Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volhard in die oeswerk!

Volhard in die oeswerk!

Volhard in die oeswerk!

“Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.”—PSALM 126:5.

1. Waarom moet ons ‘die Heer van die oes vandag smeek om werkers uit te stuur’?

 NÁ Jesus Christus se derde predikingsreis in Galilea het hy vir sy dissipels gesê: “Die oes is groot, maar die werkers is min” (Matteus 9:37). Die situasie was dieselfde in Judea (Lukas 10:2). Maar wat van vandag, byna 2 000 jaar later? Wel, gedurende die afgelope diensjaar het meer as 6 000- 000 Getuies van Jehovah volhard in die figuurlike oeswerk onder die wêreld se 6 000 000 000 mense, waarvan baie “gestroop en rondgegooi [is] soos skape sonder ’n herder”. Jesus se aansporing om “die Heer van die oes [te smeek] om werkers in sy oes uit te stuur”, is dus vandag net so gepas as wat dit eeue gelede was.—Matteus 9:36, 38.

2. Wat bring ons onder mense se aandag?

2 Jehovah God, die Heer van die oes, het die versoek verhoor om meer werkers uit te stuur. En wat ’n vreugde is dit tog om deel te neem aan hierdie oeswerk wat onder God se leiding gedoen word! Hoewel ons min is in vergelyking met die nasies, bring ons ywerige deelname aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk ons onder die wêreld se aandag. In baie lande word ons dikwels in die media gemeld. Wanneer ’n deurklokkie in ’n televisieprogram lui, hoor ’n mens soms die kommentaar dat Jehovah se Getuies by die deur is. Ja, ons Christelike bedrywigheid as figuurlike oeswerkers is baie bekend in die 21ste eeu.

3. (a) Hoe weet ons dat die eerste-eeuse Koninkrykspredikingswerk nie ongemerk gegaan het nie? (b) Waarom kan ons sê dat die engele ons bediening ondersteun?

3 Die wêreld het ook kennis geneem van die eerste-eeuse Koninkrykspredikingswerk en het die verkondigers van die goeie nuus vervolg. Die apostel Paulus het dus geskryf: “Dit lyk vir my of God ons, die apostels, laaste ten toon gestel het as mense wat vir die dood bestem is, want ons [die apostels] het ’n teaterskouspel geword vir die wêreld en vir engele en vir mense” (1 Korintiërs 4:9). Ons volharding as Koninkryksverkondigers ondanks vervolging bring ons eweneens onder die wêreld se aandag en is ook vir die engele van belang. Openbaring 14:6 sê: “Ek [die apostel Johannes] het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk.” Ja, die engele ondersteun ons in ons bediening—ons oeswerk!—Hebreërs 1:13, 14.

“Voorwerpe van haat”

4, 5. (a) Watter waarskuwing het Jesus sy dissipels gegee? (b) Waarom is God se hedendaagse knegte “voorwerpe van haat”?

4 Toe Jesus se apostels as oeswerkers uitgestuur is, het hulle ag geslaan op sy bevel om “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” te wees. Jesus het bygevoeg: “Wees op julle hoede vir die mense; want hulle sal julle aan plaaslike geregshowe oorlewer, en hulle sal julle in hulle sinagoges gesel. Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, tot ’n getuienis vir hulle en die nasies. . . . En julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees; maar wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 10:16-22.

5 Ons is vandag “voorwerpe van haat”, want “die hele wêreld lê in die mag van die bose”, Satan die Duiwel, wat die grootste vyand van God en Sy volk is (1 Johannes 5:19). Ons vyande sien ons geestelike voorspoed, maar weier om dit aan Jehovah toe te skryf. Teenstanders sien ons gelukkige, vriendelike gesigte terwyl ons vreugdevol aan die oeswerk deelneem. Hulle is verwonderd oor ons eenheid! Trouens, hulle erken dit dalk teësinnig wanneer hulle na ander lande reis en vind dat Jehovah se Getuies daar presies dieselfde werk doen as wat hulle in hulle eie land gesien het. Ons weet natuurlik dat Jehovah, ons ondersteuner en die bron van ons eenheid, op sy bestemde tyd selfs aan ons vyande bekend gemaak sal word.—Esegiël 38:10-12, 23.

6. Watter versekering het ons terwyl ons aan die oeswerk deelneem, maar watter vraag ontstaan?

6 Die Heer van die oes het sy Seun, Jesus Christus, “alle gesag in die hemel en op die aarde” gegee (Matteus 28:18). Jehovah gebruik Jesus dus om die oeswerk te rig deur middel van die hemelse engele en die gesalfde “getroue en verstandige slaaf” hier op die aarde (Matteus 24:45-47; Openbaring 14:6, 7). Maar hoe kan ons teenstand van ons vyande die hoof bied en nogtans ons vreugde behou terwyl ons in die oeswerk volhard?

7. Watter gesindheid moet ons probeer behou wanneer ons teëgestaan of vervolg word?

7 Wanneer ons voor teenstand of selfs openlike vervolging te staan kom, moet ons God se hulp vra sodat ons ’n gesindheid soos dié van Paulus kan behou. Hy het geskryf: “Wanneer ons uitgeskel word, seën ons; wanneer ons vervolg word, hou ons uit; wanneer ons beswadder word, smeek ons” (1 Korintiërs 4:12, 13). Hierdie gees, tesame met ons taktvolle openbare bediening, verander soms die gesindheid van ons teenstanders.

8. Hoe stel Jesus se woorde in Matteus 10:28 jou gerus?

8 Ons ywer as oeswerkers word selfs nie gedemp wanneer ons met die dood gedreig word nie. Ons verkondig die Koninkryksboodskap onbevrees en so openlik as moontlik. En ons word bemoedig en gerusgestel deur Jesus se woorde: “Moenie bevrees word vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees hom eerder wat siel sowel as liggaam in Gehenna kan vernietig” (Matteus 10:28). Ons weet dat ons hemelse Vader die Lewegewer is. Hy beloon diegene wat hulle onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf en getrou in die oeswerk volhard.

’n Lewensreddende boodskap

9. Hoe het party op Esegiël se woorde gereageer, en hoe gebeur iets soortgelyks vandag?

9 Toe die profeet Esegiël Jehovah se boodskappe moedig verkondig het aan die “opstandige nasies”—die koninkryke van Israel en Juda—was sommige persone bly om te hoor wat hy te sê gehad het (Esegiël 2:3). “Kyk”, het Jehovah gesê, “jy is vir hulle soos ’n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel” (Esegiël 33:32). Hoewel hulle van Esegiël se woorde gehou het, het hulle nie daarvolgens opgetree nie. Wat gebeur vandag? Wanneer die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle Jehovah se boodskappe moedig verkondig, hou party daarvan om van Koninkrykseëninge te hoor, maar hulle reageer nie met waardering daarop nie, word nie dissipels nie en neem nie aan die oeswerk deel nie.

10, 11. Wat is gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu gedoen om ons lewensreddende boodskap bekend te maak, en met watter resultate?

10 Aan die ander kant het baie gunstig op die oeswerk gereageer en aan die verkondiging van God se boodskappe deelgeneem. Byvoorbeeld, gedurende ’n reeks Christelike byeenkomste van 1922 tot 1928 is oordeelsboodskappe oor Satan se goddelose stelsel duidelik uitgebasuin. Radiostasies het die veroordelings wat by daardie byeenkomste bekend gemaak is, uitgesaai. Daarna het God se volk miljoene gedrukte kopieë daarvan versprei.

11 Gedurende die laat 1930’s is nog ’n vorm van getuieniswerk begin—inligtingsoptogte. Aanvanklik het Jehovah se knegte plakkate gedra wat openbare toesprake aangekondig het. Later het hulle plakkate gedra met slagspreuke soos “Religie is ’n strik en ’n bedrogspel” en “Dien God en Christus die Koning”. Wanneer hulle deur die strate geloop het, het hulle verbygangers se aandag getrek. ‘Dit het baie daartoe bygedra dat Jehovah se Getuies in die kollig gekom het en dat hulle groter vrymoedigheid gekry het’, het ’n broer gesê wat gereeld op die besige strate van Londen, Engeland, aan hierdie werk deelgeneem het.

12. Waarop het ons die aandag in ons bediening gevestig, benewens God se oordeelsboodskappe, en wie werk vandag saam om die goeie nuus te verkondig?

12 Terwyl ons God se oordeelsboodskappe bekend maak, vestig ons ook die aandag op die positiewe aspekte van die Koninkryksboodskap. Ons moedige getuieniswerk op die wêreldtoneel help ons om verdienstelikes te vind (Matteus 10:11). Die meeste van die laaste lede van die gesalfde klas het gedurende die 1920’s en 1930’s op die wekroep van die oeswerkers gereageer. Toe, by ’n byeenkoms in 1935, is die wonderlike nuus bekend gemaak van ’n geseënde toekoms vir “’n groot skare” “ander skape” op ’n paradysaarde (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Hulle het ag geslaan op God se oordeelsboodskappe en werk saam met die gesalfdes om die lewensreddende goeie nuus te verkondig.

13, 14. (a) Watter bemoediging gee Psalm 126:5, 6 ons? (b) Wat sal gebeur as ons aanhou om te saai en nat te gooi?

13 God se oeswerkers, en veral diegene wat vervolg word, vind die woorde in Psalm 126:5, 6 baie bemoedigend: “Die wat met trane saai, sal met gejubel maai. Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.” Die psalmis se woorde oor saai- en maaiwerk toon dat Jehovah besorg was oor die oorblyfsel wat uit gevangenskap in eertydse Babilon teruggekeer het en dat hy hulle geseën het. Hulle was baie bly dat hulle vrygelaat is, maar hulle het dalk geween toe hulle saad in die verwaarloosde grond gesaai het wat gedurende die 70 jaar van ballingskap onbewerk gelê het. Maar diegene wat voortgegaan het om te saai en te bou, het die vrug en bevrediging van hulle werk geniet.

14 Ons huil dalk wanneer ons beproef word of wanneer ons of ons medegelowiges ter wille van regverdigheid ly (1 Petrus 3:14). Aan die begin vind ons moontlik ons oeswerk moeilik omdat ons pogings in die bediening blykbaar niks oplewer nie. Maar as ons aanhou om te saai en nat te gooi, sal God dit laat groei, dikwels bo ons verwagtinge (1 Korintiërs 3:6). Dit word goed toegelig deur die resultate wat ons verspreiding van Bybels en Bybelpublikasies opgelewer het.

15. Gee ’n voorbeeld van hoe nuttig Christenpublikasies in die oeswerk is.

15 Neem die voorbeeld van ’n man met die naam Jim. Toe sy moeder oorlede is, het hy ’n eksemplaar van die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? a tussen haar besittings gekry. Hy het dit met belangstelling gelees. In ’n bespreking met ’n Getuie wat hom op straat genader het, het Jim ingestem dat hy besoek kon word, en dit het tot ’n Bybelstudie gelei. Jim het vinnig geestelike vordering gemaak, hom aan Jehovah toegewy en is gedoop. Hy het vir ander lede van sy gesin vertel wat hy geleer het. Gevolglik het sy suster en broer Jehovah se Getuies geword, en Jim het later die voorreg geniet om as ’n voltydse vrywillige by die Bethel in Londen te dien.

Vervolg en tog vreugdevol

16. (a) Waarom het ons sukses behaal in die oeswerk? (b) Watter waarskuwing het Jesus oor die gevolg van die goeie nuus gegee, maar met watter gesindheid nader ons mense?

16 Waarom was daar soveel sukses in die oeswerk? Omdat gesalfde Christene en hulle metgeselle ag geslaan het op Jesus se opdragte: “Wat ek vir julle in die duisternis vertel, moet julle in die lig sê; en wat julle hoor gefluister word, moet julle van die dakke af verkondig” (Matteus 10:27). Maar ons kan ontberinge te wagte wees, want Jesus het gewaarsku: “Die een broer [sal] die ander broer aan die dood oorlewer, en ’n vader sy kind, en kinders sal teen ouers opstaan en hulle laat doodmaak.” Jesus het verder gesê: “Moenie dink dat ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie; ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar ’n swaard” (Matteus 10:21, 34). Jesus het nie opsetlik verdeeldheid in gesinne veroorsaak nie. Maar die goeie nuus het dit soms tot gevolg gehad. Dieselfde kan van God se hedendaagse knegte gesê word. Wanneer ons gesinne besoek, is dit nie ons bedoeling om verdeeldheid te veroorsaak nie. Ons wil graag hê dat almal die goeie nuus moet aanneem. Ons probeer alle gesinslede dus op ’n vriendelike, simpatieke manier nader sodat ons boodskap inslag sal vind by diegene “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het.—Handelinge 13:48.

17. Hoe is diegene wat God se soewereiniteit ondersteun, afgesonder, en wat is een voorbeeld hiervan?

17 Die Koninkryksboodskap het diegene afgesonder wat God se soewereiniteit ondersteun. Dink byvoorbeeld aan hoe ons medeaanbidders opvallend anders was omdat hulle in die dae van Nasionaal-Sosialisme in Duitsland ‘aan Caesar terugbetaal het wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort’ (Lukas 20:25). Anders as godsdiensleiers en die naamchristene van die kerke van die Christendom, het Jehovah se knegte ’n ferm standpunt ingeneem en geweier om Bybelbeginsels te skend (Jesaja 2:4; Matteus 4:10; Johannes 17:16). Professor Christine King, die skrywer van die boek The Nazi State and the New Religions, het gesê: “Net teen die Getuies het die [Nazi-]regering nie sukses behaal nie, want hoewel hulle duisende doodgemaak het, het die werk voortgegaan, en in Mei 1945 was die beweging van Jehovah se Getuies nog lewendig, terwyl Nasionaal-Sosialisme nie meer bestaan het nie.”

18. Watter gesindheid openbaar Jehovah se volk ten spyte van vervolging?

18 Die gesindheid wat Jehovah se volk openbaar wanneer hulle vervolg word, is inderdaad opmerkenswaardig. Hoewel party sekulêre owerhede beïndruk is deur ons geloof, spreek hulle hulle verbasing uit oor die feit dat ons nie vyandiggesind of haatdraend is nie. Getuies wat die Slagting oorleef het, spreek byvoorbeeld dikwels hulle vreugde en tevredenheid uit wanneer hulle terugdink aan hulle ondervindinge. Hulle weet dat Jehovah hulle “die krag wat bo die normale is”, gegee het (2 Korintiërs 4:7). Die gesalfdes onder ons het die versekering dat hulle “name in die hemele opgeskryf is” (Lukas 10:20). Hulle volharding gee hulle ’n hoop wat nie tot teleurstelling lei nie, en getroue oeswerkers met aardse vooruitsigte het net so ’n vaste oortuiging.—Romeine 5:4, 5.

Volhard in die oeswerk

19. Watter doeltreffende metodes is in die Christelike bediening gebruik?

19 Ons sal nog moet sien hoeveel langer Jehovah ons die figuurlike oeswerk sal laat doen. Intussen moet ons in gedagte hou dat oeswerkers spesifieke metodes het om hulle werk te doen. Ons kan ook daarvan seker wees dat ons welslae sal behaal as ons die beproefde maniere om die predikingswerk te doen getrou volg. Paulus het vir mede-Christene gesê: “Ek versoek julle . . . dringend: word navolgers van my” (1 Korintiërs 4:16). Toe Paulus met die Efesiese ouer manne in Milete vergader het, het hy hulle daaraan herinner dat hy hom nie daarvan weerhou het om hulle “in die openbaar en van huis tot huis” te leer nie (Handelinge 20:20, 21). Paulus se metgesel Timoteus het geleer wat die apostel se metodes was en kon dit gevolglik aan die Korintiërs leer (1 Korintiërs 4:17). God het Paulus se onderrigmetodes geseën, net soos hy ons volharding sal seën in die verkondiging van die goeie nuus in die openbaar en van huis tot huis, tydens herbesoeke, tuisbybelstudies en waar mense ook al gevind kan word.—Handelinge 17:17.

20. Hoe het Jesus getoon dat ’n groot geestelike oes op hande was, en hoe is dit in onlangse jare bewaarheid?

20 Nadat Jesus in 30 G.J. vir ’n Samaritaanse vrou naby Sigar getuig het, het hy van die geestelike oes gepraat. Hy het vir sy dissipels gesê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is om geoes te word. Reeds ontvang die maaier loon en versamel hy vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier hulle saam kan verheug” (Johannes 4:34-36). Miskien het Jesus reeds besef watter resultate sy ontmoeting met die Samaritaanse vrou sou oplewer, want baie het geloof in hom gestel weens haar getuienis (Johannes 4:39). In onlangse jare het verskeie lande beperkings op die werk van Jehovah se Getuies opgehef of wetlike erkenning aan hulle toegestaan, en sodoende nuwe gebiede vir die oeswerk oopgestel. Die gevolg is dat ’n groot geestelike oeswerk nou gedoen word. Trouens, ryk seëninge word wêreldwyd geniet terwyl ons vreugdevol voortgaan om aan die geestelike oes deel te neem.

21. Waarom het ons rede om as vreugdevolle oeswerkers te volhard?

21 Wanneer die oes ryp en gereed is om ingesamel te word, moet werkers met dringendheid optree. Hulle moet sonder uitstel begin werk. Vandag moet ons ywerig en met ’n gevoel van dringendheid werk, want ons lewe in “die tyd van die einde” (Daniël 12:4). Ja, ons kom voor beproewinge te staan, maar daar is ’n groter oes van Jehovah se aanbidders as ooit tevore. Ons dag is derhalwe ’n dag van vreugde (Jesaja 9:2). Laat ons dus, as vreugdevolle werkers, volhard in die oeswerk!

[Voetnoot]

a Deur Jehovah se Getuies uitgegee en versprei.

Hoe sal jy antwoord?

Hoe het die Heer van die oes die versoek om meer werkers verhoor?

Watter gesindheid behou ons, al is ons “voorwerpe van haat”?

Waarom is ons vreugdevol, al word ons vervolg?

Waarom moet ons met ’n gevoel van dringendheid in die oeswerk volhard?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 16, 17]

Die engele ondersteun diegene wat aan die geestelike oes deelneem

[Prent op bladsy 18]

Inligtingsoptogte het die Koninkryksboodskap onder baie se aandag gebring

[Prent op bladsy 18]

Ons plant en gooi nat, maar God laat dit groei