Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees vreugdevolle oeswerkers!

Wees vreugdevolle oeswerkers!

Wees vreugdevolle oeswerkers!

“Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.”—MATTEUS 9:37, 38.

1. Wat help ons om voort te gaan om God se wil te doen?

 WANNEER ons terugdink aan die dag waarop ons as een van Jehovah se knegte gedoop is, hetsy dit ’n paar jaar of baie jare gelede was, voel dit dalk of dit gister gebeur het. Om Jehovah te loof, het die middelpunt van ons toegewyde lewe geword. Terwyl ons die geleë tyd uitgekoop het om ander te help om die Koninkryksboodskap te hoor en moontlik aan te neem, was vreugdevolle diens aan Jehovah vir ons van die allergrootste belang (Efesiërs 5:15, 16). Tot vandag toe vind ons dat die tyd verbyvlieg wanneer ons besig is en “volop het om in die werk van die Here te doen” (1 Korintiërs 15:58). Hoewel ons probleme ondervind, spoor die vreugde wat ons ervaar omdat ons Jehovah se wil doen, ons aan.—Nehemia 8:10NW.

2. Wat dra by tot die vreugde wat die figuurlike oeswerk ons verskaf?

2 As Christene neem ons deel aan ’n figuurlike oeswerk. Jesus Christus het die insameling van mense vir ewige lewe met ’n oes vergelyk (Johannes 4:35-38). Aangesien ons aan hierdie oeswerk deelneem, sal dit aanmoedigend wees om die vreugde van die vroeë Christenoeswerkers te ondersoek. Ons sal drie faktore hersien wat bydra tot die vreugde wat vandag se oeswerk ons verskaf. Dit is (1) ons boodskap van hoop, (2) die sukses wat ons behaal en (3) ons vredeliewende gesindheid as oeswerkers.

As oeswerkers uitgestuur

3. In watter opsig het Jesus se vroeë volgelinge vreugde ervaar?

3 Hoe het die lewe van die vroeë oeswerkers—veral Jesus se 11 getroue apostels—tog op die dag in 33 G.J. verander toe hulle na ’n berg in Galilea gegaan het om die verrese Christus te ontmoet! (Matteus 28:16). “Meer as vyfhonderd broers” was moontlik by daardie geleentheid teenwoordig (1 Korintiërs 15:6). Die opdrag wat Jesus hulle gegee het, het in hulle ore weerklink. Hy het vir hulle gesê: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Ondanks wrede vervolging het die oeswerk hulle baie vreugde verskaf namate hulle gesien het hoe gemeentes van Christus se volgelinge in die een plek na die ander gestig is. Mettertyd is ‘die goeie nuus verkondig in die hele skepping wat onder die hemel is’.—Kolossense 1:23; Handelinge 1:8; 16:5.

4. Onder watter omstandighede is Christus se dissipels uitgestuur?

4 Jesus het vroeër in sy bediening in Galilea sy 12 apostels bymekaargeroep en hulle uitgestuur om spesifiek te verkondig: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 10:1-7). Hy het self “op ’n reis deur al die [Galilese] stede en dorpies vertrek en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig en elke soort kwaal en elke soort gebrek genees”. Jesus het medelye vir die skare gevoel, “want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:35, 36). Hy is so diep geraak dat hy toe vir sy dissipels gesê het: “Ja, die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes [Jehovah God] om werkers in sy oes uit te stuur” (Matteus 9:37, 38). Die behoefte aan oeswerkers was volgens Jesus dieselfde in Judea toe daar slegs ses maande van sy aardse bediening oor was (Lukas 10:2). By albei geleenthede het hy sy volgelinge as oeswerkers uitgestuur.—Matteus 10:5; Lukas 10:3.

Ons boodskap van hoop

5. Watter soort boodskap verkondig ons?

5 As Jehovah se hedendaagse knegte gee ons vreugdevol gehoor aan die uitnodiging om as oeswerkers te dien. Een faktor wat baie tot ons vreugde bydra, is die feit dat ons ’n boodskap van hoop na die mismoediges en terneergedruktes neem. Wat ’n voorreg het ons tog om, soos Jesus se eerste-eeuse dissipels, die goeie nuus—waarlik ’n boodskap van hoop—aan diegene te verkondig wat “gestroop en rondgegooi [is] soos skape sonder ’n herder”!

6. Aan watter werk het die apostels in die eerste eeu deelgeneem?

6 Teen die middel van die eerste eeu was die apostel Paulus besig om die goeie nuus te verkondig. En sy oeswerk was beslis produktief, want toe hy omstreeks 55 G.J. aan Christene in Korinte geskryf het, het hy gesê: “Broers, ek maak julle dan nou die goeie nuus bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook ontvang het, waarin julle ook staan” (1 Korintiërs 15:1). Die apostels en ander vroeë Christene was ywerige oeswerkers. Hoewel die Bybel nie vir ons sê hoeveel apostels die betekenisvolle gebeure oorleef het wat geëindig het met Jerusalem se vernietiging in 70 G.J. nie, weet ons wel dat die apostel Johannes ongeveer 25 jaar later nog steeds die predikingswerk gedoen het.—Openbaring 1:9.

7, 8. Watter boodskap van hoop verkondig Jehovah se knegte met groter dringendheid as ooit tevore?

7 Daarna het eeue van oorheersing gevolg deur die Christendom se geestelikes, die afvallige “mens van wetteloosheid” (2 Tessalonisense 2:3). Maar teen die einde van die 19de eeu het diegene wat volgens die vroeë Christelike geloof probeer lewe het, die boodskap van hoop aangeneem en die Koninkryk verkondig. Trouens, sedert hierdie tydskrif se eerste nommer (Julie 1879) gepubliseer is, het die woorde “Herald of Christ’s Presence”, “Herald of Christ’s Kingdom” of “Kondig Jehovah se Koninkryk aan” in die titel verskyn.

8 God se hemelse Koninkryk is in 1914 in die hande van Jesus Christus opgerig, en ons verkondig nou die boodskap van hoop met groter dringendheid as ooit tevore. Waarom? Want een van die seëninge van Koninkryksheerskappy is die naderende einde van die huidige goddelose stelsel (Daniël 2:44). Kan daar ’n beter boodskap wees? En wat kan ons groter vreugde verskaf as om deel te neem aan die verkondiging van die Koninkryk voordat die “groot verdrukking” begin?—Matteus 24:21; Markus 13:10.

’n Suksesvolle soektog

9. Watter opdrag het Jesus sy dissipels gegee, en hoe het mense op die Koninkryksboodskap gereageer?

9 Nog ’n faktor wat tot ons vreugde as oeswerkers bydra, is die sukses wat ons behaal in ons soektog na diegene wat dissipels word en by ons in die oeswerk aansluit. In 31-32 G.J. het Jesus sy dissipels die opdrag gegee: “In watter stad of dorpie julle ook al ingaan, ondersoek wie daarin verdienstelik is” (Matteus 10:11). Nie almal was verdienstelik nie, soos gesien kon word uit hulle reaksie op die Koninkryksboodskap. Jesus se dissipels het nietemin die goeie nuus ywerig verkondig waar mense ook al te vinde was.

10. Hoe het Paulus te werk gegaan om na verdienstelikes te soek?

10 Ná Jesus se dood en opstanding is die soeke na verdienstelikes ywerig voortgesit. Paulus het met die Jode in hulle sinagoge en met mense wat op die markplein in Atene was, geredeneer. Toe hy ’n getuienis op die Areopagus in daardie Griekse stad gegee het, het “party manne . . . by hom aangesluit en gelowiges geword, onder wie ook Dionisius, ’n regter van die geregshof van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris, en ander benewens hulle”. Oral waar Paulus gegaan het, het hy ook ’n voorbeeld gestel deur “in die openbaar en van huis tot huis” te getuig.—Handelinge 17:17, 34; 20:20.

11. Watter metodes is jare gelede in die bediening gebruik?

11 Gedurende die laaste dekades van die 19de eeu het gesalfde Christene moedig aan die soeke na verdienstelikes deelgeneem. In ’n artikel met die titel “Gesalf om die predikingswerk te doen” het Zion’s Watch Tower van Julie/Augustus 1881 gesê: “Die goeie nuus word verkondig . . . ‘aan die sagmoediges’diegene wat bereid en in staat is om te hoor, sodat die liggaam van Christus, die mede-erfgename, uit hulle midde geroep kan word.” God se oeswerkers het mense dikwels ontmoet wanneer hulle uit hulle kerke uitgekom het en vir hulle traktate gegee wat skriftuurlike boodskappe bevat het wat bedoel was om ’n gunstige reaksie by verdienstelikes uit te lok. Nadat die doeltreffendheid van hierdie metode van getuieniswerk heroorweeg is, het die Watch Tower van 15 Mei 1903 die oeswerkers aangespoor om die traktate “Sondaeoggende van huis tot huis” te versprei.

12. Hoe het ons die doeltreffendheid van ons predikingswerk verbeter? Lig dit toe.

12 In onlangse jare het ons ons bediening uitgebrei deur nie net by mense se huise nie, maar ook op ander plekke met hulle te praat. Dit is baie doeltreffend in lande waar mense weens ekonomiese toestande en die najaging van ontspanning nie tuis is wanneer ons hulle gewoonlik besoek nie. Toe ’n Getuie in Engeland en haar metgesel sien hoe besoekers gereeld per bus vertrek nadat hulle ’n dag by die see deurgebring het, het hulle die moed bymekaargeskraap om op die bus te klim en eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! vir die passasiers aan te bied. In een maand het hulle 229 tydskrifte versprei. Hulle sê: “Ons is nie bang om by die see of in sakegebiede te getuig nie en vrees ook geen ander uitdagings waarvoor ons moontlik te staan sal kom nie, want ons weet dat Jehovah altyd met ons is.” Hulle het ’n tydskrifroete opgebou, ’n Bybelstudie begin en albei van hulle het aan die hulppionierdiens deelgeneem.

13. Watter aanpassings in ons bediening moet op sommige plekke gemaak word?

13 Namate die soeke na verdienstelikes voortgaan, sal ’n sorgvuldige heroorweging van ons bediening dalk op sommige plekke nodig wees. Hoewel baie Getuies gewoonlik Sondaeoggende van huis tot huis getuig het, vind hulle in sommige gebiede dat dit minder doeltreffend is om mense vroeg by hulle huise te besoek omdat die huisbewoners nog slaap. Deur hulle rooster aan te pas, soek baie Getuies nou later in die dag na verdienstelikes, moontlik ná Christelike vergaderinge. En hierdie soekwerk het inderdaad vrugte opgelewer. Verlede jaar het die aantal Koninkryksverkondigers wêreldwyd met 2,3 persent toegeneem. Dit strek die Heer van die oes tot eer en verbly ons hart.

Bewaar die vrede in die oeswerk

14. Met watter gesindheid verkondig ons ons boodskap, en waarom?

14 Nog ’n rede waarom ons vreugdevol is, hou verband met die vredeliewende gesindheid wat ons in die oeswerk aan die dag lê. “Wanneer julle in die huis ingaan”, het Jesus gesê, “groet die huismense; en as die huis verdienstelik is, laat die vrede wat julle dit toewens daaroor kom” (Matteus 10:12, 13). Die Hebreeuse manier van groet en die ooreenstemmende woord in Bybelse Grieks dra albei die gedagte oor van ‘Mag dit goed gaan met jou’. Ons moet ook so voel teenoor mense aan wie ons die goeie nuus verkondig. Ons hoop dat hulle gunstig op die Koninkryksboodskap sal reageer. Mense wat dit doen, kan met God versoen word wanneer hulle berou oor hulle sondes toon, omdraai en sy wil doen. Vrede met God lei weer tot ewige lewe.—Johannes 17:3; Handelinge 3:19; 13:38, 48; 2 Korintiërs 5:18-20.

15. Hoe kan ons ’n vreedsame gesindheid behou wanneer ons iemand in ons predikingswerk teëkom wat ongunstig reageer?

15 Hoe kan ons ons vrede behou wanneer mense ongunstig reageer? Jesus het gesê: “As [die huis] nie verdienstelik is nie, laat julle vrede na julle toe terugkeer” (Matteus 10:13). Lukas se verslag oor die geleentheid toe die 70 dissipels uitgestuur is, sluit Jesus se volgende woorde in: “As daar ’n vriend van vrede is, sal julle vrede op hom rus. Maar so nie, sal dit na julle toe terugkeer” (Lukas 10:6). Wanneer ons mense met die goeie nuus nader, is dit gepas dat ons dit op ’n vriendelike en vreedsame manier doen. ’n Onverskillige reaksie, ’n klagte, ’n onvriendelike aanmerking deur ’n huisbewoner laat slegs ons vreedsame boodskap ‘na ons terugkeer’. Maar nie een van hierdie dinge beroof ons van ons vrede nie, wat ’n vrug van Jehovah se heilige gees is.—Galasiërs 5:22, 23.

’n Goeie doelwit vir oeswerkers

16, 17. (a) Wat is ons doel wanneer ons herbesoeke doen? (b) Hoe kan ons diegene help wat Bybelvrae het?

16 As oeswerkers is ons verheug om deel te neem aan die insameling van mense vir ewige lewe. En hoe bly is ons tog wanneer iemand vir wie ons getuig gunstig reageer, meer wil leer en “’n vriend van vrede” is! Dalk het hy baie Bybelvrae en kan ons nie al sy vrae tydens een besoek beantwoord nie. Wat kan ons doen, aangesien dit miskien nie gepas sal wees om tydens die eerste besoek te lank te bly nie? Ons kan ’n soortgelyke doelwit hê as wat ongeveer 60 jaar gelede aanbeveel is.

17 “Al Jehovah se Getuies moet voorbereid wees om modelstudies uit die Bybel te hou.” Hierdie woorde het in die derde van ’n reeks instruksieboekies verskyn met die titel Model Study, wat van 1937 tot 1941 uitgegee is. Dit het verder gesê: “Alle [Koninkryks]verkondigers moet hulle ywerig inspan om op elke moontlike manier die mense van welwillendheid te help wat in die Koninkryksboodskap belangstel. Herbesoeke moet by hierdie persone gedoen word om verskeie vrae te beantwoord . . . , en begin dan so gou as moontlik ’n modelstudie.” Ja, ons doen herbesoeke met die doel om ’n tuisbybelstudie te begin en dit gereeld te hou. a ’n Vriendelike gesindheid en liefdevolle besorgdheid oor die belangstellende beweeg ons om goed voor te berei en die studie op ’n doeltreffende wyse te hou.

18. Hoe kan ons nuwelinge help om dissipels van Jesus Christus te word?

18 Met behulp van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei en brosjures soos Wat vereis God van ons? kan ons doeltreffende tuisbybelstudies hou en kan ons sodoende nuwe belangstellendes help om dissipels te word. Terwyl ons daarna streef om die Groot Onderrigter, Jesus Christus, na te volg, sal hierdie Bybelstudente ook waarskynlik leer uit ons vreedsame, vreugdevolle gesindheid, ons opregtheid en ons respek vir Jehovah se standaarde en riglyne. Wanneer ons nuwelinge se vrae beantwoord, moet ons ook alles in ons vermoë doen om hulle te leer hoe hulle diegene kan antwoord wat vir hulle vrae vra (2 Timoteus 2:1, 2; 1 Petrus 2:21). As figuurlike oeswerkers kan ons beslis vreugdevol wees dat daar die afgelope diensjaar gemiddeld 4 766 631 tuisbybelstudies wêreldwyd gehou is. Ons is veral vreugdevol as ons self onder die oeswerkers is wat aan die tuisbybelstudiewerk deelneem.

Hou aan om jou in die oes te verbly

19. Waarom was daar gedurende Jesus se bediening en kort daarna goeie rede om vreugdevol te wees in die oes?

19 Gedurende Jesus se bediening en kort daarna was daar goeie rede om vreugdevol te wees in die oes. Baie het toe gunstig op die goeie nuus gereageer. Pinkster 33 G.J. was veral ’n vreugdevolle geleentheid, want ongeveer 3 000 het ag geslaan op wat Petrus gesê het, Jehovah se heilige gees ontvang en ’n deel van God se nasie van geestelike Israel geword. Trouens, hulle het in getal bly toeneem en oorgeloop van vreugde terwyl “Jehovah voortgegaan [het] om daagliks dié wat gered word by hulle te voeg”.—Handelinge 2:37-41, 46, 47; Galasiërs 6:16; 1 Petrus 2:9.

20. Wat laat ons oorloop van vreugde in ons oeswerk?

20 Gedurende daardie tyd is Jesaja se profesie vervul: “U [Jehovah] het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word” (Jesaja 9:2). Hoewel ons nou sien dat daardie ‘vermenigvuldigde nasie’ van gesalfdes byna voltallig is, loop ons oor van vreugde wanneer ons sien dat die ander oeswerkers jaar ná jaar in getal toeneem.—Psalm 4:8; Sagaria 8:23; Johannes 10:16.

21. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Ons het beslis goeie rede om aan te hou om ons in die oeswerk te verbly. Ons boodskap van hoop, ons soeke na verdienstelikes en ons vredeliewende gesindheid—al hierdie faktore verskaf ons vreugde as oeswerkers. En tog lok dit ’n ongunstige reaksie by baie mense uit. Die apostel Johannes het dit ondervind. Hy is op die eiland Patmos gevange gehou “omdat [hy] oor God gepraat en van Jesus getuig het” (Openbaring 1:9). Hoe kan ons dus ons vreugde behou wanneer ons met vervolging en teenstand te kampe het? Wat sal ons help om die verslegtende gesindheid van baie vir wie ons nou getuig, te verduur? Ons volgende artikel bespreek skriftuurlike hulp om die antwoorde op hierdie vrae te kry.

[Voetnoot]

a Studies is aanvanklik georganiseer op plekke waar daar groepe belangstellendes byeengebring kon word. Maar die studies is spoedig ook met individue en gesinne gehou.—Sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsy 574, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat is die figuurlike oeswerk?

• Watter soort boodskap verkondig ons?

• Waarom is ons soeke na dissipels suksesvol?

• Hoe bewaar ons die vrede in die oeswerk?

• Waarom hou ons aan om ons in die oes te verbly?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 12, 13]

Getuieniswerk in die 1ste en 20ste eeu

[Prente op bladsy 13]

Soos Paulus probeer hedendaagse oeswerkers mense oral bereik

[Prent op bladsy 13]

Wees vriendelik wanneer jy die goeie nuus verkondig