Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulp om die Bybel te verstaan

Hulp om die Bybel te verstaan

Hulp om die Bybel te verstaan

DIE Bybel is ’n unieke boek. Die skrywers daarvan verklaar dat hulle deur God geïnspireer is, en die inhoud lewer oorvloedige bewys dat die verklaring gegrond is (2 Timoteus 3:16). Die Bybel toon onder meer waar ons vandaan kom, waarom ons hier is en waarheen ons op pad is. Dit is beslis ’n boek wat ons aandag verdien!

Miskien het jy al die Bybel probeer lees, maar dit moeilik gevind om te verstaan. Dalk weet jy nie waar om te soek vir antwoorde op jou vrae nie. Indien wel, is jy nie alleen nie. Jou situasie is soos dié van ’n man wat in die eerste eeu gelewe het. Hy het in ’n wa van Jerusalem af na sy geboorteland, Etiopië, gereis. Hierdie Etiopiese amptenaar het hardop gelees uit die profetiese Bybelboek Jesaja, wat meer as sewehonderd jaar vantevore geskryf is.

Skielik het ’n man langs die wa gehardloop en met hom gepraat. Die man was Filippus, ’n dissipel van Jesus, en hy het die Etiopiër gevra: “Verstaan u werklik wat u lees?” Die Etiopiër het geantwoord: “Hoe sou ek tog ooit kon, tensy iemand my lei?” Toe het hy Filippus genooi om op die wa te klim. Filippus het die deel wat die man gelees het, aan hom verduidelik en toe “die goeie nuus oor Jesus” aan hom bekend gemaak.—Handelinge 8:30-35.

Net soos Filippus daardie Etiopiër lank gelede gehelp het om God se Woord te verstaan, help Jehovah se Getuies mense om die Bybel vandag te verstaan. Hulle sal jou ook met graagte help. Dit is gewoonlik beter om die Bybel stelselmatig te bestudeer deur by basiese skriftuurlike leerstellings te begin (Hebreërs 6:1). Namate jy vordering maak, sal jy dít kan inneem waarna die apostel Paulus verwys het as “vaste voedsel”—dit wil sê dieper waarhede (Hebreërs 5:14). Hoewel dit die Bybel is wat jy bestudeer, kan ander publikasies—Bybelstudiehulpe—jou help om dele in die Bybel oor ’n verskeidenheid onderwerpe te kry en te verstaan.

’n Studie kan gewoonlik gereël word op ’n tyd en plek wat vir jou gerieflik is. Party studeer selfs oor die telefoon. Die studie word nie in ’n klaskameratmosfeer gehou nie; dit is ’n private reëling wat by jou persoonlike omstandighede, insluitende jou agtergrond en opvoeding, aangepas word. Jy hoef nie vir so ’n Bybelstudie te betaal nie (Matteus 10:8). Daar is geen eksamen nie, en niemand sal jou verleë laat voel nie. Jou vrae sal beantwoord word, en jy sal leer hoe om nader aan God te kom. Maar waarom moet jy die Bybel bestudeer? Beskou ’n paar redes waarom ’n studie van die Bybel vreugde in jou lewe kan bring.