‘Seëninge is op die regverdige’
‘Seëninge is op die regverdige’
“EK WAS jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie”, het die psalmis Dawid op sy oudag gesê (Psalm 37:25). Jehovah God het regverdiges lief en is diep besorg oor hulle. In sy Woord, die Bybel, maan hy ware aanbidders om regverdigheid te soek.—Sefanja 2:3, NW.
Om regverdig te wees, beteken om aan God se standaarde van wat goed en sleg is, te voldoen. Die 10de hoofstuk van die Bybelboek Spreuke moedig ons aan om in ooreenstemming met God se wil op te tree, en in hierdie hoofstuk word daar verwys na die ryk geestelike seëninge vir diegene wat dit doen. Onder hierdie seëninge is ’n oorvloed heilsame geestelike voedsel, lonende en bevredigende werk en ’n goeie verhouding met God en die mens. Kom ons dink derhalwe na oor Spreuke 10:1-14.
’n Goeie aansporing
Die inleidingswoorde van die hoofstuk laat geen twyfel oor wie die skrywer van die volgende deel van die boek Spreuke is nie. Dit lees: “Die spreuke van Salomo.” Koning Salomo van eertydse Israel vestig die aandag op ’n goeie aansporing om die regte weg te volg en sê: “’n Wyse seun maak ’n vader bly, en ’n dwase seun is die droefheid van sy moeder.”—Spreuke 10:1, NW.
Watter droefheid ervaar ouers tog wanneer een van hulle kinders die aanbidding van die ware en lewende God versaak! Die wyse koning sonder die moeder se droefheid uit, moontlik om te kenne te gee dat haar leed dieper is. Dit was beslis die geval met Doris. a Sy vertel: “Toe ons 21-jarige seun die waarheid verlaat het, het dit my en my man, Frank, se hart gebreek. Die emosionele pyn was vir my baie erger as vir Frank. Ná 12 jaar het die wond nog nie genees nie.”
Kinders kan hulle vader se geluk beïnvloed en vir hulle moeder hartseer bring. Mag ons wysheid aan die dag lê en vir ons ouers vreugde bring. En laat ons bowenal ons hemelse Vader, Jehovah, se hart bly maak.
‘Die regverdige word bevredig’
“Skatte deur goddeloosheid verwerf, bring geen voordeel nie”, sê die koning, “maar geregtigheid red van die dood” (Spreuke 10:2). Vir ware Christene wat diep in die tyd van die einde lewe, is hierdie woorde inderdaad kosbaar (Daniël 12:4). Die vernietiging van die goddelose wêreld is om die draai. Geen mensgemaakte sekuriteit—materieel, finansieel of militêr—sal beskerming bied gedurende die naderende “groot verdrukking” nie (Openbaring 7:9, 10, 13, 14). Slegs “die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly” (Spreuke 2:21). Mag ons dan aanhou om “eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek”.—Matteus 6:33.
Knegte van Jehovah hoef nie vir die beloofde nuwe wêreld te wag om God se seëninge te geniet nie. “Die HERE laat die regverdige nie honger ly nie, maar die begeerlikheid van die goddelose stoot Hy weg” (Spreuke 10:3). Jehovah het ’n oorvloed geestelike voedsel deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien (Matteus 24:45). Die regverdige het beslis rede om te “jubel, omdat hulle hart vrolik is” (Jesaja 65:14). Kennis is aangenaam vir sy siel. Om na geestelike skatte te soek, is vir hom ’n genot. Die goddelose ken nie hierdie vreugde nie.
‘Vlytigheid maak ’n mens ryk’
Die regverdige word op nog ’n manier geseën. “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk. Hy wat in die somer wegbêre, is ’n verstandige seun; hy wat vas slaap in die oestyd, is ’n seun wat skande maak.”—Spreuke 10:4, 5.
Die koning se woorde aan die werkers gedurende die oes is veral betekenisvol. Die oestyd is nie ’n tyd om in te sluimer nie. Dit is ’n tyd om vlytig en lang ure te werk. Trouens, dit is ’n dringende tyd.
Jesus het die oes van mense, nie van graan nie, in gedagte gehad toe hy vir sy dissipels gesê het: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes [Jehovah God] om werkers in sy oes uit te stuur” (Matteus 9:35-38). In die jaar 2000 het meer as 14 miljoen die herdenking van Jesus se dood bygewoon—meer as twee keer die aantal Getuies van Jehovah. Wie kan dus ontken dat ‘die lande wit is om geoes te word’? (Johannes 4:35). Ware aanbidders vra die Heer vir meer werkers, terwyl hulle in ooreenstemming met hulle gebede hulle kragtig in die dissipelmaakwerk inspan (Matteus 28:19, 20). En hoe ryklik het Jehovah tog nie hulle pogings geseën nie! Gedurende die 2000-diensjaar is meer as 280- 000 nuwelinge gedoop. Hulle probeer ook om onderrigters van God se Woord te word. Mag ons in hierdie oestyd vreugde en tevredenheid ervaar deur ’n volle deelname aan die dissipelmaakwerk te hê.
‘Seëninge is daar op sy hoof’
“Seëninge is daar op die hoof van die regverdige,” sê Salomo verder, “maar die mond van die goddelose verberg geweld.”—Spreuke 10:6.
Die een wat rein en regverdig van hart is, gee voldoende bewys van sy regverdigheid. Sy spraak is vriendelik en opbouend, hy is positief en vrygewig. Ander ontvang hom graag. So iemand verkry hulle agting—hulle seëninge—in die sin dat hulle goed van hom praat.
’n Goddelose persoon, aan die ander kant, is hatig of kwaadwillig en is hoofsaaklik daarop uit om ander leed aan te doen. Sy spraak kan aangenaam wees en “verberg [dalk] geweld” wat in sy hart opgesluit is, maar uiteindelik maak hy van fisiese geweld of beledigings gebruik (Matteus 12:34, 35). Of anders sal “geweld . . . die mond van die goddelose bedek [of snoer]” (Spreuke 10:6, voetnoot in NW). Dit dui daarop dat die goddelose gewoonlik van ander kry wat hy aan die dag lê, naamlik vyandigheid. Dit bedek, of snoer, as ’t ware sy mond en maak hom stil. Watter seëninge kan so iemand van ander verwag?
“Die nagedagtenis van die regverdige is tot seën,” skryf die koning van Israel, “maar die naam van die goddelose vergaan [“verrot”, NW]” (Spreuke 10:7). Die regverdige word gunstig deur ander onthou, en bowenal deur Jehovah God. Deur sy getrouheid tot in die dood het Jesus “’n naam geërf . . . wat uitnemender is” as dié van die engele (Hebreërs 1:3, 4). Getroue voor-Christelike manne en vroue word vandag deur ware Christene as navolgenswaardige voorbeelde onthou (Hebreërs 12:1, 2). Hoe verskil dit tog nie van die naam van die goddeloses nie, wat walglik word en stink! Ja, “’n naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud” (Spreuke 22:1). Mag ons ’n gunstige naam by Jehovah en ons medemens maak.
‘’n Man van onkreukbaarheid wandel veilig’
Salomo tref ’n onderskeid tussen die wyse en die dwase en sê: “Hy wat wys van hart is, neem die gebooie aan, maar hy wat dwaas van lippe is, kom tot ’n val” (Spreuke 10:8). ’n Wyse persoon weet baie goed dat dit “nie aan ’n man [toebehoort] om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Hy besef hoe belangrik dit is om leiding by Jehovah te soek en God se gebooie geredelik te aanvaar. Daarenteen verstaan die een wat dwaas van lippe is, nie hierdie basiese feit nie. Sy onsinnige gebabbel is sy ondergang.
’n Regverdige persoon geniet ook ’n soort veiligheid wat die goddelose ontwyk. “Hy wat in opregtheid [“onkreukbaarheid”, NW] wandel, wandel veilig, maar hy wat sy weë krom maak, word bekend. Hy wat met sy oog knip, veroorsaak smart, en hy wat dwaas spreek, kom tot ’n val.”—Spreuke 10:9, 10.
’n Man van onkreukbaarheid tree eerlik op. Hy verdien die respek en vertroue van ander. ’n Eerlike persoon is ’n gewaardeerde werknemer en word dikwels met groter verantwoordelikhede toevertrou. Sy eerlike reputasie kan vir hom werk beteken selfs wanneer werk skaars is. Daarbenewens dra sy eerlikheid by tot ’n aangename en vreedsame atmosfeer by die huis (Psalm 34:14, 15). Hy voel veilig wat sy verhouding met sy gesinslede betref. Veiligheid is inderdaad ’n vrug van onkreukbaarheid.
Die situasie is anders vir die persoon wat om selfsugtige gewin oneerlik is. ’n Bedrieër probeer dalk sy onopregtheid agter ’n valse mond of met liggaamstaal verberg (Spreuke 6:12-14). Die knip van sy oog met kwaadwillige of misleidende bedoelings kan vir die slagoffers van sy bedrog groot angs veroorsaak. Maar vroeër of later word die valsheid van so iemand bekend. Die apostel Paulus het geskryf: “Die sondes van party mense is algemeen bekend en lei regstreeks tot ’n oordeel, maar wat ander mense betref, hulle sondes word ook later bekend. Net so is ook die voortreflike werke algemeen bekend, en dié wat anders is, kan nie verborge gehou word nie” (1 Timoteus 5:24, 25). Ongeag wie daarby betrokke is—of dit nou ’n ouer, ’n vriend, ’n huweliksmaat of ’n kennis is—oneerlikheid kom uiteindelik aan die lig. Wie kan ’n man vertrou wat ’n reputasie het dat hy oneerlik is?
‘Sy mond is ’n fontein van lewe’
“Die mond van die regverdige is ’n fontein van lewe,” sê Salomo, “maar die mond van die goddelose verberg geweld” (Spreuke 10:11). Woorde uit die mond kan genees of seermaak. Dit kan iemand verkwik en opwek, of dit kan hom afbreek.
Die koning van Israel het die beweegrede vir woorde wat geuiter word, geïdentifiseer: “Haat verwek twiste, maar liefde bedek al die oortredinge” (Spreuke 10:12). Haat bring twis in die samelewing voort en stook onenigheid. Liefhebbers van Jehovah moet haat uit hulle lewe weer. Hoe? Deur dit met liefde te vervang. “Liefde bedek ’n menigte sondes” (1 Petrus 4:8). Liefde “verdra alles”, dit wil sê “dit bedek alles” (1 Korintiërs 13:7; Kingdom Interlinear). Goddelike liefde verwag nie volmaaktheid van onvolmaakte mense nie. Sulke liefde help ons om nie ander se foute alom bekend te maak nie, maar dit eerder oor te sien, tensy dit ’n ernstige oortreding is. Liefde verdra selfs slegte behandeling in die veldbediening, by ons werksplek of by die skool.
Die wyse koning sê voorts: “Op die lippe van die verstandige word wysheid gevind, maar die roede is vir die rug van die verstandelose” (Spreuke 10:13). Die wysheid van ’n verstandige rig sy voetstappe. Opbouende woorde op sy lippe help ander om in die weg van regverdigheid te wandel. Nóg hy nóg diegene wat na hom luister, hoef—deur lyfstraf—in die regte rigting gedwing te word.
“Lê kennis weg”
Wat help ons woorde om “’n fontein van wysheid” te wees en nie ’n dreunende spruit van onbenullighede nie? (Spreuke 18:4). Salomo antwoord: “Die wyses bewaar kennis as ’n skat, maar die mond van die dwaas is naby ondergang.”—Spreuke 10:14, NW.
Die eerste vereiste is dat ons verstand gevul moet wees met die opbouende kennis van God. Daar is slegs een bron van daardie kennis. Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Ons moet kennis as ’n skat bewaar en in God se Woord delf asof ons na ’n verborge skat soek. Hoe opwindend en lonend is dit tog om hierna te soek!
Wysheid kan slegs op ons lippe gevind word as kennis van die Skrif ook ons hart bereik. Jesus het vir sy luisteraars gesê: “’n Goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is, maar ’n goddelose mens bring uit sy goddelose skat te voorskyn wat goddeloos is; want uit die oorvloed van die hart praat sy mond” (Lukas 6:45). Daarom moet ons gereeld peins oor wat ons leer. Studie en bepeinsing verg weliswaar inspanning, maar hoe geestelik verrykend is so ’n studie tog! Daar is geen rede vir enigeen om die nadelige weg te volg van iemand wat net ’n babbelaar van onbesonne woorde is nie.
Ja, ’n wyse persoon doen wat reg is in God se oë en het ’n goeie invloed op ander. Hy geniet ’n oorvloed geestelike voedsel en het volop te doen in die lonende werk van die Here (1 Korintiërs 15:58). Omdat hy ’n man van onkreukbaarheid is, wandel hy in veiligheid en het hy God se goedkeuring. Die regverdige het inderdaad baie seëninge. Mag ons regverdigheid soek deur ons lewe in ooreenstemming met God se standaarde van goed en sleg te bring.
[Voetnoot]
a Naam is verander.
[Prent op bladsy 25]
Eerlikheid dra by tot ’n gelukkige gesinslewe
[Prent op bladsy 26]
“Die wyse bewaar kennis as ’n skat”