Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jou reg om te glo

Jou reg om te glo

Jou reg om te glo

Jou reg om te glo wat jy ook al wil glo, is waarskynlik vir jou baie belangrik. Dieselfde geld vir feitlik alle ander mense. Deur hierdie reg uit te oefen, het die aarde se sesmiljard inwoners met ’n ongelooflike verskeidenheid opvattings vorendag gekom. Soos die verskeidenheid kleure, vorme, teksture, smake, reuke en klanke wat ons in die skepping vind, maak verskillende opvattings die lewe opwindend en genotvol. So ’n verskeidenheid kan inderdaad die lewe interessant maak.—Psalm 104:24.

MAAR dit is nodig om versigtig te wees. Sommige opvattings is nie net anders nie, maar ook gevaarlik. Vroeg in die 20ste eeu het sommige mense byvoorbeeld geglo dat Jode en Vrymesselaars van plan is om die “Christelike beskawing omver te werp en ’n wêreldstaat onder hulle gesamentlike heerskappy op te rig”. Een bron van hierdie opvatting was ’n anti-Semitiese traktaat met die titel Protocols of the Learned Elders of Zion. Die traktaat het beweer dat die planne die heffing van buitensporige belasting insluit, asook die vervaardiging van wapens, die bevordering van enorme monopolieë sodat ‘die heidense rykdom met een slag vernietig kan word’. Onder die aantygings was ook die manipulering van die onderwysstelsel sodat dit ‘die heidene in redelose diere sal verander’ en selfs die bou van ondergrondse spoorweë wat hoofstede met mekaar verbind sodat die Joodse oudstes ‘enige teenstanders kon onderdruk deur hulle eenvoudig op te blaas’.

Dit was natuurlik leuens—wat bedoel was om anti-Semitiese gevoelens aan te blaas. ‘Hierdie verregaande fiksie’, sê Mark Jones van die Britse Museum, ‘het na die buiteland versprei van Rusland af’, waar dit die eerste keer in 1903 in ’n koerantartikel verskyn het. Dit het The Times van Londen op 8 Mei 1920 bereik. Meer as ’n jaar later het The Times onthul dat die dokument vals is. Intussen was die skade reeds aangerig. ‘Sulke leuens’, sê Jones, ‘is moeilik om die nek in te slaan.’ Wanneer mense dit eers aanvaar, bring dit baie vyandige, giftige en gevaarlike opvattings voort—dikwels met rampspoedige gevolge, soos die geskiedenis van die 20ste eeu getoon het.—Spreuke 6:16-19.

Opvatting versus die waarheid

Dit verg natuurlik nie doelbewuste leuens om verkeerde opvattings te laat ontstaan nie. Soms kan ons iets net misverstaan. Hoeveel mense het ’n ontydige dood gesterf omdat hulle geglo het hulle doen die regte ding? Ons glo ook dikwels iets bloot omdat ons dit wil glo. Een professor sê dat selfs wetenskaplikes “dikwels op hulle eie gevolgtrekkings verlief raak”. Hulle opvattings benewel hulle eie kritiese oordeel. Dan bestee hulle dalk ’n leeftyd daaraan om verkeerde opvattings tevergeefs te probeer ondersteun.—Jeremia 17:9.

Soortgelyke dinge het al gebeur met godsdiensopvattings—waaroor daar ontsaglike teenstrydighede bestaan (1 Timoteus 4:1; 2 Timoteus 4:3, 4). Een man sê dat hy diep geloof in God het. ’n Ander een sê dat mense geen bewyse het wat hulle geloof in God ondersteun nie. Die een hou vol dat jy ’n onsterflike siel het wat ná die dood voortleef. ’n Ander glo dat jy heeltemal ophou bestaan wanneer jy sterf. Hierdie teenstrydige opvattings kan natuurlik nie almal waar wees nie. Is dit dan nie verstandig om seker te maak dat wat jy glo in werklikheid die waarheid is en nie bloot is wat jy wil glo nie? (Spreuke 1:5). Hoe kan jy dit doen? Die volgende artikel sal hierdie onderwerp ondersoek.

[Prent op bladsy 3]

’n Artikel van 1921 wat toon dat “Protocols of the Learned Elders of Zion” vals is