Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die mag van die gewoonte—Span dit tot jou voordeel in

Die mag van die gewoonte—Span dit tot jou voordeel in

Die mag van die gewoonte—Span dit tot jou voordeel in

DIE man het 12 jaar lank in ’n voorstad van Atene gewoon. Hy het elke dag dieselfde roete van sy werk af huis toe gevolg. Toe het hy na ’n ander voorstad aan die ander kant van die stad getrek. Eendag ná werk het hy soos altyd huis toe gery. Eers toe hy in sy ou buurt was, het hy agterkom dat hy die verkeerde pad geneem het. Hy het uit gewoonte na sy vorige huis gegaan!

Geen wonder dat die mag van die gewoonte soms ons tweede natuur genoem word nie, ’n mag wat ’n kragtige uitwerking op ons lewe het. In hierdie opsig kan gewoontes met vuur vergelyk word. ’n Vuur kan ’n welkome lig in die donker wees, en dit kan ons warm maak en ons kos verhit. Maar vuur kan ook ’n genadelose vyand wees wat lewens en eiendom vernietig. Dieselfde kan van gewoontes gesê word. As dit goeie gewoontes is, is dit baie nuttig. Maar gewoontes kan ook baie skadelik wees.

In die geval van die man wat aan die begin genoem is, het die mag van die gewoonte hom slegs ’n bietjie tyd gekos omdat hy in die stadsverkeer moes sit. Wanneer dit by belangriker sake kom, kan gewoontes ons met sukses beloon of ons op ’n ramp laat afstuur. Kom ons kyk na ’n paar werklike voorbeelde in die Bybel wat toon hoe gewoontes ons diens aan God en ons verhouding met hom kan verbeter of dit kan benadeel.

Bybelse voorbeelde van goeie en slegte gewoontes

Noag, Job en Daniël is almal geseën met ’n hegte verhouding met God. Die Bybel prys hulle weens “hul geregtigheid” (Esegiël 14:14). Dit is interessant dat die lewensweg van al drie manne getoon het dat hulle goeie gewoontes aangekweek het.

Noag is beveel om ’n ark te bou, ’n vaartuig wat langer as ’n rugbyveld en hoër as ’n vyfverdiepinggebou was. So ’n enorme projek sou enige skeepsbouer van die ou tyd oorweldig het. Noag en sy sewe gesinslede het die ark sonder moderne toerusting gebou. Boonop het Noag aangehou om vir sy tydgenote te getuig. Ons kan daarvan seker wees dat hy ook in die geestelike en fisiese behoeftes van sy gesin voorsien het (2 Petrus 2:5). Noag moes goeie werksgewoontes gehad het om dit alles te kon doen. Verder beskryf die Bybelverslag Noag as iemand wat ‘met die ware God gewandel het. Noag het gedoen volgens alles wat Jehovah hom beveel het’ (Genesis 6:9, 22, NW; 7:5, NW). Aangesien hy in die Bybel “onberispelik” genoem word, moes hy ná die Vloed en selfs nadat die opstand teen Jehovah by Babel kop uitgesteek het, voortgegaan het om met God te wandel. Trouens, Noag het reg tot met sy dood op die ouderdom van 950 aangehou om met God te wandel.—Genesis 9:29.

Job se goeie gewoontes het hom gehelp om “vroom en opreg” te wees (Job 1:1, 8; 2:3). Dit was sy gebruik, of gewoonte, om as die gesinspriester op te tree en offerandes ten behoewe van sy kinders ná elk van hulle feesmale te offer ingeval hulle ‘gesondig en God in hulle hart geseën het! So het Job altyd gedoen’ (Job 1:5). In Job se gesin het gebruike wat met Jehovah se aanbidding verband hou ongetwyfeld ’n belangrike rol gespeel.

Daniël het Jehovah regdeur sy lang lewe “met standvastigheid” gedien (Daniël 6:16, 20, NW). Watter goeie geestelike gewoontes het Daniël gehad? Eerstens het hy gereeld tot Jehovah gebid. Ondanks ’n koninklike bevel teen hierdie gebruik het Daniël “drie keer per dag op sy knieë gegaan en gebid en lof gebring voor sy God, net soos hy voorheen gereeld gedoen het” (Daniël 6:10, NW). Hy kon nie van sy gewoonte afsien om tot God te bid nie, selfs wanneer dit lewensgevaarlik was. Hierdie gewoonte het Daniël ongetwyfeld versterk om ’n lewe van uitsonderlike onkreukbaarheid aan God te lei. Daniël het klaarblyklik ook die goeie gewoonte gehad om die opwindende beloftes van God te bestudeer en diep daaroor te peins (Jeremia 25:11, 12; Daniël 9:2). Hierdie goeie gewoontes het hom beslis gehelp om tot die einde toe te volhard en die wedloop om die lewe getrou tot die einde toe te hardloop.

In teenstelling hiermee het Dina sleg gevaar omdat sy ’n slegte gewoonte gehad het. Sy “het gewoonlik uitgegaan om die dogters van die land te besoek”, wat nie aanbidders van Jehovah was nie (Genesis 34:1, NW). Hierdie skynbaar onskuldige gewoonte het rampspoedige gevolge gehad. Eerstens is sy verkrag deur Sigem, ’n jong man wat as “die mees geëerde in die hele huis van sy vader” beskou is. Toe het twee van haar broers uit wraaksug al die manne in die stad doodgemaak. Wat ’n verskriklike nadraai!—Genesis 34:19, 25-29.

Hoe kan ons seker wees dat ons gewoontes ons tot voordeel sal strek en nie sal benadeel nie?

Span gewoontes in

“Gewoontes verseël jou lot”, het een filosoof geskryf. Maar dit hoef nie so te wees nie. Die Bybel toon baie duidelik dat ons kan besluit om ons slegte gewoontes te verander en goeies aan te kweek.

As ’n mens goeie gewoontes het, is dit makliker om ’n Christelike lewenswyse te lei. Alex, ’n Christen van Griekeland, sê: “My gewoonte om by ’n rooster te bly om verskillende takies te doen, spaar my kosbare tyd.” Theophilus, ’n Christen- ouer man, sê dat die gewoonte om dinge te beplan, hom help om produktief te wees. Hy sê: “Ek is heeltemal seker dat ek nie my Christelike verpligtinge suksesvol sou kon nakom as ek nie die gewoonte gehad het om goed te beplan nie.”

As Christene word ons aangespoor om ‘voort te gaan om ordelik in hierdie selfde roetine te wandel’ (Filippense 3:16). ’n Roetine behels die “uitvoering van ’n handeling of pligte steeds op dieselfde manier”. Sulke goeie gewoontes is nuttig omdat ons nie tyd hoef te neem om oor elke stap te dink nie—ons het reeds ’n goeie patroon vasgestel wat ons deur die mag van die gewoonte volg. Vaste gewoontes laat ons amper outomaties optree. Net soos veilige bestuursgewoontes ’n bestuurder oombliklik lewensreddende besluite kan laat neem wanneer hy gevare op die pad teëkom, kan goeie gewoontes ons help om vinnig die regte besluite te neem terwyl ons op ons Christelike weg wandel.

Soos die Engelse skrywer Jeremy Taylor dit gestel het: “Gewoontes is die dogters van optrede.” As ons goeie gewoontes het, kan ons goeie dinge met min moeite doen. As ons byvoorbeeld as Christenbedienaars die gewoonte het om gereeld aan die predikingswerk deel te neem, is dit makliker en aangenamer om in die velddiens uit te gaan. Ons lees oor die apostels dat hulle “elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan [het] om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak” (Handelinge 5:42; 17:2). Maar as ons net af en toe aan die bediening deelneem, sal ons dalk angstig voel en het ons miskien meer tyd nodig om weer ons vertroue in hierdie noodsaaklike Christelike werk op te bou.

Dit geld ook vir ander aspekte van ons Christelike roetine. Goeie gewoontes kan ons help om gereeld ‘God se Woord dag en nag te lees’ (Josua 1:8, NW; Psalm 1:2, NW). Een Christen het die gewoonte om die Bybel 20 tot 30 minute te lees voordat hy gaan slaap. Selfs wanneer hy baie moeg is, vind hy dat hy nie kan slaap as hy bed toe gaan en hy nie die Bybel gelees het nie. Hy moet opstaan en daardie geestelike behoefte bevredig. Hierdie goeie gewoonte help hom nou al ’n hele paar jaar om die hele Bybel een keer per jaar deur te lees.

Ons Voorbeeld, Jesus Christus, het die gewoonte gehad om vergaderinge by te woon waar die Bybel bespreek is. “Volgens sy gewoonte op die sabbatdag het hy in die sinagoge ingegaan, en hy het opgestaan om te lees” (Lukas 4:16). Die mag van die gewoonte het vir Joe, ’n ouer man wat ’n groot gesin het en lang ure werk, gehelp om ’n behoefte en ’n begeerte te ontwikkel om vergaderinge gereeld by te woon. Hy sê: “Hierdie gewoonte hou my aan die gang en gee my uiters noodsaaklike geestelike krag sodat ek uitdagings en probleme met welslae die hoof kan bied.”—Hebreërs 10:24, 25.

Sulke gewoontes is onontbeerlik in die Christelike wedloop om die lewe. ’n Verslag uit ’n land waar Jehovah se volk vervolg is, het gesê: “Diegene met goeie geestelike gewoontes en ’n diepe waardering vir die waarheid vind dit nie moeilik om standvastig te bly wanneer hulle beproef word nie, maar diegene wat in ‘gunstige tye’ vergaderinge oorslaan, nie gereeld in die velddiens uitgaan nie en nie in klein sake getrou is nie, kan dikwels nie ’n ‘vuurproef’ deurstaan nie.”—2 Timoteus 4:2.

Vermy slegte gewoontes, vind baat by goeies

Daar is al gesê dat ‘’n mens net gewoontes moet aankweek wat jy bereid is om as meester te hê’. Slegte gewoontes is inderdaad ’n genadelose meester. Maar dit kan afgeleer word.

Stella was ’n tyd lank ’n kompulsiewe TV-kyker. Sy erken: “Elke slegte gewoonte waarin ek al verval het, het gewoonlik ’n ‘onskuldige’ rede.” Dit was die geval met haar gewoonte om te veel TV te kyk. Sy het vir haarself gesê dat sy net vir “’n bietjie ontspanning” of vir “afwisseling” sal kyk. Maar haar gewoonte het buite beheer geraak en haar ure lank voor die televisie gehou. “Hierdie slegte gewoonte het my geestelike vooruitgang belemmer”, sê sy. Deur ’n doelbewuste poging aan te wend, het sy uiteindelik die tyd wat sy voor die TV deurgebring het, verminder en meer selektief geword. “Ek probeer altyd onthou waarom ek met hierdie gewoonte wou breek”, sê Stella, “en ek vertrou op Jehovah om my te help om by my besluit te bly.”

’n Christen met die naam Charalambos het ook ’n slegte gewoonte gehad wat hom verhinder het om geestelike vooruitgang te maak—uitstellery. “Toe ek besef dat die gewoonte om dinge uit te stel, nadelig is, het ek daaraan begin werk om my lewe te verander. Wanneer ek doelwitte gestel het, het ek beplan presies wanneer en hoe ek daaraan sou begin werk. Ek het my probleem oorkom deur die gewoonte aan te leer om my besluite en planne deur te voer, en tot vandag toe doen ek dit nog steeds.” Ja, goeie gewoontes is die beste plaasvervangers vir slegte gewoontes.

Die persone met wie ons omgaan, kan ook daartoe bydra dat ons goeie of slegte gewoontes aankweek. Net soos met slegte gewoontes, kan ons ook goeie gewoontes by ander leer. En soos ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’, kan goeie metgeselle vir ons ’n voorbeeld stel van heilsame gewoontes om na te volg (1 Korintiërs 15:33). Gewoontes kan bowenal ons verhouding met God versterk of verswak. Stella sê: “As ons goeie gewoontes het, maak dit ons stryd om Jehovah te dien, makliker. As ons slegte gewoontes het, belemmer dit ons pogings.”

Kweek goeie gewoontes aan, en laat dit jou lei. Dit sal ’n kragtige, heilsame invloed in jou lewe wees.

[Prent op bladsy 19]

Gewoontes kan, soos vuur, nuttig of skadelik wees

[Prent op bladsy 21]

Dit was Jesus se gewoonte om op die Sabbat in die sinagoge te wees waar God se Woord gelees is

[Prente op bladsy 22]

Goeie geestelike gewoontes versterk ons verhouding met God