Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dankbaar vir my kosbare herinneringe!

Dankbaar vir my kosbare herinneringe!

Lewensverhaal

Dankbaar vir my kosbare herinneringe!

SOOS VERTEL DEUR DRUSILLA CAINE

Dit was die jaar 1933, en ek het pas tevore met Zanoah Caine getrou wat, soos ek, ’n kolporteur—’n voltydse evangeliedienaar—was. Ek het oorgeloop van opgewondenheid terwyl ek planne gemaak het om by my man in sy toewysing aan te sluit, maar om dit te kon doen, het ek ’n fiets nodig gehad—’n luukse wat ek nie in die moeilike tye gedurende die depressie kon bekostig nie. Wat kon ek doen?

MY SWAERS het van my dilemma gehoor en op vullishope in die omgewing na ou onderdele gesoek om vir my ’n fiets aanmekaar te sit. Hulle het onderdele gekry, en dit het gewerk! Nadat ek leer fietsry het, het ek en Zanoah in die pad geval en opgeruimd deur die Engelse graafskap Worcester en Hereford gery terwyl ons vir almal wat ons teëgekom het, getuig het.

Min het ek besef dat hierdie eenvoudige geloofsdaad sou lei tot ’n lewe vol ryke herinneringe. Die geestelike grondslag van my lewe is egter deur my dierbare ouers gelê.

Moeilike jare van die Groot Oorlog

Ek is in Desember 1909 gebore. Kort daarna het my ma die boek The Divine Plan of the Ages gekry, en in 1914 het my ouers my geneem om die “Fotodrama van die Skepping” in Oldham, Lancashire, te sien. (Albei is uitgegee deur diegene wat nou as Jehovah se Getuies bekend staan.) So klein as wat ek was, kan ek duidelik onthou hoe ek op pad huis toe van vreugde gehuppel het oor wat ek gesien het! Frank Heeley het destyds ’n Bybelstudiegroep in Rochdale begin, waar ons gewoon het. Dit was by hierdie studies dat ons as ’n gesin gehelp is om ’n begrip van die Skrif op te bou.

Die rustigheid van ons lewe is daardie selfde jaar verbreek met die uitbreek van die Groot Oorlog—die Eerste Wêreldoorlog, soos ons dit vandag noem. Die weermag het my pa opgeroep, maar hy het ’n neutrale standpunt ingeneem. In die hof is hy beskryf as “’n baie ordentlike man”, en verskeie briewe is voorgelê van “mans wat verklaar het dat hulle glo sy beswaar teen die opneem van wapens is opreg”, het die plaaslike koerant berig.

Pleks dat my pa ten volle vrygestel is, is hy egter geregistreer as “vrygestel van vegdiens alleenlik”. Hy het onmiddellik ’n voorwerp van smaad geword, en so ook ek en my ma. Uiteindelik is sy klassifisering hersien en moes hy plaaswerk doen, maar sommige boere het die situasie uitgebuit en hom min of niks betaal nie. Om die gesin te onderhou, het my ma—vir ’n karige loon—swaar werk in ’n private wassery gedoen. Tog kan ek nou sien hoe dit my versterk het om in die vormingsjare van my lewe sulke moeilike omstandighede die hoof te moes bied; dit het my gehelp om die belangrike geestelike dinge te waardeer.

’n Klein begin

Daniel Hughes, ’n ywerige Bybelstudent, het kort daarna op die toneel verskyn. Hy was ’n steenkoolwerker in Ruabon, ’n dorp ongeveer 20 kilometer van Oswestry, waarheen ons verhuis het. Oom Dan, soos ek hom genoem het, het met ons gesin in aanraking gebly, en wanneer hy ons besoek het, het hy altyd oor skriftuurlike onderwerpe gepraat. Hy het nooit net oor alledaagse gebeure gesels nie. ’n Bybelstudieklas is in 1920 in Oswestry begin, en in 1921 het oom Dan vir my die boek Die harp van God gegee. Dit was vir my baie kosbaar omdat dit Bybelleringe vir my soveel makliker gemaak het om te verstaan.

Dan was daar Pryce Hughes, a wat later die presiderende bedienaar van die Londense takkantoor van Jehovah se Getuies geword het. Hy het met sy gesin daar naby in Bronygarth, op die Walliese grens, gewoon, en sy suster, Cissie, het ’n goeie vriendin van my ma geword.

Ek onthou die opwinding in 1922 toe ons gevra is om ‘die Koning en sy Koninkryk te adverteer’. Gedurende die daaropvolgende jare het ek, hoewel ek nog op skool was, ywerig aan die verspreiding van die spesiale traktate deelgeneem, veral Ecclesiastics Indicted in 1924. As ek terugdink aan daardie dekade, wat ’n voorreg was dit tog om met soveel getroue broers en suster te assosieer—onder hulle was Maud Clark b en haar metgesel Mary Grant c, Edgar Clay d, Robert Hadlington, Katy Roberts, Edwin Skinner e, asook Percy Chapman en Jack Nathan f, wat albei Kanada toe is om daar met die werk te help.

Die Bybellesing “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” was ’n tydige getuienis in ons uitgestrekte gebied. Op 14 Mei 1922 het Stanley Rogers, ’n familielid van Pryce Hughes, van Liverpool af gekom om hierdie toespraak te hou in Chirk, ’n dorpie net noord van ons, en later daardie aand by The Picture Playhouse in Oswestry. Ek het nog steeds een van die strooibiljette wat spesiaal vir daardie geleentheid gedruk is. Gedurende al hierdie tyd is ons klein groepie voortdurend versterk deur die besoeke van drie reisende opsieners—pelgrims soos ons hulle destyds genoem het—Herbert Senior, Albert Lloyd en John Blaney.

’n Tyd van besluitneming

In 1929 het ek besluit om my te laat doop. Ek was 19 jaar oud en het terselfdertyd voor my eerste groot toets te staan gekom. Ek het ’n jong man ontmoet wie se pa ’n politikus was. Ons was aangetrokke tot mekaar, en hy het my gevra om met hom te trou. Die vorige jaar is die boek Government vrygestel, en ek het dus vir hom een gegee. Maar dit het gou duidelik geword dat hy geensins in ’n hemelse regering, die tema van hierdie boek, belanggestel het nie. Ek het in my studies geleer dat die Israeliete van die ou tyd verbied is om enige huweliksverbintenis met ongelowiges aan te gaan en dat hierdie beginsel op Christene van toepassing is. Hoewel dit moeilik was, het ek dus nie ingestem om met hom te trou nie.—Deuteronomium 7:3, NW; 2 Korintiërs 6:14.

Ek het krag geput uit die apostel Paulus se woorde: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat voortreflik is nie, want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie” (Galasiërs 6:9). Die dierbare oom Dan het my ook gehelp toe hy geskryf het: “In klein en groot beproewinge moet jy Romeine 8 vers 28 onthou”, wat sê: “Ons weet dat God al sy werke ten goede laat saamwerk vir dié wat God liefhet, dié wat volgens sy voorneme die geroepenes is”. Dit was nie maklik nie, maar ek het geweet dat ek die regte besluit geneem het. Daardie jaar het ek as ’n kolporteur begin dien.

Ons aanvaar die uitdaging

In 1931 het ons ons nuwe naam ontvang, Jehovah se Getuies, en in daardie jaar het ons ’n ywerige kampanje gehad waartydens ons die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld gebruik het. ’n Eksemplaar is aan elke politikus, geestelike en sakeman gegee. My gebied het van Oswestry tot by Wrexham gestrek, wat ongeveer 25 kilometer noord daarvandaan was. Dit was ’n uitdaging om so ’n groot gebied te dek.

By ’n streekbyeenkoms die volgende jaar in Birmingham was hulle op soek na 24 vrywilligers. Daar was 24 van ons wat gretig ons naam gegee het om aan ’n nuwe aspek van die diens deel te neem, sonder om te weet wat dit sou wees. Stel jou ons verbasing voor toe ons twee-twee uitgestuur is om dieselfde boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld aan te bied, terwyl ons om ons nek swaar reklameborde gedra het wat die Koninkryk adverteer.

Ek het in die omgewing van die katedraal gewerk en baie selfbewus gevoel, maar ek het myself getroos dat niemand in daardie stad weet wie ek is nie. Die eerste persoon wat my egter genader het, was ’n ou skoolmaat, wat my net aangestaar en toe gevra het: “Wat op aarde doen jy met daardie ding om jou nek?” Daardie ondervinding het my genees van enige mensevrees wat ek dalk gehad het!

Ons verhuis verder noord

In 1933 is ek getroud met Zanoah, ’n wewenaar wat 25 jaar ouer as ek was. Sy eerste vrou was ’n ywerige Bybelstudent, en Zanoah het ná haar dood getrou in sy toewysing gebly. Kort daarna het ons van Engeland af, ongeveer 150 kilometer noord, na ons nuwe gebied in Noord-Wallis verhuis. Ons het bokse, tasse en ander kosbare besittings, wat ons in mandjies gepak het, versigtig op die handvatsels van ons fietse gestapel, en in die raam vasgedruk, maar ons het daar uitgekom! In daardie toewysing was ons fietse onmisbaar—dit het ons oral heen geneem, selfs tot naby die kruin van Cader Idris, ’n Walliese berg wat ongeveer 900 meter hoog is. Dit was so lonend om mense te vind wat daarna gesmag het om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te hoor.—Matteus 24:14.

Kort nadat ons daar aangekom het, het mense vir ons vertel dat ’n sekere Tom Pryce vir hulle getuig het, net soos wat ons gedoen het. Ons het Tom uiteindelik opgespoor in sy blyplek op Long Mountain, naby Welshpool—en hoe verras was ons tog nie! Gedurende my vroeë dae in die predikingswerk het ek die Bybelstudiehulp Reconciliation by hom gelaat. Hy het dit op sy eie bestudeer, na Londen toe geskryf vir nog lektuur en van toe af sy nuutgevonde geloof ywerig aan ander bekend gemaak. Ons het baie ure van aangename kameraadskap geniet, en die drie van ons het dikwels saam studeer om mekaar aan te moedig.

’n Ramp lei tot seëninge

In 1934 is alle kolporteurs naby Noord-Wallis genooi om na die dorp Wrexham toe te gaan om te help met die verspreiding van die boekie Regverdige regeerder. Die dag voordat ons met hierdie spesiale kampanje moes begin, was daar ’n nasionale ramp. ’n Ontploffing by die Gresford-steenkoolmyn, drie kilometer noord van Wrexham, het die lewens van 266 mynwerkers geëis. Daar was meer as 200 vaderlose kinders en 160 weduwees.

Ons moes ’n lys maak van die bedroefdes, hulle persoonlik besoek en ’n boekie by hulle laat. Een van die name wat aan my gegee is, was dié van ’n mev. Chadwick wat ’n 19-jarige seun verloor het. Toe ek haar besoek, was haar ouer seun, Jack, by sy ma om haar te vertroos. Hierdie jong man het my herken, maar niks gesê nie. Hy het eers later die boekie gelees en toe The Final War begin soek, ’n ander boekie wat ek jare vantevore by hom gelaat het.

Jack en sy vrou, May, het uitgevind waar ek woon en nog lektuur kom haal. In 1936 het hulle ingestem om vergaderinge in hulle huis in Wrexham te hou. Ses maande later, ná ’n besoek deur Albert Lloyd, is ’n gemeente gestig, met Jack Chadwick as die presiderende opsiener. Daar is nou drie gemeentes in Wrexham.

Lewe in ’n Sigeuner-woonwa

Tot op daardie stadium het ons maar gebly waar ons ook al huisvesting kon vind terwyl ons van plek tot plek getrek het, maar Zanoah het besluit dat die tyd aangebreek het om ons eie huis te hê, ’n huis wat ons van een plek na die volgende kon sleep. My man was ’n bekwame timmerman van Sigeuner-afkoms, en hy het vir ons ’n Sigeuner-woonwa gebou. Ons het die woonwa Elizabeth genoem, ’n Bybelnaam wat “God van oorvloed” beteken.

Ek onthou veral een plek waar ons gebly het—dit was in ’n boord by ’n stroom. Vir my was dit soos die Paradys! Niks het die geluk bederf van die jare wat ons in daardie woonwa deurgebring het nie, al het dit beperkings gehad. In die koue weer het die beddegoed dikwels aan die sykante van die woonwa vasgevries, en kondensasie was ’n voortdurende probleem. Water moes ook aangedra word, soms nogal ’n hele ent, maar ons het hierdie probleme saam oorkom.

Een winter was ek siek, en ons het min kos en geen geld gehad nie. Zanoah het op die bed gesit, my hand in syne geneem en Psalm 37:25 vir my gelees: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Hy het na my gestaar en gesê: “As iets nie gou gebeur nie, sal ons moet bedel, en ek kan nie sien dat God dit sal toelaat nie!” Toe het hy uitgegaan om vir ons bure te getuig.

Toe Zanoah die middag terugkom om vir my iets te kom maak om te drink, was daar ’n koevert vir hom. Daar was £50 (R500) in, van sy pa af. ’n Paar jaar vantevore is Zanoah valslik daarvan beskuldig dat hy geld verduister het, maar hulle het pas vasgestel dat hy onskuldig was. Hierdie geskenk was om hom daarvoor te vergoed. Hoe tydig tog!

’n Goeie les

Soms leer ons lesse ná verloop van ’n paar jaar. Ter toeligting: Voordat ek in 1927 die skool verlaat het, het ek vir al my klasmaats en onderwysers getuig—behalwe vir een, Lavinia Fairclough. Aangesien niemand belanggestel het in wat ek met my lewe wou doen nie, en aangesien ek in elk geval nie met juffrou Fairclough baie goed oor die weg gekom het nie, het ek besluit om nie vir haar te vertel nie. Stel jou voor hoe verbaas—en verheug—ek was toe my ma ongeveer 20 jaar later vir my vertel dat hierdie onderwyseres al haar ou vriende en leerlinge kom besoek het om vir hulle te vertel dat sy nou een van Jehovah se Getuies is!

Toe ons mekaar weer ontmoet het, het ek aan haar verduidelik waarom ek nie destyds vir haar van my geloof en my beplande loopbaan vertel het nie. Sy het stil geluister en toe gesê: “Ek was altyd op soek na die waarheid. Dit was my lewensdoel!” Hierdie ondervinding was ’n goeie les vir my—om nooit te versuim om vir almal te getuig met wie ek in aanraking kom nie en om nooit iemand vooruit te veroordeel nie.

Nog ’n oorlog—en daarna

Oorlogswolke het weer begin saampak namate die 1930’s ten einde geloop het. Dennis, my broer wat tien jaar jonger as ek is, is vrygestel van militêre diensplig op die voorwaarde dat hy in sy sekulêre werk aanbly. Hy het nooit veel belangstelling in die waarheid getoon nie, daarom het ek en my man van die plaaslike pioniers, Rupert Bradbury en sy broer David, gevra of hulle hom sal besoek. Hulle het dit gedoen, en hulle het die Bybel met hom gestudeer. Dennis is in 1942 gedoop, later het hy ’n pionier geword en in 1957 is hy as ’n reisende opsiener aangestel.

Ons dogter, Elizabeth, is in 1938 gebore, en om in die gesin se behoeftes te voorsien, het Zanoah ons woonwa groter gemaak. Toe ons tweede dogter, Eunice, in 1942 gebore is, het dit verstandig gelyk om ’n permanenter huis te soek. Om dié rede het Zanoah sy pionierdiens vir ’n paar jaar gestaak, en ons het na ’n klein huis naby Wrexham getrek. Later het ons in Middlewich in die aangrensende graafskap Cheshire gaan bly. Daar is my dierbare man in 1956 oorlede.

Ons twee dogters het voltydse evangeliedienaars geword, en albei is gelukkig getroud. Eunice en haar man, ’n ouer man, dien steeds as spesiale pioniers in Londen. Elizabeth se man is ook ’n gemeentelike ouer man, en dit is ’n vreugde vir my om hulle, hulle kinders en my vier agterkleinkinders naby my in Preston, Lancashire, te hê.

Ek is dankbaar dat ek van die voordeur van my woonstel na die Koninkryksaal oorkant die straat kan loop. In onlangse jare het ek met die Goedjarati-sprekende groep geassosieer, wat ook daar vergader. Dit was nie maklik om die taal aan te leer nie, omdat ek nou effens doof is. Dit is soms moeilik om baie van die subtieler tone te hoor, soos wat die jongeres dit kan hoor. Maar dit is ’n interessante uitdaging.

Ek is nog steeds in staat om van deur tot deur te getuig en om Bybelstudies in my huis te hou. Wanneer vriende kom kuier, is dit altyd ’n plesier om van my vroeëre ondervindinge te vertel. Ek is so dankbaar vir my kosbare herinneringe aan die seëninge wat ek ontvang het terwyl ek al byna 90 jaar met Jehovah se volk assosieer.

[Voetnote]

a Pryce Hughes se lewensverhaal, “In Step With the Faithful Organization”, het in The Watchtower, 1 April 1963, verskyn.

b Lewensverhale van hierdie getroue knegte van Jehovah het in vroeëre nommers van Die Wagtoring verskyn.

c Lewensverhale van hierdie getroue knegte van Jehovah het in vroeëre nommers van Die Wagtoring verskyn.

d Lewensverhale van hierdie getroue knegte van Jehovah het in vroeëre nommers van Die Wagtoring verskyn.

e Lewensverhale van hierdie getroue knegte van Jehovah het in vroeëre nommers van Die Wagtoring verskyn.

f Lewensverhale van hierdie getroue knegte van Jehovah het in vroeëre nommers van Die Wagtoring verskyn.

[Prent op bladsy 25]

Strooibiljet wat die Bybellesing “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” adverteer, wat ek op 14 Mei 1922 gehoor het

[Prent op bladsy 26]

Saam met Zanoah kort ná ons troue in 1933

[Prent op bladsy 26]

By “Elizabeth”, ons woonwa wat deur my man gebou is