Kan jy “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”?
Kan jy “onderskei wat reg sowel as verkeerd is”?
“Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is.”—EFESIËRS 5:10.
1. Wat maak die lewe vandag so moeilik?
“EK WEET, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Jeremia se insigryke opmerking is selfs meer van toepassing op ons vandag. Waarom? Omdat ons in “kritieke tye” lewe “wat moeilik is om deur te kom”, soos die Bybel voorspel het (2 Timoteus 3:1). Ons kom elke dag voor moeilike situasies te staan wat vereis dat ons besluite neem. Hetsy hierdie besluite groot of klein is, dit kan ’n verreikende uitwerking op ons welsyn hê—fisies, emosioneel en geestelik.
2. Watter keuses word dalk as onbelangrik beskou, maar hoe beskou toegewyde Christene dit?
2 Baie van die keuses wat ons van dag tot dag maak, kan as alledaags of onbelangrik beskou word. Ons besluit byvoorbeeld elke dag watter klere ons gaan aantrek, watter kos ons gaan eet, watter mense ons moet gaan spreek, ensovoorts. Ons maak hierdie keuses amper outomaties, sonder om veel daaroor te dink. Maar is sulke sake werklik onbelangrik? Vir toegewyde Christene is dit van groot belang dat ons keuses wat kleredrag en voorkoms, eet- en drinkgewoontes asook spraak en gedrag betref, altyd daarvan getuig dat ons knegte van die Allerhoogste, Jehovah God, is. Ons word herinner aan die apostel Paulus se woorde: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.”—1 Korintiërs 10:31; Kolossense 4:6; 1 Timoteus 2:9, 10.
3. Watter keuses is werklik van groot belang?
3 Dan is daar keuses wat van selfs groter belang is. Byvoorbeeld, die besluit om te trou of om ongetroud te bly, het beslis ’n verreikende en blywende uitwerking op ’n mens se lewe. Ja, om die regte persoon te kies om mee te trou, om jou lewenslange maat te wees, is nie ’n saak wat ligtelik opgeneem moet word nie a (Spreuke 18:22, NW). Verder speel ons keuse van vriende, van opvoeding, van werk en van vermaak en ontspanning ’n groot, selfs deurslaggewende, rol in ons geestelikheid—gevolglik ook in ons ewige welsyn.—Romeine 13:13, 14; Efesiërs 5:3, 4.
4. (a) Watter vermoë sal ons graag wil hê? (b) Watter vrae moet beantwoord word?
4 Aangesien ons soveel keuses moet maak, sal ons beslis die vermoë wil hê om te kan onderskei tussen wat reg en wat verkeerd is of tussen wat reg lyk en wat werklik reg is. “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood”, waarsku die Bybel (Spreuke 14:12). Ons kan dus vra: ‘Hoe kan ons die vermoë ontwikkel om tussen reg en verkeerd te onderskei? Tot wie kan ons ons wend om die nodige leiding te kry om besluite te neem? Wat het mense van vandag en van vroeër tye in hierdie verband gedoen, en met watter gevolg?’
“Die filosofie en leë bedrog” van die wêreld
5. In watter soort wêreld het die vroeë Christene gelewe?
5 Die eerste-eeuse Christene het in ’n wêreld gelewe wat deur Grieks-Romeinse waardes en ideale oorheers is. Aan die een kant was daar die geriewe en luukshede van die Romeinse lewenswyse, wat baie as benydenswaardig beskou het. Aan die ander kant was die intellektuele kring van die dag nie net meegevoer deur die filosofiese opvattings van Plato en Aristoteles nie, maar ook deur dié van die nuwer denkrigtings, soos dié van die Epikureërs en die Stoïsyne. Toe die apostel Paulus op sy tweede sendingreis in Atene gekom het, is hy deur Epikuriese en Stoïsynse filosowe gekonfronteer wat neergesien het op “hierdie babbelaar”, Paulus.—Handelinge 17:18.
6. (a) In watter versoeking het party vroeë Christene gekom? (b) Watter waarskuwing het Paulus gegee?
6 Gevolglik is dit nie moeilik om te verstaan waarom party vroeë Christene die spoggerigheid en vertonerige lewenswyse van die mense om hulle aantreklik gevind het nie (2 Timoteus 4:10). Mense wat heeltemal deel van die stelsel was, het blykbaar baie voordele geniet, en die keuses wat hulle gemaak het, het reg gelyk. Die wêreld het skynbaar iets waardevols aangebied wat die toegewyde Christelike lewenswyse nie gehad het nie. Maar die apostel Paulus het gewaarsku: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kolossense 2:8). Waarom het Paulus so gesê?
7. Hoeveel waarde het die wysheid van die wêreld werklik?
7 Paulus het daardie waarskuwing gegee omdat hy besef het dat ’n wesenlike gevaar agter die denke skuil van dié wat die wêreld aantreklik gevind het. Sy gebruik van die uitdrukking “filosofie en leë bedrog” is veral betekenisvol. Die woord “filosofie” beteken letterlik “die liefde vir en strewe na wysheid”. Op sigself kan dit voordelig wees. Trouens, die Bybel, veral in die boek Spreuke, moedig ons aan om die regte soort kennis en wysheid na te streef (Spreuke 1:1-7; 3:13-18). Maar Paulus het “filosofie” met “leë bedrog” verbind. Met ander woorde, Paulus het die wysheid wat die wêreld ’n mens kon bied, as leeg en bedrieglik beskou. Dit was soos ’n opgeblaasde ballon wat solied lyk, maar eintlik leeg is. Dit sou beslis tevergeefs, selfs rampspoedig, wees om ’n mens se keuse van reg en verkeerd op iets te grond wat so onbetroubaar soos “die filosofie en leë bedrog” van die wêreld is.
Dié wat “sleg goed noem en goed sleg”
8. (a) Tot wie wend mense hulle vir raad? (b) Watter soort raad word gegee?
8 Die situasie is vandag nie baie anders nie. Daar is talle deskundiges op feitlik elke gebied van mensestrewes. Huweliks- en gesinsraadgewers, rubriekskrywers, mense wat hulle as terapeute voordoen, sterrewiggelaars, spiritistiese mediums en ander staan gereed om raad te gee—teen ’n prys. Maar watter soort raad gee hulle? Die Bybel se raad oor sedelikheid word dikwels opsy gestoot om plek te maak vir die sogenaamde nuwe moraliteit. Byvoorbeeld, in ’n berig oor die feit dat die staat weier om “huwelike tussen mense van dieselfde geslag” te registreer, sê Kanada se toonaangewende koerant The Globe and Mail: “In die jaar 2000 is dit belaglik dat twee mense wat mekaar liefhet en getrou aan mekaar is, hulle hartsbegeerte ontsê word net omdat hulle van dieselfde geslag is.” Vandag is die neiging om verdraagsaam te wees, nie veroordelend nie. Alles word as relatief beskou; niks is meer reg en verkeerd in die absolute sin nie.—Psalm 10:3, 4.
9. Wat doen mense wat aansien in die samelewing geniet dikwels?
9 Ander kyk na dié wat sosiaal en finansieel suksesvol is—die rykes en beroemdes—as rolmodelle wanneer hulle besluite neem. Hoewel die rykes en beroemdes in vandag se samelewing groot aansien geniet, bewys hulle dikwels net lippediens aan deugde soos eerlikheid en vertroue. Dit kwel baie van hulle glad nie om reëls en regulasies te ignoreer en sedelike beginsels te vertrap terwyl hulle mag en wins najaag nie. Party stoot gevestigde waardes en standaarde maklik opsy om beroemdheid en gewildheid te verwerf en doen dan dinge wat vreemd en skokkend is. Die gevolg is ’n winsbehepte, permissiewe samelewing waarin alles toelaatbaar is. Verbaas dit ons dus dat mense verward en onseker is oor wat reg en wat verkeerd is?—Lukas 6:39.
10. Hoe is Jesaja se woorde oor goed en sleg bewaarheid?
10 Die tragiese gevolge van slegte besluite wat op grond van verkeerde leiding geneem is, is oral om ons—gebroke huwelike en gesinne, dwelm- en alkoholmisbruik, gewelddadige jeugbendes, promiskuïteit, seksueel oordraagbare siektes, om net ’n paar te noem. Wat anders kan ons immers verwag wanneer mense alle standaarde van reg en verkeerd verwerp? (Romeine 1:28-32). Dit is net soos die profeet Jesaja gesê het: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.”—Jesaja 5:20, 21.
11. Waarom is dit onverstandig om op jouself te vertrou wanneer jy besluit wat reg en verkeerd is?
11 Die feit dat God daardie eertydse Jode wat “in [hulle] eie oë wys” geword het, tot verantwoording geroep het, maak dit selfs belangriker vir ons om nie op onsself te vertrou om te bepaal wat reg en verkeerd is nie. Vandag sê baie mense: “Luister eenvoudig na jou hart” of “Doen wat jy voel reg is”. Is dit ’n verstandige benadering? Nie volgens die Bybel nie, wat duidelik sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Sou jy ’n bedrieglike en verdorwe persoon vertrou om jou te help om besluite te neem? Nouliks. Trouens, jy sou waarskynlik net die teenoorgestelde doen van wat so iemand vir jou sê. Dit is waarom die Bybel ons hieraan herinner: “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ’n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.”—Spreuke 3:5-7; 28:26.
Leer wat vir God aanneemlik is
12. Waarom moet ons ons van die “wil van God” vergewis?
12 Wat moet ons dus doen, aangesien ons nie op die wysheid van die wêreld of op onsself moet vertrou om te besluit wat reg en verkeerd is nie? Beskou hierdie duidelike en ondubbelsinnige raad van die apostel Paulus: “Hou op om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis” (Romeine 12:2). Waarom moet ons ons van die wil van God vergewis? In die Bybel gee Jehovah ’n reguit, maar kragtige rede, en sê: “Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes” (Jesaja 55:9). Daarom moet ons nie op sogenaamde gesonde verstand of ons gevoel vertrou nie, maar eerder ag slaan op die vermaning: “Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is.”—Efesiërs 5:10.
13. Hoe beklemtoon Jesus se woorde in Johannes 17:3 die belangrikheid daarvan om te weet wat vir God aanneemlik is?
13 Jesus Christus het beklemtoon hoe belangrik dit is toe hy gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Die uitdrukking ‘om kennis in te neem’, beteken baie meer as net “om te ken”. Volgens Vine’s Expository Dictionary “dui [dit] op ’n verhouding tussen die persoon wat ken en dit wat geken word; in hierdie opsig is wat geken word van waarde of belang vir die een wat ken, en gevolglik is die verhouding ook belangrik”. Om ’n verhouding met iemand te hê, beteken meer as om net te weet wie daardie persoon is of wat sy naam is. Dit behels ook dat ons weet waarvan daardie persoon hou en nie hou nie, wat sy waardes en sy standaarde is—en dit respekteer.—1 Johannes 2:3; 4:8.
Oefen jou waarnemingsvermoëns
14. Wat het Paulus gesê is die belangrikste onderskeid tussen dié wat in geestelike sin soos kindertjies is en volwasse mense?
14 Hoe kan ons dan die vermoë ontwikkel om tussen reg en verkeerd te onderskei? Paulus se woorde aan die eerste-eeuse Hebreeuse Christene gee die antwoord. Hy het geskryf: “Elkeen wat melk gebruik, is onbekend met die woord van regverdigheid, want hy is ’n klein kindjie. Maar vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.” Hier stel Paulus “melk”, wat hy in die vorige vers as “die elementêre dinge van die heilige verklarings van God” beskryf het, teenoor “vaste voedsel”, wat by “volwasse mense” behoort, “wie se waarnemingsvermoëns . . . geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Hebreërs 5:12-14.
15. Waarom is harde werk nodig om juiste kennis van God te verkry?
15 Dit beteken eerstens dat ons hard moet werk om ’n juiste begrip van God se standaarde te verkry wat in sy Woord, die Bybel, gevind word. Ons soek nie ’n lys moets en moenies om vir ons te sê wat ons mag en nie mag doen nie. Die Bybel is nie so ’n boek nie. Paulus het eerder verduidelik: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Om by daardie onderrigting, teregwysing en dissipline baat te vind, moet ons ons verstand en denkvermoë gebruik. Dit verg inspanning, maar die resultaat—om “volkome bevoeg [en] ten volle toegerus vir elke goeie werk” te wees—is beslis die moeite werd.—Spreuke 2:3-6.
16. Wat beteken dit om ’n mens se waarnemingsvermoëns te oefen?
16 Paulus het ook gesê dat volwasse mense ‘se waarnemingsvermoëns geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is’. Hier kom ons nou by die kern van die saak. Die uitdrukking ‘wie se waarnemingsvermoëns geoefen is’, beteken letterlik “die sintuie is geoefen (soos ’n gimnas)” (Kingdom Interlinear Translation). ’n Ervare gimnas kan op ’n bepaalde apparaat, soos die ringe of ewewigsbalk, bewegings uitvoer wat haarfyn tydsberekening verg en dit laat lyk asof swaartekrag of ander natuurwette geen uitwerking op hom het nie. Hy is te alle tye in volle beheer van sy liggaam, en hy weet amper instinktief watter bewegings hy moet doen sodat hy sy rondte suksesvol kan voltooi. Dit is alles die resultaat van harde en voortdurende oefening.
17. In watter sin moet ons soos gimnaste wees?
17 Ons moet ook in geestelike sin soos ’n gimnas geoefen wees as ons seker wil wees dat die besluite en keuses wat ons maak, altyd verstandig is. Ons moet te alle tye in volle beheer van ons sintuie en ons liggaam wees (Matteus 5:29, 30; Kolossense 3:5-10). Dissiplineer jy byvoorbeeld jou oë om nie na onsedelike materiaal te kyk of jou ore om nie na verderflike musiek of gesprekke te luister nie? Sulke onheilsame materiaal is weliswaar oral om ons. Maar dit hang nietemin van ons af of ons toelaat dat dit in ons hart en verstand wortelskiet. Ons kan die psalmis navolg wat gesê het: “Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie. . . . Wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan nie.”—Psalm 101:3, 7.
Oefen jou waarnemingsvermoëns deur gebruik
18. Wat impliseer die uitdrukking “deur gebruik” in Paulus se verduideliking van hoe ons ons waarnemingsvermoëns moet oefen?
18 Hou in gedagte dat ons ons waarnemingsvermoëns “deur gebruik” oefen om tussen reg en verkeerd te onderskei. Met ander woorde, elke keer wanneer ons ’n besluit moet neem, moet ons leer om ons waarnemingsvermoëns te gebruik om te onderskei watter Bybelbeginsels betrokke is en hoe dit toegepas kan word. Kweek die gewoonte aan om navorsing in Bybelpublikasies te doen wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45). Ons kan ryp Christene natuurlik om hulp vra. Maar op die lange duur sal ons ryklik beloon word as ons ons inspan om self God se Woord te bestudeer en tot Jehovah te bid vir sy leiding en gees.—Efesiërs 3:14-19.
19. Watter seëninge kan ons geniet as ons ons waarnemingsvermoëns progressief oefen?
19 Terwyl ons ons waarnemingsvermoëns progressief oefen, moet ons doel wees om “nie langer klein kindertjies [te] wees nie, wat rondgeslinger word soos deur golwe en herwaarts en derwaarts gevoer word deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense, deur middel van listigheid in die versinning van dwaling” (Efesiërs 4:14). Inteendeel, ons kan op grond van ons kennis en begrip van wat vir God aanneemlik is, wyse besluite neem, hetsy groot of klein, wat ons tot voordeel strek, ons medeaanbidders opbou en bowenal ons hemelse Vader behaag (Spreuke 27:11). Wat ’n seën en beskerming is dit tog in hierdie kritieke tye!
[Voetnote]
a Op ’n lys van meer as 40 van die spanningsvolste ondervindinge in mense se lewens, wat deur drs. Thomas Holmes en Richard Rahe saamgestel is, het die dood van ’n huweliksmaat, egskeiding en huweliksmaats wat uitmekaar gaan, die eerste drie plekke ingeneem. Om te trou, is sewende op die lys.
Kan jy verduidelik?
• Watter vermoë moet ons hê om wyse besluite te kan neem?
• Waarom is dit onverstandig om op vername mense of op ons eie gevoelens staat te maak wanneer ons besluit wat reg en verkeerd is?
• Waarom moet ons seker wees van wat vir God aanneemlik is wanneer ons besluite neem, en hoe kan ons dit doen?
• Wat beteken dit om ons ‘waarnemingsvermoëns te oefen’?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 9]
Dit is tevergeefs om op die rykes en beroemdes vir leiding staat te maak
[Prent op bladsy 10]
Soos ’n gimnas moet ons in volle beheer van al ons sintuie en ons hele liggaam wees