Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy werklik verdraagsaam?

Is jy werklik verdraagsaam?

Is jy werklik verdraagsaam?

HET jy al ooit kwaad geword oor iemand se verkeerde gedrag? Tree jy gou op wanneer verderflike invloede ’n uitwerking op jou intieme vriende het?

Vinnige en besliste optrede is soms nodig om te keer dat ernstige sonde versprei. Toe skaamtelose sonde in die 15de eeu v.G.J. gedreig het om die Israeliete te besoedel, het Aäron se kleinseun Pinehas daadwerklik opgetree om wat sleg was, te verwyder. Jehovah God het sy optrede goedgekeur en gesê: “Pinehas . . . het my gramskap van die kinders van Israel afgewend deurdat hy hoegenaamd geen mededinging ten opsigte van my onder hulle geduld het nie.”—Numeri 25:1-11NW.

Pinehas het gepas opgetree om te keer dat die ernstige sonde versprei. Maar wat van onbeteuelde verontwaardiging oor die blote menslike tekortkominge van ander? As ons onbesonne of sonder goeie rede sou optree, sou ons nie soseer ’n voorstander van regverdigheid word nie, maar eerder die verpersoonliking van onverdraagsaamheid—iemand wat glad nie die onvolmaakthede van ander in aanmerking neem nie. Wat kan ons help om hierdie slaggat te vermy?

‘Jehovah vergewe al jou oortredings’

Jehovah is “’n God wat jaloers (ywerig) is; ’n God wat nie mededinging duld nie” (Exodus 20:5, NW, voetnoot). Omdat hy die Skepper is, het hy die reg om uitsluitlike toegewydheid van ons te vereis (Openbaring 4:11). En tog is Jehovah verdraagsaam teenoor menslike swakhede. Die psalmis Dawid het derhalwe aangaande hom gesing: “Jehovah is barmhartig en genadig, word nie gou toornig nie en is oorvloedig in liefderyke goedhartigheid. Hy sal nie vir altyd verwyt nie . . . Hy het nie met ons gehandel volgens ons sondes nie; ook het hy nie volgens ons oortredings oor ons gebring wat ons verdien nie.” Ja, as ons berouvol is, ‘vergewe God al ons dwalinge’.—Psalm 103:3, 8-10NW.

Omdat Jehovah die sondige natuur van mense verstaan, sal hy berouvolle oortreders nie “altyd verwyt” nie (Psalm 51:7; Romeine 5:12). Trouens, dit is sy voorneme om sonde en onvolmaaktheid te verwyder. Totdat dit ten volle verwesenlik is, bring God nie oor ons “wat ons verdien” nie, maar vergewe hy ons eerder genadiglik op grond van Jesus Christus se losprysofferande. Nie een van ons sou verdien om te lewe as Jehovah nie barmhartigheid betoon wanneer dit gepas is nie (Psalm 130:3). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ons hemelse Vader, wat tereg uitsluitlike toegewydheid vereis, ’n verdraagsame God is!

Balans is nodig

Aangesien die Soewereine Heer van die heelal verdraagsaamheid teenoor onvolmaakte mense betoon, moet ons dit dan nie ook doen nie? Verdraagsaamheid kan gedefinieer word as die ingesteldheid om geduldig te wees met die menings of gebruike van ander. Het ons persoonlik so ’n ingesteldheid—’n neiging om geduldig en toegeeflik te wees wanneer ander onvanpaste dinge sê of doen, maar wat nie growwe sondes is nie?

Ons moet natuurlik nie te verdraagsaam wees nie. Ontsaglike skade word byvoorbeeld gedoen wanneer godsdiensowerhede verdraagsaam is teenoor priesters wat seuns en meisies keer op keer molesteer. “Die kerkowerhede het kindermolestering bloot as gevalle van sonde behandel”, het ’n verslaggewer in Ierland gesê, “en die skuldige priester eenvoudig [na ’n ander plek] verskuif.”

Is die blote verplasing van so ’n man ’n voorbeeld van gepaste verdraagsaamheid? Beslis nie! Gestel ’n mediese raad laat ’n onverantwoordelike chirurg toe om voort te gaan om aan mense te opereer en verplaas hom net van die een hospitaal na die ander, selfs al maak hy sy pasiënte dood of vermink hy hulle. ’n Misplaaste gevoel van professionele lojaliteit kan sulke “verdraagsaamheid” tot gevolg hê. Maar wat van die slagoffers wat hulle lewe verloor of ly as gevolg van nalatige of selfs kriminele optrede?

Daar is ook die gevaar dat ’n mens te min verdraagsaamheid kan betoon. Toe Jesus op aarde was, het party Jode, wat as Selote bekend gestaan het, verkeerdelik die voorbeeld van Pinehas gebruik om hulle eie bedrywighede te probeer regverdig. Een van die ekstremistiese metodes van sekere Selote was “om gedurende feesvieringe en soortgelyke geleenthede in Jerusalem met die skare te meng en hulle vyande onverhoeds met dolke te steek”.

As Christene sal ons nooit so ver soos die Selote gaan deur diegene wat ons mishaag het, fisies aan te val nie. Maar lei ’n sekere mate van onverdraagsaamheid daartoe dat ons diegene van wie ons nie hou nie op ander maniere aanval—dalk deur sleg van hulle te praat? As ons werklik verdraagsaam is, sal ons nie sulke kwetsende woorde gebruik nie.

Die eerste-eeuse Fariseërs was nog ’n onverdraagsame groep. Hulle het ander voortdurend veroordeel en glad nie menslike onvolmaaktheid in aanmerking geneem nie. Die trotse Fariseërs het neergesien op die gewone mense deur minagtend van hulle te praat as “vervloekte mense” (Johannes 7:49). Jesus het tereg hierdie eiegeregtige manne veroordeel deur te sê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! want julle gee die tiende van die kruisement en die dille en die komyn, maar julle het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid. Dit was verpligtend om hierdie dinge te doen, maar sonder om die ander te verontagsaam.”—Matteus 23:23.

Deur dit te sê, het Jesus nie die belangrikheid daarvan om die Mosaïese Wet te onderhou, afgewater nie. Hy het bloot getoon dat die “gewigtiger”, of belangriker, aspekte van die Wet vereis het dat dit met redelikheid en barmhartigheid toegepas word. Hoe anders was Jesus en sy dissipels tog as die onverdraagsame Fariseërs en Selote!

Nie Jehovah God of Jesus Christus vergoelik die kwaad nie. Binnekort ‘sal wraak uitgeoefen word op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus nie gehoorsaam nie’ (2 Tessalonisense 1:6-10). Maar in sy ywer vir regverdigheid weerspieël Jesus altyd sy hemelse Vader se geduldige, barmhartige en liefdevolle besorgdheid oor almal wat wil doen wat reg is (Jesaja 42:1-3; Matteus 11:28-30; 12:18-21). Wat ’n uitstekende voorbeeld het Jesus tog vir ons gestel!

Verdra mekaar geduldig

Laat ons, al is ons baie ywerig vir wat reg is, altyd die apostel Paulus se raad toepas: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13; Matteus 6:14, 15). Verdraagsaamheid vereis dat ons mekaar se tekortkominge en foute in hierdie onvolmaakte wêreld verdra. Ons moet redelik wees in wat ons van ander verwag.—Filippense 4:5.

Verdraagsaamheid beteken geensins dat ons oortredinge goedkeur of blind is vir foute nie. Die een of ander aspek van ’n medegelowige se denke of gedrag stem dalk nie heeltemal ooreen met Jehovah se standaarde nie. Hoewel die afwyking moontlik nog nie ernstig genoeg is dat die persoon deur God verwerp sal word nie, kan dit ’n waarskuwingsteken wees dat ’n verandering nodig is (Genesis 4:6, 7). Hoe liefdevol is dit tog wanneer diegene wat geestelik bekwaam is die oortreder in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp! (Galasiërs 6:1). Maar om dit met welslae te kan doen, is dit belangrik dat ’n mens uit besorgdheid optree, en nie met ’n kritiese gees nie.

“Met saggeaardheid en diep respek”

Moet ons geduldig wees met mense wie se godsdiensopvattings van ons s’n verskil? Alle staatskole wat in 1831 in Ierland geopen is, het ’n “Algemene les” op hulle kennisgewingborde gesit, wat lui: “Jesus Christus het nie bedoel dat sy godsdiens deur geweld op mense afgedwing moet word nie. . . . Om met ons bure te stry en hulle sleg te behandel, is nie die manier om hulle te oortuig dat ons reg en hulle verkeerd is nie. Inteendeel, dit sal hulle waarskynlik oortuig dat ons nie ’n Christelike gees het nie.”

Jesus het onderrig en opgetree op ’n manier wat mense tot God se Woord aangetrek het, en ons moet dieselfde doen (Markus 6:34; Lukas 4:22, 32; 1 Petrus 2:21). As ’n volmaakte mens met spesiale godgegewe insig kon hy harte lees. Wanneer dit derhalwe nodig was, kon Jesus snydende veroordelings oor Jehovah se vyande uitspreek (Matteus 23:13-33). Dit was nie onverdraagsaam van hom om dit te doen nie.

Anders as Jesus het ons nie die vermoë om harte te lees nie. Daarom moet ons die apostel Petrus se raad volg: “Heilig die Christus as Here in julle harte, en wees altyd gereed om julle te verdedig voor elkeen wat van julle ’n rede vir die hoop in julle eis, maar doen dit met saggeaardheid en diep respek” (1 Petrus 3:15). As Jehovah se knegte moet ons wat ons glo, verdedig omdat dit stewig op God se Woord gegrond is. Maar ons moet dit op ’n manier doen wat respek toon vir ander en vir die opvattings waarin hulle opreg glo. Paulus het geskryf: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen ’n antwoord behoort te gee.”—Kolossense 4:6.

Jesus het in sy bekende Bergpredikasie gesê: “Alles wat julle . . . wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Laat ons mekaar dus geduldig verdra en respek toon vir diegene aan wie ons die goeie nuus verkondig. As ons ons ywer vir regverdigheid en ons Bybelse verdraagsaamheid in ewewig hou, sal ons Jehovah behaag en waarlik verdraagsaam wees.

[Prent op bladsy 23]

Vermy die onverdraagsame gesindheid van die Fariseërs

[Prent op bladsy 23]

Jesus het sy Vader se verdraagsame gees weerspieël. Doen jy dit?