Ons het Jehovah op die proef gestel
Lewensverhaal
Ons het Jehovah op die proef gestel
SOOS VERTEL DEUR PAUL SCRIBNER
“Goeie môre, mev. Stackhouse. Ek neem vanoggend bestellings vir Paaskoeke, en ek is seker jy sal graag een vir jou gesin wil hê.” Dit was vroeg in die lente van 1938, en ek het in Atco, New Jersey, VSA, met een van die beste klante op my verkoopsroete vir die General Baking Company gesels. Tot my verbasing het mev. Stackhouse dit van die hand gewys.
“EK GLO nie ek sal belangstel nie”, het sy gesê. “Ons vier nie Paasfees nie.”
Ek het nie geweet wat om te dink nie. Vier nie Paasfees nie? Die eerste reël in die verkoopswese is natuurlik dat die klant altyd reg is. Wat nou gemaak? “Wel”, het ek weer probeer, “dis ’n baie lekker koek, en ek weet jy hou van ons produkte. Sal jou gesin dit nie dalk geniet selfs al, h’m, vier julle nie Paasfees nie?”
“Ek dink nie so nie”, het sy herhaal, “maar ek wou al vroeër met jou oor iets gepraat het, mnr. Scribner, en dis dalk nou ’n goeie tyd om dit te doen.” Daardie gesprek het my lewe heeltemal verander! Mev. Stackhouse, ’n lid van die Berlin-groep (of -gemeente) van Jehovah se Getuies, in New Jersey, het aan my verduidelik waar die Paasviering sy oorsprong het en vir my drie boekies gegee. Hulle titels was Veiligheid, Blootgelê en Beskerming. Ek is huis toe met die boekies, nuuskierig maar ook ’n bietjie lugtig. Daar was iets bekends omtrent dit wat mev. Stackhouse gesê het, iets uit my kinderdae.
Vroeë kontak met die Bybelstudente
Ek is op 31 Januarie 1907 gebore, en in 1915, toe ek agt jaar oud was, is my pa aan kanker oorlede. Gevolglik het ek en my ma by haar ouers in ’n groot huis in Malden, Massachusetts, gaan
woon. Benjamin Ransom, my oom aan moederskant, en sy vrou het ook daar gewoon, op die derde verdieping. Oom Ben het al van voor die eeuwisseling af met die Internasionale Bybelstudente geassosieer, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Ek was baie lief vir oom Ben, maar die res van my ma se familie, wat Metodiste was, het gedink dat hy eienaardig is. Jare later, voordat sy vrou van hom geskei het, het sy daarin geslaag om hom ’n rukkie in ’n sielsieke-inrigting te laat opneem weens sy godsdiensoortuiging! Aangesien die dokters in die hospitaal gou agtergekom het dat daar niks met oom Ben se verstand verkeerd was nie, het hulle hom ontslaan en om verskoning gevra.Oom Ben het my saamgeneem na vergaderinge van die Internasionale Bybelstudente in Boston, veral wanneer daar besoekende sprekers of spesiale geleenthede was. By een geleentheid was die besoekende spreker niemand anders nie as Charles Taze Russell, wat destyds oor die predikingswerk toesig gehou het. Op ’n ander keer was die spesiale geleentheid ’n vertoning van die “Fotodrama van die Skepping”. Hoewel dit in 1915 was, onthou ek tot vandag toe die duidelike uitbeelding van Abraham wat Isak teen die berg opneem om hom te offer (Genesis, hoofstuk 22). Ek kan nou nog sien hoe Abraham en Isak met ’n bondel hout teen daardie heuwel op sukkel, terwyl Abraham algehele vertroue in Jehovah gestel het. Aangesien ek ’n vaderlose seun was, het dit ’n groot indruk op my gemaak.
Toe het oom Ben en sy vrou na Maine verhuis, my ma het weer getrou, en ons het na New Jersey verhuis. Ek het gevolglik ’n lang ruk nie veel van oom Ben gesien nie. Gedurende my tienerjare in New Jersey het ek Marion Neff ontmoet, een van agt kinders in ’n Presbiteriaanse gesin by wie ek lekker gekuier het. Ek was soveel Sondagaande saam met daardie gesin en hulle kerk se jeuggroep dat ek uiteindelik self ’n Presbiteriaan geword het. Tog het ek nie vergeet van die dinge wat ek by die vergaderinge van die Bybelstudente gehoor het nie. Ek en Marion is in 1928 getroud, en ons dogters, Doris en Louise, is onderskeidelik in 1935 en 1938 gebore. Met ’n kleuter en ’n pasgebore baba in die gesin het ons albei gevoel dat ons geestelike leiding nodig het om ons gesin groot te maak.
Ek vind die waarheid in daardie boekies
Ek en Marion was op soek na ’n kerk om by aan te sluit en het met ’n plan vorendag gekom. Ons het elke Sondag beurte gemaak om by die huis te bly en na die kinders te kyk terwyl die ander een ’n kerkdiens bygewoon het. Een Sondag was dit Marion se beurt om tuis te bly, maar ek het aangebied om na die kinders te kyk sodat ek die boekie Veiligheid kon lees, die eerste van die drie wat mev. Stackhouse vir my gegee het. Toe ek eers begin lees, kon ek dit nie neersit nie! Ek het al hoe meer oortuig begin raak dat ek iets gevind het wat geen kerk my kon bied nie. Die volgende week het dieselfde ding gebeur, en ek was weer gewillig om die kinders op te pas terwyl ek die tweede boekie, Blootgelê, gelees het. Wat ek gelees het, het ietwat bekend geklink. Was dit wat oom Ben geglo het? My familie het gedink dat sy godsdiens ’n malligheid was. Wat sou Marion dink? Ek was onnodig bekommerd. Toe ek
van die werk af tuis kom, ’n paar dae nadat ek Blootgelê gelees het, het Marion my verras deur te sê: “Ek het daardie boekies gelees wat jy huis toe gebring het. Dis werklik interessant.” Wat ’n verligting!Op die agterkant van die boekies was inligting oor die nuwe vrystelling Enemies, ’n vurige blootlegging van valse godsdiens. Ons het besluit om dit te kry. Maar nog voor ons dit deur die pos kon bestel, het ’n Getuie aan ons deur geklop en daardie einste boek vir ons aangebied. Dit het die deurslag gegee! Ons het opgehou om na kerke toe te gaan en die vergaderinge van die Camden-groep van Jehovah se Getuies, in New Jersey, begin bywoon. Net ’n paar maande later, op Sondag, 31 Julie 1938, het ongeveer 50 van ons op suster Stackhouse se grasperk bymekaargekom—by die huis waar ek Paaskoeke probeer verkoop het—en na ’n opname van ’n dooptoespraak deur regter Rutherford geluister. Toe het ons ander klere in die huis gaan aantrek, en 19 van ons is in ’n nabygeleë spruit gedoop.
Vasbeslote om ’n pionier te wees
Kort ná my doop het een van die susters in die groep my vertel van mense wat pioniers genoem
word. Die openbare bediening is hulle vernaamste werk. Ek was dadelik nuuskierig en het kort daarna ’n gesin ontmoet waarvan almal pioniers was. ’n Man wat ouer as ek was, broer Konig, sy vrou en sy opgeskote dogter het almal as pioniers in ’n naburige gemeente gedien. As die vader van ’n jong gesin was ek beïndruk met die groot vreugde wat die Konig-gesin uit die bediening geput het. Ek het dikwels daarlangs gery, die bakkery se voertuig geparkeer en tyd saam met hulle in die huis-tot-huis-bediening deurgebring. Dit was nie lank voor ek ook ’n pionier wou wees nie. Maar hoe? Ek en Marion het twee klein kindertjies gehad, en my werk was veeleisend. Trouens, toe die Tweede Wêreldoorlog in Europa uitbreek en al hoe meer jong manne in die Verenigde State by die weermag aansluit, was daar al hoe meer werk vir diegene van ons wat in siviele werke oorgebly het. Daar is druk op my geplaas om meer roetes te doen, en ek het geweet dat ek met daardie rooster nooit ’n pionier sou kon wees nie.Toe ek met broer Konig gepraat het oor my begeerte om te pionier, het hy gesê: “Hou net aan om hard te werk in Jehovah se diens, en bid voortdurend oor jou doelwit. Hy sal jou help om dit te bereik.” Vir meer as ’n jaar is dit presies wat ek gedoen het. Ek het dikwels oor tekste soos Matteus 6:8 gepeins, wat ons verseker dat Jehovah ons behoeftes ken, selfs nog voordat ons hom vra. Ek het altyd die raad in Matteus 6:33 probeer volg, naamlik om aan te hou om eers God se Koninkryk en sy regverdigheid te soek. Ek is ook aangemoedig deur broer Melvin Winchester, ’n sonekneg (wat nou ’n kringopsiener genoem word).
Ek het Marion van my doelwitte vertel. Ons het oor die woorde van Maleagi 3:10 (NW) gepraat wat ons aanmoedig om Jehovah op die proef te stel en te kyk of hy nie ’n seën op ons sal uitstort nie. Haar reaksie het my aangespoor: “As jy ’n pionier wil word, moet jy nie ter wille van my terughou nie. Ek kan na die meisies omsien terwyl jy pionier. Ons het materieel in elk geval nie baie nodig nie.” Ná 12 jaar van getroude lewe het ek reeds geweet dat Marion ’n spaarsamige en nougesette huisvrou was. Deur die jare heen was sy ’n wonderlike pioniermaat, en een van die geheime van ons sukses in die ongeveer 60 jaar van voltydse diens was haar vermoë om met ’n bietjie tevrede te wees en dit soos baie te laat lyk.
Teen die somer van 1941, ná baie maande van biddende beplanning, het ek en Marion genoeg geld gespaar en ’n karavaan van vyf meter gekoop waarin ons gesin kon woon. Ek het in Julie 1941 uit my werk bedank en ’n gewone pionier geword, en ek is sedertdien nog altyd in die voltydse diens. My eerste toewysing was tien plekke op Roete 50 tussen New Jersey en St. Louis, Missouri, waar ons byeenkoms vroeg in Augustus gehou sou word. Die name en adresse van broers op die pad soontoe is vir my gestuur, en ek het voor die tyd aan hulle geskryf en hulle laat weet wanneer om my te verwag. By die streekbyeenkoms moes ek dan na die pionierafdeling gaan om ’n ander toewysing te kry.
“Ek gaan Jehovah op die proef stel”
Ons het ons karavaantjie vol lektuur gelaai en ons laaste vergadering in Camden bygewoon om vir die broers totsiens te sê. Met twee klein dogtertjies om voor te sorg en geen bestemming ná die streekbyeenkoms nie, het ons planne vir sommige van die broers seker onrealisties gelyk, en ’n hele paar het gesê: “Julle sal een van die dae terug wees.” Ek onthou ek het gesê: “Wel, ek sê nie ek sal nie. Jehovah het gesê dat hy na my sal omsien, en ek gaan Jehovah op die proef stel.”
Ná ses dekades van pionierdiens in 20 dorpe van Massachusetts tot Mississippi kan ons sê dat Jehovah sy belofte beslis nagekom het. Die seëninge wat hy op my, Marion en ons twee dogters uitgestort het, oortref enigiets waarvoor ek destyds in 1941 kon gehoop het. Dit sluit in dat ons twee dogters as getroue pioniers in naburige gemeentes dien en dat ons (toe ons laas getel het) meer as honderd geestelike seuns en dogters het wat regoor die Ooskus van die Verenigde State versprei is. Ek het met 52 mense gestudeer wat hulle lewe aan Jehovah God toegewy het en Marion met 48.
In Augustus 1941 het ons St. Louis bereik, en
daar het ek broer T.J. Sullivan van Bethel ontmoet. Hy het my ordeningsbrief by hom gehad, wat ek nodig gehad het met die oog op die dreigende oorlog en die moontlikheid om opgeroep te word. Ek het vir broer Sullivan gesê dat my vrou net soveel tyd soos ek in die bediening bestee en dat sy graag saam met my ’n pionier wou wees. Al was die pionierafdeling by die streekbyeenkoms nog nie opgestel nie, het broer Sullivan daar en dan Marion as ’n pionier ingeskryf en ons gevra: “Waar gaan julle ná die byeenkoms pionier?” Ons het nie geweet nie. “Wel, moenie bekommerd wees nie”, het hy gesê: “Julle sal wel iemand by die byeenkoms ontmoet wat pioniers in hulle gebied nodig het, en dinge sal vir julle uitwerk. Skryf net vir ons om te sê waar julle is, en ons sal dit julle toewysing maak.” Dit is wat gebeur het. Broer Jack DeWitt, wat vroeër ’n sonekneg was, het toevallig van mense in New Market, Virginië, geweet wat ’n pionierhuis gehad het en op soek was na nog ’n paar pioniers. Daarom is ons ná die streekbyeenkoms na New Market toe.In New Market het ’n spesiale verrassing op ons gewag. Wie kom toe van Philadelphia af om as pionier saam met ons te werk, niemand anders nie as Benjamin Ransom! Ja, oom Ben. Wat ’n vreugde was dit tog om saam met hom in die huis-tot-huis-bediening te werk meer as 25 jaar nadat hy in Boston daardie saadjies van waarheid in my hart geplant het! Ondanks jare van onverskilligheid, bespotting en selfs vervolging deur die familie het oom Ben nooit sy liefde vir Jehovah en die bediening verloor nie.
Ons het ons verblyf van agt maande by die pionierhuis in New Market geniet. Gedurende daardie tyd het ons onder andere geleer hoe om hoenders en eiers vir lektuur te ruil. Toe is ek, oom Ben en Marion, asook drie ander, as spesiale pioniers na Hanover, Pennsilvanië, gestuur—die eerste van ses toewysings wat ons van 1942 tot 1945 in Pennsilvanië gehad het.
Spesiale pioniers gedurende die Tweede Wêreldoorlog
Daar was tye gedurende die Tweede Wêreldoorlog dat ons weens ons neutrale standpunt met vyandigheid te kampe gehad het, maar Jehovah het ons altyd ondersteun. Een keer in Provincetown, Massachusetts, het ons ou Buick die gees gegee, en ek moes ’n paar kilometers ver deur ’n baie vyandiggesinde Katolieke buurt loop om ’n herbesoek te gaan doen. Ek het by ’n groep jong booswigte verbygeloop wat my herken en toe begin skreeu het. Met klippe wat verby my ore suis, het ek my vinnig uit die voete gemaak en gehoop die jeugdiges agtervolg my nie. Ek het ongedeerd by die huis van die belangstellende aangekom. Maar die huisbewoner, ’n gerespekteerde lid van die Amerikaanse Oudstrydersbond, het verskoning gemaak en gesê: “Ek kan jou nie vanaand ontvang nie, want ek het vergeet dat ons dorp toe gaan om na ’n rolprent te gaan kyk.” My hart het in my skoene gesak toe ek aan die spul klipgooiers op die hoek dink, wat wag dat ek moet terugkom. Ek het egter moed geskep toe die man sê: “Waarom stap jy nie saam met ons nie? Ons kan op pad soontoe gesels.” Ek kon dus vir hom getuig, en ek het veilig verby die gevaarlike hoek gekom.
Balans tussen my gesin en bediening
Ná die oorlog het ons verskeie toewysings in Virginië gehad; ons het onder andere agt jaar lank as spesiale en gewone pioniers in Charlottesville gedien. Teen 1956 was die meisies groot en getroud, en ek en Marion het weer in die pad geval en as pioniers in Harrisonburg, Virginië, en as spesiale pioniers in Lincolnton, Noord-Carolina, gaan dien.
In 1966 is ek as ’n kringopsiener aangestel en het ek van gemeente na gemeente gereis en die broers aangemoedig, baie soos broer Winchester my destyds in die dertigerjare in New Jersey aangemoedig het. Ek het twee jaar lank ’n kring van gemeentes in Tennessee bedien. Toe is ek en Marion gevra om na ons grootste liefde terug te keer, naamlik die spesiale pionierdiens. Van 1968 tot 1977 het ons as spesiale pioniers in die Diep Suide, regoor Georgia en Mississippi, gedien.
In Eastman, Georgia, is ek as gemeenteopsiener (wat nou presiderende opsiener genoem word) aangestel in die plek van Powell Kirkland, Spreuke 3:5, 6 het by my opgekom: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Deur hard te werk om die kommunikasiekanale oop te hou, kon ons die gemeente verenig tot voordeel van almal.
’n dierbare, ouer broer wat jare lank as kringopsiener gedien het, maar wie se gesondheid agteruitgegaan het. Hy het dit baie waardeer en my goed ondersteun. Sy ondersteuning was van groot belang, want daar was onenigheid in die gemeente waarby ’n paar prominente broers betrokke was. Die geskil het ernstig geword, en ek het baie tyd in gebed tot Jehovah deurgebring. Tekste soosTeen 1977 het ons ons ouderdom ’n bietjie begin voel, en ons is teruggestuur na die Charlottesville-gebied, waar albei ons dogters met hulle gesinne gewoon het. Dit was vir ons die afgelope 23 jaar ’n vreugde om in hierdie gebied te werk en te help met die stigting van die gemeente in Ruckersville, Virginië, en om te sien hoe die kinders en kleinkinders van ons vroeë Bybelstudente grootword en gemeentelike ouer manne, pioniers en Betheliete word. Ek en Marion kan nog steeds ’n goeie velddiensrooster handhaaf, en ek is bevoorreg om aktief as ’n ouer man in die Oos-gemeente van Charlottesville te dien, waar ek ’n boekstudie en openbare toesprake hou.
Deur die jare heen het ons, soos almal maar, probleme ondervind. Ondanks ons pogings het Doris byvoorbeeld in haar laat tienerjare geestelik swak geword en met ’n man getrou wat nie ’n Getuie was nie. Maar sy het nooit haar liefde vir Jehovah heeltemal verloor nie, en haar seun Bill dien nou al 15 jaar by Bethel in Wallkill, New York. Doris en Louise is nou albei weduwees, maar hulle dien vreugdevol as gewone pioniers nie ver van ons af nie.
Lesse wat ons deur die jare heen geleer het
Ek het geleer om ’n paar eenvoudige reëls toe te pas om welslae in Jehovah se diens te behaal: Hou jou lewe eenvoudig. Wees ’n voorbeeld in al jou handelinge, ook in jou persoonlike lewe. Volg die riglyne van “die getroue en verstandige slaaf” in alle opsigte.—Matteus 24:45.
Marion het ’n kort, maar doeltreffende lys wenke opgestel oor hoe om sukses in die pionierdiens te behaal terwyl jy kinders grootmaak: Stel ’n uitvoerbare rooster op en bly daarby. Maak jou pionierbediening ’n ware loopbaan. Volg ’n gesonde dieet. Kry genoeg rus. Pasop vir te veel ontspanning. Maak die waarheid, met inbegrip van al die aspekte van die bediening, ’n aangename ondervinding in jou kinders se lewe. Maak altyd die bediening vir hulle ’n interessante ondervinding.
Ons is nou in ons negentigerjare. Twee-en-sestig jaar het verloop sedert ons na ons dooptoespraak op die grasperk van die Stackhouse-woning geluister het, en ons het 60 jaar in die voltydse diens deurgebring. Ek en Marion kan eerlikwaar sê dat ons ten volle en diep tevrede is met ons lot in die lewe. Ek is innig dankbaar vir die aanmoediging wat ek as ’n jong vader ontvang het om geestelike doelwitte eerste te stel en dit voortdurend te probeer bereik, en ek is dankbaar teenoor my dierbare vrou, Marion, en teenoor die meisies vir hulle ondersteuning deur die jare heen. Hoewel ons nie materiële rykdom het nie, pas ek dikwels Prediker 2:25 (NW) op myself toe: “Wie eet en wie drink beter as ek?”
In ons geval het Jehovah waarlik sy belofte in Maleagi 3:10 (NW) in baie groot mate vervul. Hy het inderdaad ‘op ons ’n seën uitgestort totdat daar geen gebrek meer is nie’!
[Venster/Prent op bladsy 29]
HERINNERINGE AAN DIE OORLOGSJARE
Byna 60 jaar ná die oorlog het die hele gesin lewendige herinneringe aan daardie jare.
“Pennsilvanië kon koud word”, onthou Doris. “Een nag was dit -35 grade.” Louise sê voorts: “Ek en Doris het op die agterste sitplek van ons ou Buick op mekaar se voete gesit om te keer dat ons voete koud word.”
“Maar ons het nooit arm of verwaarloos gevoel nie”, sê Doris. “Ons het geweet dat ons meer rondtrek as die meeste ander mense, maar ons het altyd goed geëet en wonderlike klere gehad wat ons, feitlik nuut, van vriende in Ohio gekry het, wie se dogters net ’n bietjie ouer as ons was.”
“My ma en pa het ons altyd laat voel dat hulle ons liefhet en waardeer”, sê Louise, “en ons het baie tyd saam met hulle in die bediening deurgebring. Dit het ons spesiaal en baie na aan hulle laat voel.”
“Ek het ’n 1936-Buick-Special gehad”, sê Paul, “en daardie motors was bekend daarvoor dat die as maklik breek. Ek dink die enjin was net te kragtig vir die res van die motor. Dit het gelyk asof dit altyd op die koudste nag van die maand gebeur het, en dan moes ek na die skrootwerf toe gaan om ’n ander as te koop. Ek kon dit mettertyd sonder moeite vervang.”
“Moenie die rantsoenkaarte vergeet nie”, sê Marion. “Alles was gerantsoeneer—vleis, brandstof, motorbande, alles. Elke keer wanneer ons ’n nuwe toewysing gekry het, moes ons by die plaaslike raad vir ’n rantsoenkaart aansoek doen. Dit het soms maande geduur om een te kry, en wanneer ons uiteindelik ons kaart gekry het, was ons so te sê al weer op pad na ons volgende toewysing waar ons weer van vooraf moes begin. Maar Jehovah het altyd vir ons gesorg.”
[Prent]
Ek en Marion saam met Doris (links) en Louise, 2000
[Prent op bladsy 25]
Saam met my ma in 1918, toe ek 11 was
[Prent op bladsy 26]
Saam met Louise, Marion en Doris in 1948 toe die meisies gedoop is
[Prent op bladsy 26]
Ons troufoto, Oktober 1928
[Prent op bladsy 26]
Ek en my dogters (heel links en heel regs) by die Yankee-stadion, 1955