Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Oorkom struikelblokke wat jou vooruitgang kan belemmer!

Oorkom struikelblokke wat jou vooruitgang kan belemmer!

Oorkom struikelblokke wat jou vooruitgang kan belemmer!

JOU motor is in rat en die enjin loop, maar hy weier om vorentoe te beweeg. ’n Meganiese probleem? Nee, daar is ’n groot klip voor een van die wiele. Al wat nodig is om die motor te laat beweeg, is om die klip te verwyder.

Net so het sommige mense wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, struikelblokke wat hulle geestelike vooruitgang kan belemmer. Jesus het byvoorbeeld gewaarsku dat dinge soos “die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom . . . die woord” van waarheid kan “verstik” en groei kan verhinder.—Matteus 13:22.

Ander weer het diepgewortelde gewoontes of swakhede wat hulle vooruitgang keer. ’n Japannese man met die naam Joetaka het van die Bybel se boodskap gehou, maar hy het ’n ernstige dobbelprobleem gehad. Hy het hierdie slegte gewoonte dikwels vantevore probeer afleer, maar misluk. Sy verslawing het hom ’n klein fortuin gekos—drie huise, die respek van sy familie en sy eie waardigheid. Kon hy hierdie struikelblok uit die weg ruim en ’n Christen word?

Of neem die geval van ’n vrou met die naam Keiko. Met die Bybel se hulp het sy haarself bevry van verdorwenhede soos afgodediens, onsedelikheid en waarsêery. Keiko erken egter: “Rook was my grootste struikelblok. Ek het baie keer probeer om op te hou rook, maar kon nie.”

Dalk het jy ook iets wat na ’n onbeweegbare struikelblok lyk in die weg van jou vooruitgang. Wat dit ook al is, wees verseker dat dit met God se hulp oorkom kan word.

Onthou Jesus se raad aan sy dissipels nadat hulle nie ’n demoon uit ’n man met epilepsie kon uitdryf nie. Nadat Jesus met welslae gedoen het wat hulle nie kon regkry nie, het hy vir sy dissipels gesê: “As julle geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Verplaas jou hiervandaan daarnatoe’, en hy sal hom verplaas, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Matteus 17:14-20; Markus 9:17-29). Ja, ’n probleem wat dalk vir ons soos ’n berg lyk wat bo ons uittoring, is klein en onbenullig vir ons almagtige Skepper.—Genesis 18:14; Markus 10:27.

Identifiseer dit wat jou vooruitgang belemmer

Voordat jy jou struikelblokke kan oorkom, moet jy presies identifiseer wat daardie struikelblokke is. Hoe kan jy dit doen? Soms sal ’n lid van die gemeente, soos ’n ouer man of die persoon wat die Bybel met jou studeer, iets onder jou aandag bring. Moenie gegrief voel oor sulke liefdevolle raad nie, maar wees nederig en “luister na tug en word wys” (Spreuke 8:33). Op ander kere word jy dalk bewus van jou swakhede deur jou studie van die Bybel. Ja, God se woord is “lewend en oefen krag uit” (Hebreërs 4:12). As jy die Bybel en Bybelpublikasies lees, kan dit jou diepste gedagtes, gevoelens en beweegredes blootlê. Dit help jou om jou te meet aan Jehovah se verhewe standaarde. Dinge wat jou geestelike vooruitgang kan belemmer, word sodoende aan die lig gebring en geopenbaar.—Jakobus 1:23-25.

Gestel ’n Bybelstudent het byvoorbeeld die gewoonte gehad om oor onsedelike dinge te fantaseer. Hy sien dalk niks fout daarmee nie en redeneer dat hy nie werklik enigiets verkeerd doen nie. Mettertyd in sy studie lees hy die woorde van Jakobus 1:14, 15: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Dan baar die begeerte, wanneer dit vrugbaar geword het, sonde; op sy beurt bring die sonde, wanneer dit volbring is, die dood voort.” Nou sien hy hoe skadelik dit vir sy vooruitgang kan wees om in hierdie weg voort te gaan! Hoe kan hy hierdie hindernis uit die weg ruim?—Markus 7:21-23.

Hoe om struikelblokke te oorkom

Die student kan met die hulp van ’n ryp Christen verdere navorsing in God se Woord doen deur die Watch Tower Publications Index te gebruik. a Die opskrif “Thoughts” verwys die leser byvoorbeeld na ’n aantal gepubliseerde artikels wat handel oor hoe om skadelike fantasieë die hoof te bied. Hierdie artikels beklemtoon belangrike Bybeltekste soos Filippense 4:8, wat sê: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.” Ja, onsedelike gedagtes moet met kuis, opbouende gedagtes vervang word!

Gedurende sy navorsing sal die student ongetwyfeld ander Bybelbeginsels kry wat hom sal help sodat hy nie sy probleem vererger nie. Spreuke 6:27 en Matteus 5:28 waarsku ’n mens byvoorbeeld om nie jou gedagtes met seksueel prikkelende materiaal te voed nie. “Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie”, het die psalmis gebid (Psalm 119:37). Dit is natuurlik nie genoeg om hierdie Bybeltekste net te lees nie. “Die hart van die regverdige dink ná”, sê die wyse man (Spreuke 15:28). Deur nie net te peins oor wat God beveel nie, maar ook waarom hy dit beveel, kan die student ’n dieper begrip verkry van die wysheid en redelikheid van Jehovah se weë.

Laastens moet die een wat hierdie hindernis probeer oorkom, Jehovah se hulp geredelik soek. God ken immers ons samestelling, dat ons onvolmaak is, van stof gemaak (Psalm 103:14). As ons God gedurig om hulp vra terwyl ons ons ywerig inspan om nie aan onsedelike fantasieë toe te gee nie, sal dit uiteindelik baie goeie resultate oplewer—’n skoon, geruste gewete.—Hebreërs 9:14.

Moenie moed opgee nie

Met watter moeilikheid jy ook al worstel, jy moet besef dat jy soms terugslae kan hê. Wanneer dit gebeur, is dit net natuurlik om gefrustreerd en teleurgesteld te voel. Onthou egter die woorde in Galasiërs 6:9: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat voortreflik is nie, want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie.” Getroue knegte van God soos Dawid en Petrus het vernederende terugslae beleef. Maar hulle het nie tou opgegooi nie. Hulle het nederig raad aanvaar, die nodige veranderinge aangebring en uitsonderlike knegte van God geword (Spreuke 24:16). Ondanks Dawid se foute het Jehovah van hom gepraat as “’n man na my hart, wat alles sal doen wat ek begeer” (Handelinge 13:22). Petrus het eweneens sy foute te bowe gekom en ’n pilaar in die Christengemeente geword.

Baie het vandag struikelblokke met soortgelyke welslae oorkom. Joetaka, wat vroeër genoem is, het tot ’n Bybelstudie ingestem. Hy vertel: “Jehovah se ondersteuning en seën met elke stap wat ek geneem het, het my gehelp om my dobbelprobleem te oorkom. Dit is vir my ’n groot vreugde om die werklikheid van Jesus se woorde te ervaar—dat ’n mens met geloof selfs ‘berge’ kan versit.” Mettertyd het Joetaka ’n bedieningskneg in die gemeente geword.

Wat van Keiko, wat aan tabak verslaaf was? Die suster wat met haar gestudeer het, het voorgestel dat sy verskeie Ontwaak!-artikels lees wat oor tabakverslawing handel. Keiko het selfs die woorde in 2 Korintiërs 7:1 in haar motor gehad as ’n daaglikse herinnering om rein in Jehovah se oë te bly. En tog kon sy nie ophou nie. “Ek het so gefrustreerd met myself gevoel”, vertel Keiko. “Daarom het ek my begin afvra wat ek werklik wou hê—wou ek Jehovah of Satan dien?” Toe sy eers besluit het dat dit Jehovah is wat sy wil dien, het sy ernstig vir hulp gebid. “Tot my verbasing”, sê sy, “kon ek sonder veel moeite ophou rook. Ek is net jammer dat ek nie vroeër iets daaromtrent gedoen het nie.”

Jy kan ook welslae behaal en struikelblokke oorkom wat jou vooruitgang kan belemmer. Hoe meer jy jou gedagtes, begeertes, woorde en dade by Bybelstandaarde aanpas, hoe meer selfrespek en vertroue sal jy verkry. Dit sal vir jou geestelike broers en susters, asook vir jou gesinslede, verkwikkend en bemoedigend wees om met jou te assosieer. Maar nog belangriker, jy sal jou verhouding met Jehovah God versterk. Hy het belowe dat hy ‘die struikelblok uit die weg van sy volk sal verwyder’ wanneer hulle onder Satan se beheer uitvlug (Jesaja 57:14). En jy kan verseker wees dat Jehovah jou ryklik sal seën as jy jou inspan om die struikelblokke te verwyder en te oorkom wat jou geestelike vooruitgang kan belemmer.

[Voetnoot]

a Uitgegee in verskeie tale deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 28]

Jesus het belowe dat struikelblokke wat soos ’n berg lyk, deur geloof oorkom sal word

[Prent op bladsy 30]

As ons die Bybel lees, versterk dit ons pogings om geestelike tekortkominge te oorkom