Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God het haar trane afgevee

God het haar trane afgevee

Koninkryksverkondigers berig

God het haar trane afgevee

MENSE wat hulle lewe in ooreenstemming met Jehovah se wette en beginsels bring, word grootliks geseën. Hoewel dit nie altyd maklik is om die nodige veranderinge aan te bring nie, is hulp en aanmoediging geredelik beskikbaar (Psalm 84:12). Die volgende ondervinding uit Suidoos-Asië lig dit toe.

Terwyl ’n Getuie van Frankryk op vakansie was, het sy met ’n winkeleienares met die naam Kim a oor Jehovah se voorneme met die aarde gepraat. Sy het ook ’n eksemplaar van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe by Kim gelaat. Terwyl Kim deur die boek geblaai het, het sy afgekom op die woorde “hy sal elke traan van hulle oë afvee” (Openbaring 21:4). “Hierdie vers het my diep geraak”, sê Kim. “Wie sou ooit kon dink dat ek, wat die heeldag in die winkel geglimlag en gesels het, my saans by die huis aan die slaap gehuil het?” Sy verduidelik waarom sy so hartseer was en sê: “Ek het 18 jaar lank saam met ’n man gelewe en was baie ongelukkig omdat hy geweier het om met my te trou. Ek wou hierdie soort lewe beëindig, maar omdat ek al so lank saam met hom gelewe het, het ek nie die moed gehad nie.”

Kort daarna het Kim ingestem tot ’n Bybelstudie met een van Jehovah se Getuies met die naam Linh. “Ek was gretig om die Bybel se leringe toe te pas”, sê Kim. “Ek het byvoorbeeld opgehou om my voorouers te aanbid, al het dit tot teenstand van my familie gelei. Ek het ook ons verhouding wettig probeer maak, maar my metgesel het geweier om dit te doen. Gedurende hierdie moeilike tyd het die Getuie van Frankryk altyd vir my Bybelpublikasies gestuur, en Linh het my baie aangemoedig. Die geduld en liefdevolle ondersteuning van hierdie susters het my gehelp om te volhard totdat ek besef het watter soort persoon hy eintlik is. Ek het uitgevind dat hy reeds 5 ander vrouens en 25 kinders het! Dit het my die moed gegee om hom te verlaat.

“Dit was nie maklik om ’n groot, gerieflike huis vir ’n klein woonstel te verlaat nie. Boonop het my voormalige metgesel druk op my uitgeoefen om weer by hom te kom bly, en hy het selfs gedreig om my met suur te skend as ek sou weier. Met Jehovah se hulp kon ek doen wat reg is.” Kim het voortgegaan om vooruitgang te maak en is uiteindelik in April 1998 gedoop. Daarbenewens het twee van haar susters en haar tienderjarige seun die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer.

“Ek het gedink dat my lewe altyd sonder hoop sou wees”, sê Kim. “Maar vandag is ek gelukkig, en ek huil nie meer saans nie. Jehovah het alreeds die trane van my oë afgevee.”

[Voetnoot]

a Name is verander.