Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verbly jou in die kennis van Jehovah

Verbly jou in die kennis van Jehovah

Verbly jou in die kennis van Jehovah

“Gelukkig is . . . dié wat die woord van God hoor en dit nakom!”—LUKAS 11:28.

1. Wanneer het Jehovah met mense begin kommunikeer?

 JEHOVAH is lief vir mense en stel opreg belang in hulle welsyn. Daarom is dit nie verbasend dat hy met hulle kommunikeer nie. Hierdie kommunikasie het in die tuin van Eden begin. Volgens Genesis 3:8 (NW) het Adam en Eva eenkeer, “omstreeks die tyd van die dag wanneer daar ’n briesie waai”, “die stem gehoor van Jehovah God”. Volgens party impliseer dit dat dit Jehovah se gewoonte was om op daardie tyd, moontlik elke dag, met Adam te kommunikeer. Hoe dit ook al sy, die Bybel toon duidelik dat God nie net tyd geneem het om aan die eerste mens instruksies te gee nie, maar ook om hom te leer wat hy moes weet om sy verantwoordelikhede na te kom.—Genesis 1:28-30.

2. Hoe het die eerste egpaar Jehovah se leiding verwerp, en wat was die gevolg?

2 Jehovah het Adam en Eva lewe asook gesag oor die diere en oor die hele aarde gegee. Daar was net een verbod—hulle moes nie van die boom van kennis van goed en kwaad eet nie. Onder Satan se invloed was Adam en Eva egter ongehoorsaam aan God se gebod (Genesis 2:16, 17; 3:1-6). Hulle het verkies om onafhanklik op te tree en het vir hulleself besluit wat reg en wat verkeerd was. Sodoende het hulle die leiding van hulle liefdevolle Skepper dwaaslik verwerp. Dit het rampspoedige gevolge vir hulle en vir hulle ongebore nakomelinge gehad. Adam en Eva het oud geword en uiteindelik sonder enige hoop op ’n opstanding gesterf. Hulle nakomelinge het sonde en die gevolg daarvan, die dood, geërf.—Romeine 5:12.

3. Waarom het Jehovah met Kain gekommunikeer, en hoe het Kain daarop gereageer?

3 Ten spyte van die opstand in Eden het Jehovah nog steeds met sy menseskepping gekommunikeer. Kain, die eersgebore seun van Adam en Eva, het gevaar geloop om deur sonde oormeester te word. Jehovah het hom gewaarsku dat hy op moeilikheid afstuur en vir hom gesê om ‘goed te doen’. Kain het hierdie liefdevolle raad in die wind geslaan en sy broer vermoor (Genesis 4:3-8). Die eerste drie mense op aarde het dus die duidelike riglyne verwerp van hulle Lewegewer, die God wat sy knegte leer sodat hulle hulleself kan bevoordeel (Jesaja 48:17, NW). Hoe teleurstellend moes dit tog vir Jehovah gewees het!

Jehovah openbaar hom aan manne van die ou tyd

4. Waarvan was Jehovah seker in verband met Adam se nakomelinge, en watter boodskap van hoop het hy gevolglik gegee?

4 Hoewel Jehovah alle reg gehad het om kommunikasie met mense te beëindig, het hy dit nie gedoen nie. Hy was seker dat party van Adam se nakomelinge wyslik op Sy leiding sou ag gee. Toe Jehovah byvoorbeeld oordeel oor Adam en Eva uitgespreek het, het hy voorspel dat ’n “saad” sou kom wat die Slang, Satan die Duiwel, sou teëstaan. Mettertyd sou Satan se kop vermorsel word (Genesis 3:15). Hierdie profesie was ’n blye boodskap van hoop vir “dié wat die woord van God hoor en dit nakom”.—Lukas 11:28.

5, 6. Op watter maniere het Jehovah voor die eerste eeu G.J. met sy volk gekommunikeer, en hoe het dit hulle tot voordeel gestrek?

5 Jehovah het sy wil bekend gemaak aan getroue aartsvaders van die oud tyd, soos Noag, Abraham, Isak, Jakob en Job (Genesis 6:13; Exodus 33:1; Job 38:1-3). Later het hy deur middel van Moses aan die nasie Israel ’n hele regskode gegee. Die Mosaïese Wet het hulle op baie maniere tot voordeel gestrek. Deur dit te onderhou, is Israel van alle ander nasies afgesonder as God se spesiale volk. As die Israeliete die Wet gehoorsaam het, het God hulle verseker, sou hy hulle seën, nie net materieel nie, maar ook geestelik, deur hulle ’n koninkryk van priesters, ’n heilige nasie, te maak. Die Wet het selfs dieetkundige en sanitêre voorskrifte neergelê wat goeie gesondheid bevorder het. Maar Jehovah het ook teen die tragiese gevolge van ongehoorsaamheid gewaarsku.—Exodus 19:5, 6; Deuteronomium 28:1-68.

6 Mettertyd is ander geïnspireerde boeke by die Bybelkanon gevoeg. Geskiedkundige verslae het van Jehovah se handelinge met nasies en volke vertel. Poëtiese boeke het sy eienskappe pragtig beskryf. Profetiese boeke het voorspel hoe Jehovah se wil in die toekoms volbring sou word. Getroue manne van die ou tyd het hierdie geïnspireerde geskrifte noukeurig bestudeer en toegepas. Een van hulle het geskryf: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Vir dié wat bereid was om te luister, het Jehovah onderrigting en verligting voorsien.

Die lig word helderder

7. Waarvoor was Jesus hoofsaaklik bekend, al het hy wonderwerke verrig, en waarom?

7 Teen die eerste eeu het Joodse godsdiensgroepe mensetradisies by die Wet gevoeg. Die Wet is verkeerd toegepas, en in plaas van ’n bron van verligting te wees, het dit ’n las geword as gevolg van daardie tradisies (Matteus 23:2-4). Maar in 29 G.J. het Jesus as die Messias verskyn. Hy moes nie net sy lewe ter wille van die mensdom gee nie, maar ook ‘van die waarheid getuig’. Hoewel hy wonderwerke verrig het, was hy hoofsaaklik bekend as “die Leermeester”. Sy onderrigting was soos ’n lig wat geskyn het deur die geestelike duisternis waarin mense se verstande gehul was. Jesus het self tereg gesê: “Ek is die lig van die wêreld.”—Johannes 8:12; 11:28; 18:37.

8. Watter geïnspireerde boeke is in die eerste eeu G.J. geskryf, en hoe het dit vroeë Christene tot voordeel gestrek?

8 Later het die Evangelieverslae, vier geskrewe verslae van Jesus se lewe, bygekom, asook die boek Handelinge, ’n verslag oor die verspreiding van die Christelike godsdiens ná Jesus se dood. Daar was ook geïnspireerde briewe wat deur Jesus se dissipels geskryf is, sowel as die profetiese boek Openbaring. Hierdie boeke, tesame met die Hebreeuse Geskrifte, het die Bybelkanon voltooi. Met behulp van hierdie geïnspireerde biblioteek kon Christene “saam met al die heiliges verstandelik . . . begryp wat die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die waarheid is (Efesiërs 3:14-18). Hulle kon “die denke van Christus” hê (1 Korintiërs 2:16). Daardie vroeë Christene het nietemin nie elke aspek van Jehovah se voornemens ten volle verstaan nie. Die apostel Paulus het aan medegelowiges geskryf: “Nou sien ons deur middel van ’n metaalspieël in vae omtrekke” (1 Korintiërs 13:12). So ’n spieël sou ’n vae beeld terugkaats, maar nie al die besonderhede nie. ’n Vollediger begrip van God se Woord sou eers later verkry word.

9. Watter verligting het gedurende “die laaste dae” plaasgevind?

9 Vandag lewe ons in ’n tyd wat “die laaste dae” genoem word, wat gekenmerk word deur ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Die profeet Daniël het aangaande hierdie tyd voorspel dat ‘die ware kennis oorvloedig sou word’ (Daniël 12:4, NW). Gevolglik het Jehovah, die Groot Kommunikeerder, opregtes van hart gehelp om die betekenis van sy Woord te verstaan. Menigtes mense verstaan nou dat Christus Jesus in 1914 in die onsigbare hemele gekroon is. Hulle weet ook dat hy binnekort ’n einde aan alle goddeloosheid sal maak en die aarde in ’n wêreldwye paradys sal omskep. Hierdie belangrike aspek van die goeie nuus van die Koninkryk word nou wêreldwyd verkondig.—Matteus 24:14.

10. Hoe het mense deur die eeue heen op Jehovah se raad gereageer?

10 Ja, deur die geskiedenis heen het Jehovah sy wil en voorneme aan mense op die aarde bekend gemaak. Die Bybelverslag vertel van baie wat geluister het, Goddelike wysheid toegepas het en daarvoor geseën is. Dit vertel van ander wat God se liefdevolle raad verwerp het en die rampspoedige weg van Adam en Eva gevolg het. Jesus het hierdie situasie toegelig toe hy van twee simboliese paaie gepraat het. Die een lei na vernietiging. Dit is breed en wyd, baie is daarop en hulle verwerp God se Woord. Die ander pad lei na die ewige lewe. Dit is die smal pad, en dié wat daarop is, is min, maar hulle neem die Bybel aan soos dit werklik is, as die Woord van God, en lewe in ooreenstemming daarmee.—Matteus 7:13, 14.

Waardeer wat ons het

11. Waarvan is ons kennis van die Bybel en die feit dat ons dit glo ’n bewys?

11 Is jy onder diegene wat die pad gekies het wat na die lewe lei? Dan sal jy ongetwyfeld daarop wil bly. Hoe kan jy dit doen? Deur gereeld en met waardering na te dink oor die seëninge wat jy geniet omdat jy Bybelwaarhede ken. Die blote feit dat jy positief op die goeie nuus gereageer het, is ’n bewys van God se seën. Jesus het dit getoon toe hy in gebed tot sy Vader gesê het: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge vir die wyses en intellektuele verberg en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Matteus 11:25). Vissermanne en belastinggaarders het verstaan wat Jesus geleer het, terwyl hooggeleerde godsdiensleiers dit nie verstaan het nie. Jesus het verder gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). As jy kennis van die Bybel ingeneem het en jy die leringe daarin glo en gehoorsaam, is dit ’n bewys dat Jehovah jou getrek het. Dit is rede om jou te verbly.

12. In watter opsigte gee die Bybel verligting?

12 God se Woord bevat waarhede wat ons vrymaak en verlig. Diegene wat volgens Bybelkennis lewe, word vrygemaak van bygelowe, valse leerstellings en die onkunde waarin miljoene mense lewe. Omdat ons byvoorbeeld die waarheid omtrent die siel ken, is ons vrygemaak van enige vrees dat die dooies ons kwaad kan aandoen of dat ons afgestorwe dierbares ly (Esegiël 18:4). Omdat ons die waarheid omtrent bose engele ken, help dit ons om die gevare van spiritisme te vermy. Die opstandingsleer is bemoedigend vir diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het (Johannes 11:25). Bybelprofesieë toon vir ons waar ons in die tydstroom is en gee ons vertroue in God se beloftes vir die toekoms. Dit versterk ook ons hoop om vir ewig te lewe.

13. Hoe bevoordeel dit ons fisies as ons aan God se Woord gehoorsaam is?

13 Die Goddelike beginsels in die Bybel leer ons om ’n lewe te lei wat fisiese voordele meebring. Ons leer byvoorbeeld om gebruike te vermy wat ons liggaam verontreinig, soos die gebruik van tabak en ander dwelms. Ons vermy alkoholmisbruik (2 Korintiërs 7:1). Gehoorsaamheid aan God se sedewette dien as ’n beskerming teen seksueel oordraagbare siektes (1 Korintiërs 6:18). Deur ag te slaan op God se raad om die liefde vir geld te vermy, boet ons nie ons gemoedsrus in, soos baie wat rykdom najaag, al gedoen het nie (1 Timoteus 6:10). In watter opsigte is jy fisies bevoordeel omdat jy God se Woord in jou lewe toepas?

14. Watter invloed het die heilige gees op ons lewe?

14 As ons volgens God se Woord lewe, ontvang ons Jehovah se heilige gees. Ons kweek ’n Christelike persoonlikheid aan wat deur aantreklike eienskappe soos barmhartigheid en medelye gekenmerk word (Efesiërs 4:24, 32). God se gees bring ook die vrug daarvan in ons voort—liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22, 23). Hierdie eienskappe bevorder gelukkige en betekenisvolle verhoudings met ander, onder andere ons gesinslede. Ons ontwikkel innerlike krag wat ons help om teëspoed moedig te verduur. Kan jy sien hoe die heilige gees jou lewe ten goede beïnvloed het?

15. Hoe word ons bevoordeel namate ons ons lewe in ooreenstemming met God se wil bring?

15 Namate ons ons lewe in ooreenstemming met God se wil bring, versterk ons ons verhouding met Jehovah. Ons oortuiging dat hy ons verstaan en liefhet, word versterk. Ons leer deur ondervinding dat hy ons gedurende moeilike tye ondersteun (Psalm 18:19). Ons besef dat hy werklik na ons gebede luister (Psalm 65:3). Ons leer om op sy leiding te vertrou, oortuig dat dit ons sal bevoordeel. En ons het die wonderlike hoop dat God op sy bestemde tyd sy getroue knegte tot volmaaktheid sal verhef en hulle sy gawe van ewige lewe sal gee (Romeine 6:23). “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”, het die dissipel Jakobus geskryf (Jakobus 4:8). Voel jy dat jou verhouding met Jehovah sterker geword het namate jy nader aan hom gekom het?

’n Onvergelyklike skat

16. Watter veranderinge het party eerste-eeuse Christene aangebring?

16 Paulus het geesgesalfde Christene van die eerste eeu daaraan herinner dat party van hulle voorheen hoereerders, egbrekers, homoseksuele, diewe, gierigaards, dronkaards, kwaadsprekers en afpersers was (1 Korintiërs 6:9-11). Bybelwaarheid het hulle groot veranderinge laat aanbring; hulle is “skoon gewas”. Probeer jou voorstel hoe jou lewe sou gewees het as jy nie die bevrydende waarhede in die Bybel geleer het nie. Die waarheid is beslis ’n onvergelyklike skat. Hoe bly is ons tog dat Jehovah met ons kommunikeer!

17. Hoe is Jehovah se Getuies by Christelike vergaderinge geestelik gevoed?

17 Dink verder aan watter seën ons veelrassige broederskap is! “Die getroue en verstandige slaaf” voorsien geestelike voedsel op die regte tyd, wat Bybels, tydskrifte en ander publikasies in baie tale insluit (Matteus 24:45-47). Gedurende die jaar 2000 het Jehovah se Getuies in baie lande by hulle gemeentelike vergaderinge glanspunte van agt groot boeke van die Hebreeuse Geskrifte hersien. Hulle het gepeins oor die lewe van 40 Bybelkarakters wat in Insight on the Scriptures bespreek word. Hulle het ongeveer ’n kwart van die boek Die grootste mens wat nog geleef het en byna die hele boek Gee ag op Daniël se profesie! bestudeer. Benewens 52 studieartikels is 36 ander artikels uit Die Wagtoring bespreek. Verder is Jehovah se volk met 12 nommers van Ons Koninkryksbediening asook weeklikse openbare toesprake oor ’n verskeidenheid Bybelonderwerpe gevoed. Wat ’n skat van geestelike kennis is tog beskikbaar gestel!

18. In watter opsigte word ons in die Christelike gemeente gehelp?

18 Regoor die wêreld voorsien meer as 91 000 gemeentes ondersteuning en bemoediging deur vergaderinge en assosiasie. Ons ontvang ook die ondersteuning van ryp mede-Christene wat bereid is om ons geestelik te help (Efesiërs 4:11-13). Ja, ons word grootliks bevoordeel omdat ons kennis van die waarheid ontvang het. Dit is ’n vreugde om Jehovah te ken en te dien. Hoe waar is die woorde van die psalmis tog wat geskryf het: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—Psalm 144:15NW.

Onthou jy?

• Met wie het Jehovah in voor-Christelike tye gekommunikeer?

• Hoe het geestelike lig helderder geword in die eerste eeu? in hedendaagse tye?

• Watter seëninge geniet ons omdat ons volgens die kennis van Jehovah lewe?

• Waarom verbly ons ons in ons kennis van God?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 8, 9]

Jehovah het sy wil aan Moses, Noag en Abraham bekend gemaak

[Prent op bladsy 9]

In ons dag het Jehovah lig op sy Woord gewerp

[Prente op bladsy 10]

Dink net watter seën ons veelrassige broederskap is!