Vrae van lesers
Vrae van lesers
Waar was Daniël toe die drie Hebreërs getoets is voor die groot beeld wat Nebukadnesar in die dal Dura opgerig het?
Die Bybel sê nie, daarom kan geen mens vandag vasstel waar Daniël gedurende daardie toets was nie.
Sommige is van mening dat Daniël ’n hoër amp beklee het of groter guns by Nebukadnesar geniet het as Sadrag, Mesag en Abednego en dat daar dus nie van Daniël verwag is om na die dal Dura toe te gaan nie. Daniël 2:49 gee wel te kenne dat hy ’n tyd lank ’n hoër posisie as sy drie metgeselle beklee het. Maar ons kan nie bewys dat dit hom daarvan vrygestel het om saam met die ander voor die beeld bymekaar te kom nie.
In ’n poging om Daniël se afwesigheid te verduidelik, het ander gesê dat hy dalk weg was op ’n amptelike toewysing of dat hy siek was en dus nie teenwoordig kon wees nie. Die Bybel sê dit egter nie. Hoe dit ook al sy, Daniël se optrede was bo verdenking, want anders sou die jaloerse Babiloniese amptenare dit ongetwyfeld gebruik het om beskuldigings teen hom in te bring (Daniël 3:8). Voor en ná hierdie gebeurtenis het Daniël bewys dat hy ’n handhawer van onkreukbaarheid is, lojaal teenoor God ongeag voor watter uitdaging hy te staan gekom het (Daniël 1:8; 5:17; 6:4, 10, 11). Al sê die Bybel dus nie waarom Daniël nie in die dal Dura teenwoordig was nie, kan ons seker wees dat hy op onwrikbare wyse getrou aan Jehovah God was.—Esegiël 14:14; Hebreërs 11:33.