Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hy het “tot die einde toe volhard”

Hy het “tot die einde toe volhard”

Hy het “tot die einde toe volhard”

IN ’N 1993-video-opname wat aan nuwe lede van die hoofkantoorpersoneel van Jehovah se Getuies vertoon word, het Lyman Alexander Swingle sy gevoelens oor diens aan Jehovah uitgedruk: “Werk tot die bitter einde toe!”

Die 90-jarige broer Swingle het presies gedoen wat hy ander aangemoedig het om te doen. Hy het “tot die einde toe volhard” (Matteus 24:13). Hoewel hy fisies gely het, het hy Woensdag, 7 Maart, ’n vergadering van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies bygewoon, waarvan hy ’n lid was. Die daaropvolgende Dinsdag het sy toestand verswak, en om 4:26 vm., 14 Maart, het sy dokter verklaar dat hy dood is.

Lyman Swingle het op 5 April 1930 sy diens by Jehovah se Getuies se wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, begin. Hy het bykans 71 jaar lank daar gedien. Lyman se eerste toewysing was in die boekbindery, daarna is hy na die pers toe, en hy het ook gehelp om ink te maak. Trouens, broer Swingle het altesaam ongeveer 25 jaar lank ink gemaak. Hy het ook sowat 20 jaar as ’n lid van die hoofkwartier se skryfpersoneel gedien. Die laaste 17 jaar van sy lewe het hy in die tesourierskantoor gewerk.

Lyman was ’n moedige verkondiger van God se Koninkryk. In sy vroeë jare in Brooklyn het hy en sy kamermaat, Arthur Worsley, met een van die Getuies se bote op die Hudson-rivier geseil. Met behulp van klanktoerusting het hulle baie naweke gebruik om die Koninkryksboodskap uit te saai vir gemeenskappe wat op die oewer gewoon het.

Broer Swingle is op 6 November 1910, in Lincoln, Nebraska, gebore, maar kort daarna het die gesin na Salt Lake City, Utah, verhuis. Daar, in 1913, het sy ouers Bybelstudente geword, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Deur die jare heen het die Swingle-gesin baie besoekende sprekers van die Getuies se Brooklyn-hoofkwartier gehuisves, en hierdie manne het ’n positiewe invloed op Lyman gehad. In 1923, op 12-jarige ouderdom, is hy gedoop as simbool van sy toewyding aan God.

Nadat hy meer as 26 jaar in Brooklyn as ’n ongetroude man gedien het, is Lyman se lewe oneindig verryk toe hy op 8 Junie 1956 met Crystal Zircher getroud is. Hulle was onafskeidbaar en het saam aan die bediening deelgeneem tot en met Crystal se dood in 1998. Ongeveer drie jaar vroeër het Crystal ’n beroerte gehad waarna sy ernstig gestremd was. Die feit dat Lyman daagliks by haar versorging betrokke was, was vir almal ’n inspirerende voorbeeld van toegewydheid, veral vir diegene wat gesien het hoe Lyman liefdevol die rolstoel rondstoot op die sypaadjies in die buurt terwyl Crystal Die Wagtoring en Ontwaak! vir verbygangers aanbied.

Broer Swingle was ’n eerlike, hartlike man wat geliefd was by diegene wat hom leer ken het. Soos sy vader en moeder het hy die Bybelse hoop gehad om saam met Jesus Christus in die hemelse Koninkryk te lewe, ’n hoop wat ons seker is nou vir hom verwesenlik is.—1 Tessalonisense 4:15-18; Openbaring 14:13.

[Prent op bladsy 31]

Broer Swingle het ongeveer 25 jaar lank ink gemaak

[Prent op bladsy 31]

Lyman en Crystal was onafskeidbaar