Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy ’n onsterflike gees?

Het jy ’n onsterflike gees?

Het jy ’n onsterflike gees?

“DIE hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer”, het die apostel Paulus geskryf (2 Timoteus 3:16). Ja, die Bybel is ’n boek van waarheid wat van die ware God, Jehovah, af kom.—Psalm 83:18NW.

Aangesien Jehovah die Skepper is van alle dinge, onder andere van die mens, weet hy wat met ons gebeur wanneer ons sterf (Hebreërs 3:4; Openbaring 4:11). En in sy geïnspireerde Woord, die Bybel, het hy betroubare en bevredigende antwoorde gegee op vrae oor die hiernamaals.

Wat is die gees?

In die Bybel beteken die woorde wat met “gees” vertaal word basies “asem”. Maar dit slaan op baie meer as om net asem te haal. Die Bybelskrywer Jakobus sê byvoorbeeld: “Die liggaam sonder gees [is] dood” (Jakobus 2:26). Die gees is derhalwe dit wat die liggaam aan die lewe hou.

Hierdie lewenskrag kan nie net die asem, of lug, wees wat deur die longe beweeg nie. Waarom nie? Want nadat asemhaling opgehou het, is daar nog vir ’n kort rukkie—“’n paar minute”—lewe in die liggaamselle, volgens The World Book Encyclopedia. Dit is waarom iemand bygebring kan word nadat sy liggaamsfunksies opgehou werk het. Maar wanneer die lewensvonk in die liggaamselle geblus is, is alle pogings om iemand weer te laat lewe tevergeefs. Al die asem, of lug, in die wêreld kan nie eens een sel weer laat lewe nie. Die gees is dus die onsigbare lewenskrag—die lewensvonk wat die selle en die persoon aan die lewe hou. Hierdie lewenskrag word deur asemhaling onderhou.—Job 34:14, 15.

Het net mense so ’n gees? Die Bybel help ons om die regte gevolgtrekking in hierdie verband te maak. Die wyse koning Salomo het bevestig dat mense en diere “almal . . . net een gees” het, en hy het gevra: “Wie ken die gees van die mensekinders, of dit opstyg boontoe; en die gees van die diere, of dit neerdaal ondertoe na die aarde?” (Prediker 3:19-21, NW). Daar word dus van diere sowel as mense gesê dat hulle ’n gees het. Hoe is dit moontlik?

Die gees, of lewenskrag, kan vergelyk word met ’n elektriese stroom wat deur ’n masjien of toestel vloei. Die onsigbare elektrisiteit kan verskillende funksies verrig, afhangende van die soort toestel wat dit van krag voorsien. Dit kan byvoorbeeld ’n stoof laat warm word, ’n rekenaar inligting laat verwerk en ’n televisiestel beelde en klank laat voortbring. Tog neem die elektriese stroom nooit die kenmerke aan van die toestelle waardeur dit werk nie. Dit bly slegs ’n krag. Net so neem die lewenskrag nie enige van die kenmerke aan van die skepsele wat daardeur lewend gemaak word nie. Dit het geen persoonlikheid en geen denkvermoë nie. Mense en diere “het net een gees” (Prediker 3:19, NW). Wanneer iemand dus sterf, lewe sy gees nie in ’n ander ryk as ’n geesskepsel voort nie.

Wat is dan die toestand van die dooies? En wat gebeur met die gees wanneer iemand sterf?

“Tot stof sal jy terugkeer”

Toe die eerste mens, Adam, God se gebod opsetlik oortree het, het Hy vir hom gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Waar was Adam voordat Jehovah hom uit die stof gemaak het? Hy was nêrens nie! Hy het eenvoudig nie bestaan nie. Toe Jehovah God dus gesê het dat Adam sou “terugkeer na die aarde”, het hy bedoel dat Adam sou sterf en terugkeer na die elemente in die grond. Adam sou nie na die geesteryk oorgaan nie. By sy dood sou Adam weer eens nie bestaan nie. Sy straf was die dood—die afwesigheid van lewe—nie ’n oorplasing na ’n ander ryk nie.—Romeine 6:23.

Wat van ander wat gesterf het? Die toestand van die dooies word duidelik gemaak in Prediker 9:5, 10, waar ons lees: “Die dooies weet niks nie . . . Daar is geen strewe, geen planne, geen kennis of intelligensie in die graf nie” (Moffatt). Die dood is dus ’n toestand van niebestaan. Wanneer ’n mens sterf, het die psalmis geskryf, “[gaan] sy gees . . . uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan”.—Psalm 146:4.

Dit is duidelik dat die dooies nie bestaan nie. Hulle weet van niks nie. Hulle kan jou nie sien, hoor of met jou praat nie. Hulle kan jou nie help of skaad nie. Jy hoef beslis nie vir die dooies bang te wees nie. Maar hoe is dit dat iemand se gees ‘uitgaan’ wanneer hy sterf?

‘Die gees keer terug na God’

Die Bybel sê dat, wanneer iemand sterf, “die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Prediker 12:7). Beteken dit dat ’n gees letterlik deur die ruimte na God self terugkeer? Glad nie! Volgens die manier waarop die Bybel die woord “terugkeer” gebruik, hoef dit nie noodwendig ’n letterlike verplasing van een plek na ’n ander te wees nie. Daar is byvoorbeeld vir die ontroue Israeliete gesê: “Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare” (Maleagi 3:7). Israel moes na Jehovah ‘terugkeer’ deur ’n verkeerde weg te laat vaar en weer in ooreenstemming met God se regverdige weg te wandel. En Jehovah sou na Israel “terugkeer” in die sin dat hy weer guns aan sy volk sou betoon. In albei gevalle het die “terugkeer” ’n gesindheid behels, nie ’n letterlike verskuiwing van een geografiese ligging na ’n ander nie.

By die dood is daar eweneens geen letterlike verplasing van die aarde na die hemelse ryk wanneer die gees na God “terugkeer” nie. Wanneer die lewenskrag nie meer in iemand is nie, het slegs God die vermoë om dit aan hom terug te gee. Die gees ‘keer dus terug na die ware God’ in die sin dat enige hoop op toekomstige lewe vir daardie persoon nou uitsluitlik by God berus.

Dink byvoorbeeld aan wat die Skrif oor Jesus Christus se dood sê. Die evangelieskrywer Lukas vertel: “Jesus het met ’n harde stem geroep en gesê: ‘Vader, aan u hande vertrou ek my gees toe.’ Toe hy dit gesê het, het hy die laaste asem uitgeblaas” (Lukas 23:46). Toe Jesus se gees uit hom uitgegaan het, was hy nie letterlik op pad hemel toe nie. Jesus is eers op die derde dag uit die dood opgewek, en dit was eers ná 40 dae dat hy na die hemel opgevaar het (Handelinge 1:3, 9). By sy dood het Jesus egter sy gees aan sy Vader oorgegee, met volkome vertroue in Jehovah se vermoë om hom weer lewend te maak.

Ja, slegs God kan iemand weer lewend maak (Psalm 104:30). Watter wonderlike vooruitsigte maak dit tog moontlik!

’n Vaste hoop

Die Bybel sê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Ja, Jesus Christus het belowe dat almal in Jehovah se geheue opgewek, of weer lewend gemaak, sal word. Onder hulle sal beslis diegene wees wat as Jehovah se knegte ’n regverdige weg gevolg het. Maar miljoene ander mense het gesterf sonder om te toon dat hulle God se regverdige standaarde sal volg. Hulle was óf onbekend met Jehovah se vereistes óf het nie genoeg tyd gehad om die nodige veranderinge aan te bring nie. Sulke mense is ook in God se geheue en sal opgewek word, want die Bybel sê: “Daar [gaan] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.”—Handelinge 24:15.

Die aarde is vandag vol haat en onenigheid, geweld en bloedvergieting, besoedeling en siekte. As die dooies op so ’n aarde opgewek sou word, sal enige geluk wat daaruit voortspruit beslis van korte duur wees. Maar die Skepper het belowe dat hy binnekort ’n einde gaan maak aan die huidige wêreldgemeenskap wat onder die beheer van Satan die Duiwel is (Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44; 1 Johannes 5:19). ’n Regverdige mensegemeenskap—“’n nuwe aarde”—sal dan ’n wonderlike werklikheid wees.—2 Petrus 3:13.

Dan sal “geen inwoner . . . sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Selfs vrees vir die dood sal uit die weg geruim word, want God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Wat ’n vooruitsig tog vir diegene “in die gedenkgrafte”!

Wanneer Jehovah goddeloosheid van die aarde af wegvee, sal hy nie die regverdiges saam met die goddelose vernietig nie (Psalm 37:10, 11; 145:20). Trouens, “’n groot skare” mense “uit alle nasies en stamme en volke en tale” sal “die groot verdrukking” oorleef waartydens die huidige goddelose wêreld vernietig sal word (Openbaring 7:9-14). Daar sal dus ’n groot menigte wees om die dooies terug te verwelkom.

Is dit jou begeerte om jou geliefdes weer te sien? Wil jy graag vir ewig in die Paradys op aarde lewe? Dan moet jy juiste kennis inneem van God se wil en voornemens (Johannes 17:3). Dit is Jehovah se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Timoteus 2:3, 4.

[Prent op bladsy 4]

“Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer”

[Prent op bladsy 5]

Die gees kan met elektrisiteit vergelyk word

[Prent op bladsy 7]

Die opstanding sal blywende vreugde meebring