Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Origines—Hoe het sy leringe die Kerk geraak?

Origines—Hoe het sy leringe die Kerk geraak?

Origines—Hoe het sy leringe die Kerk geraak?

“Die grootste leermeester van die Kerk ná die Apostels.” Só het Hieronimus, die vertaler van die Latynse Vulgaat-Bybel, die derde-eeuse teoloog Origines geprys. Maar nie almal het so ’n hoë agting vir Origines gehad nie. Party het hom as ’n bose bron van dwaalleringe beskou. In die woorde van ’n 17de-eeuse skrywer het Origines se kritici beweer: “Sy leerstellings is oor die algemeen belaglik en skadelik, ’n dodelike gif, soos dié van ’n slang, wat hy in die wêreld uitgespoeg het.” Trouens, ongeveer drie eeue ná sy dood is Origines amptelik ’n ketter verklaar.

WAAROM het Origines bewondering sowel as vyandigheid uitgelok? Watter invloed het hy op die ontwikkeling van kerkleer gehad?

Ywerig vir die Kerk

Origines is in ongeveer 185 G.J. in die Egiptiese stad Aleksandrië gebore. Hy het ’n deeglike opvoeding in die Griekse letterkunde ontvang, maar sy vader, Leonides, het hom verplig om net soveel tyd aan ’n studie van die Skrif te bestee. Toe Origines 17 was, het die Romeinse keiser ’n edik uitgevaardig wat dit ’n misdaad gemaak het om ’n mens se godsdiens te verander. Origines se vader is in die tronk gegooi omdat hy ’n Christen geword het. Origines, wat gevul was met jeugdige ywer, was vasbeslote om by hom in die tronk aan te sluit en ook ’n martelaar te wees. Toe Origines se moeder dit sien, het sy sy klere weggesteek om te keer dat hy die huis verlaat. In ’n brief het Origines sy vader gesmeek: “Moet asseblief nie weens ons van gedagte verander nie.” Leonides het standvastig gebly en is tereggestel, sodat sy gesin behoeftig agtergelaat is. Maar Origines het reeds ver genoeg in sy studies gevorder om sy moeder en ses jonger broers te onderhou deur in die Griekse letterkunde onderrig te gee.

Die keiser wou voorkom dat die Christelike godsdiens versprei. Aangesien sy edik nie net op studente nie, maar ook op onderwysers gemik was, het alle Christelike godsdiensonderrigters uit Aleksandrië gevlug. Toe nie-Christene wat uit die Skrif onderrig wou word, Origines om hulp gevra het, het hy hierdie werk as ’n opdrag van God aanvaar. Baie van sy studente het ’n marteldood gesterf, party selfs voordat hulle hulle studies voltooi het. Origines het homself aan groot gevaar blootgestel deur sy studente openlik te bemoedig, hetsy hulle voor ’n regter of in die tronk was of binnekort tereggestel sou word. Die vierde-eeuse geskiedskrywer Eusebius berig dat Origines “baie moedig was deur hulle met ’n kus te groet” terwyl hulle na hulle dood toe gelei is.

Origines het hom die toorn van baie nie-Christene op die hals gehaal, wat hom verantwoordelik gehou het vir die bekering en dood van hulle vriende. Hy het dikwels gepeupelgeweld en ’n gewelddadige dood net-net vrygespring. Hoewel hy gedwing is om van plek tot plek te trek om sy agtervolgers te ontwyk, het Origines nie opgehou om ander te leer nie. Hierdie vreesloosheid en toegewydheid het Demetrius, die Biskop van Aleksandrië, beïndruk. Toe Origines net 18 jaar oud was, het Demetrius hom dus as die hoof van die skool vir godsdiensonderrig in Aleksandrië aangestel.

Uiteindelik het Origines ’n beroemde geleerde en ’n vrugbare skrywer geword. Party het gesê dat hy 6 000 boeke geskryf het, hoewel dit waarskynlik ’n oordrywing is. Hy is die beroemdste vir sy Hexapla, ’n baie groot uitgawe van die Hebreeuse Geskrifte wat uit 50 dele bestaan het. Origines het die Hexapla in ses parallelle kolomme gerangskik wat bestaan het uit: (1) die Hebreeuse en Aramese teks, (2) ’n Griekse transliterasie van daardie teks, (3) Aquila se Griekse vertaling, (4) Symmachus se Griekse vertaling, (5) die Griekse Septuagint, wat Origines hersien het sodat dit in groter mate met die Hebreeuse teks ooreenstem, en (6) Teodotion se Griekse vertaling. “Met hierdie kombinasie van tekste”, het die Bybelgeleerde John Hort geskryf, “het Origines gehoop om lig te werp op die betekenis van baie Skrifgedeeltes wat ’n Griekse leser sou verwar of mislei as hy net die Septuagint voor hom gehad het.”

Hy ‘gaan verder as die dinge wat geskrywe staan’

Die verwarde godsdiensklimaat van die derde eeu het nietemin ’n diepgaande uitwerking gehad op die manier waarop Origines die Skrif aan ander geleer het. Hoewel die Christendom nog in sy beginstadium was, was dit reeds met onskriftuurlike opvattings besoedel, en die verspreide kerke het ’n verskeidenheid leerstellings geleer.

Origines het van hierdie onskriftuurlike leerstellings aangeneem en dit die lering van die apostels genoem. Maar hy het gevoel dat hy ook oor ander kwessies kon spekuleer. Baie van sy studente het op daardie stadium gesukkel met filosofiese geskille van die tyd. In ’n poging om hulle te help, het Origines ’n noukeurige studie gemaak van die verskillende skole van filosofie wat die verstande van sy jong studente gevorm het. Hy het probeer om sy studente bevredigende antwoorde op hulle filosofiese vrae te gee.

In ’n poging om die Bybel met filosofie te versoen, het Origines grootliks staatgemaak op die allegoriese metode om die Skrif te interpreteer. Hy het aangeneem dat die Skrif altyd ’n geestelike betekenis het, maar nie noodwendig ’n letterlike betekenis het nie. Soos een geleerde gesê het, het dit Origines in staat gestel om “enige niebybelse idees wat by sy eie teologiese stelsel gepas het, uit die Bybel af te lei, terwyl hy bely het (en ongetwyfeld opreg gedink het) dat hy ’n besonder entoesiastiese en getroue vertolker van die gedagtes in die Bybel is”.

’n Brief wat Origines aan een van sy studente geskryf het, gee insig in sy denke. Origines het daarop gewys dat die Israeliete voorwerpe vir Jehovah se tempel uit Egiptiese goud gemaak het. Hierin het hy allegoriese steun gevind vir sy gebruik van Griekse filosofie om die Christelike godsdiens aan ander te leer. Hy het geskryf: “Hoe bruikbaar was die dinge tog vir die kinders van Israel wat hulle uit Egipte gebring het, wat die Egiptenare nie behoorlik gebruik het nie, maar wat die Hebreërs, wat deur die wysheid van God gerig is, vir God se diens gebruik het.” Origines het sodoende sy student aangemoedig om “uit die filosofie van die Grieke te haal wat as ’n studiekursus of as ’n voorbereiding vir die Christelike godsdiens kon dien”.

Hierdie onbeperkte benadering tot Bybelse interpretasie het dit moeilik gemaak om ’n onderskeid te tref tussen Christelike leringe en Griekse filosofie. In sy boek met die titel On First Principles het Origines Jesus byvoorbeeld beskryf as ‘die enigverwekte Seun, wat gebore is, maar sonder enige begin is’. En hy het bygevoeg: ‘Sy verwekking is ewig en altyd. Hy is nie ’n Seun gemaak deurdat hy die asem van die lewe ontvang het nie, deur enige uiterlike daad nie, maar deur God se eie natuur.’

Origines het nie hierdie idee in die Bybel gekry nie, want die Skrif leer dat Jehovah se enigverwekte Seun “die eersgeborene van die hele skepping” en “die begin van die skepping deur God” is (Kolossense 1:15; Openbaring 3:14). Volgens die godsdiensgeskiedskrywer Augustus Neander het Origines by hierdie konsep van “ewige verwekking” uitgekom deur middel van sy “filosofiese onderrigting in die Platoniese skool”. Origines het dus hierdie basiese skriftuurlike beginsel oortree: “Moenie verder gaan as die dinge wat geskrywe staan nie.”—1 Korintiërs 4:6.

Veroordeel as ’n ketter

Gedurende sy vroeë jare as ’n onderwyser het ’n Aleksandrynse Sinode Origines se priesterskap weggeneem. Dit het waarskynlik gebeur omdat biskop Demetrius afgunstig was op Origines se toenemende roem. Origines het na Palestina getrek, waar daar nog eindelose bewondering vir hom was as ’n getroue verdediger van die Christelike leer, en daar het hy voortgegaan om as ’n priester te dien. Trouens, toe “dwaalleringe” in die Ooste versprei het, is sy dienste aangevra om oortredende biskoppe te oortuig om na die ortodoksie terug te keer. Ná Origines se dood in 254 G.J. het hy veral ’n slegte naam gekry. Waarom?

Nadat die sogenaamde Christelike godsdiens ’n vername godsdiens geword het, is dit wat die kerk as ortodokse lering aanvaar het, presieser omskryf. Teoloë van latere geslagte het dus nie baie van Origines se spekulatiewe en soms onnoukeurige filosofiese beskouings aanvaar nie. Sy leringe het derhalwe bittere geskille in die kerk laat ontstaan. In ’n poging om hierdie geskille te besleg en die eenheid te bewaar, het die kerk Origines amptelik aan kettery skuldig bevind.

Origines was nie die enigste een wat foute gemaak het nie. Die Bybel het eintlik ’n algemene afwyking van die suiwer leringe van Christus voorspel. Hierdie afvalligheid het teen die einde van die eerste eeu, ná die dood van Jesus se apostels, begin floreer (2 Tessalonisense 2:6, 7). Uiteindelik het sekere verklaarde Christene hulleself as “ortodoks” gevestig en verklaar dat al die ander “ketters” is. Maar in werklikheid het die Christendom grootliks van die ware Christelike godsdiens afgewyk.

“Valslik so genoemde ‘kennis’”

Ondanks Origines se baie spekulasies bevat sy werke nuttige elemente. Die Hexapla het byvoorbeeld God se naam in sy oorspronklike Hebreeuse vierlettervorm, wat die Tetragrammaton genoem word, behou. Dit dien as ’n belangrike bewys dat vroeë Christene die persoonlike naam van God—Jehovah—geken en gebruik het. ’n Vyfde-eeuse kerkvader met die naam Teofilus het nietemin eenkeer gewaarsku: “Die werke van Origines is soos ’n grasland waarin daar elke soort blom is. As ek ’n mooi blom daar vind, pluk ek dit; maar as enigiets vir my stekelrig lyk, vermy ek dit soos ek ’n doring sou vermy.”

Deur Bybelleringe met Griekse filosofie te vermeng, het Origines se teologie vol dwaalleringe geword, en die gevolge was rampspoedig vir die Christendom. Hoewel die meeste van Origines se wilde spekulasies later verwerp is, het sy beskouings oor die “ewige verwekking” van Christus byvoorbeeld gehelp om die grondslag te lê vir die nie-Bybelse leerstelling van die Drie-eenheid. Die boek The Church of the First Three Centuries sê: “Die voorliefde vir filosofie [wat deur Origines ingebring is] was bestem om nie gou uit te sterf nie.” Met watter gevolg? “Die eenvoud van die Christelike geloof is bederf, en oneindige dwaalleringe het in die Kerk ingestroom.”

Origines kon van sy kant gehoor gegee het aan die apostel Paulus se vermaning en dit vermy het om tot hierdie afvalligheid by te dra deur hom “af [te keer] van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die valslik so genoemde ‘kennis’”. Deur soveel van sy leringe op hierdie “kennis” te baseer, het Origines eerder “van die geloof afgewyk”.—1 Timoteus 6:20, 21; Kolossense 2:8.

[Prent op bladsy 31]

Origines se “Hexapla” toon dat God se naam in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik is

[Erkenning]

Published by permission of the Syndics of Cambridge University Library, T-S 12.182

[Foto-erkenning op bladsy 29]

Culver Pictures