Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

In 1 Petrus 4:3 lees ons dat party Christene voorheen aan “onwettige afgoderye” deelgeneem het. Is alle afgoderye dan nie onwettig en deur God veroordeel en verbied nie?

Ja, in God se oë is alle afgodery onwettig. Diegene wat sy guns soek, kan nie afgodery beoefen nie.—1 Korintiërs 5:11; Openbaring 21:8.

Dit wil egter voorkom of die apostel Petrus in ’n ander sin na afgodery verwys het. Om maar een ding te noem, onder talle eertydse nasies was afgodery nie net algemeen nie, maar dit is ook nie wetlik deur die owerheid beperk nie. Met ander woorde, die wet van die land het nie sulke afgodery verbied nie. Sommige afgodery was selfs deel van die nasionale of regeringsbeleid. In daardie sin het party deelgeneem aan ‘afgodery sonder wetlike beperkings’ voordat hulle Christene geword het (New World Translation, 1950-uitgawe). Neem byvoorbeeld die goue afgodsbeeld wat deur die Babiloniese koning Nebukadnesar opgerig is, maar wat Jehovah se knegte Sadrag, Mesag en Abednego geweier het om te aanbid.—Daniël 3:1-12.

Uit ’n ander oogpunt beskou, talle afgodiese ritusse het dade ingesluit wat geheel en al in stryd is met enige natuurwet of sedelikheidsgevoel wat uit ’n oorgeërfde gewete voortspruit (Romeine 2:14, 15). Die apostel Paulus het van verderflike gebruike gepraat wat “teen die natuur” en ‘onwelvoeglik’ is, en hierdie dinge was dikwels ’n deel van godsdiensritusse (Romeine 1:26, 27). Mans en vroue wat aan onwettige afgodery deelgeneem het, het nie die wetlike beperkings van die menslike natuur nagekom nie. Dit was beslis gepas dat diegene wat Christene geword het daardie verdorwe gebruike gestaak het.

Bo en behalwe dit wat hierbo gemeld word, het Jehovah God die afgoderye veroordeel wat algemeen onder die nie-Jode was. Dit was dus onwettig. aKolossense 3:5-7.

[Voetnoot]

a Die Griekse teks in 1 Petrus 4:3 beteken letterlik “ongeoorloofde afgoderye”. Die frase word op verskillende maniere in Engelse Bybels weergegee, met onder andere “ongeoorloofde afgoderye”, “verbode aanbidding van afgode” en “wettelose afgoderye”.