 13:35). As ons hierdie dinge onthou, kan dit ons help om te deel in die vreugde wat dit verskaf om te gee.

Kan jy verduidelik?

• Hoe het Jehovah en Jesus die voorbeeld gestel om geestelike gawes aan ander te gee?

• Hoe kan ons ewige vriende maak?

• Watter stappe kan ons neem om groter sukses in ons bediening te behaal?

• Hoe kan almal in die gemeente deel in die vreugde wat dit verskaf om te gee?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 13]

Ouers ervaar groot vreugde en tevredenheid wanneer hulle kinders op hulle opleiding reageer

[Prent op bladsy 15]

Wanneer ons dissipels maak, kan ons ook ware vriende maak

[Prent op bladsy 16]

Jehovah steun ons wanneer ons oud word

[Prente op bladsy 17]

Dit verskaf ons op eenvoudige dog belangrike maniere vreugde om te gee