Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ’n mens die Bybel bestudeer?

Waarom moet ’n mens die Bybel bestudeer?

Waarom moet ’n mens die Bybel bestudeer?

BILL was jonk, atleties gebou, geleerd en finansieel bestendig. Tog was hy nie tevrede nie. Sy lewe het geen doel gehad nie, en dit het hom baie gepla. In sy soeke na ’n doel in die lewe, het hy verskeie godsdienste ondersoek, maar hy het nie gevind waarna hy gesoek het nie. In 1991 het hy een van Jehovah se Getuies ontmoet, wat by hom ’n boek gelaat het oor die Bybel se siening van die doel van die lewe. Reëlings is getref om ’n Bybelstudie met Bill te hou sodat hy hierdie en ander onderwerpe kon ondersoek.

Bill vertel: “Ons het ons eerste studie gehad, en omdat ons die Bybel so dikwels gebruik het, het ek geweet dit is waarna ek gesoek het. Die antwoorde uit die Bybel was baie opwindend. Ná daardie studie het ek bo na die berge toe gery, uit my vragmotor geklim en gejuig van loutere vreugde. Ek was verheug om uiteindelik die antwoorde op my vrae te vind.”

Nie almal wat Bybelwaarhede vind, juig natuurlik letterlik van vreugde nie. Maar om die antwoorde op die lewe se belangrike vrae te vind, is vir baie ’n vreugdevolle ondervinding. Hulle voel soos die man in Jesus se gelykenis wat ’n skat ontdek het wat in ’n veld weggesteek is. Jesus het gesê: “Weens die vreugde wat hy het, gaan hy en verkoop wat hy het en koop daardie veld.”—Matteus 13:44.

Die sleutel tot ’n sinvolle lewe

Bill het oor ’n basiese vraag gewonder: Wat is die doel van die lewe? Filosowe, teoloë en wetenskaplikes worstel al eeue met hierdie vraag. Tallose boeke is deur mense geskryf om hierdie vraag te probeer beantwoord. Hulle pogings was tevergeefs, en baie het tot die slotsom gekom dat die vraag nie beantwoord kan word nie. Tog is daar ’n antwoord. Hoewel dit omvattend is, is dit nie ingewikkeld nie. Dit word in die Bybel verduidelik. Die sleutel tot ’n gelukkige, sinvolle lewe is dit: Ons moet ’n behoorlike verhouding met Jehovah, ons Skepper en hemelse Vader, hê. Hoe verkry ons dit?

Om nader aan God te kom, behels twee oënskynlik teenstrydige aspekte. Diegene wat dit doen, vrees hom en het hom terselfdertyd lief. Kom ons kyk na twee tekste wat hierdie stelling ondersteun. Lank gelede het die wyse koning Salomo ’n noukeurige studie van die mensdom gemaak en sy bevindinge in die Bybelboek Prediker opgeteken. Hy het sy waarnemings saamgevat en geskryf: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker 12:13; ons kursiveer). Eeue later, toe Jesus gevra is wat die grootste gebod is in die Wet wat Moses gegee het, het hy geantwoord: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Klink dit vreemd vir jou dat ons God moet vrees en moet liefhê? Kom ons ondersoek die belangrikheid van vrees en liefde en hoe dit saamwerk om ’n bevredigende verhouding met God teweeg te bring.

Wat die vrees van God beteken

’n Eerbiedige vrees is onontbeerlik as ons God op ’n welgevallige wyse wil aanbid. Die Bybel sê: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid” (Psalm 111:10). Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons . . . voortgaan om onverdiende goedhartigheid te geniet, waardeur ons op welgevallige wyse heilige diens aan God kan verrig met godvrugtige vrees en ontsag” (Hebreërs 12:28). ’n Engel wat deur die apostel Johannes in ’n visioen in die middel van die hemel gesien is, het eweneens sy verkondiging van die goeie nuus met hierdie woorde begin: “Vrees God en gee hom heerlikheid.”—Openbaring 14:6, 7.

Hierdie vrees van God, wat so noodsaaklik is vir ’n sinvolle lewe, is nie dieselfde as ’n morbiede vrees nie. Ons is moontlik bevrees as ons deur ’n wrede en gevaarlike misdadiger bedreig word. Maar ’n vrees vir God—oftewel ’n godvrugtige vrees—is ’n ontsag en diep eerbied vir die Skepper. Dit sluit ook in dat ’n mens ’n gesonde vrees het om God te mishaag omdat hy die Opperregter en die Almagtige is, wat die krag asook die gesag het om die ongehoorsames te straf.

Vrees en liefde werk saam

Jehovah wil nietemin nie hê dat mense hom moet dien bloot omdat hulle ontsag vir hom het nie. Jehovah is by uitstek ’n God van liefde. Die apostel Johannes is beweeg om te skryf: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Jehovah God het baie liefdevol met die mensdom gehandel, en hy wil hê dat mense daarop moet reageer deur hom ook lief te hê. Maar hoe is sulke liefde verenigbaar met godvrugtige vrees? Die twee hou in werklikheid verband met mekaar. Die psalmis het geskryf: “Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees.”—Psalm 25:14NW.

Dink net aan die gevoel van respek en ontsag wat ’n kind vir ’n sterk en wyse vader het. So ’n kind sal terselfdertyd op die vader se liefde reageer. Die kind sal die vader vertrou en hom na sy vader wend vir leiding, vol vertroue dat hierdie leiding tot sy voordeel sal wees. As ons Jehovah eweneens liefhet en vrees, sal ons gehoorsaam wees aan sy leiding, en ons sal daarby baat vind. Let op wat Jehovah aangaande die Israeliete gesê het: “Ag, as hulle maar so ’n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.”—Deuteronomium 5:29.

Ja, godvrugtige vrees lei nie tot slawerny nie, maar tot vryheid, nie tot droefheid nie, maar tot vreugde. Jesaja het oor Jesus geprofeteer: “Hy sal vreugde vind in die vrees van Jehovah” (Jesaja 11:3, NW). En die psalmis het geskryf: “Welgeluksalig is die man wat die HERE vrees, wat ’n groot welbehae in sy gebooie het.”—Psalm 112:1.

Ons kan God natuurlik nie vrees of liefhê as ons hom nie ken nie. Daarom is ’n studie van die Bybel so belangrik. So ’n studie help ons om God se persoonlikheid te verstaan en te besef hoe verstandig dit is om sy leiding te volg. Namate ons nader aan God kom, wil ons graag sy wil doen en word ons beweeg om sy gebooie te hou omdat ons weet dat dit ons tot voordeel sal strek.—1 Johannes 5:3.

Dit verskaf ’n mens vreugde om te weet dat jy op die regte lewensweg is. Dit is die geval met Bill, wat aan die begin genoem is. Hy het onlangs gesê: “In die nege jaar sedert my eerste Bybelstudie het my verhouding met Jehovah gegroei. Die aanvanklike uitbundige vreugde wat ek ervaar het, het voorwaar in ’n vreugdevolle lewenswyse ontwikkel. Ek het nou ’n positiewe uitkyk op die lewe. My dae is gevul met sinvolle bedrywighede, nie met ’n doellose najaging van genot nie. Jehovah het vir my ’n werklike persoon geword, en ek weet dat hy my belange op die hart dra.”

In die volgende artikel sal ons verder sien hoe kennis van Jehovah vreugde en voordele bring aan diegene wat dit in hulle lewe toepas.

[Lokteks op bladsy 5]

As ons nader aan God wil kom, moet ons hom liefhê en vrees

[Prent op bladsy 6]

Jesus was vreugdevol in die vrees van Jehovah