Laat jou vooruitgang duidelik wees
Laat jou vooruitgang duidelik wees
“Bepeins hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 TIMOTEUS 4:15.
1. Hoe weet jy wanneer ’n vrug ryp en reg is om geëet te word?
DINK aan jou gunstelingvrug—’n perske, ’n peer, ’n mango of iets anders. Weet jy wanneer dit ryp en reg is om geëet te word? Natuurlik. Die vrug ruik, lyk en voel net reg, en jou mond begin sommer water. Wanneer jy ’n hap vat, sug jy skoon van lekkerkry. Hoe sappig en soet is dit tog! Jy geniet elke oomblik daarvan.
2. Hoe word volwassenheid geopenbaar, en watter uitwerking het dit op persoonlike verhoudings?
2 Hierdie eenvoudige maar aangename ondervinding kom ooreen met ander aspekte van die lewe. Om maar een ding te noem, soos ’n mens kan sien wanneer ’n vrug ryp is, is geestelike volwassenheid in iemand ook op verskillende maniere waarneembaar. Ons weet dat iemand volwasse is wanneer ons sien dat hy onderskeidingsvermoë, insig, wysheid, ensovoorts aan die dag lê (Job 32:7-9). Dit is beslis ’n genot om met mense om te gaan en te werk wat sulke eienskappe in hulle gesindhede en dade openbaar.—Spreuke 13:20.
3. Wat het Jesus se beskrywing van die mense van sy dag oor volwassenheid geopenbaar?
3 Aan die ander kant kan iemand fisies volgroeid wees, maar die manier waarop hy praat en optree, toon dalk dat hy emosioneel en geestelik onvolwasse is. Jesus Christus het byvoorbeeld van die wederstrewige geslag van sy dag gepraat en gesê: “Johannes [het] gekom en nie geëet of gedrink nie, en tog sê mense: ‘Hy het ’n demoon’; die Seun van die mens het gekom en wel geëet en gedrink, en nogtans sê mense: ‘Kyk! ’n Mens wat vraatsugtig en aan wyn verslaaf is.’” Al was daardie mense fisies volwasse, het Jesus gesê dat hulle soos “jong kinders” optree—alles behalwe volwasse. Hy het gevolglik bygevoeg: “Nietemin word wysheid deur sy werke geregverdig.”—Matteus 11:16-19.
4. Op watter maniere word vooruitgang en volwassenheid geopenbaar?
4 Uit Jesus se woorde kan ons sien dat iemand deur sy werke en die resultate wat dit oplewer, toon of hy ware wysheid het—’n duidelike teken van volwassenheid. Let op watter raad die apostel Paulus vir Timoteus in hierdie verband gegee het. Nadat Paulus die dinge bespreek het wat Timoteus moes nastreef, het hy gesê: “Bepeins hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Timoteus 4:15). Ja, ’n Christen se vooruitgang na volwassenheid is “duidelik”, of maklik waarneembaar. Christelike volwassenheid is soos ’n helder lig—dit is nie ’n innerlike of verborge eienskap nie (Matteus 5:14-16). Ons sal derhalwe twee belangrike maniere bespreek waarop vooruitgang en volwassenheid geopenbaar word: (1) om in kennis, begrip en wysheid toe te neem; (2) om die vrugte van die gees te openbaar.
Eenheid in geloof en kennis
5. Hoe kan volwassenheid gedefinieer word?
5 Die meeste woordeboeke beskryf volwassenheid as die toestand van volle ontwikkeling, om volgroeid te wees en om ’n finale toestand of verlangde standaard te bereik. Soos vroeër gemeld is, is ’n vrug ryp wanneer dit sy natuurlike groeisiklus voltooi het en dit reg lyk, ruik en smaak. Volwassenheid is dus sinoniem met voortreflikheid, volkomenheid, selfs volmaaktheid.—Jesaja 18:5; Matteus 5:45-48; Jakobus 1:4.
6, 7. (a) Wat toon dat Jehovah baie graag wil hê dat al sy aanbidders tot geestelike volwassenheid moet vorder? (b) Waarmee hou geestelike volwassenheid ten nouste verband?
6 Jehovah God wil baie graag hê dat al sy aanbidders tot geestelike volwassenheid moet vorder. Gevolglik het hy wonderlike voorsienings in die Christengemeente gemaak. Die apostel Paulus het aan die Christene in Efese geskryf: “Hy het party as apostels gegee, party as profete, party as evangeliste, party as herders en leermeesters, om die heiliges reg te help, vir bedieningswerk, vir die opbouing van die liggaam van die Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God, tot ’n volgroeide man, tot die mate van wasdom wat tot die volheid van die Christus behoort; sodat ons nie langer klein kindertjies moet wees nie, wat rondgeslinger word soos deur golwe en herwaarts en derwaarts gevoer word deur elke wind van lering deur middel van die bedrieëry van mense, deur middel van listigheid in die versinning van dwaling.”—Efesiërs 4:11-14.
7 In hierdie verse het Paulus sommige van die redes verduidelik waarom God sulke oorvloedige geestelike voorsienings in die gemeente gemaak het, naamlik dat almal ‘kan kom tot eenheid in die geloof en in juiste kennis’, “’n volgroeide man” kan word en ‘die mate van wasdom van Christus’ kan hê. Slegs dan sal ons nie soos geestelike kindertjies deur valse opvattings en leringe rondgeslinger word nie. Om tot Christelike volwassenheid te vorder en tot “eenheid in die geloof en in die juiste kennis van die Seun van God” te kom, hou dus ten nouste met mekaar verband. Daar is ’n aantal punte in Paulus se raad wat ons ter harte moet neem.
8. Wat vereis dit om tot “eenheid” in die geloof en juiste kennis te kom?
8 Eerstens, aangesien “eenheid” gehandhaaf moet word, moet ’n volwasse Christen in eenheid en volle harmonie met medegelowiges wees wat geloof en kennis betref. Hy bevorder of dring nie aan op persoonlike menings nie of het nie sy eie idees wanneer dit by ons begrip van die Bybel kom nie. Hy stel eerder volle vertroue in die waarheid soos dit deur Jehovah God deur middel van sy Seun, Jesus Christus, en “die getroue en verstandige slaaf” geopenbaar word. As ons gereeld die geestelike voedsel inneem wat “op die regte tyd” voorsien word—deur Christelike publikasies, vergaderinge en byeenkomste—kan ons daarvan seker wees dat ons “eenheid” met mede-Christene in geloof en kennis handhaaf.—Matteus 24:45.
9. Verduidelik die betekenis van die uitdrukking “die geloof” soos Paulus dit in sy brief aan die Efesiërs gebruik het.
9 Tweedens, die uitdrukking “die geloof” verwys nie na die oortuiging wat elke individuele Christen bely nie, maar na die geheel van wat ons glo, “die breedte en lengte en hoogte en diepte” daarvan (Efesiërs 3:18; 4:5; Kolossense 1:23; 2:7). Trouens, hoe kan ’n Christen in eenheid met medegelowiges wees as hy slegs ’n sekere deel van “die geloof” aanneem? Dit beteken dat ons nie tevrede moet wees as ons net die basiese Bybelleringe ken of net ’n vae of gedeeltelike kennis van die waarheid het nie. Ons wil eerder van al Jehovah se voorsienings deur middel van sy organisasie gebruik maak om diep in sy Woord te delf. Ons moet ons inspan om na die beste van ons vermoë ’n juiste en volledige begrip van God se wil en voorneme te verkry. Dit sluit in dat ons die tyd neem om die Bybel en Bybelpublikasies te lees en te bestudeer, om tot God vir hulp en leiding te bid, om Christelike vergaderinge gereeld by te woon en om ’n volle aandeel aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te hê.—Spreuke 2:1-5.
10. Wat beteken die woorde “totdat ons almal kom tot”, wat in Efesiërs 4:13 gebruik word?
10 Derdens, Paulus het die beskrywing van die drievoudige doel ingelei met die woorde “totdat ons almal kom tot”. Die uitdrukking “ons almal” beteken volgens een Bybelhandboek “nie almal, een vir een, afsonderlik nie, maar almal saam”. Met ander woorde, elkeen van ons moet ’n redelike poging aanwend om saam met die hele broederskap die doelwit van Christelike volwassenheid na te streef. The Interpreter’s Bible sê: “Geestelike volwassenheid word nie deur die individu in afsondering bereik nie, net soos een liggaamsdeel nie volwassenheid kan bereik sonder dat die hele liggaam bly groei nie.” Paulus het die Efesiese Christene daaraan herinner dat hulle “saam met al die heiliges” die volle omvang van die geloof moes probeer begryp.—Efesiërs 3:18a.
11. (a) Wat beteken geestelike vooruitgang nie? (b) Wat moet ons doen om vooruitgang te maak?
11 Dit is duidelik uit Paulus se woorde dat ons nie geestelike vooruitgang maak deur bloot ons verstand met kennis en groot geleerdheid te vul nie. Die volwasse Christen is nie iemand wat ander met sy briljantheid beïndruk nie. Die Bybel sê eerder: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe” (Spreuke 4:18). Ja, dit is “die pad” wat “al helderder word”, nie die individu nie. Jehovah gee sy volk ’n begrip van God se Woord wat al hoe duideliker word. As ons ons voortdurend inspan om daarmee tred te hou, sal ons geestelike vooruitgang maak. Om tred te hou, beteken in dié geval om vooruit te gaan, en dit is iets wat ons almal kan doen.—Psalm 97:11; 119:105.
Openbaar “die vrugte van die gees”
12. Waarom is dit belangrik om die vrugte van die gees te openbaar as ons geestelike vooruitgang wil maak?
12 Hoewel dit belangrik is om tot “die eenheid in die geloof en in die juiste kennis” te kom, is dit net so belangrik vir ons om die vrugte van God se gees in elke aspek van ons lewe te openbaar. Waarom? Omdat volwassenheid, soos ons reeds gesien het, nie ’n innerlike of verborge eienskap is nie, maar gekenmerk word deur duidelik waarneembare eienskappe wat ander tot voordeel kan strek en kan opbou. Ons strewe na geestelike vooruitgang is natuurlik nie iets wat ons doen omdat ons verfynd wil lyk of aanstellerig wil wees nie. Namate ons geestelik groei en die leiding van God se gees volg, sal daar eerder ’n wonderlike verandering in ons gesindhede en gedrag plaasvind. “Hou aan om deur gees te wandel, en julle sal hoegenaamd geen vleeslike begeerte uitvoer nie”, het die apostel Paulus gesê.—Galasiërs 5:16.
13. Watter verandering is ’n duidelike teken van vooruitgang?
13 Daarna het Paulus “die werke van die vlees” opgenoem, wat talryk en “openbaar” is. Voordat iemand God se vereistes leer, is sy lewe na die weë van die wêreld gevorm en moontlik gevul met sommige van die dinge wat Paulus gemeld het, naamlik: “hoerery, onreinheid, losbandige gedrag, afgodery, die beoefening van spiritisme, vyandskappe, twis, jaloesie, vlae van toorn, rusies, verdeeldhede, sektes, afgunstighede, dronkenskap, swelgerye en dergelike dinge” (Galasiërs 5:19-21). Maar namate die persoon geestelike vooruitgang maak, oorkom hy geleidelik hierdie ongewenste “werke van die vlees” en vervang hy dit met “die vrugte van die gees”. Hierdie uiterlik waarneembare verandering is ’n duidelike teken dat die persoon tot Christelike volwassenheid vorder.—Galasiërs 5:22.
14. Verduidelik die twee uitdrukkings “die werke van die vlees” en “die vrugte van die gees”.
14 Ons moet let op die twee uitdrukkings “die werke van die vlees” en “die vrugte van die gees”. “Werke” is die resultate van wat ’n mens doen, die gevolg van ’n mens se dade. Met ander woorde, dit wat Paulus as die werke van die vlees beskryf, is die resultate van wat ’n mens doelbewus doen of van die invloed van die gevalle menslike vlees (Romeine 1:24, 28; 7:21-25). Aan die ander kant impliseer die uitdrukking “die vrugte van die gees” dat die eienskappe wat aangegee word, nie die resultate van sogenaamde karakterontwikkeling of persoonlikheidsverbetering is nie, maar wel die resultate van die werking van God se gees op iemand. Net soos ’n boom vrugte sal dra wanneer dit goed versorg word, sal ’n persoon ook die vrugte van die gees openbaar wanneer heilige gees vryelik in sy lewe vloei.—Psalm 1:1-3.
15. Waarom is dit belangrik om aan alle aspekte van “die vrugte van die gees” aandag te skenk?
15 Nog ’n punt wat ons in ag moet neem, is Paulus se gebruik van die woord “vrugte” om al die gewenste eienskappe in te sluit wat hy genoem het. a Die gees bring nie ’n verskeidenheid vrugte voort waarvan ons dié kan kies waarvan ons hou nie. Al die eienskappe wat Paulus noem—liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing—is ewe belangrik, en saam maak hierdie eienskappe dit vir ’n mens moontlik om jou met die nuwe Christelike persoonlikheid te beklee (Efesiërs 4:24; Kolossense 3:10). Hoewel ons dalk sal vind dat sekere van hierdie eienskappe duideliker in ons lewe weerspieël word weens ons persoonlikheid en neigings, is dit dus belangrik dat ons aandag skenk aan al die aspekte wat Paulus gemeld het. Ons kan sodoende in groter mate ’n Christelike persoonlikheid in ons lewe weerspieël.—1 Petrus 2:12, 21.
16. Wat is ons doelwit in ons strewe na Christelike volwassenheid, en hoe kan dit bereik word?
16 Die belangrike les wat ons uit Paulus se bespreking kan leer, is dat ons in ons strewe na Christelike volwassenheid nie groot kennis en geleerdheid probeer verkry of verfynde karaktertrekke probeer aankweek nie. Ons doelwit is om God se gees vryelik in ons lewe te laat vloei. Die mate waarin ons ons denke en dade deur God se gees laat lei, sal bepaal in watter mate ons geestelik volwasse word. Hoe kan ons hierdie doelwit bereik? Ons moet ons hart en verstand ontvanklik maak vir die invloed van God se gees. Dit sluit in dat ons Christelike vergaderinge getrou moet bywoon en daaraan moet deelneem. Ons moet ook God se Woord gereeld bestudeer en daaroor peins en toelaat dat die beginsels daarin ons lei in ons handelinge met ander en die keuses en besluite wat ons maak. Dan sal ons vooruitgang beslis duidelik wees.
Maak vooruitgang tot verheerliking van God
17. Hoe verheerlik ons ons hemelse Vader deur vooruitgang te maak?
17 As ons ons vooruitgang duidelik maak, strek dit nie tot ons lof en verheerliking nie, maar in werklikheid tot dié van ons hemelse Vader, Jehovah, wat dit vir ons moontlik maak om geestelik volwasse te word. Die aand voordat Jesus doodgemaak is, het hy vir sy dissipels gesê: “My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra en julle my dissipels betoon” (Johannes 15:8). Die dissipels het Jehovah verheerlik deur die vrugte van die gees aan die dag te lê sowel as deur Koninkryksvrug in hulle bediening voort te bring.—Handelinge 11:4, 18; 13:48.
18. (a) Watter vreugdevolle oeswerk vind vandag plaas? (b) Watter uitdaging bied hierdie oes?
18 Jehovah seën vandag sy volk terwyl hulle aan ’n wêreldwye geestelike oeswerk deelneem. In die afgelope jare was daar elke jaar ongeveer 300 000 nuwelinge wat hulle aan Jehovah toegewy en hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer het. Dit maak ons bly en verbly ongetwyfeld ook Jehovah se hart (Spreuke 27:11). Maar dit sal slegs ’n bron van vreugde en lof aan Jehovah bly as al hierdie nuwelinge “voortgaan om in eenheid met [Christus] te wandel, gewortel in hom en terwyl [hulle] opgebou word in hom en standvastig gemaak word in die geloof” (Kolossense 2:6, 7). Dit bied ’n tweeledige uitdaging vir God se volk. Aan die een kant kan jy, as jy onlangs gedoop is, jou afvra of jy die uitdaging sal aanvaar om jou in te span sodat “jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees”. As jy aan die ander kant al ’n geruime tyd in die waarheid is, kan jy jou afvra of jy die uitdaging sal aanvaar om die verantwoordelikheid na te kom om na die geestelike welsyn van nuwelinge om te sien. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat ons tot volwassenheid moet voortbeur.—Filippense 3:16; Hebreërs 6:1.
19. Watter voorreg en seëninge kan jy geniet as jy jou vooruitgang duidelik maak?
19 Wonderlike seëninge wag op almal wat hard werk om hulle vooruitgang duidelik te maak. Onthou Paulus se aanmoedigende woorde nadat hy Timoteus aangespoor het om vooruitgang te maak: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). As jy jou ywerig daarop toelê om jou vooruitgang duidelik te maak, kan jy ook die voorreg geniet om God se naam te verheerlik en sy seën te ontvang.
[Voetnoot]
a Die woord “vrugte” is net “vrug” in die oorspronklike taal.—Galasiërs 5:22, Kingdom Interlinear Translation.
Onthou jy?
• Op watter maniere kan geestelike volwassenheid geopenbaar word?
• Watter soort kennis en begrip weerspieël volwassenheid?
• Hoe is dit ’n teken van geestelike vooruitgang as ’n mens “die vrugte van die gees” openbaar?
• Watter uitdaging moet ons aanvaar terwyl ons na volwassenheid voortbeur?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 13]
Rypheid, of volwassenheid, is duidelik waarneembaar
[Prent op bladsy 15]
Ons maak geestelike vooruitgang deur tred te hou met geopenbaarde waarheid
[Prent op bladsy 17]
Gebed help ons om “die vrugte van die gees” te openbaar