Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is daar lewe ná die dood?

Is daar lewe ná die dood?

Is daar lewe ná die dood?

“AS ’N mens sterwe, sal hy weer lewe?” het die aartsvader Job ongeveer 3 500 jaar gelede gevra (Job 14:14). Dit is ’n vraag waaroor die mens al duisende jare lank wonder. Deur die eeue heen het mense in elke samelewing oor hierdie onderwerp nagedink en met verskillende teorieë vorendag gekom.

Baie wat sê dat hulle Christene is, glo aan ’n hemel en ’n hel. Daarenteen glo Hindoes aan reïnkarnasie. Emir Muawiyah, ’n assistent by ’n Islamitiese godsdienssentrum, lewer kommentaar oor die Moslems se beskouing en sê: “Ons glo dat daar ’n oordeelsdag ná die dood sal wees, wanneer jy voor God, Allah, verskyn, wat sal wees net soos om in ’n hof in te stap.” Volgens die Islamitiese geloof sal Allah dan elkeen se lewenswandel in oënskou neem en hom óf na die paradys óf na die helse vuur stuur.

In Sri Lanka laat Boeddhiste sowel as Katolieke die deure en vensters wawyd oopstaan wanneer een van hulle huismense sterf. ’n Olielamp word aangesteek, en die kis word so neergesit dat die voete van die oorledene na die voordeur wys. Hulle glo dat hierdie maatreëls dit vir die gees van die oorledene makliker maak om uit te gaan.

Volgens Ronald M. Berndt, van die Universiteit van Wes-Australië, glo Australiese inboorlinge dat “mense geestelik onvernietigbaar is”. Sekere Afrikastamme glo dat gewone mense ná die dood spoke word, terwyl vooraanstaande individue voorouergeeste word, wat as onsigbare leiers van die gemeenskap geëer en geraadpleeg sal word.

In party lande is opvattings omtrent die toestand van die dooies ’n samesmelting van plaaslike tradisie en die sogenaamde Christelike godsdiens. Onder baie Katolieke en Protestante in Wes-Afrika is dit byvoorbeeld gebruiklik om spieëls te bedek wanneer iemand sterf sodat niemand daarin kan kyk en die dooie se gees sien nie.

Die antwoorde wat mense gee op die vraag: ‘Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?’ is inderdaad uiteenlopend. Tog is daar een basiese gedagte: Iets binne-in ’n mens is onsterflik en lewe ná die dood voort. Sommige mense glo dat daardie “iets” ’n gees is. Byvoorbeeld, in dele van Afrika en Asië en regdeur die Pasifiese streke van Polinesië, Melanesië en Mikronesië glo baie dat ’n gees—nie ’n siel nie—onsterflik is. Trouens, sekere tale het nie eers ’n woord vir “siel” nie.

Is daar ’n gees in ’n lewende persoon? Verlaat daardie gees werklik die liggaam by die dood? Indien wel, wat gebeur daarmee? En watter hoop is daar vir die dooies? Hierdie vrae moet nie geïgnoreer word nie. Ongeag jou kulturele of godsdiensagtergrond, die dood is ’n feit waarvoor ons almal te staan kom. Hierdie vrae raak jou dus op ’n uiters persoonlike manier. Ons moedig jou aan om die saak te ondersoek.