Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie toelaat dat twyfelgedagtes jou geloof vernietig nie

Moenie toelaat dat twyfelgedagtes jou geloof vernietig nie

Moenie toelaat dat twyfelgedagtes jou geloof vernietig nie

Die een dag dink jy nog jy is gesond. Die volgende dag voel jy siek. Skielik het jy geen krag of lewenslus nie. Jou kop pyn en jou hele lyf is seer. Wat het gebeur? Gevaarlike patogene het jou liggaam se immuunstelsel verswak en lewensorgane aangeval. As jy nie behandeling kry nie, kan hierdie skadelike organismes jou gesondheid permanent aantas—selfs jou dood veroorsaak.

AS JY natuurlik nie gesond is wanneer jy ’n infeksie kry nie, is jy selfs vatbaarder daarvoor. As jou liggaam byvoorbeeld swak is as gevolg van wanvoeding, word jou weerstand “so laag dat die geringste infeksie noodlottig kan wees”, sê die mediese skrywer Peter Wingate.

Wie sou dus uit vrye keuse honger ly? Jy doen moontlik alles in jou vermoë om goed te eet en gesond te bly. Jy doen waarskynlik ook jou bes om nie aan virus- of bakteriële infeksies blootgestel te word nie. Maar is jy net so versigtig om “gesond in geloof” te bly? (Titus 2:2). Is jy byvoorbeeld op jou hoede vir die gevaar van skadelike twyfelgedagtes? Dit kan so maklik in jou verstand en hart posvat en jou geloof en jou verhouding met Jehovah skaad. Party mense is blykbaar onbewus van hierdie gevaar. Hulle laat hulleself vatbaar word vir twyfelgedagtes deur hulle geestelik uit te honger. Doen jy dit dalk?

Is dit altyd sleg om te twyfel?

Dit is natuurlik nie altyd sleg om te twyfel nie. Soms moet ’n mens eers seker maak van die feite voordat jy iets aanvaar. Die vermaning deur godsdienste dat ’n mens net moet glo en aan niks moet twyfel nie, is gevaarlik en misleidend. Die Bybel sê weliswaar dat die liefde ‘alles glo’ (1 Korintiërs 13:7). ’n Liefdevolle Christen is beslis bereid om diegene te glo wat in die verlede getoon het dat hulle betroubaar is. Maar God se Woord waarsku ook daarteen om ‘elke woord te glo’ (Spreuke 14:15). Soms gee iemand se reputasie jou grondige rede om bedenkinge te hê. “As [die bedrieglike] sy stem lieflik maak”, waarsku die Bybel, “vertrou hom nie.”—Spreuke 26:24, 25.

Die apostel Johannes waarsku Christene ook teen blinde geloof. “Moenie elke geïnspireerde uiting glo nie”, skryf hy. Maar “stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het” (1 Johannes 4:1). ’n “Uiting”, ’n lering of mening, klink dalk of dit van God af kom. Maar het dit werklik van hom af gekom? Om te twyfel, of te wag voordat ons dit glo, kan ’n ware beskerming wees, want soos die apostel Johannes sê, ‘het baie bedrieërs in die wêreld uitgegaan’.—2 Johannes 7.

Ongegronde twyfelgedagtes

Ja, dit is dikwels nodig om ’n eerlike, nederige ondersoek van die feite te doen om uit te vind wat die waarheid is. Dit is egter nie dieselfde as om ongegronde, skadelike twyfelgedagtes in ons verstand en hart te laat wortelskiet nie—twyfelgedagtes wat ons stewig gegronde oortuigings en verhoudings kan vernietig. Hierdie twyfel verwys na onsekerheid van oortuiging of mening wat dikwels ’n mens se besluite beïnvloed. Onthou jy hoe Satan saadjies van twyfel oor Jehovah in Eva se verstand gesaai het? “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” het hy gevra (Genesis 3:1). Die onsekerheid wat daardie skynbaar onskuldige vraag laat ontstaan het, het haar besluit beïnvloed. Dit is kenmerkend van Satan se metodes. Net soos die sogenaamde lasterskrywer weet hy presies hoe om insinuasies, halwe waarhede en leuens te gebruik. Satan het al tallose sterk vertrouensverhoudings vernietig deur skadelike twyfelgedagtes so te saai.—Galasiërs 5:7-9.

Die dissipel Jakobus het die skadelike uitwerking van hierdie soort twyfelgedagtes goed verstaan. Hy skryf oor die wonderlike voorreg wat ons het om in tye van beproewing God met vrymoedigheid om hulp te nader. Maar wanneer jy wel tot God bid, waarsku Jakobus, moet jy “aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel”. Twyfel in ons verhouding met God maak ons “soos ’n golf van die see wat deur die wind gedryf en heen en weer gewaai word”. Ons word soos “’n besluitelose mens, onbestendig in al sy weë” (Jakobus 1:6, 8). Ons geloof word onbestendig, wat ons besluiteloos maak. Dan word ons, soos met Eva die geval was, vatbaar vir allerhande demoniese leringe en filosofieë.

Bly geestelik gesond

Hoe kan ons ons dan teen skadelike twyfelgedagtes beskerm? Die antwoord is verbasend eenvoudig: deur sataniese propaganda op besliste wyse te verwerp en ten volle gebruik te maak van God se voorsienings om ons “vas in die geloof” te maak.—1 Petrus 5:8-10.

Iets wat onontbeerlik is, is om onsself geestelik goed te voed. Die skrywer Wingate, wat vroeër gemeld is, verduidelik: “Selfs wanneer die liggaam rus, het dit voortdurend energie nodig sodat chemiese prosesse kan plaasvind en sodat die lewensorgane hulle werk kan doen; en die boustowwe waaruit baie weefsels bestaan, moet gedurigdeur vervang word.” Dit geld ook vir ons geestelike gesondheid. As ons ons nie voortdurend geestelik voed nie, sal ons geloof, soos iemand wat honger ly, geleidelik verswak en uiteindelik tot niet gaan. Jesus Christus het dit beklemtoon toe hy gesê het: “Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan.”—Matteus 4:4.

Dink daaraan. Hoe het ons in die eerste plek ’n sterk geloof opgebou? “Geloof volg . . . op wat gehoor word”, skryf die apostel Paulus (Romeine 10:17). Hy bedoel dat ons aanvanklik ons geloof en vertroue in Jehovah, sy beloftes en sy organisasie opgebou het deur ons met God se Woord te voed. Ons het natuurlik nie alles wat ons gehoor het net blindelings geglo nie. Ons het dieselfde gedoen as die mense van die stad Berea. Ons het “die Skrif daagliks sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11). Ons ‘het ons van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God vergewis’ en seker gemaak dat dit wat ons gehoor het, waar is (Romeine 12:2; 1 Tessalonisense 5:21). Sedertdien het ons ons geloof waarskynlik versterk namate ons al hoe duideliker gesien het dat God se Woord en beloftes nooit onvervuld bly nie.—Josua 23:14; Jesaja 55:10, 11.

Vermy geestelike verhongering

Die uitdaging is nou om ons geloof sterk te hou en enige onsekerheid van oortuiging te vermy wat ons vertroue in Jehovah en sy organisasie kan verswak. As ons dit wil doen, moet ons aanhou om die Skrif daagliks te ondersoek. Die apostel Paulus waarsku dat “party [wat dalk aanvanklik lyk of hulle sterk geloof het] in latere tydperke van die geloof sal wegval en aandag sal skenk aan misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” (1 Timoteus 4:1). Hierdie misleidende uitinge en leringe laat twyfelgedagtes by party ontstaan en vervreem hulle van God. Wat kan ons beskerm? Om voort te gaan om “gevoed [te] word met die woorde van die geloof en van die voortreflike leer wat [ons] nougeset gevolg het”.—1 Timoteus 4:6.

Maar vandag verkies party ongelukkig om nie “gevoed [te] word met die woorde van die geloof” nie—selfs wanneer sulke voeding vryelik beskikbaar is. Soos een van die skrywers van die boek Spreuke toon, kan ’n mens ’n oorvloed goeie geestelike voedsel hê, as ’t ware ’n geestelike feesmaal, en nog steeds nie eet en die voedsel verteer nie.—Spreuke 19:24; 26:15.

Dit is gevaarlik. Die skrywer Wingate sê: “Sodra die liggaam sy eie proteïen begin verteer, ly sy gesondheid daaronder.” Wanneer jy nie genoeg eet nie, begin jou liggaam energiereserwes gebruik wat regdeur die liggaam gestoor is. Wanneer hierdie bronne uitgeput is, begin die liggaam proteïen verteer wat noodsaaklik is vir voortgesette groei en die herstel van weefsel. Lewensorgane begin wegkwyn. Jou gesondheid gaan dan vinnig agteruit.

Dit is wat in geestelike sin met party in die vroeë Christengemeente gebeur het. Hulle het geestelik aan die lewe probeer bly deur op hulle geestelike reserwes staat te maak. Hulle het waarskynlik persoonlike studie verwaarloos en geestelik swak geword (Hebreërs 5:12). Die apostel Paulus het verduidelik hoe gevaarlik dit kan wees toe hy aan die Hebreeuse Christene geskryf het: “Dit [is nodig] dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie.” Hy het geweet hoe maklik dit is om slegte gewoontes aan te leer as ons “so ’n groot redding verontagsaam”.—Hebreërs 2:1, 3.

Dit is interessant dat iemand wat aan wanvoeding ly, nie noodwendig siek lyk of maer is nie. Net so kan ’n mens ook nie altyd onmiddellik sien dat iemand geestelik uitgehonger is nie. Jy kan geestelik gesond lyk selfs wanneer jy nie behoorlik gevoed word nie—maar net vir ’n kort tydjie! Jy sal uiteindelik geestelik swak word, vatbaar vir ongegronde twyfelgedagtes en nie in staat wees om hard vir die geloof te stry nie (Judas 3). Jy weet tot watter mate jy jou werklik geestelik voed—al weet niemand anders nie.

Volhard dus in persoonlike studie. Stry hard teen twyfelgedagtes. Net soos dit rampspoedige gevolge kan hê as ’n mens skynbaar geringe infeksies ignoreer, kan dit rampspoedig wees as ’n mens niks aan knaende twyfelgedagtes doen nie (2 Korintiërs 11:3). ‘Lewe ons werklik in die laaste dae? Kan ’n mens alles glo wat die Bybel sê? Is dit werklik Jehovah se organisasie?’ Satan wil baie graag sulke twyfelgedagtes in jou verstand saai. Moenie toelaat dat ’n traak-my-nieagtige gesindheid teenoor geestelike voeding jou ’n maklike prooi van sy misleidende leringe maak nie (Kolossense 2:4-7). Volg die raad wat aan Timoteus gegee is. Wees ’n goeie student van “die heilige geskrifte” sodat jy kan bly “in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo”.—2 Timoteus 3:13-15.

Jy sal dalk hulp nodig hê om dit te doen. Die skrywer wat vroeër aangehaal is, sê verder: “Weens ernstige verhongering kan die spysverteringstelsel so beskadig wees as gevolg van ’n gebrek aan vitamiene en ander noodsaaklikhede dat dit nie meer gewone kos kan verteer as dit geëet word nie. Mense in hierdie toestand sal dalk ’n tyd lank kos moet eet wat maklik verteer kan word.” Spesiale sorg is nodig om die liggaam te help om van die gevolge van verhongering te herstel. Iemand wat sy persoonlike studie van die Bybel erg verwaarloos het, het ook dalk baie hulp en aanmoediging nodig om sy geestelike aptyt te herwin. As jy jou in hierdie situasie bevind, moet jy hulp soek en enige hulp wat aangebied word om jou geestelike gesondheid en krag weer op te bou, met blydskap aanvaar.—Jakobus 5:14, 15.

Moenie ‘in ongeloof wankel nie’

Wanneer ’n mens die omstandighede van die aartsvader Abraham in ag neem, dink party dalk dat hy grondige rede gehad het om te twyfel. Dit lyk dalk heeltemal redelik om te dink dat hy ‘nie meer hoop gehad het om die vader van baie nasies te word nie’—ondanks God se belofte. Waarom? Wel, uit ’n suiwer menslike oogpunt gesien, het die situasie nie goed gelyk nie. ‘Hy het gedink aan sy eie liggaam, toe reeds asof dood, asook aan die dooie toestand van die moederskoot van Sara’, sê die Bybelverslag. En tog was hy vasbeslote om nie toe te laat dat twyfelgedagtes oor God en sy beloftes in sy verstand en hart wortelskiet nie. Die apostel Paulus skryf: ‘Hy het nie swak geword in geloof nie’ of “in ongeloof gewankel nie”. Abraham het ‘heeltemal oortuig gebly dat God ook kon doen wat hy beloof het’ (Romeine 4:18-21). Hy het oor baie jare ’n sterk, persoonlike vertrouensverhouding met Jehovah opgebou. Hy het enige twyfelgedagtes wat daardie verhouding kon verswak het, verwerp.

Jy kan dieselfde doen as jy “voortdurend [vashou] aan die patroon van gesonde woorde”—as jy jou geestelik goed voed (2 Timoteus 1:13). Beskou die gevaar wat twyfelgedagtes inhou in ’n ernstige lig. Satan voer as ’t ware ’n geestelike bakteriologiese oorlog. As jy nie heilsame geestelike voedsel deur persoonlike studie van die Bybel en deur die bywoning van Christelike vergaderinge inneem nie, is jy baie kwesbaar vir sulke aanvalle. Maak goed gebruik van die oorvloedige en tydige voorraad geestelike voedsel wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45). Gaan voort om ‘met gesonde woorde in te stem’ en “gesond in geloof” te bly (1 Timoteus 6:3; Titus 2:2). Moenie toelaat dat twyfelgedagtes jou geloof vernietig nie.

[Prente op bladsy 21]

Hoe goed voed jy jou geestelik?